Dit is duidelik dat net 4,7 % van die boere ten gunste van vakbonde in die landbou is. Altesaam 54,1 % is daarteen en 41,2 % neutraal.
'n Dekade sedert vakbonde tot die landbou toegetree het, is boere steeds apaties teenoor die vakbonde. 'n Wag-en-sien-houding omtrent vakbonde kan egter nie tot voordeel van die landbou wees nie, lui 'n verslag deur dr. Herman Linde en prof. Jan Visagie van die Universiteit van Noordwes. Die verslag is in opdrag van Vrystat Landbou gedoen.
Plaaswerkers gebruik vakbonde om te beding vir beter diensvoorwaardes en om hulle in sake van belang by boere te verteenwoordig. Dit is dus verstaanbaar dat boere weerstand het teen en selfs bang is vir vakbonde.
Net 14 % is ten volle voorbereid op vakbondaktiwiteite, 68,2 % is net in 'n sekere mate voorbereid, terwyl 17,6 % glad nie voorbereid is nie.
Die beperkte kennis van vakbonde is moontlik die rede waarom min boere (14,3 %) weet van die vakbondaktiwiteite van hul werkers. 'n Beduidende groep (69 %) weet nie van enige vakbondaktiwiteite op hul plase nie. Altesaam 16,7 % is onseker of daar vakbondaktiwiteite op hul plase is.
Die meeste (52,4 %) van die boere is bereid om met plaaswerkers te onderhandel oor vakbondeise. Net 14,3 % sal in geen omstandighede met vakbonde onderhandel nie, terwyl 33,3 % onseker is wat hulle in só 'n situasie sou doen.
Wat afgelei kan word, is dat 'n beduidende groep bereid is om met vakbonde te onderhandel. Boere is bewus van die potensiële nadelige gevolge van stakings en sloerstakings. As hulle gedwing word, sal boere waarskynlik tog onderhandel.
Hoewel 92,9 % aangedui het dat hulle bewus is dat die Wet op Arbeidsverhoudinge (Wet 66 van 1995) die reg van vakbonde om erkenning waarborg, het slegs 43,5 % gesê hulle sal erkenning aan vakbonde op hul plase gee 'n aanduiding van die geweldige konflikpotensiaal in die landbou.
Die boere plaas die doelwitte van landbouvakbonde (tabel 1) in 'n volgorde van belangrikheid. Die bevindings in Noordwes word ook aangedui.

In die verhouding tussen 'n boer en sy plaaswerkers blyk dit dat wedersydse vertroue, billikheid en redelikheid asook kommunikasie en dissiplinêre aksies die belangrikste is. Die 0,54 % wat wetgewing as 'n vyfde voorrangsaak stel, bevestig die ongunstige houding onder boere teenoor arbeidswetgewing.
Die verhouding tussen boere en hul werknemers is die kern van arbeidsverhoudinge. Daar is onomwonde aangedui dat hierdie verhouding geskaad kan word deur die inmenging van vakbonde in boere se sake.
Altesaam 61 % het gesê vakbondaktiwiteite en arbeidswetgewing sal 'n invloed op hul besluitneming in die boerdery hê, 20,7 % het gesê dit sal nie en 17,1 % is onseker daaroor.
Oor 'n bekostigbare minimum loon in kontant vir plaaswerkers sonder om indiensneming te benadeel, was die meeste (56,8 %) ten gunste van 'n kontantloon van R450 tot R600 per maand, terwyl 30,9 % aangedui het dat R600 en meer per maand reg is. Slegs 12,3 % was ten gunste van R450 en minder per maand. Die meeste (74,4 %) het gesê die styging in produktiwiteit van werknemers is nie in verhouding tot die geweldige styging van vergoeding die afgelope dekade nie.
Op 'n vraag oor hoe boere die verhouding met hul plaaswerkers voor en ná die verkiesing van die ANC-regering in 1994 ervaar, was daar 'n verskuiwing van gunstig en uiters gunstig tot minder gunstig. Die boere was baie meer negatief oor plaaswerkers ná die verkiesing.
Uit die verslag is dit dus duidelik dat boere se vertrouensverhouding met hul werkers die meeste skade gely het. Getrouheid aan die werkgewer het ook geweldig afgeneem. Die afleiding kan gemaak word dat boere bedreig voel deur die veranderings ná die verkiesing.
19 Maart 2004