Landbou
Pasop vir wet met brandnetels
THEUNS BOTHA (landbou@mweb.co.za)

Boere wat woonplek aan mense verskaf, moet oppas om nie onkant betrap te word deur die Wet op Verblyfsekerheid nie. Dit geld ook waar werkers ontslaan word.

Hoewel baie boere in Suid-Afrika uit hulle pad gaan om gesonde menseverhoudinge op plase te bevorder, kan hulle bedroë daarvan afkom as sake die dag versuur. In die Oos-Kaap was daar twee jaar gelede 'n geval waar 'n boer uit die goedheid van sy hart gratis huisvesting aan 'n pensioenaris verskaf het wie se hut met ál haar besittings in 'n verwoestende veldbrand verwoes is. Aangesien haar seun in dié boer se diens was, het hy die pensioentrekker toegelaat om in een van die leë hutte op sy plaas te woon en haar ook die melk van twee koeie aangebied.

Toe 'n struweling tussen die boer en die pensioentrekker se seun ontstaan, en die boer die werker ontslaan, het die pensioentrekker verseg om van die plaas pad te gee. Sy het aangevoer dat sy nie alternatiewe verblyf het nie. Boonop het drie van haar kleinkinders, wie se ouers in Johannesburg werk, ook intussen by haar ingetrek.

Die eienaar moes toe deur sy prokureur 'n hofaansoek bring om 'n uitsettingsbevel te kry. Die stap het hom nie net baie geld gekos nie, maar ook sy verhouding met die ander werkers op die plaas in gedrang gebring.

Mnr. Chris de Wet, direkteur van die Queenstown Rural Legal Centre, sê die meeste boere wat hy teëgekom het en wat met soortgelyke probleme op hul plase te kampe het, gewoonlik 'n billike uitweg soek en verkies om nie in hofsake betrokke te raak nie. "In die sewe maande van die sentrum se bestaan was daar nie 'n enkele boer wat my summier van sy plaas weggejaag het of gesê het dat ek eerder met sy prokureur moet praat nie."

De Wet sê dat sy taak bloot is om die wet, soos dit geskryf is, objektief te interpreteer. Hoewel sy kantoor die plaaswerkers verteenwoordig tree hy dikwels op as gespreksleier tussen die bewoner en die werkgewer. "Soms lees 'n boer die wet verkeerd en ander kere meen bewoners dat hulle meer regte het as waarvoor die wet voorsiening maak."

Hy sê daar is basies twee stelle wetgewing wat die reëling van verblyfreg op plase, bepaal. Die een is die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Wet 62 van 1997 soos gewysig) en die ander die Wet op Grondhervorming (Huurarbeiders) (Wet 3 van 1996).

Eersgenoemde se doel is om 'n basiese vlak van verblyfsekerheid aan alle bewoners te verskaf en hulle te beskerm teen onbillike afsetting. Die wet maak egter ook voorsiening vir wettige uitsettings. "Hoewel die wet die verskaffing van verblyfsekerheid ten doel het, poog dit ook om die verhouding tussen die grondeienaar en okkupant deur wedersydse respek vir mekaar se regte te stabiliseer."

Die definisie van 'n okkupant is 'n persoon wat woonagtig is op landbougrond wat aan iemand anders behoort en wat op of na 1 Februarie 1997 die uitdruklike of stilswyende toestemming van die eienaar of persoon in bevel gehad het om daar te bly. Dit kan egter ook iemand wees wat ná die betrokke datum op die plaas bly, al was die persoon nooit in die eienaar se diens nie, soos byvoorbeeld, die seun van die pensioenaris waarna verwys is.

Die Wet op Grondhervorming is van toepassing op persone wat op 'n plaas bly, en in ruil vir die verskaffing van arbeid aan die eienaar of huurder, die reg het om lande te bewerk en vee daarop aan te hou. "Huurarbeiders sal derhalwe nooit 'n plaaswerker, soos gedefinieer in die Verblyfregwet, kan wees nie aangesien laasgenoemde primêr in geld vergoed word."

Hoewel die Verblyfregwet fundamentele regte, soos menswaardigheid, privaatheid, vryheid van assosiasie en beweging, beskerm, skep dit ook bykomende regte vir die bewoner, soos woonreg en die gebruik van die grond, sê hy. Daarenteen mag 'n bewoner nie doelbewus skade aan die eiendom aanrig of ander mense help om nuwe huise daar op te rig nie.

