Landbou
Plaaswerkers moet eie situasie verander
LUCILLE BOTHA

Plaaswerkers is op die aankondiging van die wenners van die Hexrivier-vallei se plaaswerker van die jaar-kompetisie aangemoedig om "daadwerklik iets te doen" om hul omstandighede te verbeter. Mnr. Cobus Dowry, Wes-Kaapse minister van landbou, sê die bruin mense kan hulle nie daarop roem dat "omdat hulle bruin is, moet geleenthede vir hulle oopgaan nie". "In dié land moet ons probeer om kleurblind te wees," het hy gesê. "Wanneer 'n mens oor verandering praat, meen ek 'n mens moet by jouself begin en die vraag vra wat is my ingesteldheid om my eie omstandighede te verander en tweedens wat is daar in my ingesteldheid om verandering rondom my teweeg te bring. "Hy het beklemtoon dat jong mense lief gemaak moet word vir die landbou en hulself by die Kaapse Instituut vir Landbou-opleiding: Elsenburg moet bekwaam. Mnr. Dirk Jansen, wenner in die kategorie vir middelbestuurders, is ook as streekswenner aangewys. Meer as 100 plaaswerkers het vanjaar in die sewe kategorieë meegeding. Jansen sê die wenners is gemeenskapsleiers waarna ander plaaswerkers opkyk. "Ons as leiers het baie om te doen. Daar is baie opheffingswerk wat ons kan doen en ons moet nie ophou daarmee nie. " Die kategorie-wenners is Martha Januarie (algemene werker), Damon Jansen (administratiewe personeel), Leon Lottering (tegniese operateur), Jacob Ramakatsa (besproeiingspesialis), Martha Thomas (junior bestuur) en Henry Mienies (senior bestuur). Die plaaswerker van die jaar-kompetisie word vanjaar ook die eerste keer in die Noord-Kaap aangebied. Die streekswenners kom in Oktober teen mekaar te staan wanneer 'n provinsiale wenner aangekondig word. Die algehele wenner sal met R3 000 wegstap.