Wanneer met probleemdiere gewerk word, is ál die gedragsaspekte van dié diere belangrik. 'n Mens weet nie noodwendig dadelik hoe om dit te benut nie, maar die potensiaal dat dit nuttig kan wees, is altyd daar.
Baie van die beheermetodes wat vandag gebruik word, is toevallig ontdek tydens navorsingswerk oor die algemene ekologie en/of gedrag van hierdie diere. Wat van groot belang is, is dat die mens wat met so 'n projek besig is, goeie insig moet hê om die inligting wat ingesamel word, só te vertolk dat hy die moontlikhede kan raaksien om dit vir beheertoestelle en -metodes aan te wend. Dit is dikwels moeilik om só 'n verband op te merk, al lyk dit logies wanneer dit later in gebruik is.
'n Voorbeeld van die ingewikkeldheid en fyner aspekte van gedrag van diere, is die reaksie van eendkuikens op 'n kartonsilhoeët. As dit in een rigting getrek word, lyk dit soos 'n eend, en in die ander rigting soos 'n valk. Toe die model oor die kuikens wat wei, getrek is en dit soos 'n eend gelyk het, het hulle rustig voortgewei, maar toe dieselfde silhoeët in die ander rigting getrek is, het hulle geskarrel om skuiling te soek omdat hulle dit vir 'n valk aangesien het.
àl die fasette wat in dié aflewering bespreek word, is nie noodwendig gedrag in die streng sin van die woord nie. Dit pas egter logies in by die werklike gedrag van diere en word dus in dieselfde sin gebruik om die kwesbaarheid van die diere te identifiseer, wat dit ook makliker kan maak om hulle te vang.
'n Klompie voorbeelde is:
Vreetgewoontes: Wat, hoe, waar en wanneer vreet die dier? Waarmee kan hy dus gelok word, en waar en wanneer kan die diere opgespoor word? Hoe vreet die dier? Vreet dit aggressief en gulsig deur die kos heel in te sluk, of word die aas eers versigtig ondersoek en dan fyngekou. Hierby word die prooivoorkeure van die roofdier ook ingesluit. Die roofdier se gedrag en die prooi se anti-roofdiergedrag is baie spesifiek en geritualiseer. Dit help die roofdier om sy prooi te herken en lei tot spesifieke prooivoorkeure. Wanneer 'n roofdier dan met vreemde diersoorte soos vee in aanraking kom, sal dit die vee nie as prooi herken nie. Die roofdier moet eers deur buitengewone toestande leer dat vee gevang en gevreet kan word.
Waterpunte word gereeld deur diere besoek en afgeleë drinkplekke is dus goeie stelplekke vir vangtoestel, maar dit moet egter ù ter wille van selektiwiteit ù 'n entjie van die water af gestel word, met 'n spesifieke lokmiddel vir die dier wat gevang moet word. Die meeste diere het duidelike drinkpatrone en tye wanneer hulle drink in gebiede waar hulle nie gesteur word nie.
Habitatbenutting: Om welslae te behaal, moet 'n mens nie net weet waar om die dier te verwag nie, maar in die fynste besonderhede kan voorsien waar die vangtoestel geplaas moet word sodat die dier dit nie sal misloop nie.
Makro- en mikro-habitat: Deur te weet waar om na 'n dier te gaan soek, kan baie tyd en moeite bespaar word en terselfdertyd ook vee gered word.
Sosiale gedrag: Hou die diere in troppe, of loop hulle alleen? Tropdiere leer uit ander se foute en leer hul kleintjies van gevaar. Dit is dus belangrik om verskillende toestelle en tegnieke vir tropdiere te gebruik. As 'n tropdier gevang word, is dit belangrik om dit vinnig te verwyder voordat die ander tropdiere sien wat gebeur het. By rooijakkalse versorg albei die ouers die kleintjies, wat meebring dat die kleintjies kan oorleef, al word die ma doodgemaak.