De Wet sê hy het gevind dat dit nie die basiese bepalings van die wet is wat probleme skep nie, maar inderdaad die fynere interpretering van sekere begrippe.

Dit was byvoorbeeld nie duidelik of die bewoner se reg om op die grond te woon en dit te gebruik, soos deur die wet omskryf word, ook beteken dat so 'n bewoner die reg het om vee aan te hou en die grond te bewerk nie. 'n Onlangse uitspraak in die Oos-Kaapse Hooggeregshof (Margre Property Holdings CC versus Nqabeni Swartbooi Jewula) het groter duidelikheid gebring. Die plaaseienaar het gevra dat Jewula sy vee op die plaas waarop hy gewoon het, verminder tot die getal waarop skriftelik met die grondeienaar ooreengekom is.

Die Regter het bevind dat weidingsregte nié deel van die verblyfreg is nie, en eersgenoemde by wyse van 'n voorafgaande ooreenkoms tussen die boer en die bewoner geskied. As daar wel 'n geskrewe of stilswyende ooreenkoms tussen die boer en die werker was oor die aantal vee wat die okkupant geregtig was om aan te hou, is die reg uit dié ooreenkoms gevestig, en nie in terme van die Verblyfregwet nie.

Dit gebeur ook dikwels dat iemand 'n plaas koop sonder kennis van ooreenkomste wat die bewoners met die vorige eienaar gehad het in verband met weiregte en die aanhou van vee. Die wet bepaal uitdruklik dat die erfopvolger of nuwe eienaar gebonde sal wees aan die oorspronklike ooreenkoms. "Wanneer 'n boer dus sy grond verkoop, moet hy ook die besonderhede van ooreenkomste met ander mense op die plaas aan die nuwe eienaar bekend maak. Doen hy dit nie, kan hy moontlik gedwing word om 'n laer prys vir die grond te aanvaar."

Hy raai boere aan wat werkers in diens het om 'n skriftelike ooreenkoms op te stel waarin gemeld word hoeveel vee werkers mag aanhou, en indien van toepassing, watter landerye bewerk kan word. Sou 'n werker weier om so 'n ooreenkoms te onderteken, moet die eienaar sorg dat dié dokument voor bevoegde getuies aan die betrokke werker oorhandig word.

Hy wys egter daarop dat 'n werkgewer nie die veegetalle, waaroor stilswyend, of by wyse van kontrak ooreengekom is, met 'n nuwe kontrak kan verminder nie. "Die hof kan later so 'n geskrewe kontrak ongeldig verklaar." Artikel 25 van die Verblyfregwet bepaal dat die afstanddoening van 'n bewoner van sy of haar regte, onwettig sal wees tensy dit toegelaat word deur die wet of in 'n hofbevel vervat word. 'n Hof sal ook nie gebonde wees aan enige ooreenkoms, wat daarop gemik is om die regte van 'n bewoner op enige wyse, te beperk nie.

Hy sé dat boere in geval waar 'n afgedankte werker weier om na die beëindiging van sy dienskontrak, vrywillig die plaas te verlaat, nie die reg in eie hande moet neem om só 'n persoon van die plaas te verwyder nie. Die uitsettingsbevel moet deur 'n hofuitspraak verkry word. "As dit nie gedoen word nie, loop 'n werkgewer die gevaar om 'n boete of tronkstraf van tot twee jaar opgelê te word aangesien dit 'n strafregtelike oortreding is."

De Wet sê sy kantoor se deur op Queenstown staan oop vir enige boer in die provinsie om vir raad in die verband te kom aanklop. "Dit is beter om vroegtydig onsekerhede uit die weg te ruim, as om later onkant betrap te word," sê De Wet.

  • Die Queenstown Rural Legal Centre maak deel uit van die Rhodes-universiteit se Regshulpkliniek. Dit word deur die Rural Legal Trust befonds. Die primêre funksie van dié kantoor is om regshulp gratis te verleen aan minderbevoorregte gemeenskappe in die noordelike dele van die Oos-Kaap waar daar veral aandag gegee word aan die plaaswerkers se regte. Bewusmakingsveldtogte word ook gehou met die doel om sowel plaaswerkers en werkgewers in te lig oor hulle regte en verpligtinge, soos vervat in die relevante wetgewing, wat op verblyf- en grondregte betrekking het.

    Navrae: Mnr. Chris de Wet, tel. 045 838 5600.

    9 April 2004