Die gebrek aan beproefde bemestingsriglyne is waarskynlik een van die belangrikste faktore wat turksvyprodusente tot dusver van optimale opbrengste beroof het.
Só dink dr. Andries Claassens van die Universiteit van Pretoria se fakulteit biologiese en landbouwetenskappe, mnr. Johan Potgieter van die Noordelike Provinsie se departement van landbou, grond en omgewing, asook mnr. Fanie Viljoen, voorsitter van die Turksvykwekersvereniging en ´n sitrus- en turksvyprodusent van Letsitele.
Ondanks groot uitbreidings in die turksvybedryf oor die afgelope tien jaar is min toepaslike inligting oor die gewas se bemestingsbehoeftes op droëland en onder besproeiing beskikbaar. Baie produsente het dus sonder die regte grondvoorbereiding en beproefde bemestingsriglyne turksvye geplant.
Produsente se baie klagtes oor lae opbrengste en swak vruggehalte het tot ´n reeks bemestingsproewe op droëland en onder besproeiing gelei. Die hoofdoel daarmee was om turksvye se behoeftes aan stikstof, fosfor, kalium en kalsium oor vyf jaar te bepaal.
Hierdie proewe is in draende, kommersiële plantasies met ´n geskiedenis van lae opbrengste op droëland op mnr. Fanie Viljoen se plaas, La Cotte, Letsitele, sowel as onder besproeiing op mnr. G. Roos se plaas, Enselberg, by Groot Marico, gedoen.
Vierjarige plante van die kultivar Algerian is by Letsitele vir die droëlandproef gebruik. By Groot Marico het die besproeiingsproef in Maart 1992 met ´n jong Gymno Carpoaanplanting begin en tot Maart vanjaar geduur.
Hoewel eers in Maart 1996 met die bemestingsproewe op droëland begin is en die beplande vyfjaartermyn nog nie verstryk het nie, is die resultate tot dusver so belowend dat voorlopige aanbevelings al gedoen kan word.
Van al die elemente het stikstof (N) opbrengste die meeste bevorder: dit het tot met ´n toediening van 50 kg N/ha op droëland en 75 kg N/ha onder besproeiing sterk toegeneem, maar daarna nie veel verder gestyg nie.
Op droëland het individuele vruggroottes verbeter namate meer N toegedien is. Die vrugte was met toedienings van 200 kg N/ha die grootste. Tot met 50 kg N/ha het die totale oplosbare vastestof inhoud (TOV), wat aandui hoe soet ´n vrug is, toegeneem. By hoër N-vlakke het dit afgeneem.
Anders as die TOV-inhoud, het die pulpmassa, die eetbare deel, met toenemende hoeveelhede N aangehou styg.
In teenstelling met resultate onder besproeiing by Groot Marico en afgesien van die grond se lae fosforvlak van 3,9 mg P/kg het verhoogde P-vlakke op droëland by Letsitele nie opbrengs en vruggrootte verbeter nie. Die TOV-inhoud van die vrugte het verminder namate meer P toegedien is. Hoër P-toedienings het ook geen invloed op die pulpmassa van vrugte gehad nie.
Na verwagting sal P mettertyd beperkend raak weens verwydering uit die grond wat met hoër opbrengste gepaard gaan.
Hoewel dit bekend is dat P ná toediening min in die grond beweeg, kon die plante in albei proewe wel die P benut wat op die grondoppervlak toegedien is.
Toenemende bemesting met kalium (K) het nie die opbrengs, vruggrootte of TOV-inhoud opgestoot nie. Dit word toegeskryf aan die betreklik hoë K-inhoud van die grond by Letsitele (210 mg/kg). By Groot Marico was die K-inhoud 70 mg/kg. In Letsitele se droëlandproef het K-bemesting selfs die pulpmassa laat afneem.
