'n Verslag oor die nasionale ondersoek na afsettings op plase word deur baie mense beskou as 'n belangrike bestanddeel wat die drukkoker aan die kook gaan hou met die beoogde wysigings in bestaande arbeids- en verblyfswetgewing. Dit sal plaaswerkers en plaasbewoners waarskynlik meer beskerm.
Die Nkuzi-verslag, soos hy nou bekend is, oor die ondersoek na die afsetting van plaaswerkers in Suid-Afrika het blykbaar soos 'n briesende brander oor die landbou gebreek.
Talle mense meen dié verslag geniet meer politieke aandag as wat dit 'n werklike sosiaal-ekonomiese klem bevat. Ander sê weer só 'n ondersoek moes lankal gedoen gewees het en dit bevestig bloot wat die meeste mense vermoed het.
Die gevolgtrekking in die verslag is dat amper een miljoen mense oor die afgelope dekade van plase in wit hande afgesit is - grootliks weens ekonomiese en sakeredes wat pogings insluit om risiko's en koste verbonde aan nuwe wetgewing te vermy. Luidens die verslag het die gemelde afsettings meestal die voordele van grondhervorming uitgewis. Werkers se boerderybedrywighede, 'n mikpunt van grondhervorming, het ná afsettings afgeneem, met net groenteproduksie wat toeneem.
Die TLU SA meen die verslag het 'n gaping gevul deur die impak van die transformasiebeleid op die kommersiële landbou en sy impak op plaaswerkers uit te wys.
Dr. Chris Jordaan, bestuurder van eiendomsreg van die TLU SA, meen dit wys dat die boer deur ander eksterne faktore, soos droogtes en ekonomiese invloede, in sy optrede met werkers gedryf word en nie deur "politieke magte en ideologieë van apartheid" soos blykbaar deur die meeste mense beweer word nie.
Hy sê die verslag dui daarop dat die staat nie voorsien het wat die invloed op die lewenswyse van die werker en sy gesin sou wees nie - naamlik afdankings.
Jordaan meen die portefeuljekomitee vir landbou en grondsake, aan wie die verslag voorgelê is, het 'n ideologiese siening met "'n struggle-mentaliteit" as vertrekpunt.
Hy meen die verslag het die motief om boere van "onmenslike optrede" te beskuldig. Die aanhalings wat gebruik word van "enkele" vroue en werkers oor hoe hulle voel, "negeer die gebroke verhoudinge en sosiale kontrak wat tradisioneel op plase gegeld het totdat die arbeidswetgewing en gedwonge nywerheidspraktyke op plase gewettig is".
Jordaan sê dít het daartoe gelei dat die landbouer sy boerdery soos enige ander onderneming moes bedryf.
Die verslag bind arbeidstoestande aan uitbuiting van die werker, terwyl die onderliggende steundienste, soos water, verblyf, elektrisiteit, vervoer, mediese koste en persoonlike opleiding, nie in berekening gebring word nie, meen Jordaan.
Met die herstrukturering van die landbousektor weens ekonomiese en globaliseringsinvloede, gaan talle landbouwerkers van die plase verdwyn.
Verder moet die verliese in vigsverwante sterftes van plaaswerkers in 'n verhouding van 3:5 in oënskou geneem word asook die toename in tegnologie, wat arbeid sal verminder, sê hy.
Geskoolde arbeid sal al hoe meer ongeskoolde arbeid vervang en hoë tegnologie sal produksie opstoot. Jordaan sê restitusie-eise, uittredes en grondhervorming sal verder sorg dat boere "verdwyn". "As hierdie getal sowat 10 000 boere beloop, is dit onmoontlik om hulle binne die raamwerk van die huidige beleid of ekonomiese strukture te vervang."
Mnr. Marc Wegerif, bestuurder van programme en die ontwikkeling van Nkuzi, sê 'n toename in produktiwiteit kan wel tot werkverliese lei, maar dit kan ook tot die skep van werkgeleenthede van 'n beter gehalte en groei in die sektor bevorder. Alternatiewe werkgeleenthede moet egter ondersoek word.
Hy sê die hart van die probleem is die samevoeging van arbeids- en verblyfsverhoudinge. 'n Plaaswerker wat sy werk verloor, verloor terselfdertyd sy huis en sy kinders moet uit die skool gehaal word. Dít frustreer boere wat dan sosiale en diensleweringslaste moet dra wat hulle nie wil dra nie. Hy sê oplossings moet gevind word sodat die Regering dieselfde verantwoordelikheid aanvaar vir dienslewering op plase as wat hy in ander gebiede doen.