Gedurende paartyd, die tyd wanneer kleintjies gebore en ook wanneer hulle gespeen word, word diere moeiliker gevang. Indien 'n teelgat ontdek word, word die kleintjies verskuif. Gedurende die lakteertyd het die wyfie meer kos nodig as gewoonlik. Deur dié territoriale gedrag in ag te neem, merkplekke te identifiseer en die grens van loopgebiede te bepaal, kan vangtoestelle só gestel word dat die kans op welslae vergroot. Op die grens van twee naasliggende loopgebiede is daar 'n bykomende geleentheid, omdat daar dan lede van twee groepe diere gevang kan word.
Bedrywighede (daagliks en seisoenaal): Die meeste diere het elke dag hoofsaaklik twee spitstye vir hul bedrywighede. Vir nagdiere is dit die tyd tussen skemer en omtrent eenuur in die oggend, en dan weer van ongeveer vieruur in die oggend tot ligdag. Op bewolkte dae is nagdiere soms nog tot tienuur in die oggend bedrywig. Daar is verskille in kwesbaarheid met vol- en donkermaan. In die donker beweeg die diere minder, maar met volmaan kan hulle baie goed sien.
Seisoene speel ook soms 'n belangrike rol. Wanneer kos skaars is, is die diere honger en sal hulle makliker aas vreet as in tye van oorvloed, wanneer hulle dit maklik sal los. In dié tyd van die jaar wanneer dit warm en droog is, word reuke nie so goed gedra nie. Dan kan aas nie so goed geruik word nie en sal honde nie 'n spoor so goed kan volg nie. In die reënseisoen moet lokmiddels meer dikwels vervang word, veral in dié gebiede met 'n hoër reënval.
Sintuiglike gedrag: Die sintuie van verskillende spesies verskil só dat daar 'n onderskeid getref kan word met die moeite wat gedoen word om vangtoestelle vir verskillende diere te kamoefleer, of te voorkom dat reuke die diere van die vangplekke wegweer. Bobbejane kan byvoorbeeld baie goed sien, maar hokke hoef nie gekamoefleer te word om hulle te vang nie.
Daar word egter algemeen aanvaar dat jakkalse moeilik met hokke en slagysters gevang word, omdat reuk vir hulle belangrik is. Die wilde katsoorte, daarenteen, word makliker in dié toestelle gevang, aangesien reuk hulle meestal nie afskrik nie.
In die algemeen is diere redelik nuuskierig en word hulle gelok deur vreemde voorwerpe wat moeilik identifiseerbaar is, maar wat byvoorbeeld in die wind roer of weerkaatsend is, soos 'n paar veertjies, of 'n stuk tinfoelie wat in die wind waai, of aas wat begrawe is. Versteuring skrik diere af, maar kan gebruik word om hulle na 'n vangtoestel te laat beweeg. Dit is bykans onmoontlik om enige toestel só te stel sonder dat 'n agterdogtige dier nie daarvan bewus sal wees nie. Wanneer genoeg sintuie egter geprikkel kan word, sal dit die agterdog oorheers en kan die dier nog gevang word.
Ondervinding: Die vorige ondervinding van diere wat beheerpogings oorleef het, maak 'n groot verskil aan hul kwesbaarheid. Dié verskil is duidelik uit die feit dat diere wat in reservate beskerm word, makliker gevang word as diere in boerderygebiede. Diere leer ook om sekere aassoorte te vermy. Diere wat met opnames van hul soort se geluide gelok kan word, leer ook gou om nie in dié strik te beland nie (as hulle wel só 'n poging oorleef).
Hantering van hindernisse: Wat is die dier se reaksie wanneer dit by 'n hindernis kom: Probeer dit oorklim, oorspring, onderdeur kruip of op gesighoogte deurkruip? Dít sal bepaal waar 'n val geplaas word. 'n Bosvark wil byvoorbeeld onderdeur en verdra nie 'n draad onder sy pens nie. Die meeste bokke spring op kophoogte deur 'n draad, terwyl bobbejane verkies om bo-op te spring en eers die anderkant te verken voor hul afspring. Koedoes en elande spring gewoonlik los bo-oor 'n draad, maar moet reg langs die draad kan staan om oor te spring.
