Boere wat ernstig is oor wildboerdery wat al hoe meer mededingend word moet ´n hoë vlak van ekologiese bestuur handhaaf om welslae te verseker. Dit is die mening van dr. Nico Smit van die departement Weidingkunde van die Vrystaatse Universiteit in Bloemfontein.
Wanneer ´n boer ekologies volhoubaar met wild op die veld wil boer, is ´n balans tussen die wildlading, weidingskapasiteit en struik-weidingkapasiteit die basiese vereiste. Hy moet veral seker maak van die spesies wat hy kan aanhou in die lig van die eiesoortige moontlikhede en beperkings van ´n spesifike plaas. Getalle is ook belangrik.
Wanneer bepaal word hoeveel wild aangehou kan word, is die beskikbaarheid van kos en skuiling en die sosiale gedrag van die wildsoorte uiters belangrik. Die omgewing kan nie meer diere dra as waarvoor daar kos beskikbaar is nie. Die meeste omgewings kan oor die kort termyn relatief hoë getalle wild onderhou, maar dit is dikwels ten koste van die veld se produktiwiteit.
In droë jare kan veldagteruitgang tot groot verlies lei deur die toename van eenjarige pioniersgrasse, die ontstaan van kaal kolle en die afloop van reënwater. Om op hul beste te reproduseer, het sommige spesies wild spesifieke tipes van skuiling nodig.
Sterk territoriale gedragspatrone kan by sommige wildsoorte onderlinge kompetisie tussen individue meebring, lank voordat die kos min raak. Faktore soos geslagsverhoudinge en die getal manlike diere speel dan dikwels ´n groter rol as die beskikbare kos.
In gevalle waar veral op trofeejag gekonsentreer word, sal meer manlike diere aangehou word. Dit veroorsaak dat minder individue van daardie spesie aangehou kan word.
´n Plantegroeikaart behoort die basis te vorm van die ekologiese beplanning van ´n wildplaas. Elke plantegroei-eenheid vorm ´n unieke bestuurseenheid wat deurslaggewend is om te bepaal of die plaas geskik is vir spesifieke wildspesies en hoeveel daarvan aangehou kan word.
Wildspesies word op grond van voedselvoorkeure en sosiale gedrag in groepe ingedeel. Dit moet ook in aanmerking geneem word wanneer oor die spesies en getalle besluit word.
In die geval van wild kan sogenaamde "grazer units" (GU) en "browser units" (BU) gebruik word. ´n GU is die metaboliese ekwivalent van ´n blouwildebees (100 % grasvreter) van gemiddeld 180 kg en ´n BU is die metaboliese ekwivalent van ´n koedoe (100 % blaarvreter) van gemiddeld 140 kg.
In die voorbeeld hieronder word stap vir stap verduidelik hoe wildgetalle vir ´n plaas bereken kan word.
In die meeste gevalle word nie net een spesie op ´n wildplaas aangehou nie. Spesies soos koedoes, kameelperde en rooiribbokke kan ingesluit word sonder enige kompetisie met enige van die grasvreters.
As gekies moet word tussen spesies met enerse voedingsbehoeftes, sal faktore soos die doel van die plaas (jag, lewende verkope of ekotoerisme), omheiningsvereistes en beskikbare geld vir wildaankope deurslaggewend wees. Baie kombinasies is moontlik om die beskikbare BU´s en GU´s te vul.
Dit is onmoontlik om die presiese getal diere te bereken. Gereelde monitor van die veldtoestand is ´n aanduiding van die sukses van wildbestuur. Daarvolgens kan betyds aanpassings gemaak word. Groot verskille in die reënval kan van seisoen tot seisoen voorkom en getalle sal ook daarvolgens aangepas moet word.
Wanneer spesies vir ´n spesifieke plaas gekies word, moet ´n aantal kritieke faktore in aanmerking geneem word. Slegs wildspesies wat by uitstek by die beskikbare habitat op die plaas aangepas is, moet oorweeg word. Kennis van die spesifieke behoeftes van die verskillende spesies is nodig en ´n detail-ontleding van die beskikbare habitatte op die plaas is noodsaaklik.
Die genetiese suiwerheid van die wild moet te alle tye beskerm word. Weens die gevaar van verbastering moet sekere spesies soos blou- en swartwildebeeste dus nie saam op ´n plaas gevestig word nie. Hulle kan verbaster en die nageslag is steeds vrugbaar. Dieselfde geld ook ander spesies soos bont- en bergsebras.
Subspesies van dieselfde spesie soos blesbokke en bontebokke moet ook nooit vermeng word nie. ´n Verbastering van subspesies stel die bewaringstatus daarvan in gevaar en verlaag die waarde van die wild as dit nie bo alle twyfel as ´n spesifieke subspesie op ´n veiling aangebied kan word nie.
Dit is ook belangrik dat die boer moet besluit waarvoor hy die wild wil benut. As dit hoofsaaklik vir jagdoeleindes is, moet dié spesies aangehou word wat die jagters vir biltong of trofeë verkies.
