Landbou
Weimielies bobaas vir oorwintering
Louw Pretorius

"Mielies in die vorm van staande hooi of weimielies kan nie maklik uit 'n koste-oogpunt geklop word nie. Vergeleke met oulandsgras wat in dié gebied baie algemeen as wintervoer gebruik word, bly mielies bobaas", sê mnr. Daan van der Merwe van Ongezien, Bethal.

Hy is pas 'n maand voltyds doenig met sy melkery ná vier dekades as voorligter. Die eerste 20 jaar was hy algemene voorligter in diens van die Departement van Landbou ù veral in sy vakgebied as veekundige. Die afgelope 20 jaar was hy as akkerbou- en weidingvoorligter by OTK op Bethal in diens, waar hy vir baie boere die pad na welslae met mielies help baan het.

Dis op grond van sy ervaring in hierdie twee belangrike vakgebiede ù wat in die Hoëveldstreek eintlik interafhanklik van mekaar is ù dat hy hierdie stelling maak.

Oesreste word weliswaar deeglik in dié gebied benut, maar boere skram weg daarvan om weimielies in die winter vir vleisbeeste te gebruik. Vermorsing kán 'n probleem wees, wat in die geval van beeste behoorlik bestuur moet word. Só kan die diere byvoorbeeld net vir 'n paar uur per dag toegang tot die mielies kry om te verhoed dat hulle die plante té veel vertrap of selfs in die land gaan lê.

'n Ander manier sou wees om die mielies met behulp van 'n verskuifbare elektriese heining stuksgewys te laat bewei. Op Wildebeesfontein, die voormalige proefplaas van OTK, het mnr. Hendrik van Pletzen belangrike navorsing gedoen oor die benutting van weimielies waar beeste en skape in 'n gemengde trop die gewas benut. Skape is by uitstek goeie oprapers van pitte wat op die grond beland.

Die belangrikheid van die kwessie dat boere weer opnuut na weimielies in plaas van oulandsgras behoort te kyk, gaan in wese oor meganisasiekoste en die steeds stygende pryse van kunsmis, sê mnr. Van der Merwe. Dit is al 'n hele paar jaar dat hy gereeld die produksiekoste van weimielies met dié van oulandsgras vergelyk, aangesien laasgenoemde die goedkoopste hooigewas vir die gebied is. Uiteraard word pryse van tyd tot tyd aangepas, maar dit is interessant dat die kosteverhouding tussen die twee gewasse deurslaggewend bly.

Tabel 1 en tabel 2 toon duidelik aan dat die produksiekoste per hektaar van weimielies vir winterweiding goedkoper is as dié van oulandsgras wat as winterhooi gebruik word. Die pryse is in albei gevalle bereken in R/ha per jaar en is, wat bemesting betref, gebaseer op Desember 2001 se pryse. Dis veral belangrik om in gedagte te hou dat kunsmispryse vanjaar vanaf 1 Januarie soos volg gestyg het: KAN is 90,6 % duurder; kaliumchloried is 70,5 % duurder en fosfaat is 13,6 % duurder.

TABEL 1: Produksiekoste van weimielies
AksieBeskrywingR/ha
Saadkoste160,00
Bemesting90 kg N/ha, 15 kg P/ha en 30 kg K/ha,
220 kg van die mengsel 3:2:4 (31)
150 kg ureum, 0,5 t kalk
461,00
Onkruidbestryding130,00
InsekbestrydingSaadbehandeling, snywurm en stamboorder 107,00
Bewerking

Ploeg (R150/ha)
Skottelbewerking, winter (R50/ha)
Plant (R120/ha)
Skoffel (twee maal) (R100/ha)
Spuit (twee maal) (R60/ha)
Kalkstrooi, 25 % van lande/jaar (R8/ha)
488,00
Diverse koste 160,00
OesversekeringHael, teen 7 % 105,00
Totaal1 616,00

TABEL 2: Produksiekoste van oulandsgras
AksieBeskrywingR/ha
Vestiging (per jaar) Saad, kalk, skotteleg, ploeg, saadbedding,
rol en saai = R896 gedeel deur 8 (8-jaarleeftyd)< /FONT >< /FONT >
112,00
Bemesting120 kg N/ha, 12 kg P/ha, 60 kg K/ha (jaarliks) 945,00
MeganisasieKunsmis strooi, twee maal (R80/ha)
Baal, twee maal (R270/ha)
Hooisny, twee maal (R260/ha)
Hark, twee maal (R100/ha)
Uitry van bale (R20/ha)
Voer in winter, bale ongemaal (R80/ha)
810,00
Diverse koste 160,00
Brandversekering5 % van waarde 101,00
Totaal2 128,00

Ander aspekte wat 'n mens in gedagte moet hou met betrekking tot hierdie vergelyking, is 'n bees se voedingsbehoeftes vir oorwintering en ù op grond daarvan ù die drakrag van elk van die twee gewasse.

In die geval van oulandsgrashooi benodig een grootvee-eenheid (GVE) 10 kg hooi per dag. Vir die moeilike wintermaande wat oor 100 dae strek, beteken dit dus 1 ton hooi per GVE. In die geval van weimielies is die behoefte 4 kg mielies per dag, plus ruvoer in die vorm van blare en stronke. Oor 100 dae verteenwoordig dit dus 400 kg mielies.

Ten opsigte van drakrag geld die volgende:

  • Een hektaar oulandsgras met 'n opbrengspotensiaal van 6 t/ha kan dus 6 beeste 100 dae lank dra. Met 'n potensiaal van 4 t/ha, kan dit 4 beeste vir 100 dae dra.
  • Een hektaar weimielies (20 % vermorsing ingesluit) kan met 'n graanopbrengs van 4 t/ha 8 beeste vir 100 dae dra. Met 'n graanopbrengs van 3 t/ha , kan dit 6 beeste 100 dae lank dra.
  • Volgens resultate in proewe deur mnr. Hendrik van Pletzen kan een hektaar oesreste met 'n graanopbrengs van 2 t/ha 1,4 beeste vir 100 dae dra.

    Volgens mnr. Van der Merwe beloop die koste ten opsigte van voorgenoemde drie alternatiewe soos volg:

  • Vir oulandsgrashooi met 'n opbrengs van 5 t/ha, kos dit R425/GVE oor 100 dae.
  • Vir oesreste met 'n graanopbrengs van 2 t/ha word 'n verlies van nagenoeg R400/ha gerealiseer (teen 'n graanprys van R800/t). Die totale koste van oesreste beloop R286/GVE per 100 dae.
  • Vir weimielies met 'n graanopbrengs van 3 t/ha, kos dit R269/GVE oor 100 dae.

    In die geval van oulandsgrashooi moet vir 'n energielek vir die diere voorsiening gemaak word. In die geval van weimielies sal die lek aansienlik goedkoper wees. Uiteraard het die mielieprys 'n effek op hierdie berekeninge. Mnr. Van der Merwe baseer sy syfers op 'n gemiddelde mielieprys van R800/t. In die geval van oesreste is dit ook belangrik dat 'n mens jou insetkoste met die bykomende stroop- en vervoerkoste van die graan aanpas.

    Dit mag wees dat ander boere se syfers in 'n soortgelyke berekening verskil. Met die metodiek is daar kwalik fout te vind. In die lig van meganisasiekoste en veral kunsmispryse, is dit 'n feit dat dit baie boere sal baat om weer 'n keer na die gebruik van hul grond met 'n lae-, maar veral 'n mediumpotensiaal te kyk, sê mnr. Van der Merwe.