´n Volstruis het 77 probleme - die mens ken net sewe daarvan, lui ´n ou gesegde in die volstruisbedryf. Baie min is oor die grootmaak van volstruise opgeteken en mense wat dié deel van die bedryf ken, is selde bereid om hulle ervaring en kennis met ander te deel.
Hiervan kan mev. Brenda van Gend van die plaas Kompaniesdrif, Kommadagga, goed getuig. Toe sy en haar man, Gideon, wat ´n groot gemengde boerdery bedryf, sewe jaar gelede met volstruise begin boer het, het hulle gou agtergekom dat die moeilike leerskool van "self probeer" die enigste uitweg was indien hulle hoegenaamd sukses wou behaal.
Hulle maak gemiddeld 5 000 volstruise (van dag oud tot 3 maande) per jaar op kontrakbasis groot. Met gemiddeld R9/kg lewende gewig op 3 maande lewer dit ´n netto inkomste van R140 tot R200 per volstruis. ´n Volstruis weeg sowat 35 kg op 3 maande.
Dit is ´n welkome inspuiting in hul boerdery. Wat dit nog merkwaardiger maak, is dat dié inkomste verkry word op ´n lappie grond van net meer as 10 ha en die hulp van agt werkers (meestal werkers se vroue) wat anders nie ´n inkomste sou hê nie.
Mev. Van Gend sê hoewel die grootmaak van kuikens baie winsgewend is, verg dit ook baie aandag en tyd. Die sewe maande wat die kuikens versorg word (in hul geval van Augustus tot Maart) beteken dat hulle die plaas skaars kan verlaat. Daar is geen sprake van vakansie of ´n vry naweek nie. Onverwagse koue, donderstorms en siektes, soos die gevreesde dooiersakinfeksie, kan die hele onderneming pootjie en groot verliese meebring.
Hulle kry gemiddeld 85% van die kuikens wat gekoop word, groot. Mev. Van Gend beklemtoon egter dat dié syfer net in baie gunstige toestande moontlik is. "Wanneer siektes in die trop uitbreek, kan dit aansienlik laer wees en sal dit ook die netto inkomste negatief beïnvloed."
In hul geval word die prys van die kuikens eers verhaal wanneer hulle weer die volstruise aan die teler verkoop. Hulle kry gemiddeld R9/kg lewende gewig teenoor die R16 wat boere kry wat nie ´n kontrak sluit nie. Maar wanneer sonder kontrak gewerk word, sal R150 tot R200 per dag oud kuiken opgedok moet word.
| ITEM | KONTRAK (Mortaliteit gedek tot op 14 dae) | NIE KONTRAK (Geen dekking teen mortaliteit) |
| Koop van dag oud kuiken | Geen | R150 tot R200 |
| Voer | R120 | R120 |
| Arbeid, vervoer, veeartseny, diverse | R35 | R35 |
| Verkoop op 3 maande | 35 kg @ R9/kg = R305 | 35 kg @ R16/kg = R560 |
| Netto inkomste | R140 | R255 tot R205 |
Hulle het dit al oorweeg om kuikens vir hul eie rekening vir die mark groot te maak en so ´n hoër netto wins te behaal (sien die tabel hierbo), maar het daarteen besluit omdat die risiko veel hoër is. Die meeste voëlvrektes kom buitendien binne die eerste twee weke voor, wat deur die meeste kontrakte gedek word.
Welslae begin met die uitsoek van gesonde graad 1-kuikens. Ongelukkig bepaal die meeste kontrakte dat dag oud kuikens nie deur die grootmakers uitgesoek kan word nie en boere moet hulle verlaat op die integriteit en kennis van die teler of broeier wat dit aan hulle verskaf.
Daar moet in gedagte gehou word dat die eierdop poreus is. Die hantering van die eiers in die broeikamp of -kas met vuil hande, kan daartoe lei dat bakterieë die eier binnedring en reeds die embrio aantas. Dit lei op sy beurt tot tweedegraadse en minder groeikragtige voëls.
