Landbou
Kinderarbeid: Dié groot sonde
KOBUS KLEYNHANS

Te veel boere beskou die gebruik van kinderarbeid as 'n oortreding van 'n lastige wetsbepaling waarvan die gevolge nie te ernstig is nie. Boere moet egter na buite die landsgrense kyk, want die groter gevaar van kinderarbeid is dat dit uitvoergeleenthede ernstig in die gedrang kan bring.

Die gebruik van kinderarbeid op plase was onlangs weer in die nuus ná 'n opspraakwekkende hofsaak in Suid-Afrika. Daarby het die Departement van Arbeid met mening toegeslaan op Bolandse plase om kinders uit te snuffel wat werk.

Kinderarbeid en die verset daarteen kom al 'n lang pad. In Engeland is van 1773 af pogings aangewend om kinderarbeid te verbied, maar 'n goeie wet het eers in 1885 in die wetboek verskyn.

Die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) het reeds in 1919 die eerste internasionale konvensie oor kinderarbeid aanvaar. Die erns van die saak het egter eers in 1999, toe die Konvensie oor die Ergste Vorms van Kinderarbeid (182) deur die IAO aanvaar is, begin blyk.

Met die skryf hiervan het 147 (uit die ongeveer 180 lidlande (Suid-Afrika inkluis) van die IAO) die konvensie al goedgekeur. Lidlande moet gereeld verslag doen.

Omdat die konvensie gerig is op die ergste vorms van kinderarbeid en dit wye steun geniet, het die wêreld uiteindelik 'n doeltreffende instrument teen die indiensneming van kinders gekry.

Die Verenigde Nasies het ook al sy saak sterk gestel — daar is selfs gesê dat kinderarbeid as 'n misdaad teen die mensdom gesien moet word. Ryk lande skenk miljoene om programme teen kinderarbeid te finansier, waghond-organisasies in Europa maak seker dat Europese invoerders nie produkte van verskaffers koop wat kinders in die produksieproses gebruik nie, vakbonde dreig om sulke produkte nie te ontskeep wanneer dit die land binnekom nie en kinderarbeid dop gereeld op wanneer internasionale handelreëlings bespreek word.

In Suid-Afrika is 'n taakgroep saamgestel om 'n aksieprogram teen kinderarbeid op te stel. Die dokument is reeds aan die Kabinet oorhandig vir amptelike goedkeuring.

Daar is 'n lang lys van oorsake wat dikwels van land tot land verskil. Die belangrikste vier is:

  • Armoede.
  • Lang gevestigde tradisies om kinders op 'n jong leeftyd te betrek by die ekonomiese aktiwiteite van die familie.
  • Gebrekkige skoolgeleenthede.
  • Werkgewers wat goedkoop kinderarbeid inspan vir ekonomiese gewin.

    Hoewel die debat nou sterk koers gekry het, word dit soms oorheers deur emosies. Emosies is wel verstaanbaar as 'n mens kyk na die ergste vorms van kinderarbeid: Pornografie, prostitusie, kinders so jonk as vyf jaar wat tot 16 uur per dag in klere- en skoenfabrieke of in steengroewe of steenmakerye werk.

    Die tragiese sy daarvan is dat baie van dié kinders nie 'n ander heenkome het nie.

    Heeltemal tereg kan geredeneer word dat geen van hierdie grustories op Suid-Afrikaanse plase afspeel nie. Die IAO het egter bevind dat die landbou, soos ook die mynbou en konstruksiebedryf, die gevaarlikste bedrywe is om voor te werk.

    Gooi die elemente bymekaar van kinders onder 15 wat in 'n gevaarlike bedryf werk en produkte produseer wat baie geld op oorsese markte verdien en waarvan die oorsprong fyn dopgehou word en jy het 'n resep vir groot moeilikheid.

    In Suid-Afrika verbied en reguleer die Wet op Basiese Diensvoorwaardes die indiensneming van kinders. Die definisie van 'n kind is "iemand onder die ouderdom van 18 jaar”. Daar is 'n totale verbod op die indiensneming van kinders onder 15 jaar. Vir dié bo 15, maar nog nie 18 nie, het die wet, wat die sektorale vasstelling van minimum lone vir plaaswerkers reël, die volgende bepalings:

  • Hulle mag nie meer as 35 uur per week werk nie.
  • Geen werk tussen 18:00 en 06:00 die volgende dag nie.
  • Hulle mag geen landbouchemikalieë hanteer nie.

    Wat gemaak as 'n kind gevra word om 'n ligte takie te verrig? In die IAO debat oor die konvensie is oor die definisie van werk en ligte takies geredeneer. Die verskil tussen die twee begrippe kon nie in alle tale soos Frans en Spaans omskryf word nie en uiteindelik is niks op skrif gestel nie.

    As 'n 14-jarige seun op die plaas nou en dan saamry om hekke oop te maak, of hy hark blare op die werf of was die motor sal moeilik bewys kan word dat hy in diens was of werklik werk verrig het.

    Aan die ander kant kan hy gebruik word om elke middag die koeie stal toe te jaag, in seisoen te help met die pluk van vrugte of die snoei van bome. Dit beteken gewoonlik 'n vaste reëling en 'n ooreengekome vergoeding — en geen twyfel dat hy strydig met die wet in diens is nie.

    Dit is ook moelik om vas te stel of 'n kind wat werk soek reeds 15 is. Die verantwoordelikheid rus op die werkgewer om hom te vergewis van die ouderdom. Indien hy twyfel, moet hy die veilige roete volg en die betrokke mens eerder nie in diens neem nie.

    Dit gebeur dikwels dat ouers hul kinders onder 15 saam neem werk toe om te help om byvoorbeeld vrugte te pluk. Die boer betaal die ouer en op die oog af lyk dit of die kind sonder vergoeding werk. Selfs al help die kind skynbaar die ouer, moet die boer homself vergewis van die omstandighede, anders ontstaan die vermoede dat die kind wel in die boer se diens is. Die onus val dan op die boer om die teendeel te bewys.

    Alles in ag genome word boere baie sterk aangeraai om glad nie kinders onder 15 werk te gee nie. Daar mag miskien wel 'n bietjie ruimte in die toepassing van die wet wees, maar die risiko bly groot.

  • Kobus Kleynhans was tot voor sy onlangse aftrede die direkteur van arbeidsake by Agri SA.

    Só lyk dit in SA
    In 'n opname wat in 1999 gesamentlik deur die Departement van Arbeid,die Internasionale Arbeidsorganisasie en Statistiek SA gedoen is, is onder meer die volgende bevind:

  • In bestaansboerdery is sowat 550 000 kinders wat ekonomiese aktiwiteite verrig vir ten minste 3 uur per week.
  • In die ouderdomsgroep 5 tot 14 jaar werk 67 000 kinders vir ten minste 3 uur per week in die kommersiële boerderysektor.
  • Van die 67 000 werk 28 % of 19 000 in wat vroeër blanke boerderygebiede was.
  • As 12 uur werk per week as vertrekpunt gebruik word (kinders mag nie meer as 35 uur per week werk nie), werk daar 9 000 kinders in die ouderdomsgroep 5 jaar tot 14 jaar op plase in die vroeëre blanke kommersiële boerderygebiede.

    6 Februarie 2004