'n Totale nuwe behuisingstrategie vir plaaswerkers is nodig, sê Agri SA in 'n dokument wat pas aan die Portefeuljekomitee vir Landbou en Grondsake voorgelê is.
Dié voorgestelde rigtingverandering maak deel uit van 'n groter voorlegging waarin Agri SA sy standpunt oor plaasafsettings uitstippel en sy bedenkinge uitspreek oor die geloofwaardigheid van statistiek wat uit Regeringskringe oor hierdie netelige saak aangehaal word.
(Klik hier om die volledige Agri SA-dokument te lees. Dit is in PDF-formaat.)
Die organisasie sê die ooglopende oplossing vir die behuisingsvraagstuk onder plaaswerkers lê in voldoende landelike behuising weg van die plaas af.
Behuising is die staat se verantwoordelikheid, nie dié van private grondeienaars nie. 'n Huis op die plaas (selfs goeie behuising) het baie min, indien enige kapitale waarde vir 'n plaaswerker as die diensverhouding tussen hom en die boer beëindig word. 'n Ander benadering is dus nodig om plaaswerkers in staat te stel om bates op te bou in behuising.
Deur mense botsende regte op dieselfde stuk grond te gee, lei dikwels tot konflik, tot nadeel van albei partye. Daarbenewens bestaan dienste soos elektrisiteit vir werkershuise, hospitale, klinieke, skole, winkels en sportgeriewe selde op plase. Munisipaliteite vind dit ook baie moeilik om dié dienste op plase te lewer.
Alternatiewe werkgeleenthede is verder baie beperk in die landbou-omgewing, wat dit onaantreklik maak vir werkers om op die plaas aan te bly as hy nie meer in die boer se diens is nie.
Agri SA sê plase is in die eerste plek produksie-eenhede, en nie woongebiede nie. Daar is 'n sterk verbintenis tussen ekonomiese aktiwiteite en die bewoning van plaaswerkerhuise. Behuising vir die armes bly die verantwoordelikheid van die staat - nie dié van individue of die private sektor nie. 'n Nuwe beleid moet plaaswerkers werklik bemagtig deur hulle eiendomsreg van hul eie huis te bied, weg van die plaas af.
Die organisasie stel in hierdie verband ook gesamentlike programme tussen boere en die Regering voor. As voorbeelde word staatswaarborge vir huisverbande en lenings wat boere self aan werkers voorsien genoem, asook gesubsidieerde rentekoerse vergelykbaar met HOP-behuising.
Plaaswerkers en hul families wat plase verlaat, behoort voorkeur te kry vir LRAD-fondse of behuising op plattelandse dorpe.
"Hoewel boere 'n rol behoort te speel om 'n beter lewe vir almal in landelike gebiede te skep, kan hulle nie hierdie las (van behuising) alleen dra nie. In werklikheid kan baie boere bloot nie bekostig om hulle te begewe in 'n groot maatskaplike verantwoordelikheid, soos die voorsiening van behuising, weiding, water en gratis elektrisiteit aan mense wat nie ekonomies aktief in die sektor is nie, en nie hierdie dienste self kan bekostig nie.
"Boere is nietemin gewillig om saam met die Regering te werk aan blywende en volhoubare oplossings vir hierdie ware menslike en maatskaplike uitdaging," lui Agri SA se slotbetoog.
5 Maart 2008