Die uitbetaling van maatskaplike toelaes hoef nie 'n kopseer vir boere te wees nie. Dit is omdat hulle vooraf 'n tyd kan reël waarop hul werkers die geld kan gaan afhaal.
Mnr. Andries de Jongh, bedryfsbestuurder van die AllPay-stelsel in die Wes-Kaap, sê as boere vooraf reël om 'n sekere aantal mense op 'n spesifieke tyd te bring om hul toelaes te ontvang, hoef die plaaswerkers nie 'n hele dag se werk te mis nie, maar slegs 'n uur of twee.
"Ons kan mekaar tegemoetkom. Ons doen die eerste 14 dae van elke maand uitbetalings en is dan elke dag vanaf 08:00 tot 15:00 beskikbaar. Dit is ook vir ons beter as die mense nie almal op een slag kom nie," het De Jongh aan Landbouweekblad gesê.
Volgens hom ontvang 508 000 mense in die Wes-Kaap maatskaplike toelaes.
AllPay is 'n afdeling van Absa Bank wat 'n tender by die Regering gekry het om die uitbetalings te behartig. De Jongh het benadruk hulle ken nie die toelaes toe nie, maar moet dit bloot versprei.
Volgens hom neem 'n uitbetaling ongeveer 30 sekondes. Die lang rye neem die meeste tyd in beslag.
"Boere moet net aanvaar almal kan nie gelyktydig gehelp word nie en moet 'n redelike tyd vir die uitbetalings toelaat. Dit sal ons help as die boere vooraf met ons reël as hulle byvoorbeeld die werkers vanaf 14:00 tot 15:00 vir die uitbetalings wil bring."
Produsente wat dié reëling wil tref, kan De Jongh bel by tel. 021 691 8252.
Landbouweekblad, 18 Mei 2007