
Baie van veral die ouer sitrus- en subtropiese boorde in Suid-Afrika het in
"oerwoude" ontaard waar te min ligindringing optimale opbrengste en vruggehalte strem.
By die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Tropiese en Subtropiese Gewasse (LNR-ITSG) op Nelspruit, in Mpumalanga, het
dr. Piet Stassen en sy span navorsers, me. Joanie Kift en mnre. Doep du Plessis, Braam Snijder, Harry Grové en Mark Penter,
´n paar jaar gelede na oplossings vir dié probleem begin soek.
Volgens dr. Stassen is te min ligindringing een van die hoofredes waarom boorde swak produseer. Dit geld sitrus, avokado´s,
makadamias, mango´s, lietsjies en koejawels.
Hoeveelheid lig belangrik
Die grootste probleem is dat bome oor die jare so verdig het dat min lig indring. Daarby is baie van die ouer boorde nie
volgens die jongste plantdigtheidsriglyne gevestig nie. Die bome is sonder snoei of manipulering toegelaat om te groot te
groei.
Met die jongste vestigingsriglyne vir subtropiese langtermyngewasse word spesifiek gestreef na kleiner bome wat meer
ligindringing toelaat en terselfdertyd makliker bestuur kan word.
Verdigte boorde se produksie daal, die vruggehalte is nie na wense nie, en ernstige insek- en swamskade kom algemeen voor
omdat dit moeilik is om die bome te spuit. Omdat die bome so groot is, word die vrugte ook moeilik geoes en dus kom baie
meganiese vrugskade voor.
Die plant se vermoë om te fotosinteer, hou regstreeks verband met die totale blaaroppervlakte wat aan lig blootgestel word.
Hoe meer blare aan sonlig blootgestel word, hoe meer energie en droëmateriaal kan die plant voortbring.
In die navorsingswerk is onder meer gevind dat net 7 % van die sonlig ´n verdigte avokadoboord op ´n hoogte van 1,5 meter bo
grondvlak binnedring. Wanneer sulke bome volgens die voorskrifte gesnoei word, verhoog dit die sonligindringing tot 58 %.
Dr. Stassen sê in sommige gevalle kan drastiese maatreëls nodig wees om ´n verdigtingsprobleem in ´n boord reg te stel. Dit
kan byvoorbeeld nodig wees om van die bome in ´n boord te verwyder voordat met regstellende snoei begin kan word. Wanneer
bome verwyder word, is dit belangrik dat die oorblywende rye vir die maksimum-sonligonderskepping en ligindringing so na as
moontlik aan ´n noord-suid-rigting gelaat word.
Boomvorm
Bome kan net die hoeveelheid sonlig gebruik wat hul blare bereik, en dus is
dit logies dat boomvorm by die rehabilitasieproses van boorde so ´n belangrike rol speel. Boomhoogte behoort tot 70 %, maar
niks meer as 80 % nie, van die rywydte beperk te word om oorskaduing deur aangrensende boomrye te voorkom. In alle gevalle
word ´n heiningrystelsel aanbeveel wat boommanipulering en meganiese snoei vergemaklik. Vir nuwe aanplantings sal die soort
gewas en die bepaalde kultivar die rywydte en boomspasiëring in die ry voorskryf.
Snoeiwerk behoort net ná die oes gedoen te word. Waar minder ernstige verdigting voorkom, hoef nie drasties gesnoei te word
nie. Hier is dit net nodig om takke te verwyder wat dratakke oorskadu, terwyl die dratakke net getip hoef te word deur die
groeipunte af te snoei.
Sodra die hergroei begin, sal nuwe waterlote en sytakke naby die snoeiplekke en in die boom op die dikker takke ontwikkel.
Dié nuwe groei moet korrek bestuur word om die regte hoeveelheid ligindringing toe te laat. Weens die energie wat hulle
gebruik, word waterlote gewoonlik al vroeg verwyder. Regopgroeiende sylote word verwyder, want hulle oorskadu die laer
dratakke. Deur die groeipunte te snoei van takke wat sywaarts uitgroei, word hulle aangemoedig om in dratakke te ontwikkel.
Die snoei van so ´n groeipunt stimuleer die ontwikkeling van nuwe sylote en ´n taknetwerk word gevorm.
Somerbestuur
Dr. Stassen sê dié snoeiwerk behoort in die somer gedoen te word, want sonder somerbestuur sal al die aanvanklike voordele
daarvan binne weke verlore wees. Ligter snoeiwerk, soos die terugsnoei van sytakke tot sterker dratakke, kan ook dan gedoen
word.
