Armmanslusern is waarskynlik een van die mees droogtebestande peulplante wat in Suid-Afrika geplant kan word. Sy vermoë om sy blare in die ergste droogte te behou, is verstommend. Eintlik is dit ´n parmantige plant dit bly groen lank nadat feitlik alle ander weidings deur die son en droogte vaal geskroei is.
Dit verdor nie, maar bly op die volgende reën wag om verder te kan groei. Dit is net wat dr. Josef Uys op sy plaas, Weideland, in die distrik Heidelberg, in gedagte gehad het ´n gewas wat ´n goeie opbrengs met taamlik min water sal lewer en wat die kleinste moontlike opblaasprobleem veroorsaak. Hy melk sowat 300 Jerseykoeie en weiding en voergewasse word op sowat 700 ha van sy bewerkbare grond verbou.
Die gemiddelde jaarlikse reënval in sy omgewing is 450 mm, wat genoeg is om die armmanslusern te laat groei totdat dit hoog genoeg is vir die maak van hooi of kuilvoer. Lusern bied hom nie daardie kans nie, want die blare word in droogtetyd gou afgegooi. Dit moet ná die volgende reën van voor af groei wat nie die geval met armmanslusern is nie. Dit is die ratel van peulplante.
Daar is nog nie vasgestel of rondebaalkuilvoer van armmanslusern gemaak kan word nie. Dié peulplant het hom egter reeds bewys as uitstekende hooi ´n goedkoper opsie as rondebaalkuilvoer. Op ´n warm, droë dag kan armmanslusern ongeveer vier uur ná sny gebaal word. Die rede hiervoor is dat die blare baie klein en dun is. Blykbaar is daar ook min blaarwas om uitdroging te vertraag. Die stingels is houtagtig en bevat redelik min vog.
Hooi gemaak van jong armmanslusern is besonder smaaklik en het vir alle praktiese doeleindes dieselfde voedingswaarde as lusern van gemiddelde gehalte. Dit is bros en maal baie maklik. Die koste om dit met ´n hamermeul te maal, is dus taamlik laag.
Smaaklikheid is moontlik nie een van die gewas se sterkste eienskappe nie. Ondervinding tot op hede het geleer dat armmanslusern ´n baie beter skaap- as bees-weiding is, en dit is nie raadsaam om dit vir koeie in melk te gebruik nie. Vir droë koeie, verse en kalwers is dit egter heel geskik, mits dit kort gewei word.
Om op te som, daar is geen twyfel nie dat armmanslusern ´n besondere bydrae tot die voervloei op Weideland kan maak. Dit sal egter beperk wees tot ver lande wat vir voerproduksie en weiding vir droë koeie en jong groeiende diere aangewend word.
Kroonwieke is ´n ander moontlikheid waarmee lusern vervang of aangevul kan word. Dit is beslis baie meer droogtebestand in terme van behoud van blare as lusern. En, soos reeds genoem, is dit vry van opblaas. (LW: Geen weiding is geheel en al vry van opblaas nie.)
Kroonwieke het ´n wortelstelsel soortgelyk aan dié van kikoejoe. Die sterk ondergrondse wortelstokke beweeg onder die oppervlak en stoot "nuwe" plante tot sover as ´n meter van die moederplant af uit. Dit veroorsaak dat die plant vinnig versprei en sodoende ´n volledige grondbedekking bied. Dit is die ideaal om erosie te verhoed.
Kroonwieke (en lusern) vereis grond met ´n hoë kalsiuminhoud. Dus moet genoeg kalk toegedien word om die beste resultate te verkry.
Dr. Uys weet hoe om die beste uit kleingraanweiding te haal. Sy benuttingsresep is baie eenvoudig, maar lewer top-produksie. Hy wag totdat die plante minstens 200 mm hoog is voor hy die koeie injaag. Sodra die weiding tot ´n hoogte van 80 mm tot 100 mm afgevreet is, word die koeie in ander kampe gejaag. Dit bring mee dat die weiding vinnig tot weihoogte herstel. ´n Ander groot voordeel is dat hy meer herbeweidings van dié land kry as een wat met elke herbeweiding tot op die grond gewei word.
Die rede waarom hy meer weiding kry, is dat die plante kans kry om wortelreserwes op te bou voordat hulle benut word. Dit verseker vinniger hergroei. Die feit dat die vee onttrek word voor totale ontblaring verseker dat die energiefabriek van die plant, die blaar, nie heeltemal afgetakel word nie. "Brandstof" vir hergroei word nog tot ´n mate geproduseer.
Dié benuttingstelsel werk, maar dit is verbasend hoe baie boere dit ignoreer. Dit is ´n fout, want minder kos word gelewer en so word ´n taamlik duur weiding nog duurder gemaak.