Hy stel voor daar moet gekyk word na nedersettings binne boerderygebiede waar mense kan woon, sonder om op die plaas te bly, en waardeur die boer terselfdertyd steeds toegang tot arbeid het. "Só 'n oplossing is egter afhanklik van die samewerking van grondeienaars en die beskikbaarstelling van geskikte grond deur hulle."
Wegerif sê boere sal moet "meeding" om arbeid soos in ander ondernemings die geval is. Die huidige situasie waar arbeid aan die plaas "vasgemaak" is omdat 'n werker daar grootgeword het, sal hersien moet word.
Me. Ruth Hall, navorser by die Program vir Grond en Argrariese Studies (Plaas) aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sê hierdie opname is belangrik omdat dit 'n statistiese grondslag gee wat as agtergrond tot indringende besprekings moet lei.
Sy sê dit is duidelik dat grondregte en arbeidsregte nie moet saamval nie en dít behoort 'n oorweging by die hersiening van die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Esta) te wees om verblyfregte te beskerm.
Dit is die munisipaliteite se verantwoordelikheid om dienste aan plaaswerkers op kommunale of private grond te verskaf, maar 'n nasionale beleid oor hóé dienste deur munisipaliteite aan plaaswerkers verskaf moet word, ontbreek. "Die huidige ad hoc-benadering werk eenvoudig nie," meen sy. Sy sê daar moet onthou word dat alle eiendomsregte gekwalifiseer kan word en nie 'n absolute reg is nie.
Vir die vakverbond Cosatu wys hierdie verslag "net nog 'n gebied waar die staat ons mense in die steek gelaat het," sê mnr. Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse sekretaris van Cosatu.
Hy sê die landbousektor, wat meestal uit wit boere bestaan, bevat oor die algemeen 'n hoë vlak van "vyandigheid" teenoor die nuwe Suid-Afrika. "Dié sektor gee uitdrukking hieraan met die wyse waarop swart werkers behandel word."
Ehrenreich sê sekere mense wat politieke doelwitte nastreef, politiseer wel hierdie saak. Dít is 'n kenmerk van die Suid-Afrikaanse demokrasie, "maar daar ís 'n legitieme probleem, want arbeids- en menseregte word geskend".
Die vraagstuk behoort nie koste teenoor arbeid te wees nie, maar hoe díen die landbousektor die nasionale belang.
Hy sê die doel is om gelykheid te bewerkstellig en die gebruik van "tegniese brabbeltaal" oor arbeidsyfers en die ekonomie om die besprekings oor die kwessie te probeer verbloem, help nie om te sien hoe die sektor bevorder kan word nie.
Me. Annelize Crosby, Agri SA se woordvoerder, sê dit is duidelik dat Esta van die begin af problematies was. 'n Volhoubare oplossing vir die kwessie van verblyfreg op plase moet gevind word. Agri SA is bereid om met ander betrokkenes te praat in 'n poging om volhoubare oplossings te vind. Crosby meen die verstedelikingsprobleem is nie net tot die landbou beperk nie.
Die groter probleem behoort met 'n landelike ontwikkelingstrategie aangepak te word. Baie boere het net nie die geld om "hierdie sosiale koste te dra nie".
Mnr. Johan Pienaar, direkteur van ekonomie en handel by Agri SA, sê hy dink nie die landbou kan wesenlik nog arbeid absorbeer nie omdat dit 'n stadig groeiende sektor is. Hy verduidelik die sektor is 'n vangnet vir werkloosheid. Die produktiwiteit van arbeid in die landbou is laer as in ander sektore. Gevolglik ontstaan 'n situasie wat as "verskanste werkloosheid" bekend staan. Dit beteken lone in die landbou is betreklik laag. "As hierdie lone tot kunsmatige vlakke verhoog word, is 'n afname in die arbeidsmag 'n logiese ekonomiese gevolg en nie gebore uit kwaadwilligheid nie - dít waarvan boere so vry algemeen beskuldig word," verduidelik hy.
Hy sê arbeidskoste is die naasgrootste koste-item in die landbou en het R9,5 miljard in die 2004/05-boekjaar beloop. Volgens die Departement van Landbou het die netto inkomste in die landbou in dieselfde tydperk met 22 % gedaal vergeleke met die vorige jaar. Hy sê daar moet dus noukeurig na arbeidskoste gekyk word. "As die telkaarte vir swart bemagtiging en die sektorale vasstelling van minimum lone 'n beperkte waarde aan werknemervoordele koppel, raak só 'n ekonomiese poging nog meer nodig," aldus Pienaar.