Biljtongjagters verkies gewoonlik die meer bekostigbare rooibokke, spingbokke, koedoes en blesbokke. Die omgewing moet steeds in aanmerking geneem word. Vir trofeejagters moet ´n groter verskeidenheid wildsoorte aangehou word, maar dit moet in gedagte gehou word dat net ´n klein persentasie van die wild as trofeediere aangebied kan word.
As die boer op die verkoop van lewende diere wil konsentreer en faktore soos die koste van wildvang, aanhouding en vervoer in aanmerking geneem moet word, is skaarser wildspesies wat meer werd is, die antwoord. Vangkoste is laer in die geval van spesies wat in troppe hou as alleenlopende spesies.
Vir ekotoerisme is verskeidenheid belangrik. Spesies soos die sogenaamde groot vyf is makliker om te bemark.
Die wildspesies wat aangehou gaan word, bepaal ook die stuktuur van ´n wildwerende heining wat gebruik word. Dit is die grootste enkele kapitaaluitgawe van ´n wildplaas. Die bestaande heining moet die gekose spesies kan binnehou, anders sal die heining verander moet word.
´n Heining van minstens 2,4 m is nodig om diere soos koedoes en elande in te kamp. Só ´n heining is egter nie nodig vir springbokke, blesbokke en gemsbokke nie. Kameelperde, renosters en elandbulle breek heinings. Daarom is elektriese drade vir hulle nodig. Spesies soos nyalas kruip weer onder heinings deur.
Die koste van die diere is ook belangrik veral by skaarser wildsoorte. Dit maak nie sin om duur vir ´n skoon buffel te betaal as dit beteken dat nie genoeg van ´n spesifieke spesie gekoop kan word om ´n lewensvatbare teelgroep te vestig nie.
Ekologies volhoubare wildboerdery is dus ´n kombinasie van verskeie faktore wat in aanmerking geneem moet word. Nie een van die faktore kan geïgnoreer word nie.
Bereken wildgetalle vir ´n plaas so:
Die vereiste van basiese bestuurstelsels vir volhoubare wildboerdery op veld is om die wildlading met die weidingkapasiteit en struik-weidingkapasiteit te balanseer. Wildgetalle moet so korrek as moontlik bereken word.
As voorbeeld word ´n wildplaas van 1 450 ha gebruik, waar drie veldtipes voorkom: oop grasveld (1 050 ha), digte rivierveld met Acacia karroo (300 ha) en losstaande koppies (100 ha).
In die berekening is ´n "grazer unit" (GU), die ekwivalent van ´n blouwildebees (grasvreter) van gemiddeld 180 kg en ´n "browser unit" (BU), die ekwivalent van ´n koedoe (blaarvreter) van 140 kg.
Die produksie van die grasveld is op gemiddeld 900 kg droëmateriaal per hektaar (DM/ha) bepaal. Die weidingkapasiteit (ha/GU) kan as volg bereken word:
y = d ÷[DM x f]/r
waar y = weidingkapasiteit (ha/GU).
d = aantal dae in ´n jaar (365).
DM = totale gras-droëmateriaalproduksie per hektaar.
f = benuttingsfaktor, uitgedruk as ´n desimaal. (Gemiddeld is slegs 30 % van alle geproduseerde materiaal benutbaar, dus f = 0,30).
r = daaglikse gras DM benodig/GU (2,5 % van liggaamsgewig = 4,5 kg/dag).
Die benaderde aantal GU´s wat dié veldtipe kan onderhou, word derhalwe as volg bereken:
Totale gras DM op 1 050 ha
= 900 x 1 050 ha
= 945 000 kg, wat die seisoen se produksie verteenwoordig.
Slegs 30 % hiervan kan benut word, aangesien sommige van die materiaal verdwyn, nie alles vir die diere aanvaarbaar is nie en daarvan moet oorbly om oorbeweiding te bekamp.
Dus: 945 000 x 0,30 = 283 500 kg.
Elke GU se voerbehoefte per jaar (seisoen) is dus 4,5 x 365 = 1 642 kg.
In tabel 1 word die GU en BU van die verskillende veldtipes van die plaas aangedui.
| Veldtipe | GU | 14;BU |
| Grasveld (1 050 ha) | 172,65 | 0 (geen bome)) |
| Rivierveld (300 ha) | 35,6 (680 kg DM/ha) | 21 (567 kg DM/ha tot 2 m) |
| Koppies (100 ha) | 27,4 (500 kg DM/ha) | 4 (320 kg DM/ha tot 2 m) |
Tabel 2 dui die wildspesies aan wat vir die plaas geskik is, terwyl Tabel 3 die benaderde aantal diere wat die plaas kan akkommodeer as net daardie spesie aangehou word, aandui.
