Landbou
Eien sagte vleis met sonar
Louw Pretorius

Pas is ´n meer gebruikersvriendelike Nasionale Vleisbeesverbeteringskema aangekondig wat onder meer voorsiening maak dat Lewende Ultrasoniese Meting (LUM) [Real Time Ultrasound (RTU)] as ´n vorm van karkasgehalte-evaluasie by lewende diere ook vir die bepaling van BLUP-teelwaardes aanvaarbaar is. Terselfdertyd was ´n Australiese kundige op verskeie plase besig met ´n loodsprojek om die aanvaarbaarheid van LUM in Suid-Afrikaanse toestande te toets. Dié toets was geslaag en na verwagting sal LUM binne ´n afsienbare tyd vir Suid-Afrikaanse vleisboere ´n werklikheid wees.

Lofwaardig in hierdie verband is dat die inisiatief vir dié loodsprojek van die Vleisgehaltewerkgroep kom. Dit het vroeër vanjaar vanuit produsentegeledere beslag gekry met verdere stukrag van die LNR-Diereverbeteringsinstituut (LNR-DVI), die SA Angus-beestelersgenootskap, Taurus en Beefcor. Die doel van dié groep is om die verbruik van rooivleis, pleks van rasse en produksiestelsels te bevorder, ongunstige indrukke rondom die produk op te klaar, gehalte-eienskappe geneties te bevorder en uiteindelik winsgewendheid in die bedryf te verhoog, sê mnr. Hennie Snyman, voorsitter van die werkgroep. Aksies word binne twee subkomitees georden, naamlik karkasevaluering onder leiding van dr. Phillip Strydom en LUM onder leiding van dr. Michael Bradfield.

Wat is LUM?

LUM is die meting van weefsel van verskillende digthede by lewende diere deur klankgolwe te gebruik. By vleisbeeste het die vel, vet, spier en been verskillende digthede wat gevolglik verskillend op klankgolwe reageer en dus met behulp van LUM-tegnologie opgespoor of waargeneem kan word. Toerusting hiervoor is presies dieselfde as wat vir sonarbeelde gebruik word om die fetus in ´n verwagtende vrou waar te neem.

Die mees bruikbare gemete eienskappe by vleisbeeste is die dikte van die vetlaag aan die kruis, die dikte van die vetlaag aan die oogspier, die oogspier-oppervlakte en die persentasie marmering of tussenspierse vet. Al die metings op die oogspier word tussen die twaalfde en dertiende rib gedoen. Hierdie eienskappe word saam met die dier se jaaroud gewig tot ´n indeks verwerk, waarna ´n akkurate skatting van elke dier se verkoopbare vleisopbrengs bereken kan word.

Marmering verwys na die dun repies vet wat rondom en tussen spierweefsel neergelê word. Dit is hierdie vet wat die eetgehalte van beesvleis bevorder omdat dit die gewenste geur aan die vleis verleen. Dit dien ook as sogenaamde smeermiddel vir die spierweefsel wat maak dat dit makliker kou en die gaar vleis dus as sag en sappig ervaar word. Dit is juis die klem op marmering wat die dalende verbruik van beesvleis in Australië en Amerika na ´n stygende verbruik omgeswaai het, terwyl verbruikers bereid is om meer vir goed gemarmerde vleis te betaal. Die steeds groeiende vraag na `gesertifiseerde Angus-vleis´ nadat dié projek 21 jaar gelede in die VSA begin is, is seker die beste voorbeeld. Suid-Afrikaanse vleisbeesboere glo dieselfde kan in die plaaslike mark gebeur, sê mnr. Brian Angus, verteenwoordiger van die SA Angus-beestelersgenootskap in die werkgroep.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat binnespierse vet (marmering) nie met neergelegde vet soos aan die buitekant van ´n karkas verwar moet word nie. Uit ´n gesondheidoogpunt is dit die sogenaamde buitevet wat gevare inhou, terwyl binnespierse vet nie in dieselfde kategorie val nie. In die geval van marmering is die vetinhoud van die vleis meestal tussen 4% en 7%, terwyl tot 10% deur gesondsheidowerhede as veilig beskou word.