Crosby sê Agri SA is bekommerd oor die beweerde hoë persentasie onwettige afsettings waarna die verslag verwys. Die verslag meld dat net 1 % van die afsettings in Suid-Afrika deur die howe gemagtig word. Hier moet onthou word dat die ondersoek van 1984 af gedoen is. 'n Groot deel val dus in 'n tydperk waar geen onderskeid tussen wettige en onwettige afsettings bestaan het nie weens die afwesigheid van wetgewing wat dit reël.
Daar word bespiegel dat, wat arbeid op plase betref, hierdie verslag se rimpels binnekort tot 'n golf van verandering in wetgewing en beleid kan lei.
Ontploffing van produktiwiteit lei tot migrasie
Die landbousektor dra 3 % tot die bruto binnelandse produk (BBP) by, sê mnr. J.P. Landman, bekende politieke ontleder. Hierdie sektor het egter 9 % van die land se mense in diens. Die mynbou, in vergelyking, dra 7 % by en het 'n indiensnemingssyfer van 3,5 %. Die vervaardigingsbedryf is ses keer groter as die landbou, maar neem net 13 % van die land se mense in diens.
Hy meen êrens is iets nie pluis nie. Uit 'n makro-oogpunt kan die geld wat in die landbou verdien word, nie hoë lone óf toptoestande vir indiensneming bewerkstellig nie.
"Alles wat in die landbou gebeur, gebeur ook in die res van die samelewing," meen hy. Produktiwiteit gaan dus deurentyd toeneem. As produktiwiteit in die landbou deurgaans opgestoot word, wat gaan van die 9 % word? vra hy.
Hy voorsien dat die aantal mense wat oor die volgende vyf of tien jaar afgelê gaan word, gaan styg. In Amerika het produktiwiteit in die landbou van 1945 tot 1975 met sowat 7 % per jaar gestyg. In 1975 het hierdie tydperk ten einde geloop. Gedurende hierdie tydperk het ongeveer 20 miljoen mense plase in Amerika verlaat.
Landman sê dit word beskou as die grootste interne migrasie in die geskiedenis van Amerika - selfs groter as die migrasie na Kalifornië met die ontdekking van goud in daardie staat in 1848.
As na die getalle in Suid-Afrika gekyk word waar kommersiële boere van 66 000 tot 44 000 verminder het, moet afgelei word dat 'n soortgelyke "ontploffing" van produktiwiteit hier voorgekom het, meen hy.
Arbeidskoste kán besnoei word
Luidens die Nkuzi-verslag huldig boere die volgende menings:
Kitskommentaar van ander
Verskeie ander mense se kommentaar oor die Nkuzi-verslag is:
"Dienslewering aan plaaswerkers is 'n groot kwessie wat van sterk plaaslike regering afhanklik is. Sulke dienste hoort na regte nie boere se verantwoordelikheid te wees nie," sê prof. Nick Vink, voorsitter van die departement van landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch.
"Dit is nie net die boer se probleem nie. Alle belanghebbendes, veral die Regering, moet deel wees van die proses om werkende oplossings te vind, maar boere móét ook 'n bydrae lewer." - mnr. Marc Wegerif van die Nkuzi-ontwikkelingsvereniging.
"Die Grondwethof het in die Modderklip-uitspraak duidelik aangetoon dat dit die staat se plig is om die enkeling se eiendomsreg te beskerm en ook aan dié mense huise te verskaf. Die verslag ignoreer die wêreldwye neigings van verstedeliking, die vermindering van arbeid en die toenemende meganisasie weens die koste-knyptang." - mnr. Maans Nel, DA-woordvoerder oor grondsake.
"Dit is tyd om die ou 'baasskap'-mentaliteit van plaasbestuur te begrawe." - mnr. Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse sekretaris van Cosatu.
"Ek is liewer 'n gewaardeerde werker in 'n ander land as wat ek die ANC se slaansak in Suid-Afrika is." - mnr. James Hills, 'n boer van die distrik Potchefstroom.
Grondhervorming ondermyn
Die volgende gevolgtrekkings oor die nasionale ondersoek na die afsetting van plaaswerkers in Suid-Afrika word in die Nkuzi-verslag gemaak:
23 September 2005