Landbou
Hondagtige roofiere gedra hulle só (probleemdiere 8)
Thys de Wet

Om probleemdiere doeltreffend te kan bestry, is dit gerade om 'n studie van hul gedragspatrone te maak. Benewens die rooijakkals ù wat volop en deur die hele land wyd versprei is ù tel die wildehond, die bruin en die gevlekte hiënas, rondloperhonde asook vosse onder die hondagtige probleemdiere op veeplase.

Dié diere se gedragspatrone verskil meestal van mekaar en die boer benodig dikwels ook verskillende strategieë om elk van dié diere te bestry wanneer hulle probleme op die plaas veroorsaak.

Die rooijakkals
Die rooijakkals is ingevolge die Natuurbewaringsordonnansies in al die provinsies 'n verklaarde probleemdier.

Baie mense glo jakkalsgetalle het "ontplof". 'n Mens moet egter onthou dat dié diere se getalle net kan styg as hul hulpbronne en voedsel ook toeneem.

Hul sosiale struktuur bestaan uit 'n paar ('n reun en 'n teef) wat saam in 'n loopgebied bly. Ander volwasse jakkalse word uit dié gebiede geweer. Dit is die vernaamste meganisme wat keer dat jakkalsgetalle onbeperk in só 'n gebied kan toeneem.

Jong diere (10 maande tot 2 jaar oud) trek tussen die loopgebiede rond om blyplek te soek. Die jong diere is kwesbaar deurdat hulle nog onervare is, nog nie goed kan jag nie, en onderdanig is aan al die volwasse diere wat in dié gebiede bly. Hulle word dus oral met aggressie begroet en verjaag totdat hulle op die ou end 'n oop gebied opspoor. Dan moet hulle waarskynlik met ander jong jakkalse daarom meeding.

Uit navorsing weet ons van só 'n jakkals wat 11 maande oud was en wat vir 4 nagte ná mekaar gemiddeld verder as 24 km per nag geloop het. Die verste in een nag was 40 km. Dit is duidelik dat 'n jakkals van dié grootte dit nie kan volhou nie. Dié dier het dus vir 5 dae daarna op een plek gebly om sy stukkende pote kans te gee om te herstel en om te rus voordat hy verder getrek het. Dit is stres en fisieke ooreising soos dié wat veroorsaak dat sowat 60 % van die jaar se aanwas vrek voordat hulle 'n jaar oud is.

Hul kos bestaan uit onder meer vleis, aas, insekte, plante en vrugte. Die vleis is meestal aas, maar veldmuise en hase is gewoonlik ook hoog op die spyskaart. In kleinveestreke kan vee ook 'n deel van die dieet uitmaak.

Jakkalse is van die beste ouers in die natuur. Hulle sal hul lewens op die spel plaas om die kleintjies te beskerm en versorg die werpsel uitstekend. Dit behels dat die ma vir die eerste paar weke nie ver van die teelgat af wegbeweeg nie. Die mannetjie dra dan vir haar kos aan. Die wyfie begin later van die kos vir die kleintjies uitbraak en die mannetjie doen dit ook betreklik gou daarna.

Die kleintjies word gereeld skoongemaak en alle vuilheid en parasiete word verwyder. Die kleintjies se mis word selfs gevreet. Die teelgate word ook geruil wanneer dit reeds vir 'n tyd in gebruik was. Met die volgende paartyd word die kleintjies egter uit die volwassenes se gebied verdryf.

Omdat die volwasse diere gewoonlik in pare beweeg, sien talle diere met bykans elke bestrydingspoging hoe hul maats van kant gemaak word. Hulle leer die betrokke uitwismetode ken en vermy dit daarna. Die diere kan deur hul gedrag ook 'n vrees vir iets spesifieks aan hul kleintjies oordra.

Tog is jong rooijakkalse meer kwesbaar. Hulle kom makliker nader wanneer daar byvoorbeeld geroep word, of word makliker in slagysters en ander toestelle gevang. Mense wat spog met groot getalle jakkalse wat met die roepmetode geskiet word, kry gewoonlik net jong diere en dus nie die individu wat vir die skade verantwoordelik is nie. Dit kan dus die moeite werd wees om die ouderdom van die jakkals te leer bepaal. Só kan jy sien of jy net jong diere vang, en of jy in staat is om ook volwasse diere te vang. Dít is die werklike toets van doeltreffendheid.