Dr. Uys sê sy melkery het so uitgebrei dat dit sewe uur geduur het om ál sy koeie te melk. Dit het hom genoop om deeglik navorsing te doen om ´n gepaste nuwe melkstelsel te vind. "Ek het besef dat dit ´n eenmalige besluit in my lewe sal wees."
Hy het eers na verskeie groot stelsels in die Oos-Kaap gaan kyk. Saam met sy pa het hy ook stelsels in Australië en Nieu-Seeland gaan ondersoek. Daarna het pa en seun ´n lys van die vereiste eienskappe van ´n goeie melkstelsel opgestel. In die eerste plek het hulle besluit dat die melkproses so vinnig as moontlik moet geskied om te verseker dat die koeie gou op die weiding teruggeplaas kan word. Wat die melkmasjien self betref, het hulle op die volgende eienskappe besluit:
Dit moet geen skade aan die uiers veroorsaak nie, al bly die kloustukke ook bietjie langer aan die spene.
Dit moet volledige uitmelking gee.
Onderhoudskoste moet laag wees.
Dit moet kostedoeltreffend wees, uitgedruk in koste per koei gemelk per uur.
Dit moet met die minste moontlike arbeid behartig kan word.
Akkurate, maar ongekompliseerde melkmeting.
Hul finale keuse het op ´n Dairy Master 40- punt-oorswaaistelsel geval. Hul navorsing het hulle tot die gevolgtrekking laat kom dat ´n 40-punt-visgraatoorswaaistelsel met tot 400 koeie doeltreffender as ´n draaitafelstelsel is. Aangesien hul mikpunt 400 koeie is, was daar nie ´n behoefte aan ´n duurder draaitafelstelsel nie.
Die Dairy Master word in Ierland vervaardig en word sterk deur die Britse Moore Park-navorsingsinstituut gesteun.
Volgens dr. Uys het die masjien die groot voordeel dat dit die probleme van oormelking en ondermelking uitskakel. Die rede daarvoor is dat die vakuum op die speenpunt in die rusfase baie laer is as by enige ander masjien. Gewoonlik wissel die vakuum in die pulsasiedeel van die toestel van 46 kPa tot 0 kPa. Die vakuum by die speenpunt daal egter nooit in die rusfase tot by nul nie. Volgens hom sak dit gewoonlik tot sowat 30 kPa. Op sy Ierse masjien daal dit egter tot sowat 17 kPa. Die gevolg hiervan is dat die bloed kans kry om na die speenpunt terug te vloei. Die resultaat is minder speenskade en gevolglik ook baie minder mastitis.
Dr. Uys vertel dat dié stelsel die naaste aan die suipaksie van ´n kalf is. Hoewel die suipvakuum wat ´n kalf uitoefen om melk te trek, vergelykbaar is met dié van enige melkmasjien, is daar ´n nulvakuum tussen elke suipaksie. Dit is dus die rusfasevakuum wat die skade aan uiers aanrig.
´n Ander oorweging vir die Uyse se keuse is dat dit weens die swaar kloustukke ondermelking voorkom. Ondermelking stimuleer die groei van bakterieë in subkliniese mastitis sodat dit kliniese mastitis vorm. Nadat die Uyse die Dairy Master geïnstalleer het, het hulle mastitisgevalle in die maand rondom kalwing van 10 % tot 1 % gedaal. Ná drie jaar se gebruik is die resultate steeds dieselfde.
Nog ´n belangrike oorweging was dat die stal met ´n opeenvolgende-swaai-afskortingstelsel ("sequential baling") toegerus is. Die stelsel dwing elke koei om dwars te draai sonder menslike inmenging.
Die eerste koei stap dwarsdeur die stal in die wye gang af tot by die eerste melkpunt. Die swaaiafskortings skep ´n gang en verhoed dat sy by die voerbakke uitkom. Sodra sy by die melkpunt kom, swaai sy dwars om by die enigste half oop voerbak te kom. Met haar kop druk sy ´n versperring wat haar voerbak gedeeltelik toemaak en sodoende aktiveer sy haar eie afskorting om toe te swaai. In die proses skep dit ´n halfoop voerbak vir die tweede koei.
Die proses duur voort tot en met die veertigste koei. Dit verseker dat daar ´n koei by elke melkpunt is iets wat nie altyd in ´n gewone 40-punt-visgraatstelsel gebeur nie. Ná melking word die hele afhokstelsel met druklug hoog opgelig om ´n wye uitgang te skep.
Volgens dr. Uys is die melkery nou ´n plesier. Dit duur slegs een uur om 300 koeie te melk. Dit bring mee dat die hele kudde reeds teen 06:30 weer aan die wei is.
Mnr. Fair is ´n landboukundige van Harrismith.