Mev. Van Gend raai voornemende grootmakers aan om vooraf seker te maak watter vrektes gedek word in die kontrak wat met die teler gesluit word. Dooiersakinfeksie veroorsaak die grootste mortaliteit onder jong kuikens. Sommige kenners meen dat die infeksie binne die eerste twee uur ná die kuiken uitgebroei het, ontstaan, terwyl ander glo dat die ontsteking nog tot twee dae ná die kuiken uitgebroei het, kan ontstaan.
Dit is feitlik onmoontlik om vooraf te bepaal of kuikens dooiersakontsteking het en hulle in kwarantyn te plaas. Op die oog af lyk hulle gesond, maar vrek binne enkele dae skielik. Dié wat nie dadelik vrek nie, sal kwyn en triesterig voorkom. Die aanwesigheid van dooiersakontsteking lei gewoonlik ook tot die sekondêre infeksies (domino-effek) onder gesonde kuikens aangesien hulle die mis van die aangetaste kuikens oppik.
Mev. Van Gend sê sy verkies om gemiddeld net sowat 300 kuikens op ´n keer aan te skaf. Sy plaas hoogstens agt voëls saam in ´n vrugtekrat vir vervoer. As hulle oor lang afstande en op baie warm dae vervoer word, is dit wenslik om minder in die krat te sit. Vrektes tydens vervoer kom egter selde voor.
Sodra die kuikens op die plaas kom, probeer sy, afhangende van die tyd van die dag, hulle onmiddellik in die son kry. Die vitamien D van die son is belangrik vir hulle algemene welstand.
Die voëls word sou gou moontlik in klein groen lusernkampies, wat met ogiesdraad afgeskort is, laat wei. Sy sê die groenigheid stimuleer die kuikens se pikvermoë en hulle leer baie gouer vreet as dié wat net op droë rantsoene aangewese is. Sy meen ook volstruise moet so na moontlik aan hul natuurlike omstandighede grootgemaak word.
In die lusernlande (waar die kuikens die hele dag wei) het hulle ook vrye toegang tot ´n gebalanseerde droë kuikenrantsoen. Bakkies met fyn gruis om die verteringsproses te bevorder, word oral neergesit.
´n Paar stukkies gesnyde aalwynblare, 250 ml dikmelk met ´n jogurtkultuur as basis, en ´n vitaminemiddel soos Biovit word met die kuikens se drinkwater gemeng. Hulle ontvang dié middel in hul water tot op twee weke.
Vir die eerste drie dae word die jong kuikens saans in kratte na die skuiling gedra. Dertien word saam in ´n oornagring geplaas. Om te keer dat die kuikens grond in die skuilings vreet en hulle ook teen die koue van die grond te beskerm, word ´n skadunet die eerste week op die vloer van die skuilings geplaas. In koue weer word ´n goiingsak oor die slaapringe gesit om die volstruisies warm te hou. Die kuikens word soggens wanneer dit begin warm word, na die kampies gejaag.
Die voëls kry hul eerste inenting (met Tasvax) teen bloednier en bloedpens op sewe dae. Die volgende dag word hulle met 1 cc Perfringens A teen clostridium ingeënt. Hierdie entstof word van Onderstepoort bestel. Dieselfde inentingsprogram word op 25 dae en maandeliks daarna tot op 3 maande herhaal.
Met die tweede inenting word die volstruise ook op dieselfde dag gedoseer. Onder die gewilde middels is Panacur, Levicon en Tramisol.
Mev. Van Gend verkies om net in uitsonderlike gevalle siek volstruise met antibiotika in te spuit. Sy meen die grootskaalse toediening daarvan kan die kuikens se groei vertraag. Indien antibiotika wel nodig is, dien sy dit eerder in die drinkwater toe.
