Landbou
Boer gee ou trekkers nuwe lewe
Theuns Botha

Meer as 100 trekkers van vanmelewe se dae het weer nuwe lewe gekry in die hande van mnr. Bob Kaschula van Angels Peak, Elliot. Dié skaars werktuie van 1916 tot 1970, en wat almal in werkende toestand is, word as die grootste private versameling in Suid-Afrika beskou.

Selfs buitelandse toeriste wat die Oos-Kaap besoek, sluit Angels Peak en die landboumuseum op Ugie in hul reisplan in om die groot verskeidenheid werktuie ù wat tot in die fynste besonderhede opgeknap is ù te bewonder.

Mnr Kaschula se belangstelling in die restourasie van ou werktuie het sowat 40 jaar gelede begin toe die destydse trekkers, wat meestal nog op kragparaffien geloop het, begin plek begin maak het vir 'n nuwe geslag trekkers ù wat deur diesel aangedryf is.

Hy het destyds in 1962 'n nuwe International B414 teen R1 850 aangeskaf, maar nie die bandkatrol bygekoop nie omdat dit hom 'n verdere R100 uit die sak sou jaag. Hy het nie sy ou trekker, 'n International W6-paraffientrekker uit 1946, ingeruil nie, omdat die handelaar hom te min daarvoor aangebied het.

Nádat hy die W6 gerestoureer het, het die gogga hom behoorlik gebyt. As hy op 'n plaas of skrootwerf gekom het, het hy gesoek na ou werktuie wat iewers vergete staan. "Daardie jare sou mens selde meer as R50 vir 'n ou trekker betaal ù die meeste boere het dit sommer aan jou gegee ù net om van die rommel ontslae te raak. Vandag kos 'n afgeleefde trekker maklik meer as R10 000."

Onderdelepryse het intussen ook opgeskiet. 'n Agterband wat 30 jaar gelede sowat R250 gekos het, kos vandag al bykans R3 000.

Die oudste trekkers in mnr. Kaschula se besit is 'n Massey Harris 12/20 uit 1916 en 'n Farmall Regular met ysterwiele, wat in 1923 gepatenteer is. Die trekker wat hy die graagste by sy eie versameling wil voeg, is 'n 1936-Moline. Dié trekker was eers as Twin Rivers bekend en is vernoem na die stede Minneapolis en Moline in Amerika. Hy weet van een in die Dordrecht-distrik, maar die eienaar verseg om dit te verkoop.

Hy was in sy skik toe hy verlede jaar op 'n vendusie naby Lady Grey 'n Pacemaker wat omstreeks 1938 van Kanada ingevoer is, teen R4 000 in die hande gekry het. Ná die koeëllaers van die voorste wiel en krinkspil vervang is, is die trekker weer in lopende toestand. Dit is nou meer as R10 000 werd.

Mnr Kaschula, wat jare lank as 'n beoordelaar by veteraantrekkerskoue opgetree het, meen trekkers het wêreldwyd die grootste enkele bydrae tot die vooruitgang van die landbou gelewer. Onder die maatskappye wat ná die oorlog diep spore in Suid-Afrika getrap het, is Massey Ferguson, John Deere, Case, International en Fordson. Dié fabrikate was sterk in aanvraag in die mark vir gebruikte werktuie omdat hul onderdele oral in die land beskikbaar was.

Die grootste omwenteling in dié bedryf het tydens die Tweede Wêreldoorlog plaasgevind. Hoewel geen trekkers tydens die oorlog gemaak is nie, is baie van die tegnologie wat vir tenks en gepantserde voertuie ontwikkel is, ná die oorlog op trekkers toegepas.

Ratkaste

Van hierdie tegnologie was ratkaste met ses gange vorentoe wat in twee reekse ingespan kon word. Daarmee kon sommige trekkers so vinnig as 24 km/h gery het. "Teen dié spoed moes 'n mens jou hoed diep oor jou oë trek." Die hidroliese driepuntstelsel, kruiptrekkers en veral die ontwikkeling van die dieselenjin was ook voordelige uitvloeisels uit die oorlogsjare.

Hy meen die Amerikaanse en Kanadese trekkers van 1950 tot 1970 was die gebruikersvriendelikste trekkers. Dit was veral hul stuurmeganismes, ratkaste en styl wat hom beïndruk het. Hy beskou die International Harvester as een van die suksesvolste trekkers wat ooit op die mark verskyn het. Teen 1964 het dié maatskappy meer as 4 miljoen trekkers wêreldwyd van die hand gesit.

Die Engelse, Duitse en Italiaanse vervaardigers was ná die oorlog tegnologies ver agter die Amerikaners. Die meeste van dié lande se trekkers van voor 1955 moes nog met 'n slinger aan die loop gesit word.

Die Duitse Lanz Bulldog met sy kenmerkende vliegwiele weerskante is een van die robuusste trekkers wat ooit vervaardig is. Mnr. Kaschula het self egter nie te veel erg aan dié trekker nie.

"As dié trekker met sy tweeslagenjin met een silinder eers met ´n groot gesukkel aan die loop gekry is, sal dit omtrent op enige denkbare brandstof loop. Die probleem is net dat dié trekker jou só vol olie spat dat die operateur altyd lyk of hy vol sproete is. Daar is ook gespot dat 'n Lanz wat oor die middagete gestaan en luier het, aan 'n boom vasgeketting moes word sodat dit nie tot in die naaste sloot bokspring nie."

Hy sê daar was die afgelope tien jaar 'n groot oplewing in die belangstelling in ou werktuie en oral in die land is daar nou private versamelaars. Verskeie klubs is gestig waar entoesiaste gereeld bymekaarkom en ope dae reël om die publiek meer bewus te maak van dié stokperdjie.

Die belangstelling het só gegroei dat 'n wêreldrekord drie jaar gelede op die plaas Sandstone Estates in die distrik Ficksburg opgestel is toe 107 trekkers en 'n span Nguni-osse saam 'n land bewerk het. Die rekord is sedertdien in Australië verbeter.

Suid-Afrika se veteraantrekkereienaars gaan op 20 April weer probeer om die Guiness Book of Records te haal deur 400 trekkers gelyktydig op een land te laat werk.

Ofskoon hierdie ware ou Noag-trekkers ál skaarser en duurder word, toon jonger mense 'n merkwaardige belangstelling. "Wanneer hulle sien hoe ons op die skoue sweet om die ou trekkers met 'n slinger aan die gang te kry, staan hulle gewoonlik nader en kom gee raad. Op dié wyse word daar nuwe belangstelling by hulle gekweek."

Boonop verskuif die doelpale gereeld en word trekkers wat 25 jaar gelede vervaardig is, nou as veterane beskou.

Die Karoo is waarskynlik die beste plek om na vanmelewe se trekkers te soek. Met die geld wat wol- en volstruisboere destyds gemaak het, was hulle van die eerstes wat trekkers aangeskaf het. Omdat dié trekkers min gebruik is, is baie nog in redelik goeie toestand.

Mnr. Kaschula sê hy voel oor elkeen van sy veterane soos oor 'n eie kind. Sy 1930-Farmall Standard en 1927-McCormick lê hom veral ná aan die hart.

Hy deel graag sy kennis. Belangstellendes kan hom by 045 931 2302 bel.