Alle sintuie van die rooijakkals is goed ontwikkel en word goed gebruik. Om 'n jakkals te kan vang, moet 'n mens dus noukeurige aandag aan byvoorbeeld reuk, sig, gehoor en gevoel gee.

Toestelle soos slagysters moet ontreuk en só gestel word dat dit met dieselfde kleur en geur bogronds bedek word. Die grond moet só vasgedruk word dat dit nie anders voel as die grond langsaan nie. Gifskieters kan met sterk ruikende aas gebruik word (verkieslik met feromonale werking). Vanghokke is gewoonlik heeltemal onsuksesvol, waarskynlik omdat daar net hopeloos te veel is om te kamoefleer.

Die jakkals se skelmheid is die resultaat van sy inherente aanpassingsvermoë. Hy het die voordeel dat hy al 350 jaar lank in Suid-Afrika as 't ware aan opleiding in oorlewing onderwerp is. Verder is hy bevoordeel deurdat die mens baie van sy mededingers oor die jare verwyder het.

Die groot probleem wat hy veroorsaak, is dat hy lammers vang. Omdat die jakkals 'n lam aan die kant van sy nek byt, kan sy skade gewoonlik daaraan uitgeken word dat hy die lam onder die gorrelpyp (met sy onderkaak) en onder die oor en die oog (met sy bokaak) byt.

Die lies word oopgeskeur en die binnegoed gevreet. Soms word van die boudvleis ook gevreet, terwyl jong lammertjies só opgevreet word dat die kenmerke van die vreetpatroon nie meer waarneembaar is nie.

Verse wat moeilik kalf, kan van agter uitgevreet word terwyl hulle lê en swak is. Dit kom meestal voor waar KI met die saad van té groot bulle gedoen is en die kalf dan té groot vir 'n maklike geboorte is.

Lokmiddels moet sover moontlik natuurlike middels wees, of feromone insluit sodat dit nie net die aasvretende deel van die bevolking is wat doodgemaak word nie.

Bestrydingmetodes sluit die volgende in: Heinings (jakkalswerend en/of elektries), skiet, roep, die stel van slagysters, waghonde, hondespanne, King-halsbande, gifhalsbande, gifskieters, gifpille, die uitgrawe van teelgate, vangkampe en veewagters.

Soos reeds bespreek, is daar onder die meeste genoemde maniere van bestryding ook nog onderafdelings, soos skiet met 'n kollig, roep, voorlê, ensovoorts. Dit is baie belangrik om die verskillende metodes af te wissel sodat die diere wat reeds een metode leer ken het, met 'n ander metode gevang kan word.

Wildehond
Die bedreigde status van dié diere wat tot hul totale uitsterwing kan lei, word nie in wetgewing weerspieël nie. Die enigste werklik lewensvatbare wildehondbevolking in die land is in die Nasionale Kruger-wildtuin waar hul getalle egter oor die laaste drie jaar van ongeveer 430 tot sowat 200 verminder het. Groot kommer bestaan dat ons bewaringspogings met dié diere kan misluk.

Aanduidings bestaan wel oor wat die afname in getalle kan veroorsaak, maar besliste antwoorde ontbreek. 'n Paar klein bevolkings wat intens bestuur sal moet word om te verhoed dat hulle inteel, is in groter bewaringsgebiede gevestig.

Dié diere se sosiale struktuur is troppe wat hulle in staat stel om groot prooi baas te raak. Wildehonde het 'n slegte reputasie as gevolg van hul jagtegniek om langs groot prooi te hardloop en dit te begin verskeur, totdat die prooi val. Die gemiddelde tyd van die eerste kontak af tot die dood van die prooi is egter nie veel langer as vir ander groot roofdiere nie en die persentasie aanvalle wat slaag, is van die hoogste. Die mite dat wildehonde alles verskeur wat hulle teenkom, is hoegenaamd nie waar nie.

Wildehonde is intelligent, maar nie so skerp soos die rooijakkals nie.

Die wildehond het 'n groot loopgebied wat met 'n rotasiestelsel deurkruis word. Wildehonde is goeie ouers en lede van die trop sal die kleintjies oppas terwyl die ander gaan jag. Die oppassers en kleintjies word dan gevoer deurdat die jagters van die kos uitbraak.

Gewoonlik teel slegs die dominante reun en teef. Aangesien die diere so aanhoudend beweeg, is dit moeilik om hulle op 'n plek vas te pen en gevang te kry. Dit verg buitengewone moeite.

