Terwyl Namibië se Swapo-regering onlangs sekere waarborge in Duitsland oor ordelike grondhervorming gegee het, het dié party se jeugvleuel tuis erg opruiende uitsprake oor grond gemaak en betreklik drastiese herverdelingseise gestel. Namibië se president, Sam Nujoma, hou egter daarvan om te sê dat sy land maar min mense het en dat God hulle met genoeg grond geseën het.
Tog ontstaan die vraag waarom hy onlangs sy land se grondwet laat wysig het sodat hy langer as twee ampstermyne kon bly regeer. ´n Mens wonder ook of hy later soos sy Zimbabwiese eweknie om politieke oorlewing sal moet veg en of grondbesit dan ook in die spervuur sal beland.
In Namibië lyk die grondbesitpatroon in ´n sekere sin beter as in Zimbabwe én as in Suid-Afrika. Anders as in Zimbabwe, is Namibië se tradisioneel blanke grond nie van ´n beter gehalte as sy kommunale grond nie. (Ook Suid-Afrika verskil in dié opsig van Zimbabwe, aldus prof. Nick Vink van die Departement Landbou-ekonomie van die Universiteit van Stellenbosch.) En anders as in Suid-Afrika, waar kommersiële boere 85 % van die land se landbougrond besit, beslaan die kommersiële grond in Namibië net 52 % (69,7m. ha), maar dit is nie alles in blanke besit nie. Die ander 48 % is kommunale grond in staats-besit. Skattings van die Namibië Landbou-unie (NLU) dui daarop dat 25 % tot 30 % van die land se sowat 6 000 opgemete plase aan swart kommersiële boere behoort.
Hoewel Suid-Afrika se grondbesitpatroon dus meer skeef is, is dit ironies dat dit wel beter is dat ´n groter persentasie plase as in Namibië opgemeet is en oor titelaktes beskik. Indien van dié grond herverdeel word, sal dit makliker wees om daar te boer as op kommunale grond, aldus prof. Vink.
Tans val Namibië se fokus nie op die uitbreiding van kommersiële boerderygebiede nie, maar op die verskuiwing van goeie kommunale boere na die kommersiële gebiede.
Sedert Namibië se onafhanklikwording in 1990 het sy regering nog net 527 233 ha vir herverdeling gekoop. Die heersende prys is 250 Namibiese dollar/ha (N$1 = R1). Die staat besit 2,3m. ha kommersiële boerderygrond, maar hy wil nog bykans 10m. ha binne die volgende vyf jaar vir herverdeling bekom. Daarbenewens het die owerheid in 1992 ´n leningskema saam met Namibië se Agribank in werking gestel wat gemik is op regstellende aksie, m.a.w. om goed gevestigde kommunale boere in staat te stel om grond in kommersiële boerderygebiede te bekom. Tot op datum is sodanige lenings aan 102 deeltydse en 205 heeltydse boere toegestaan.
Die lenings word vir ´n tydperk van 25 jaar toegestaan. Vir heeltydse boere is die eerste drie jaar vry van rente en kapitaaldelgings, terwyl die rentekoers van jaar vier tot ses 2% is, vir jaar sewe en agt 4%, jaar nege 8% en van jaar tien af 14%. Die rentekoerse vir deeltydse boere is oor die algemeen hoër, maar word bepaal deur hul jaarlikse nie-boerderyinkomste.
Van aansoekers word vereis dat hulle minstens 150 stuks groot- of 800 stuks kleinvee, of die ekwivalent daarvan besit. Ná die toestaan van ´n lening word ook van die aansoeker vereis dat hy sy bedrywighede in die kommunale gebied staak. Die regering se staatswaarborge word beperk tot 35% van die grond se koopsom. Dit kan verhoog word om voorsiening te maak vir oordragkoste.
Om spekulasie te voorkom, word aansoekers nie toegelaat om die eiendom binne die eerste tien jaar te vervreem nie tensy hulle Agribank se toestemming daartoe kan verkry. Vervreemding moet geskied volgens die voorwaardes van die minister van landbou, water en landelike ontwikkeling. Daarbenewens is die subsidies wat die regering aan die betrokke boer betaal het, dan ook terugbetaalbaar.
Kyk ´n mens in die tabel na elke land se BNP/kapita (in VSA$), blyk dit dat grondhervorming in Suid-Afrika, en selfs ook in Namibië, meer bekostigbaar behoort te wees as in Zimbabwe, sê prof. Vink. Tog is Namibië nie in so ´n sterk posisie as Suid-Afrika nie. Dit verklaar deels waarom sy eerste minister, mnr. Hage Geingob, onlangs in Duitsland was om geld vir grondhervorming te probeer kry.
Namibië se klein BBP verklaar miskien ook waarom die Swapo-regering tot dusver net by 25 % van die grondtransaksies in die land betrokke was ondanks die voorkoopreg wat hy geniet wanneer ´n grondeienaar sy plaas van die hand wil sit.
Hoe dit ook al sy, indien ´n grondverkoper nie die prys wil aanvaar wat die regering hom bied nie, tree ´n grondtribunaal as arbiter op. Stel die uitslag hom steeds nie tevrede nie, kan hy hom op die Hoërhof beroep, maar dit kan tot aansienlike regskoste vir die verkoper lei.
Maatskappye, trusts en geslote korporasies hoef nie grond wat hulle van die hand wil sit, eerste aan die Regering te bied nie.
Hoewel die NLU gekant is teen die regering se voorkoopreg, sê sy uitvoerende hoofbestuurder, mnr. Gert Grobler, dat dit nog nie juis groot probleme vir kommersiële boere opgelewer het nie. Daar het ook nog niks gekom van vroeëre planne om plase tot twee per persoon te beperk nie.
