Hulle beskou hulself as twee grootwildjagters - praat sag en kil. Stap breëbors met arms effens bak. Kyk half smalend na die ander manne in die winkel wat 243- en 30-06-kleinkaliberpatrone koop. "Het jy 500 Jeffery-ammunisie, 535 grein-sagtepunte vir olifante in voorraad?" vra die een, net ingeval ons dalk sy lyftaal verkeerd gelees het. "Dit is baie ruig vanjaar en ons kan dalk op 5 treë skiet," voeg die ander een by.
Hulle het elkeen vir hulself 'n 500 Jeffery laat bou. Dis 'n bul van 'n grootkaliber, veral as dinge begin skeef loop. Daar is net een voorwaarde: Jy moenie skopsku wees vir die geweer as die olifant omdraai nie.
Twee weke later besoek hulle die skietbaan by Durban Deep. 'n Vriend wat toevallig ook daar was, vertel: "Dirk het die meeste ervaring. Daarom skiet hy eerste. Hulle sit die teiken op 50 treë. Sy eerste skoot is in die kol. Die tweede is 250 mm hoog en 150 mm links. Die derde is mis op die teiken wat 420 mm x 620 mm groot is.
"Sy maat, Izak, wou eers nie skiet nie. Het glo migraine gehad. Was ook bang hy sou skopsku raak."
Die res van die storie hoor ek van die beroepsjagter: Dirk het die olifant- en buffelbul lig gekwes. Hulle het albei diere verloor. Izak wou sy olifant 'n longskoot gee. Hy het hom egter op sowat 15 m skoon mis geskiet. Albei het hul gewere verkoop en ophou jag. Vang glo deesdae vis aan die Ooskus.
Langs my baie kampvure en daaglikse gesprekke oor jag en vuurwapens is die terugskop van 'n geweer die onderwerp waaroor waarskynlik die minste gesels word.
Dié eienaardigheid kon ek nog nooit verklaar nie. Vroue wat jag, het geen probleem om oor hul gewere se skop te praat nie. Hulle sê openlik daardie en daardie geweer maak hulle seer. Dis net die mans wat tjoepstil bly. Is ons bang dat dit ons macho-beeld aantas? Is ons bekommerd dat ons vriende dalk sal dink ons is sissies? Glo ons dalk ons moet deel hê aan die dier se seerkry?
Die tragedie is dat die oorsaak vir meer as 80 % van alle mis skote in die jagveld by die man agter die geweer gesoek moet word.
Skopskuheid is die belangrikste bydraende faktor tot dié situasie. Die bekende olifantjagter Courteney Selous skryf só oor die invloed wat die ou Boere-olifantgewere se terugskop op sy skietvermoë gehad het:
"I killed in three seasons 78 elephants, all but one which I shot on foot. Since then I have shot with very expensive large bore breech-loaders and Curtis and Harvey's best powder, but I have never used or seen a rifle which drove better than the common-made old Cape muzzle-loaders. They kicked most frightfully, and in my case the punishment I received from these guns has affected my nerves to such an extent as to have materially influenced my shooting ever since."
Net soos in die geval van "doodmaakvermoë" het die fisici in hul museums gaan krap. Hulle het na Isaac Newton se geskrifte van die 17de eeu gekyk en vir ons 'n formule geskep wat kwansuis alle fasette van die terugskop van 'n geweer verklaar. Ongelukkig is dit nie die geval nie. Volgens Newton word die terugskopenergie bepaal deur die massa van die wapen, die gewig van die projektiel, die spoed van die projektiel, die snelheid van die gas wat die projektiel aandryf en die gewig van die dryfmiddel wat gebruik word.
Dit is algemeen bekend dat daar ander faktore is wat ook wesentlik die skop oftewel die sensasie van die terugskop bepaal. Daar is fisieke faktore soos die hoogte van die kolf se kam, die oppervlakte van die skokplaat, d.w.s die area waaroor die skop teen die skouer versprei word, die mate waarin die skokkussing die skok teen die skouer vertraag en die skut se greep op die voorgreep wanneer hy skiet.
Maar daar is ook sielkundige faktore. As die skut glo dat sy geweer nie so hard skop nie, voel hy dit skaars teen die skouer. As hy egter bang is vir sy skop, kry hy baie seer en skiet hy swak. Die gebruik van Newton se formule om die terugskop te bepaal en die gebruik van die kinetiese energieformule om die doodmaakvermoë van 'n projektiel te bepaal, is dus nie van veel nut vir dit wat in die praktyk belangrik is nie.
