Landbou
Bobbejane en ander vabonde
Thys de Wet

In die verlede was bewaringskundiges al dikwels in 'n polemiek betrokke oor die hantering van probleemdiere en die emosionele kant van die beskerming van dié diere. Dit gebeur veral wanneer bobbejane en blou-ape ter sprake is, waarskynlik omdat dié diere die meeste met mense ooreenstem en menslike eienskappe dikwels aan hulle toegedig word.

Feit is egter dat bobbejane en ape volop is, en omdat hulle in troppe voorkom, kan hulle groot skade aanrig. In natuurlike toestande het die voorkoms van water en kos in die winter en vroeë herfs 'n groot invloed op dié diere se verspreiding en getalle gehad. Dié faktore is nou nie meer van belang nie, en hul aanpasbaarheid, die groot verskeidenheid kossoorte wat hulle vreet en hul vermoë om aangeplante voedselbronne en ook afval te vreet, het die probleem van kostekorte bykans laat verdwyn. Hulle het ook die vermoë om oor die meeste heinings en ander versperrings te klim.

Nog 'n probleem ontstaan wanneer die diere aan mense (veral toeriste) gewoond raak en probleme skep, soos om lekkers en roomys van kinders af te neem, asblikke om te keer en in tente en woonwaens in te gaan om kos te soek. 'n Chaos breek dikwels los wanneer bobbejane in 'n woonwa gevang word en die toeris in die deur staan en skreeu, terwyl die dier se enigste vlugroete dié deuropening is.

Bobbejane en ape se belangrikste sintuig is hulle oë. Hulle is intelligent genoeg om gou te leer wat gevaarlik is en waar hulle kanse kan waag. Hulle sal byvoorbeeld onderskei watter mense hulle bedreig of watter voertuig gevaar inhou, terwyl hulle weer op ander voertuie sal klim en kos bedel, en selfs ruitveërs beskadig.

Dié probleme moet sinvol en met oorleg aangepak word, omdat die diere bloot die lewe vir hulself probeer vergemaklik. Wanneer hul gedrag egter vir mense onaanvaarbaar word, tree die mens drasties op. Die sleutelwoord by die hantering van die probleem is respek vir dié diere. Dit geld vir alle ander diere ook.

Vanghokke is die doeltreffendste bestrydingsmetode. Die vangproses neem lank en begin by die regte keuse vir 'n stelplek, die uitplasing van voer vooraf, die vang van die eerste volwasse diere, en die hantering van die gevange diere waar die res van die trop dit nie sien nie.

Die hokke word oneweredig en in 'n bondel uitgeplaas, in navolging van die diere se vreetpatroon. As dié metode nie presies gevolg word nie, is die vangpoging gedoem tot baie moeite en baie frustrasie. Die hulp van spesialiste is baie belangrik hier.

Bosvarke en vlakvarke

Dié twee wilde varksoorte kan albei in sekere toestande probleme veroorsaak. Omdat hulle tropdiere is, kan hul ook aansienlik baie skade aanrig. Mielieplante word byvoorbeeld omgestoot, of grenadellaranke word van die prieel afgetrap. Baie plante word só beskadig.

Die varke vreet baie verskillende kossoorte en skade kom voor aan gesaaides, groente en vrugte. Hulle is kwesbaar vir swak veldtoestande, maar hul getalle kan vinnig herstel.

Vlakvarke is hoofsaaklik bedags aktief, terwyl bosvarke in die nag aktief is. Daar is heelwat gebiede waar dié twee soorte saam voorkom. Bosvarke het 'n bykomende probleem omdat hulle draers van varkpes kan wees. Dít het veroorsaak dat streng veeartsenykundige beperkings bestaan ten opsigte van die vervoer van dié diere.

Varke se sintuie is redelik ontwikkel, maar hul reuksintuig is van die beste van alle diersoorte. Selfs garingdraadjies wat as snellertoutjies gebruik word, skrik hulle af. Stelplekke moet dus met die grootste sorg opgestel word. Waar voerplekke gebruik word, moet dieselfde persoon dieselfde tyd elke dag die voerwerk doen. Wanneer die stelwerk gedoen word, is dit belangrik dat daar nie ander mense se reuk ook by die aas of valdeur is wat die varke sal afskrik nie.

Van die doeltreffendste afweermetodes is geëlektrifiseerde heinings. Dít moet egter in die korrekte konfigurasie wees, anders hardloop die varke deur die draad.

Vangkampe is doeltreffend mits die voorbereiding op die regte manier gedoen is. Die kamp moet groot wees (minstens 10 m in deursnee) en ten minste seskantig, agtkantig of rond wees. Die rede hiervoor is dat die diere langs die kante van 'n vierkantige kamp af hardloop en dan die heining by die hoek van die kamp breek.

Met die meerhoekige kampe hardloop hulle in 'n sirkel en bots die diere nie met die heining nie. Die lokmiddel moet in verskillende hope geplaas word, sodat die dominante dier nie die ander verdryf en dan alleen gevang word nie.

Ystervarke

Ystervarke het meestal geen status in die natuurbewaringsordonnansies nie. Dié dier kom baie wydverspreid voor en is só volop dat die meeste grondeienaars daarmee te doen kry, al is dit nie as 'n probleemdier nie.

Hulle kom in groepe voor wat uit 'n volwasse paar bestaan en ander jong volwasse en/of onvolwasse diere. Net die volwasse paar teel gewoonlik. Kleintjies loop van vroeg af saam met die ouers.

