Landbou
Smulkos uit die Overberg


W A T E R B L O M M E T J I E B R E D I E
3 uie, in ringe gesny
1 knoffelhuisie
1 kg varknek, in mooi porsies gesaag, of 1 kg skaaprib, opgesny
2 kg skoongemaakte waterblommetjies
8 aartappels
suurlemoensap na smaak
sout en peper
geurmiddels

Metode
Spoel die waterblommetjies ´n paar maal baie goed af. Braai of smoor die uie en knoffel in ´n bietjie verhitte olie. Voeg die vleis by en verbruin.

Sommige mense hou van hul waterblommetjies sag gekook, terwyl ander dit meer heel verkies. Bereken die kooktyd volgens smaak. Die blommetjies kan ook, soos Marina dit doen, eers vyf minute in skoon water gekook en dan afspoel word. Dit neutraliseer die "wilde" smaak. Sowat ´n halfuur voor die einde van die blommetjies se kooktyd word die aartappels, in blokkies gesny, bygevoeg. Geur na smaak. Sit voor met koring en slaai.

Wenke
As die waterblommetjies vir gaste voorgesit word, braai Marina sowat 1 kg gaar piekeluitjies tot gaar en bruin en strooi dit net voor opdiening oor die bredie.

Indien verkies, kan vars neut voor opdiening oorgerasper word.

K A B E L J O U
Vir hierdie lekker visgereg het die Du Toits ´n spesiale pan met ´n deksel wat op die kole geplaas word.

1 groot kabeljou van sowat 3,5 kg
sout en vars gemaalde swartpeper
1 liter droë wit wyn
2 groot uie, gekap
2 pakke (300 g elk) gekapte vars spinasie
125 g pietersieliebotter
1 liter witsous
500 ml gerasperde mozarellakaas
1 pakkie (250 g) ontbytspek, gekap
1 bakkie kersietamaties, gehalveer

Metode
Maak die vis skoon en verwyder die ruggraat. Plaas met die velkant na onder in ´n groot pan met ´n deksel. Geur die vis met sout en peper na smaak. Giet die wyn oor die vis en bedek. Plaas die pan oor ´n klompie matige kole. Roerbraai die uie en spinasie liggies in ´n ander pan en hou een-kant. Haal die deksel van die pan waarin die vis is, ná sowat 30 minute af. Smeer die pietersieliebotter oor die vis en skep die spinasiemengsel bo-op. Giet die witsous oor. Strooi die kaas, spekvleis en gehal-veerde tamaties oor. Plaas die deksel op, rangskik ´n klompie warm kole op die deksel en laat só sowat 40 minute "bak". Dien op.

Wenke
Die witsous kan net oor een helfte van die vis gegiet word.
Die kabeljou kan ook in die oond gebak word. Stel die oond op 180 ºC. Plaas die vis in ´n oondpan, bedek met aluminiumfoelie en bak 30 minute in die voorverhitte oond. Volg hierna die res van die metode soos hierbo tot voor die pan bedek en die warm kole op die deksel geplaas word. In die oond word die pan onbedek laag onder die verhitte element geplaas sodat die vis verbruin.

N A G E R E G
Sjokolade-en-lemmetjiemousse-broodjie

1 pakkie (80 g) lemmetjiejellie
150 ml kookwater
3 eiers, geskei
75 ml strooisuiker
1 houer (200 g) roomkaas
2,5 ml lemmetjieskil
250 ml room, styf geklop
100 g wit sjokolade
15 ml elk gelatien en water, geweek
1 eetlepel Cape Velvet-roomlikeur
(opsioneel)
10 ml vanieljegeursel

Metode
Los die jellie in die water op en laat afkoel. Klop die eiergele en strooisuiker tot donsig en vou die roomkaas in. Verdeel die mengsel in twee. Klop die eierwitte styf en verdeel ook in twee.

Voeg by die een hoeveelheid roomkaasmengsel die afgekoelde jellie, lemmetjie- skil en die helfte van van die styfgeklopte room. Vou ook die helfte van die styfgeklopte eierwitte in. Giet in ´n houer en laat stol.

Voeg by ander roomkaashelfte die sjokolade, gesmelt; die geweekte gelatien; die roomlikeur en die vanieljegeursel. Vou die res van die styfgeklopte room en eierwitte in. Giet versigtig oor eerste mengsel en laat stol.

Sit voor met vla en saam met enige gebakte nagereg.