Omdat kalk (Ca) in albei gevalle die opbrengs verhoog het, dui dit daarop dat turksvye ´n redelik groot kalsiumbehoefte het. Veral suur sanderige grond (pH 5,5) moet voor vestiging kalk volgens die riglyne kry.
Weens turksvye se vlak wortels het die plante goed gereageer op kalk wat op die grond gestrooi is. Dit dui daarop dat die probleem tog deels by gevestigde plante reggestel kan word.
Die Ca-behandeling het egter nie vruggrootte verbeter nie.
Dr. Claassens en mnre. Potgieter en Viljoen sê volgens die proefresultate is dit duidelik dat die regte bemestingsprogram produsente kan help om hul turksvye opbrengste aansienlik te verbeter op droëland sowel as onder besproeiing. Opbrengste op droëland by Letsitele is van 2 t/ha tot bykans 11 t/ha en onder besproeiing by Groot Marico van 6 t/ha tot 18 t/ha verhoog. Die hoër opbrengs by Groot Marico het veral meer N en P vereis. Produsente in die warmer gebiede, soos die Laeveld, moet die nadeel van oormatige vegetatiewe groei by hoër N-peile in ag neem.
Die volgende aanbevelings word gedoen:
TABEL 1: Stikstof aanbevelings en riglyne vir die vertolking van optimale waardes van sekere elemente vir grondontledings vir doringlose turksvyproduksie op droëland en onder besproeiing. Die hoeveelhede kalium, fosfor en kalsium word per kilogram grondmonster aangedui. | ||
ELEMENT | DRO LAND |
BESPROEI |
| Stikstof (kg N/ha) Kalium (mg K/kg) Fosfor (mg P/kg) Kalsium (mg Ca/kg) |
50 - 75 | 75 - 100 |
Vir besproeide turksvye is die aanbeveling jaarliks sowat 75 kg tot 100 kg N/ha, terwyl 20 mg P, 80 mg K en 500 mg Ca per kilogram grondmonster optimale produksie behoort te lewer (tabel 1).
Mnr. Viljoen het die proefresultate verder verwerk om dit op La Cotte se sowat 50 ha turksvye toe te pas. Hy het die
verhouding tussen die bemestingskoste en die waarde van die opbrengs van elke behandeling in die droëlandproef by
Letsitele bereken (tabel 2). Die mees ekonomiese bemesting (R25,7 inkomste per rand bemestingskoste)is behaal waar N:K:P teen 2:1:0 (R472,48/ha) toegedien is om ´n opbrengs van 10,68 t/ha (R12 175,20/ha) te lewer.
Dr. Claassens en mnre. Potgieter en Viljoen sê hoewel die proef reeds waardevolle inligting oor turksvye se bemestingbehoeftes openbaar, behoort die navorsing minstens nog vyf jaar voortgesit te word.
|
TABEL 2: ´n Ekonomiese ontleding van die verskillende bemestings-en opbrengsvlakke van turskvye vir vrugteproduksie op droëland |
|||||
| BEHANDELING |
|
(R/ha) |
|
|
|
|
|
|
||||
|
No. 1: N = 0 K = 1 P = 1 |
|
|
|
|
|
|
No. 2: N = 1 K = 1 P = 1 |
|
|
|
|
|
|
No. 3: N = 2 K = 1 P = 1 |
|
|
|
|
|
|
No. 4: N = 3 K = 1 P = 1 |
|
|
|
|
|
|
No. 5: N = 4 K = 1 P = 1 |
|
|
|
|
|
|
No. 6: N = 2 K = 1 P = 0 |
|
|
|
|
|
|
No. 7; K = 1 P = 2 |
|
|
|
|
|
|
No. 8: N = 2 K = 0 P = 1 |
|
|
|
|
|
|
No. 9: N = 2 K = 2 P = 1 |
|
|
|
|
|
|
1 = Bereken teen gemiddelde varsproduktemarkprys van R1 140/t. 2 = Ekonomiese verhouding. |
|||||