Aanvals- en vreetgedrag: Sirkel die dier byvoorbeeld eers om die prooi, hardloop dit die prooi van agter af in, word die prooi aan die nek gebyt, of word dit bekruip en bespring? Word die bykloue gebruik? Waar word daar dan aan die prooi gevreet ù lies, tussen boude, bors, gesig? Die manier waarop 'n dier sy prooi of 'n slagyster of gifskieter benader, is almal kenmerkend, en geskied volgens 'n patroon wat gebruik kan word om die kanse op vangs te verbeter.
Vlug: Hoe lyk 'n dier se gedrag wanneer dit vlug? Hardloop dit volgens 'n roete weg, hardloop dit 'n kort entjie en maak dan staat op kamoeflering, klim dit boom, vlug dit in 'n gat in, ensovoorts. Vrees vir roofdiere sal ook 'n rol speel. Só sal dassies byvoorbeeld ver van hul skuiling af wei as daar geen gevaar van roofdiere is nie. Wanneer daar egter witkruisarende in die omgewing is, sal hulle naby hul skuiling bly. Die uitwerking van dié vrees op die dassies het gewoonlik 'n aansienlik groter uitwerking op die bevolkingsgetalle as wat die regstreekse bedreiging deur die voëls het.
Aggressie: 'n Dier toon 'n aggressiewe reaksie teenoor die mens sowel as ander individue van sy soort wanneer dit gevang word, en ook wanneer dit gekwes of beseer is. Dominante diere sal gereeld voedsel annekseer en alleen vreet. Indien die aas dan vergiftig is, vrek net een dier en word die ander afgeskrik. Wanneer dominante diere egter agterdogtig terugstaan, vrek die ander diere en oorleef die moeilikste individu. Dié aspek is baie belangrik met die vang van tropdiere soos bobbejane en bosvarke. Gevangde diere reageer teenoor die mense wat hulle hanteer en die gedrag van die mens bepaal juis hoe heftig die dier reageer en hoeveel beserings die dier dus opdoen. Territorialiteit sluit nou aan by aggressie teenoor ander diere, en reuke van diere waarteen die dier sy loopgebied wil beskerm, speel ook 'n rol. Dit bepaal ook die loopafstande van slaapplekke na lande toe. Dit help die boer dus om die radius te bepaal waarbinne daar op skadebeheer toegespits moet word ten einde 'n goeie kans te hê om slegs die skuldige individu te vang.
Feromone: Dít gaan hoofsaaklik saam met territorialiteit en paringsgedrag. Dit sluit soms ook ander aspekte in, soos diere wat op vrot velle rol en ook aan vrot aas byt of dit probeer optel, maar wat duidelik nie verband hou met die eet van voedsel nie.
Brandwagte: Diere wat op wag is, soos ´n brandwagbobbejaan (meesal 'n neurotiese individu), herken enige gevaar deur 'n prentjie van die horison te memoriseer. Enige vreemde voorwerp wat bykom, al is dit natuurlik, laat die wag alarm maak. Die dier ken die horison byvoorbeeld met twee bome, 'n groot rots en drie klein rotse. Indien daar die volgende keer wat die bobbejaan kyk, drie bome is, word die alarm gegee.
àl hierdie faktore moet dus ook bereken word in die bestrydingsproses, wat beklemtoon hoe ingewikkeld probleemdierbestryding en -beheer kan wees.
Mnr. Thys de Wet is verbonde aan Hoedspruit se Navorsings- en Teeltsentrum vir Bedreigde Spesies. Hy was 23 jaar in diens van die provinsiale Departement van Natuurbewaring.