Boere word aangemoedig om plaaswerkers as gesondheidswerkers te laat oplei. So kan hulle oorvol klinieke met te min personeel se taak verlig, is op 'n vergadering in De Doorns gesê. Die vergadering is onder andere deur mnr. Cobus Dowry, provinsiale minister van landbou, mnr. Pierre Uys, Wes-Kaapse minister van gesondheid, me. Estelle Engelbrecht van die Kaapse Vroueforum en me. Elza Jordaan, raadslid van die munisipaliteit Breedevallei, bygewoon. Volgens Jordaan beteken lang wagtye by klinieke 'n verlies aan inkomste vir plaaswerkers, daar is dikwels nie die nodige medisyne beskikbaar nie en gebrekkige telefoon- en elektrisiteitsverbindings is dodelik in noodgevalle. Engelbrecht sê gesondheidswerkers wat na basiese noodhulp en kleiner siektes op die plase omsien, help die klinieke baie. Sowat 23 plaaswerkers is in 2003 in De Doorns, met sowat 210 plase, opgelei. In die Kaapse distriksmunisipaliteit Wynland is ongeveer 400 gesondheidswerkers. "In gebiede waar die gesondheidswerkers samewerking deur die owerheid ontvang, werk dit baie goed. Dit help nie as die gesondheidswerkers nie opgeneem word in 'n struktuur van ondersteuning nie, want dan gaan hulle sekere dinge vergeet." Die gesondheidswerkers moet ook weet watter "huismedisyne" nie by klinieke beskikbaar is nie en dit in hul eie noodhulpkissies aanhou. Die gesondheidswerkers is boonop belangrike bemiddelaars tussen klinieke, plaaswerkers en mense in informele nedersettings, sê dr. Louise Lunnon van distriksgesondheid. "Hulle help ons ook met die toesighouding van mense met tuberkulose en herinner mense wanneer dit tyd is vir immunisering of gesinsbeplanning." Uys het 'n beroep op boere en die gemeenskap gedoen om te kyk waar groter betrokkenheid as gesondheidswerkers bewerkstellig kan word. "Eienaars moet dalk bietjie verder kyk na waar hulle kan help met finansiering of die "aanneem" van 'n gesondheidswerker, " het hy gesê. "Ek wil sien dat die 400 gesondheidswerkers vermeerder en dat hulle nie hul vaardighede verloor nie. "