Wanneer die volwassenes van kant gemaak word, teel van die jonger diere, en in plaas van slegs een wyfie in die groep wat dragtig word, is daar dan dalk drie of meer dragtige wyfies. Die teeltempo neem dus drasties toe. Diere behoort dus ook net van kant gemaak te word waar daar werklik 'n probleem bestaan.

Ystervarke kan deur hul gate 'n habitat en/of skuiling vir ander diere skep, en daardeur 'n belangrike ekologiese rol in hul omgewing speel. Ongelukkig kan hul graafvermoë ook nadelige gevolge veroorsaak as hulle onder heinings deur grawe en ander diere dan die gat gebruik. Direkte skade sluit gewoonlik in dat oeste soos waatlemoene en pampoene op die lande beskadig word. Groentetuine en bolplante loop ook gereeld deur.

Bestrydingsmetodes is die insement van goeie heinings om klein, intensiewe tuine te beskerm, ogiesdraadfuike en jag met honde, maar in die laaste geval moet voorsiening gemaak word vir veeartsenykoste. Vergassing van gate word ook soms gebruik, maar dit laat vrek egter ook heelwat ander diere wat die gate benut en moet net as 'n laaste uitweg beskou word.

Dassies

Die dassie is 'n diersoort wat ook meestal geen status in natuurbewaringsordonnansies het nie. In sommige plekke raak hulle skaars weens menslike bedrywighede, maar in ander plekke word hulle meer omdat die arende ù wat hulle getalle beperk ù uitgeroei is. Soos die meeste boere weet, is dassies rats tussen rotse, maar hardloop hulle moeilik op oop grond.

Die arende beperk die dassiegetalle nie soseer deur die direkte vangste nie, maar omdat die dassies juis nie vinnig op die grond kan vlug nie en hulle dikwels tot 'n rotskoppie beperk is. As arende afwesig is, wei dassies oor groter gebiede en is hulle in 'n beter kondisie vir aanteling.

Dassies vreet 'n redelike verskeidenheid kossoorte en dit sluit verskeie soorte kruie en grasse in. Sig is hul belangrikste sintuig en hulle kan gewoonlik gevaar van ver af raaksien en tussen die rotse verdwyn. Die skade wat beperk moet word, hou verband met die feit dat dassies met skape om weiding meeding. Dit kan slegs 'n faktor word as daar groot getalle dassies is en geen roofvoëls meer in 'n gebied voorkom nie.

Bestrydingsmetodes sluit in om die diere te skiet of te vang met krale van ogiesdraad. Heinings hoef net 'n meter hoog wees, maar moet stewig in die grond geanker word.

Rooibekvinke

Rooibekvinke is 'n nasionale plaag en hul bestryding vind onder die toesig van die Nasionale Departement van Bodembeskerming plaas. Dié voëltjie is waarskynlik die volopste werweldier wat bestaan. Hulle is by uitstek swermdiere en kom in swerms voor van etlike honderde tot miljoene voëls.

Hul voedsel is graansade. Vroeër jare het hulle van grassaad gelewe en is hulle gedwing om oor groot gebiede te trek om genoeg voedsel te kry. Moeilike jare het hul getalle 'n knou toegedien. Deesdae word hoëgraadse voedsel in oorvloed vir die voëls geproduseer en neem hulle getalle steeds toe ondanks volgehoue bestryding.

Omdat die voëls 'n nasionale plaag is, is vinkbeamptes aangestel wat die swerms se ontstaan en verspreiding dophou, sodat beheer uitgevoer kan word wanneer nodig. Die beampte kan enige grond betree vir 'n vinkondersoek en selfs natuurreservate word soms sonder toestemming bespuit.

Bestryding geskied deur lugbespuiting met gif waar bosse in die veld staan. By water en ander sensitiewe gebiede word die bestryding egter anders gedoen. Brandstof word in hul slaapplek geplaas en dan deur middel van 'n ontploffing deur die plante geblaas as 'n fyn sproei, wat aan die brand gesteek word terwyl die voëls opvlieg. In groot kolonies word miljoene vinke soms só op een slag afgemaai.

Dié bestryding bring tydelike verligting, maar die voëls se getalle word nie op die lange duur verminder nie. Die enigste oplossing daarvoor is waarskynlik biologiese bestryding. Dit beteken dat daar geen kos vir hulle beskikbaar moet wees nie. Die praktiese moontlikhede daarvan is nog nie ondersoek nie, maar om werklik 'n verskil te maak, sal daar in 'n bepaalde gebied vir minstens een, maar verkieslik twee seisoene, nie landbouprodukte geplant moet word wat deur die vinke gevreet kan word nie.

Dit sal dan die vinke aangewese maak op natuurlike voedsel en die getalle sal dus skerp val.

Daar is nog meer diere wat probleme veroorsaak, maar daar is nie ruimte om almal te bespreek nie. Dit word aanbeveel dat mense wat ernstig oor die oplossing van probleme voel, 'n opleidingskursus moet ondergaan ten einde werklik sukses te behaal.

Mnr. Thys de Wet is verbonde aan Hoedspruit se Navorsings- en Teeltsentrum vir Bedreigde Spesies. Hy was 23 jaar lank in diens van die Departement van Natuurbewaring van Transvaal (later Noordwes).