´n Groot verskeidenheid snoei-gereedskap en werktuie is vandag beskikbaar. Die druklug- en meganiese snoeiskêre en -sae se
pryse wissel van sowat R5 000 vir die kleiner modelle wat deur ´n operateur gebruik word, tot na-genoeg R80 000 vir ´n saag
wat op ´n trekker gemonteer word. Laasgenoemde is verstelbaar om drastiese snoeiwerk teen ´n gekose hoek in die boordrye te
doen.
|   | VOOR SNOEI (t/ha) | Nà SNOEI (t/ha) | ||
|   | 1995 | 1996 | 1997 | 1998 |
| Fuerte Hass | 0,57 0,26 | 1,20 0,82 | 6,60 5,73 | 17,45 22,92 |
Navorsingsresultate bevestig die voordele wat snoei van veral die ouer subtropiese boorde inhou. Tabel 1 toon byvoorbeeld dat ou Hass- en Fuerte-avokadoboorde in 1997 voor ´n drastiese meganiese snoei onderskeidelik 5,7 en 6,6 t/ha gelewer het. Ná snoei het die opbrengste by Hass tot 22,9 t/ha en by Fuerte tot 17,4 t/ha verhoog.
Tabel 2 toon die invloed van die verskillende snoeigebruike op ´n makadamiaboord wat begin verdig het. Die hoogste opbrengs per boom (9,8 kg) is verkry waar die helfte van die bome verwyder is, terwyl die hoogste opbrengs per ha (3 038 kg) gelewer is deur bome wat teen ´n hoek van 25 grade weg van vertikaal meganies gesnoei is. In albei gevalle het die opbrengste aansienlik toegeneem as dit met die kontrole (2 055 kg/ha en 4,1 kg per boom) vergelyk word.
| TABEL 2: Die opbrengs van nege jaar oue makadamiabome wat meganies en selektief gesnoei is toe boordverdigting begin toeneem het: | ||
| BEHANDELING | OPBRENGS IN 1998 | |
|   | (kg/ha) | (kg/boom) |
| 10 grade meganiese snoei 20 grade meganiese snoei 25 grade meganiese snoei Drastiese selektiewe snoei 50 % van bome verwyder Kontrole | 2 339 2 400 3 038 963 2 444 2 055 | 4,7 4,8 6,1 1,9 9,8 4,1 |
| TABEL 3: Die opbrengs van tien jaar oue nawelbome wat meganies en selektief gesnoei is toe boordverdigting begin toeneem het: | ||
| BEHANDELING | OPBRENGS (kg/boom) | |
|   | 1997 | 1998 |
| 10 grade meganiese snoei 20 grade meganiese snoei ligte selektiewe snoei Drastiese selektiewe snoei | 55,51 60,18 66,13 50,80 63,13 |
67,29 68,90 70,67 65,69 65,54 |
| TABEL 4: Die gemiddelde vruggroottes en persentasieverkleuring (meer as 30 % blos) van nege jaar oue Tommy Atkins-mango´s oor drie seisoene nadat bome in ´n koniese of piramiedvorm gesnoei is: | ||||||
| BEHANDELING | VRUGGROOTTE (gram) | VRUGVERKLEURING (%) | ||||
|   | 1996 | 1997 | 1998 | 1996 | 1997 | 1998 |
| Gesnoei Kontrole | 464,65 451,06 | 437,48 378,50 | 420,10 390,90 | 78,40 60,56 | 77,92 60,58 | 84,90 55,60 |
Tabel 4 toon snoei kan ook die uitvoerpersentasie verhoog. By negejarige Tommy Atkins-mango´s het die vruggrootte en skilkleurontwikkeling ná snoei bete-kenisvol verbeter - sonder om die opbrengs te benadeel.
Dr. Stassen sê dit alles beteken egter nie dat boere nou sommer die snoeiskêre en -sae kan inlê nie, want elke boord en gewas het sy eiesoortige behoeftes en probleme waaroor vooraf deeglik besin moet word. Die snoei van subtropiese langtermyngewasse moet as een van die bestuursgebruike van ´n bepaalde gewas beskou word. Sonder die noodsaaklike voedings-, besproeiings- en ander groeibestuursmaatreëls sal snoei alleen nie welslae waarborg nie.
Boom snoei het egter gekom om te bly en boere wat dit as ´n integrale deel van hul totale boordbestuur toepas, sal meer geld in hul sak sit as diegene wat dié gebruik steeds betwyfel. Produsente moet egter by kundiges kers opsteek om te verseker dat die regte besluite geneem en die korrekte strategieë daarna gevolg word, sê dr. Stassen.