Wanneer 'n geweer jou seermaak, skiet jy swak, want, soos die Engelse sê, jy "flinch". In Afrikaans praat ons van "knyp". Ek glo meer as 50 % van alle jagters knyp onbewustelik wanneer hulle skiet. Om die een of ander onverklaarbare rede wil hulle nie erken hulle het só 'n probleem nie. Hulle sal liewer 'n leeftyd lank swakker skote skiet as om iets te doen wat die skop só demp dat hulle van die knypgewoonte ontslae raak. 'n Vrou wat 'n geweer koop, sal vir jou sê: "Hy skop te hard. Hy maak my seer. Ek kan nie so met hom skiet nie." Maar 'n man? Hy loop liewer twee weke lank met 'n persblou skouer as om iets daaraan te doen.
Kom ons kyk wat jy aan 'n geweer kan doen om dit aangenamer te maak wanneer jy die sneller trek.
Maak seker die geweer pas jou. Die Skepper het elke mens volgens 'n ander patroon geskape. Daar is maer mense en skraal mense. Daar is mense met lang arms en kort arms, groot borskaste en plat borste, kort nekke en lang nekke, lang kinnebakke en kortes, prominente wangbene en nie-prominente wangbene. Hierteenoor maak geweerfabrieke hul wapens volgens 'n vaste patroon wat in baie gevalle van die Groot Plan afwyk. Dit is wanneer die man met die kort, dik nek vir hom 'n geweer met 'n lae, lang kolf koop dat dinge skeef loop. Die geweer skop sy skouer pimpel en pers en sy wang swel so baie dat sy gesig jou van die kant aan 'n rugbybal op 'n stelskop-staander herinner.
Wanneer jy geweer koop of wanneer jy skietprobleme het, gaan na 'n kenner wat kan vasstel of jou geweer jou behoorlik pas; of die kolf nie te kort, te hoog of te lank is nie. Is dit wel die geval, gaan die geweer jou seermaak en gaan jy swak skiet. Die meeste gewere kan so verander word dat dit jou pas.
Is jou geweer nie te lig nie? 'n Geweer wat te lig vir sy kaliber is, is 'n regte smoelneuker. Jare gelede het ek 'n Sako in die kaliber 375 Holland & Holland gekoop. Dit was een van daardie vroegste modelle met die 98-Mauseraksie. Hy het minder as 3 kg geweeg. Daarbenewens het hy my nie gepas nie.
Met elke skoot wat jy skiet, was die skopsensasie gelyk aan drie rondes saam met Lennox Lewis in dieselfde bokskryt. Oom Hans Barnard van Melsetter in Zimbabwe het my 50 jaar gelede amper van die plaas af gejaag toe ek hom 'n skoot met dié geweer laat skiet het.
As jou geweer te lig vir sy kaliber is, kan jy hom swaarder maak deur lood onder die loop en agter in die kolf in te lê. Dit moet verkieslik deur iemand soos 'n goeie geweersmid gedoen word.
Is die kam van jou kolf nie te laag of te hoog nie? Die kam is die boonste rand van die geweerkolf waarop jou wang rus. As 'n geweer se kam te laag is, ry die kolf teen jou skouer wanneer jy die sneller trek. Dit bring mee dat die skop nie reguit teen die skouer is nie. Só 'n skop maak baie seer.
As die kam te hoog is, stamp die kolf teen jou wangbeen. Dit gebeur veral wanneer die kolf boonop te lank is. Dit is dan wanneer die eienaar van die geweer sawens skewebek met 'n pofwang langs die kampvuur sit.
'n Goeie geweersmid kan baie help om dié probleem op te los.
Is die kolf aan jou grootkaliber nie te klein nie? As jou kolf smal is, is ál die terugskop op 'n klein deel van die skouer gekonsentreer. Dit maak seer - baie seer. Hoe groter die gebied waaroor jy die terugskop versprei, hoe minder maak dit seer.
Jare gelede, as ons kalibers soos 378 Weatherby, 460 Weatherby en 505 Gibbs wou inskiet, het ons sommer 'n sakkie loodhaelkorrels teen die skouer gesit en die geweer daarteen vasgedruk. Jy kon skaars die terugskop voel. Vandag is daar beter produkte op die mark.
Die ruimte-eeu het baie nuwe produkte opgelewer. Ook in die jag- en geweerwêreld het ons met sulke produkte te doen gekry. Sorbithane, 'n produk met rubberagtige tekstuur, word vandag grootskaals aangewend om skok te demp.
Waar die produk in die ruimteprogram gebruik word, weet ek nie, maar ons kry daarmee te doen in verskillende apparate om die skop in gewere te demp. Ons sien dit in stap- en hardloopskoene waar dit aangewend word om die skok na jou ruggraat te verminder, in skokkussings aan kolwe en skouerkussings.
