Landbou
Maklike naweekkos
Cathy Joubert

Geurige skaaptjops met macaroni

Kathy Odendaal van die plaas Morgenzon in die Vrede distrik. maak hierdie gereg reeds Donderdag om dit net Vrydag op te warm as die koshuiskinders huis toe kom.
6 - 8 skaapboudtjops
Sout en peper na smaak
25 - 30 ml koekmeel
250 ml kookwater
100 ml tamatiesous
40 ml Worcestersous
40 ml asyn
40 ml sojasous
20 ml bruinsuiker
500 ml macaroni
1 groot ui gekap
125 ml sterk gegeurde kaas, grof gerasper

Stel die oond op 180°C. Smeer of spuit 'n groot oondbak met deksel (of plaas in oondpan en bedek met foelie. Geur tjops met sout en peper. Bedek die tjops aan albei kante met die meel. Plaas in enkel laag onder in bak. Meng die vloeistowwe saam. Giet oor tjops en en strooi die suiker bo-oor. Bedek en bak sowat 60 - 90 minute tot tjops sag en gaar is. Kook die macaroni en ui saam. Dreineer en skep die pasta bo-op gaar vleis. Strooi die kaas bo-oor en plaas terug in die oond tot die kaas gesmelt het. Sit voor met slaai.

 

Groenslaai
Dit is 'n kraakvars slaai wat vinnig aan mekaar geslaan kan word.
1 bros kropslaai of verskeidenheid blaarslaai , gewas en in stukke gebreek
2 stingels tafelseldery in dun skyfies gesny
½ komkommer in dun skywe gesny
8 sampioene in dun skywe gesny
1 medium ui in dun ringe gesny
1 rooi soetrissie ontpit in repe gesny
100 g gaar groenbone in stukkies gesny
1 groot geelwortel gerasper

Rangskik die slaaiblare onder in bak. Stapel dan die res van die slaai in volgorde soos hierbo. Dien op met slaaisous na keuse of sit net so voor.