Die grootste voordeel van LUM is dat die karkaseienskappe van ´n bul of vers objektief en goedkoop vóór teling by die lewende dier bepaal kan word pleks dat die dier eers geslag moet word sodat dit aan die karkas gemeet kan word. Beraamde vleisopbrengs dui op die verskille tussen diere ten opsigte van die hoeveelheid verkoopbare vleis wat ´n dier uiteindelik kan produseer. In die Australiese opset is byvoorbeeld bevind dat die verskil tussen min en baie verkoopbare vleis soveel as R400 per karkas kan beloop, terwyl marmering ´n aanduiding van die eetgehalte van ´n betrokke dier (of nageslag daarvan) se vleis is. Dié eienskappe is tot dusver net op die karkas gemeet as deel van ´n bul se nageslagtoetse (die ou fase E-toets). Omdat die diere eers geslag moet word, is dit ´n baie duur manier van doen. Hierteenoor is LUM baie doeltreffend, goedkoop en boonop akkuraat - hoofsaaklik omdat dit die menslike faktor uitskakel.

Dr. Bradfield, LUM-kundige by die LNR-DVI en voorsitter van die subkomitee vir LUM-ontwikkeling in die werkgroep, sê dat die eerste sonartoestel vir dié doel binnekort beskikbaar sal wees. Oor die akkuraatheid van LUM sê hy dat tegnici ´n vaardigheidsvlak moet kan handhaaf van minstens 90% tussen metings op die lewende dier en die karkas en minstens 70% ten opsigte van marmering. Voorts word van hulle verwag om die metings op ´n bepaalde dier te her-haal en minstens 90 % dieselfde resultate te verkry. Hierdie drievoudige toets verseker ´n hoë mate van akkuraatheid.

Mnr. Matthew Wolcott van die Australian Cattle Research Council wat namens die werkgroep die LUM-loodsprojek in Suid-Afrika onderneem het, sê 1 450 diere van verskillende rasse is gemeet en die resultate ten opsigte van oogspiereienskappe en beraamde verkoopbare vleisopbrengs stem met bevindings in Australië ooreen. In dié verband wys dr. Bradfield egter daarop dat die persentasie verkoopbare vleis ´n kombinasie is van groei, vet en spiere en dat vir die bepaling van teelwaardes, gegewens aangepas moet word vir ouderdom en/of gewig van die dier. Die Kanadese formule hiervoor is byvoorbeeld: % verkoopbare vleis = (-9,5 x vetdikte) + (1,1 x oogspieroppervlakte) en gekorrigeer vir ´n bepaalde gewig. ´n Eie toepaslike formule vir Suid-Afrikaanse toestande en rasse moet egter nog bepaal word.

LUM-metings vir bulle en verse word gewoonlik op die ouderdom van ´n jaar gedoen en die hele groep diere van dieselfde ouderdom (kontemporêre groep) behoort daaraan onderwerp te word. Veral wanneer hierdie data as ´n hulpmiddel by seleksie toegepas word, is dit nie wenslik om op uitskieters te konsentreer nie, maar liefs op die beste derde presteerders in die hele groep.

Ervaring in Australië wat ook in die Suid-Afrikaanse loodsprojek bevestig is, toon dat diere meer as 300 kg moet weeg. Dit is wanneer verskille in vetdikte en marmering akkuraat beoordeel kan word, sê mnr. Wolcott.

Dr. Bradfield wys ook daarop dat BLUP-teelwaardes vir hierdie betrokke eienskappe bereken kan word sodra genoeg rekords binne ´n ras beskikbaar is. Die absolute minimum aantal is 500 om enigsins ´n sinryke ontleding te kan maak. Dit is eweneens belangrik dat ´n volledige voorgeslagrekord van elke dier beskikbaar is. Dit beteken dat volledige stambome van elke gemete dier deel van die Intergis-stelsel is.

Op grond van ervaring met die Angus-handelsmerkprojek, sê mnr. Angus ´n mens moet versigtig wees om nie byvoorbeeld marmering te laat ontaard in ´n sindroom wat tot elke prys nagejaag moet word nie. Dit hou altyd gevare in om in seleksie net op een eienskap te konsentreer. Nogtans is LUM ´n maklik en goedkoop manier om ´n ras se databasis te verbreed wat, sinryk en in balans toegepas, nuwe seleksie-moontlikhede daarstel. Die Amerikaanse Angus-beestelersgenootskap het byvoorbeeld oor die afgelope 26 jaar data van sowat 50 000 diere aan die hand van karkasontledings versamel. In die afgelope jaar het hulle data by wyse van LUM vir marmering en karkassamestelling van 78 000 diere bekom.