Jan en Frans het daardie dag goed gevaar, maar Niek en Manie het, soos dit dikwels gaan, nie 'n goeie jagdag belewe nie. Niek het die oggend 'n gemsbok gekwes en hom die hele dag agtervolg en Manie se trofeebok was toe nie so groot as wat dit deur die verkyker gelyk het nie.
Jan en Frans skiet met 300-magnums terwyl die ander twee vriende 'n 30-06 en 'n 338 gebruik het.
Toe Frans spottenderwys sê: "Dis tyd dat julle twee beter kalibers aanskaf," was die vet behoorlik in die vuur. Laatnag argumenteer hulle steeds oor wie se kaliber die beste is.
Oor baie jare en langs baie kampvure het ek een ding dikwels opgemerk: Die ou wat die grootste kaliber het, het gewoonlik ook die meeste skietgoed tydens die stryery. Wanneer hy sê: "Daardie ou bloubul wat ek geskiet het, het net daar in sy spore neergeslaan toe die 410 grein Swift-A-raam hom tref, ondanks die feit dat ek dwarsdeur 'n mopanie se stam moes skiet om hom by te kom," is almal tjoepstil. Jy soek nie baklei as die groot hond knor nie.
Ook tussen die grotes is dit die manne met die 577 Nitro Express, 500 NE en, sover dit grendelgewere aangaan, die 500-Jeffery en 505 Gibbs, wat 'n potensieel lekker kaliber-argument die vinnigste kortknip. Somtyds hoef hy nie eens iets te sê nie, want die wyebek-loop van die ou grote wat daar teen die wildevy staan, het reeds die monde stil gemaak.
Maar daar is ook 'n ander verskynsel wat ek oor jare opgemerk het. Sommige jagters koop groot kalibers om geheel ander redes as vir sy doodmaakvermoë, veral tydens byterige, krapperige en stoterige situasies. Dit kan somtyds vir hulself 'n groot verleentheid skep.
Een ding wat jagters moet onthou, is dat 'n groot kaliber nie van jou 'n groter man maak nie ù 'n geweer word nie gebou om manlikheid te bewys nie. Dit is dan ook hierdie feit wat dikwels vir baie jagters eerder verleentheid as bewondering by hul jagmaats skep.
Wapen- en ammunisievervaardigers bou nie skietgoed om mense se sleutelbene of wangbene te vergruis nie. Aan die ander kant bou hulle ook nie swaarkalibers vir pieperige "kleinkalibers" nie. 'n Swaarkaliber is 'n versekeringspolis. Onder beroepsjagters wat kliënte uitneem om gevaarlike wild te skiet, is dit 'n vereiste. Só ook by die ware jagters van grootwild wat gelukkig genoeg is om nog die grotes op hul eie te kan jag en wat hulself teen seerkry moet beskerm.
As jy daarvan hou om sommer net kruit te brand of om die lekkerkry te ervaar wanneer jy 'n swaar ysterklip uit sy wortels skiet, dan is een van die rêrige swaarkalibers, soos die 500, die ideale geweer.
'n Ware grootwild-geweer begin by die 40-kalibers. 'n Groot-grootwildgeweer begin by 50-kaliber.
Die 50-kalibers is dwarsoor Afrika baie gewild. Manne soos Lukas Potgieter (die medikus), Dudley Rogers, Neels Ferreira, Derek Higgs, Ivan Babaya, Frans van Ravenswaay, Tony Sanchez-Arino, Harald Wolf, Casey Lewis, Kallie Boden stein, Leon van Eeden, Harry Katrakilus, Victor Verster, Jan Pickard en John Oosthuysen is 'n klompie name waaraan ek kan dink. Ek ken ál hierdie mense. Hulle lyk blakend gesond ondanks die stories van gebreekte kakebene, skouerbene, neusbene en wangbene wat die ronde doen.
Die 500-Jeffery beklee die boonste plek op my doodmaakvermoë-lys vir grendel-aksie gewere. Ek weet daar is wildekatte soos die 500 A-Square en 577 Tyrannosaur, maar ek weet ook dat die eienaars van hierdie kalibers bitter min jagervaring het. Jy koop hulle ter wille van die gehoor se handeklap. Die 460-Weatherby het ietwat meer energie, maar heelwat minder doodmaakvermoë.