Ek het dikwels Sorbithane gebruik. Dié produk het dikwels my lewe veraangenaam. Wanneer Dirk Zandberg van Stellenbosch jou vra om tog sy 460 Weatherby en 378 Weatherby se teleskope in te skiet, het jy Sorbithane dringend nodig. Ná tien skote het jy dalk 'n ligte hoofpyn van die sweepslag van jou nek, maar die feit is dat jy daarna nie 'n seer en gekneusde skouer sal hê nie.
Die nadele van Sorbithane is dat jy dit nie kan was nie - water maak dit baie taai. As jou geweer lank in die rak staan en sy skokkussing is van Sorbithane, is die kussing geneig om plat te word weens die gewig van die geweer.
Kwik-skokbrekers is baie gewild in Suid-Afrika. Dit bestaan uit 'n buis van ongeveer 100 mm lank en 20 mm in deursnee wat gedeeltelik met kwik gevul is. Die gewig van dié skokbreker is in die omgewing van 300 g.
Om die skokbreker te monteer, haal jy eers die skokplaat of -kussing af. Jy boor dan 'n gat in die kolf waarin die skokbreker stewig pas. Een van die belangrikste vereistes vir die doeltreffendheid van die skokbreker is dat die gat teen 'n bepaalde hoek geboor moet word sodat die kwik in die buis, in gewone skiettoestande, agter in die buis lê. Die geheim, om vanselfsprekende redes, is dat die hoek nie te skerp opwaarts sal wys nie.
Wanneer jy dan jou grootkaliber afvuur, gebeur die volgende: Die geweer skop hard terug. Dit veroorsaak dat die kwik (wat, soos ons weet, 'n swaar metaal is) teen 'n hoë snelheid vorentoe beweeg en hard teen die voorkant van die buis stamp, wat op sy beurt die geweer vorentoe ruk. Só word 'n aansienlike deel van die terugskop geabsorbeer.
Soos die meeste patente het die kwik-skokbreker ook sy nadele. Eerstens word die kolf in 'n mate verswak. Die Vrystaters wat daarvan hou om gekweste springhase met die kolf dood te slaan, kan vind dat hulle meer koperplate sal moet aanskaf om die kolwe te las.
Tweedens benadeel dit jou geweer se balans omdat hy agter te swaar word. Dit is veral die geval wanneer mense selfs twee skokbrekers insit om nog meer van die skop te demp. Om die balans te herstel, moet jy dan onder die loop lood inlê. Dan word jou geweer só swaar dat jy, soos in die ou dae, 'n geweerdraer moet huur.
Geweerdraers het 'n duur luukse geword sedert hulle verkies om liewer 'n bril pleks van 'n geweer te dra. Waarvan ek ook nie hou nie, is dat jy die kwik (soos water) in die kolf kan hoor skud. Ek weet van minstens vier jagters wat hiermee probleme by grensposte ondervind het.
Die gemaklikste en doeltreffendse metode om selfs die swaarste kalibers sonder ongerief te hanteer, kom uit Amerika. Dié produkte word onder die naam Past Recoil Shields bemark.
Die skild maak jou nie seer nie en is baie lig. Selfs die sogenaamde Magnum Plus-skild vir kalibers soos die 458, 416, 404, 470, 500 Jeffery en Nitro Express, 505 Gibbs en die 600 NE weeg skaars 200 g.
Hy word nie deel van jou geweer nie, want jy dra hom onder of bo jou hemp of skietbaadjie. Jy kan hom dra wanneer jy met 'n haelgeweer, gewone geweer, dubbelloop of swaar voorlaaier skiet.
Wanneer jy hom onder die hemp dra, kan jy hom nie sien nie. Hy sit gemaklik teen die skouer en kan ná die skiet binne sekondes afgehaal word. Hy kan verstel word sodat hy alle groottes pas. Hy is relatief dun. Dit pla dus nie wanneer jy daarmee aanlê nie. Hy is ook sag en met seemsleer oorgetrek.
Ek het die Past Magnum Plus-skouerskild op verskeie groot kalibers getoets. Ek het ook meer as vierhonderd skote met 'n twaalfboor-haelgeweer geskiet. In alle gevalle was daar geen kneusmerke teen my skouer nie. Vir my was dit in alle opsigte die beste produk wat ek nóg gebruik het om die skop van 'n geweer te demp.
Die jagveld is nie 'n plek om enigiets oor jouself te bewys nie. Dit doen jy in die bokskryt en op 'n rugbyveld.