| Wildspesie | Gem.gewig (kg) | Inname(% van gewig) | % gras | % blare | GU | BU |
| Blouwildebees | 180* | 2,5 | 100 | 0 | 1,0 | 0 |
| Swartwildebees | 140* | 2,5 | 100 | 0 | 0,8 | 0 |
| Bontsebra | 216* | 4,1 | 100 | 0 | 1,9 | 0 |
| Witrenoster | 1 727 | 1,4 | 100 | 0 | 5,4 | 0 |
| Koedoe | 140* | 2,5 | 0 | 100 | 0 | 1,0 |
| Kameelperd | 1 282** | 2,2 | 0 | 100 | 0 | 5,2 |
| Eland | 460** | 2,4 | 30 | 70 | 0,7 | 2,2 |
| Gemsbok | 210** | 2,7 | 70 | 30 | 0,9 | 0,5 |
| Springbok | 37** | 3,0 | 80 | 20 | 0,2 | 0,05 |
| Rooiribbok | 23* | 3,0 | 80 | 20 | 0,12 | 0,03 |
| * Gemiddelde gewig van diere in ´n trop (insluitend jong diere) | ||||||
| ** Gemiddelde gewig van ´n volwasse vroulike dier | ||||||
| Wildspesie | Getal (maksimum indien enigste) | Grootste beperking | |||
| Grasveld | Rivier | Koppie | Voedsel | Sosiale gedrag | |
| Blouwildebees | 172 | - | - | Ja | Bulle |
| Swartwildebees | 215*** | - | - | Ja | Bulle |
| Bontsebra | 91 | - | - | Ja | Nee |
| Witrenoster | 32 | - | - | Nee | Ja |
| Koedoe | - | 21* | - | Ja | Nee |
| Kameelperd | - | 4* | - | Ja | Bulle |
| Eland | 11 (61) | Ja | Bulle | ||
| Gemsbok | 50 (84) | ** | ** | Ja | Bulle |
| Springbok | 500 (780)*** | ** | ** | Ja | Bulle |
| Rooiribbok | - | - | Familiegroep | Nee | Ja |
| * Net vir die somer, omdat die A. karroo-bome hul blare in die winter verloor. | |||||
| ** Kan ook hierdie veldtipes benut, maar nie by voorkeur nie. | |||||
| *** Omdat hierdie spesies kort gras verkies en die veld kan verniel, is dit onwaarskynlik dat hulle die hele gebied sal benut. Hulle sal gewoonlik dele kort bewei (dus self hul voorkeur-habitat skep) en daarop konsentreer. Dit is raadsaam om die getalle van dié spesies heelwat laer as die berekende maksimum te hou. | |||||
| Die syfer tussen hakies ( ) dui die getal aan waar een van die betrokke spesie se voorkeur-voedselbronne min raak en hy gedwing word om na die ander oor te slaan. Dit hou die gevaar in dat oorbenutting van die beperkende voedselbron kan voorkom en getalle moet verkieslik nie die getal buite die hakies oorskry nie. | |||||
Y(2,0)= d ÷ [DM(2,0) x f x p]/r
waar Y(2,0) = struik-weidingkapasiteit (ha/BU) vir blaarmateriaal tot ´n hoogte van 2 m.
d = aantal dae in ´n jaar (365).
DM(2,0) = totale blaar-droëmateriaalproduksie/ha tot ´n hoogte van 2 m soos bepaal met ´n blaar kwantifiseringstegniek soos die BECVOL-model.
f = benuttingsfaktor, uitgedruk as ´n desimaal. (Die benutting kan verskil van boomspesie tot boomspesie, maar gemiddeld is slegs ´n klein hoeveelheid van die blare (20 %) beskikbaar vir benutting, dus f = 0,20.)
p = fenologie (blaarbeskikbaarheid). Hierdie faktor maak voorsiening vir tye wat die bome nie ´n volle blaardrag het nie soos in die geval van bladwisselende bome in die winter. Die faktor vir fenologie kan wissel van 0 (geen blare) tot 1,0 (volle blaardrag).
r = daaglikse blaar DM benodig/BU (2,5 % van liggaamsmassa = 3,5 kg/dag).
Die benaderde aantal BU´s wat die rivierveld kan onderhou, word as volg bereken:
Totale blaar DM tot op 2,0 m = 567 kg x 300 ha
= 170 100 kg, wat die seisoen se produksie verteenwoordig.
Slegs 20 % hiervan kan benut word, aangesien sommige van die materiaal verdwyn, nie alle materiaal vir die diere aanvaarbaar is nie en ook nie alles binne die dier se bereik is nie.
Dus: 170 100 x 0,20 = 34 020 kg.
Aangesien water beskikbaar is langs die rivier, behou die A. karroo-bome hulle blare geredelik en word die gemiddelde waarde vir fenologie bepaal op 80% (p = 0,8).
Beskikbare blaarmateriaal aangepas vir fenologie:
34 020 x 0,8 = 27 216 kg.
Elke BU se voerbehoefte per jaar (seisoen) is 3,5 x 365 = 1 277,5 kg. Die rivierveld kan dus 21 BU onderhou.