Van die oomblik dat kuikens uitbroei, vreet hulle mekaar se mis. Om te verhoed dat bakterieë in die krale vermeerder, word die staanplekke voortdurend skoon gehark. Die skuilings word ook daagliks met ´n ontsmettingsmiddel bespuit.
Op sewe weke word die jong volstruise na die voerkrale oorgeplaas. Hier ontvang hulle uitsluitlik droë rantsoene tot op drie maande, waarna hulle weer aan die oorspronklike teler verkoop word. Die Van Gend´s gebruik ´n volvoervolstruismengsel wat deur mnr. André Bezuidenhout van Cradock vir hulle voorberei word.
Mev. Van Gend sê ´n klein persentasie kuikens kan weens vinnige groei en te min oefening beenprobleme soos hak- en knierotasie ontwikkel. Sulke kuikens behoort so gou moontlik uitgehaal te word aangesien daar geen behandeling voor is nie. "Dit kos net die boer geld om sulke kuikens aan te hou en buitendien bereik hulle selde volwassenheid."
Dit is belangrik om volstruise in koue nat weer en wanneer daar ´n donder- of haelstorm is, in die skuilings te jaag. Volstruise word maklik deur weerlig en donderweer verwilder en hulle kan hulself in die voerkrale beseer en selfs hul bene breek.
Betroubare personeel is ´n groot bonus, sê mev. Van Gend. "Die grootmaak van volstruise is nie moeilik nie, maar dit is ´n aanhoudende werk." Voltydse toesig is bedags nodig.
Sy gee ´n paar goue reëls:
Hou in gedagte dat daar geen vakansie of vry naweke is wanneer die volstruisies op die plaas is nie.
Doen vooraf navorsing. Sy beveel aan dat met ´n paar kuikens (sowat 120) begin word, voordat kuikens op groot skaal gekoop word.
Maak baie seker wat die kontrak met die telers behels. (In die Van Gend´s se geval vergoed die teler alle vrektes tot op dag 14. Daarna, totdat die volstruise op 3 maande weer aan die teler verkoop word, word nog 5% van die verliese weens vrektes gedek). Sy benadruk egter dat grootmakers wat die eerste keer tot die bedryf toetree, nie sulke gunstige voorwaardes kan verwag nie.
Hou volledige aantekeninge van alle uitgawes en inkomste om seker te maak dat die res van die boerdery nie die volstruisgrootmakery subsidieer nie.
Word lid van die Vereniging vir Volstruisgrootmakers.
Mnr. Van Gend sê al meer boere wend hulle deesdae tot die ontginning van alternatiewe inkomstebronne weens die lae winsgewendheid van ander kleinveevertakkinge. "Die grootmaak van volstruise op kontrakbasis is een van die moontlikhede wat deesdae baie gewild is en 70% van alle slagvoëls gaan reeds deur die hande van dié grootmakers." Na raming is daar net in die Oos-Kaap meer as 100 boere wat reeds tot die grootmaakbedryf toegetree het.
Die volstruisbedryf as geheel word egter deur nuwe toetreders as so geslote ervaar dat hulle selfs in gesprekke daarna verwys as "die plaaslike Mafia". Mnr. en mev. Van Gend het so ernstig oor die gebrek aan beskikbare inligting gevoel, dat hulle onlangs die inisiatief geneem het om ´n vereniging te stig vir boere wat by die grootmaak van volstruise betrokke is sodat kundigheid onderling uitgeruil kan word.
Mev. Van Gend sê dat die grootmaak van die voëls vir haar groot genoegdoening verskaf en iets wat ander vroue ook gerus kan probeer. "Vroue het net eenmaal meer geduld as die manne." Daar is min ander bedryfsvertakkinge wat so ´n goeie inkomste op so ´n klein stukkie grond oplewer.
Navrae: Mnr. of mev. Van Gend, tel. (042) 235-1378. Iemand wat lid van die Vereniging vir Volstruisgrootmakers wil word, kan dieselfde nommer skakel.