Die karkas van die dier wat gevang word, word gewoonlik heeltemal gestroop en net die geraamte van dikker bene bly oor. Dit is dus moeilik om te onderskei tussen vars gevrete karkasse wat deur wildehonde gevreet is, en karkasse wat oornag deur jakkalse en sulke aasdiere gestroop is. Die grootte van tandmerke en spore moet vir uitkenning gebruik word.

Vanweë die wildehond se status en gedrag is dit só moeilik om hom te vang dat dié taak liefs aan Natuurbewaring of ander spesialiste oorgelaat moet word.

Hiënas
Die bruin hiëna is wyd oor die land versprei en word in die meeste provinsies beskerm. Die wyfies en jong mannetjies is betreklik gebiedsgebonde, maar die volwasse mannetjies is nomadies. Bruin hiënas is bykans geheel en al aasvreters. Hulle is te lomp om hul prooi gereeld self te kan vang.

Op sy beurt het die gevlekte hiëna nie wetlike status nie. Hulle kom egter net in die Noordelike Provinsie in sulke groot getalle voor dat hulle soms skade aanrig. Die gevlekte hiëna bly gewoonlik in groepe saam, maar soek soms alleen kos, of hulle jag saam in groter groepe. Enkellopende diere en pare jag egter moeilik en is nes die bruin hiënas ook meer op aas aangewese.

As 'n tropdier is die gevlekte hiëna werklik gebiedsgebonde. Tog is hul sosiale struktuur in boerderygebiede nie noodwendig só duidelik nie. Namate hulle deur boere agtervolg word, loop net twee van hulle soms betreklik wyd in die veld rond.

Die hiëna se merkmetode wat as plakking ("pasting") bekend staan, verraai soms sy teenwoordigheid. Die kliere om die anus word uitgestulp wanneer die dier oor 'n dik grasstingel of dun takkie loop sodat hy sy klierafskeidings op die plant kan los. Dit het 'n sterk kenmerkende reuk. Dié diere se kenmerkende wit mis is ook dikwels naby hul merkplekke.

Die hiëna se sintuie is almal goed ontwikkel, maar bruin hiënas word betreklik maklik in hokke gevang. Die gevlektes kom egter nie naby hokke nie en hul vermoë om te leer is nie te ver agter dié van rooijakkalse nie. Dit sal daarom beter wees om die bestryding van dié diere eerder aan 'n kenner oor te laat. Gifskieters en roep-en-skiet is van die metodes waarmee groter welslae behaal word.

Die bruin hiëna se skade word gewoonlik deur enkele individue aangerig wat leer om pasgebore lammers (sommer in die lamkamp) dood te byt. Só kan groot verliese gely word, maar as die individuele kwaaddoener verwyder word, is alles op 'n end.

Gevlekte hiënas kan groot beeste vang. Soms is die grootste probleem dat die beeste rondgejaag word en dan deur drade of krale beseer word.

Rondloperhonde
Rondloperhonde is 'n euwel. Honde wat nie versorg word nie, moet eerder van kant gemaak word. Die skade wat sulke honde veroorsaak, word meestal onderskat. In een studie is gevind dat bykans 80 % van die skade wat verkeerdelik aan wilde roofdiere toegeskryf is, in werklikheid deur honde veroorsaak is.

Dit is soms die eienaar se eie honde wat bedags lui op die werf rondlê en dan snags met die skape gaan speel. Veral langs informele woonbuurte is dit egter honger, onversorgde honde wat skade aanrig.

Honde jag gewoonlik in troppe. Behalwe vir dooie diere, is daar soms 'n groot klomp verskeurde diere wat deur 'n veearts behandel moet word.

Rondloperhonde kan in hokke gevang óf geskiet óf met gifskieters beheer word.

Vosse
Die bakoorvos leef hoofsaaklik van insekte en hy vang geensins prooi groter as 'n muis nie. Dit is dus slegs silwervosse (draaijakkalse) wat soms lammers vang. Die probleem is beperk tot pasgebore lammers en die skade kan gewoonlik gekeer word deur goeie lamkampe en/of veewagters te gebruik. Vosse word redelik maklik in hokke gevang.

Mnr. Thys de Wet was 23 jaar as probleem- dierspesialis in diens van die Departement van Natuurbewaring in Transvaal (later Noordwes). Tans is hy verbonde aan Hoedspruit se Navorsings- en Teeltsentrum vir Bedreigde Spesies.