Tony Sanchez-Arino en Dudley Rogers is waarskynlik die twee bekendste en mees ervare jagters wat die 500-Jeffery oor 'n lang tyd in die jagveld gebruik het.
"In alle probleemsituasies wat ek oor jare mee te doen gekry het, het ek 'n groot bewondering vir my 500-Jeffery se vermoë ontwikkel.
"Nooit het ek 'n situasie belewe waar ek spyt was dat ek destyds op hierdie kaliber besluit het nie," sê Dudley wanneer hy oor sy staatmaker gesels. "Selfs oor afstande van ongeveer 200 m moes ek by 'n paar geleenthede 'n vlugtende grote se remme aansit. Vir só 'n groot kaliber is hy verbasend akkuraat en doeltreffend."
Tony beskryf die 12,7 x 70-Schuler, soos hy hom noem, as die beste swaarkaliber wat hy ooit op olifante en ander grootwild gebruik het. Hy het meer as 500 olifante in Afrika geskiet.
Die 500-Jeffery wat ek getoets het, is op spesiale bestelling in Suid-Afrika deur Vektor gebou. Die aksie wat gebruik is, is 'n magnum-Mauseraksie met 'n dubbele vierkantbrug wat deur die bekende Reimer Johannsen van Duitsland verskaf is.
Dit is 'n mooi en indrukwekkende geweer van Turkse okkerneuthout. Die soliede rubberskokkussing is uit Engeland ingevoer.
Hy is nie so sag dat jou middelvinger onnodig sal seer kry wanneer jy die wapen afvuur nie.
Om die kolf teen terugskop te beskerm, is daar twee kruisboute plus 'n ekstra ingeboude staalskokkussing wat onder die voorgreep vasgebout word. Die interessantste terugskop-eienskap aan die kolf is die sg. krokodil.
Dit is 'n staalkussing met verskillende stutvlakke wat onder die loop net voor die nokke ingebou is.
Die krokodil word dikwels gebruik in swaarkaliber militêre gewere, soos die 50-Browning, om te keer dat die terugskop die kolf laat kraak.
Die 500-Jeffery het 'n kort, dik dop. Hy is so dik dat Schuler en Jeffery die dop se rand effens kleiner moes sny sodat die deursnee van die rand kleiner as die dop se deursnee is, want anders sal hy nie op die Mauser-aksie pas nie. Dit is natuurlik ook die geval by die 525-Westley Richards.
Waar die groot Jeffery gewoonlik met 'n 535 grein-koeël gelaai word, gebruik sommige jagters vandag ook 'n 570 grein. Hierdie koeël kan met handladings tot ongeveer 2 350 vt./sek. aangejaag word. Met die 235 grein is 2 400 vt./sek. 'n gewone snelheid. Hy skiet dus 'n 570 grein-koeël vinniger as wat die 30-06 'n 220-grein skiet.
Op Durban Deep se skietbaan het ek die 500-Jeffery werklik geniet. Met my eerste skoot van die skiettafel af het ek groot aandag getrek.
Almal het kom kyk hoe lyk die geweer wat so hard brul en wat so 'n groot stofwolk voor die mynhoop opskop. Almal wou ook sien hoe lyk sy patroon.
Is dit ongerieflik om met hom te skiet en maak hy jou baie seer? Die antwoord is nee. As jy nie vir hom bang is nie, jy vat hom gemaklik vas en jy leun in hom, kan enige ervare skut maklik vyf of meer skote met hom skiet. Om dit van 'n skiettafel te doen, is weliswaar heelwat ongeriefliker, maar glad nie so erg dat jy dit as 'n besondere prestasie aan jou kennisse moet voorhou nie.
Maar dit is en bly 'n groot kaliber met 'n swaar koeël wat hy vinnig skiet. Moenie met hom skiet as jy bang of onervare is nie, want dan kan hy jou seermaak ù of vir 'n lang tyd skopsku.
As jy gemaklik met 'n 375-Holland & Holland is, sorg eers dat jy byvoorbeeld met 'n 404 of 450 vertroud raak voor jy die 500-kaliberjagveld betree.
Die 500-Jeffery wat ek getoets het, is 'n mooi geweer in een van daardie swaar kalibers waaroor enige jagter opgewonde kan raak.