Só het die Kaapse entrepreneur, mnr. Christo Wiese, gesê by die aankondiging dat sy historiese wynplase, Lanzerac in Stellenbosch en Lourensford in Somerset-Wes, in 'n enkele eenheid onder die naam Wiese Portefeulje saamgesnoer word.
Na verwagting sal dié plase teen 2006 volle produksie bereik, met 'n totaal van 1,7m. liter wyn. Sowat een derde sal uit super-premium- en ikoonwyne bestaan. Ongeveer 70 % van die produksie sal vir uitvoer bestem wees.
Lanzerac het begin om al sy druiwe organies te kweek en is geregistreer by SGS, 'n Switserse laboratorium wat gemagtig is om alle organiese druiwekwekers te monitor. SGS vereis dat alle organiese wynboerderye biodiversiteit moet handhaaf en grondvrugbaarheid moet bou of in stand hou. Die gebruik van agri-chemikalieë word verbied.
'n Soortgelyke beleid sal op Lourensford gevolg word. ´´Ons is van plan om Lourensford te vestig as 'n gerekende naam wat sal help om Suid-Afrika se identiteit as 'n wynproduserende land van gehalte te vestig. Terselfdertyd sal ons die behoeftes van verbruikers wat middelpryswyne soek, met groter volumes van alledaagse drinkwyne aanspreek,'' aldus mnr. Wiese.
Hy wil 'n nuwe kelder oprig wat 2 500 t druiwe sal kan hanteer. Dit behoort einde 2002 voltooi te wees.