Onteiening van onbenutte en onderbenutte grond
Onder die Swapo-regering het Namibië nog geen onteienings gehad nie, maar blanke plase is wel voor onafhanklikwording ingevolge die werksaamhede van die Odendaal-kommissie onteien. Net voor Kersfees is aangekondig dat Namibië sy wetgewing gaan begin toepas wat voorsiening maak vir die onteiening van on- en onderbenutte grond. Dit is ironies dat sowat 8m. ha tot 10m. ha van die kommunale grond tot onlangs on- of onderbenut was, maar waarnemers wys daarop dat dié situasie moontlik aan die verander is.
Veral in Owambo is van die ryker inwoners (wat boorgate het) besig om onwettig vir hulself plase af te kamp. Hulle doen dit wanneer die armer inwoners in die winter met hul beeste na die Kavangorivier trek. Dit raak dus al hoe moeiliker vir die arm deel van die Wambo-bevolking om uit die Kavango terug te keer na die oorblywende klein stukkies grond wat al taamlik vertrap is. Dit kan nog tot wrywing lei.
Hoewel daar soms beskuldigings is dat blankes hul grond by swart mense gesteel het, het Namibië nie ´n grondeiseproses nie.
Net voor Kersfees is die "onmiddellike" instel van ´n grondbelasting aangekondig, hoewel wetswysigings nog deur die parlement aanvaar en verdere regulasies uitgevaardig moet word. Tans lyk dit of ´n basiese hoeveelheid grond per eienaar vrygestel sal word van belasting. Met die skryf hiervan was dit nog nie bekend teen watter koers die belasting ingestel sal word nie, maar daar sal waarskynlik variasies tussen verskillende streke wees, meen mnr. Grobler.
Vergelyk ´n mens grondpryse in die beesproduksiegebiede van Vryburg in Suid-Afrika en Gobabis in Namibië, blyk die pryse per ha in laasgenoemde geval laer te wees. Na gelang van die koers blyk dit dus dat ´n grondbelasting in Suid-Afrika boere baie harder kan tref as in Namibië veral as belasting op hoëpotensiaalgronde vir uitvoerproduksie ter sprake kom, soos in die Wes-Kaap.
Tog meen die NLU ´n grondbelasting kan nie werk nie. Van 1994 af het die land se kommersiële beeskudde met een derde gedaal en in die kommersiële gebiede het die kleinveegetalle ook skerp afgeneem. Dit raak dus al hoe moeiliker om dieselfde inkomste as tevore op dieselfde grond los te boer. Per grootvee-eenheid (GVE) was die Namibiese boer se gemiddelde skuldlas in 1999 813 Namibiese dollar. Volgens die NLU het Namibië se totale landbouskuldlas in 1999 R1 miljard bedra.
Die Namibiese regering wil die plig op boere plaas om die belasting elke jaar voor ´n sekere datum te betaal ten einde invorderingskoste te beperk. Boere wat twee jaar in gebreke bly om dié belasting te betaal, se grond sal glo gekonfiskeer word. Volgens mnr. Grobler is dit blykbaar nie die oogmerk om goeie boere te penaliseer nie, maar om die belastinginkomste in ´n grondhervormingsfonds te stort.
Duitsland het skepties gereageer toe hy deur Namibië gevra is om tot so ´n fonds by te dra. Duitsland verkies blykbaar om konkrete projekte, soos die opleiding van boere, te finansier.
Uit die tabel blyk dit dat landbou in Nambië, maar veral in Zimbabwe, ´n baie groter bydrae tot dié lande se BBP lewer as in Suid-Afrika. Uit die 1999-uitgawe van Namibië se handelsgids blyk dit dat die kommunale boerderysektor se bydrae tot die BBP by dié van die kommersiële sektor getel word. Dit is vermoedelik ook die geval in Zimbabwe, maar nie in Suid-Afrika nie.
Vergelyk ´n mens Namibië en Suid-Afrika met Zimbabwe, moet pertinent gemeld word dat:
Die plase wat sedert Zimbabwe se onafhanklikwording in blanke besit gebly het, oor die algemeen beter boerderygrond gehad het as die kommunale boerderye.
Zimbabwe se blanke plase te groot en nie ten volle benut is nie.
´n Situasie van armoede neffens boere op onderbenutte hoë-potensiaalgrond, het dus in Zimbabwe ontstaan. Prof. Vink wys daarop dat die gryp van grond in Zimbabwe nie soseer vanweë dié situasie geskied het nie, maar weens politieke oorwegings voor die 2000-verkiesing.
Suid-Afrika en Namibië se regerings het verklaar dat hulle nie grondhervorming in die styl van Zimbabwe sal aanpak nie. Tog stel pres. Thabo Mbeki sulke vrese gelyk aan rassisme, en op sy beurt het Namibië se pres. Nujoma sy vriendskapsbande met sy Zimbabwiese eweknie bly handhaaf.
Hoewel Suid-Afrika se grondhervormingsplanne goed lyk, is verskeie waarnemers dit eens dat die implementeringsrekord bra swak is. Prof. Vink meen Suid-Afrika moet enige plan nastreef wat haalbaar kan wees, en dat hy nie al sy aandag aan een plan moet wy nie. Dieselfde doelwit geld seker ook Namibië.
Kenners meen die implementering van grondhervorming moet meer waaghalsig geskied. Waar probleme wel opduik, moet dit uitgeskakel word.
In Suid-Afrika én Namibië sal die staat en die private sektor baie beter as tot dusver moet saamwerk om grondhervorming te laat slaag.