Landbou
Bemes geplante weiding vir bonus
Charl van Rooyen

Aangeplante weidings moet ter wille van optimale produksie met veral stikstof en fosfor bemes word, want Suid-Afrika se gronde het baie min van die meeste belangrike plantvoedingstowwe.

Mnr. Imre Reckling van Kynoch se landboukundige navorsingsafdeling, sê te oordeel na die lae opbrengste en geel kleur van baie weidings weet boere dit meesal nie. Sonder bemesting gaan aangeplante weiding pal agteruit en verminder die produksie. Bemesting verbeter die maksimum -opbrengs en die weiding.

Meesal behaal die boer aanvanklik goeie resultate weens opgeboude grondvrugbaarheid, maar ná enkele jare begin die opbrengs verswak totdat hervestiging later nodig is. Die rede vir die swak prestasie is ´n tekort aan plantvoeding en dus moet die weiding gereeld bemes word.

Met elke bemestingsaanbeveling is ´n aanduiding van die verwagte opbrengs van belang. ´n Riglyn vir die opbrengs van bemeste aangeplante weiding is ´n ton droë ruvoer per 100 mm reën. In goeie reënjare kan die opbrengs verdubbel. Lande waar die grondsoorte en benutting wissel, se reaksie op bemesting kan egter skerp verskil. Die volgende riglyne moet dus versigtig gehanteer word, want dit kan die werklike behoefte onderskat.

NPK-riglyne

Stikstof (N)
Sonder bemesting word 1,5 t/ha geproduseer. Vir elke ton opbrengs bo die inherente opbrengsvermoë verwag, word 20 kg N/ha aanbeveel. Teen 500 mm reën per jaar word 5 t/ha verwag. Trek die produksie sonder bemesting (1,5 t/ha) af en vermenigvuldig dit met 20 (3,5 x 20). Die gras moet in hierdie geval dus 70 kg N/ha ontvang.

Toets dié riglyn deur in stroke ook dubbele toedienings te gee. Word verdere reaksie in die vorm van kleur en opbrengs verkry, kan die N vermeerder word.

Fosfor (P)
Daar is ´n positiewe wisselwerking tussen P en N. As die verhouding van 10N:1P gevolg word, moet die gras 6 tot 8 kg P/ha ontvang. Dit geld by ´n P-status van 15 tot 20 mg/kg grond. As die grond se P-vlak laer is, moet meer P toegedien word.

Kalium (K)
Hoewel K normaalweg in die meeste gronde as voldoende aanvaar word, word toedienings op grond van verwydering deur die oes aanbeveel.

Mnr. Reckling sê hierdie riglyne is op weibenutting gerig. Tegnies sou die bemesting ná ´n aantal jare weens hersirkulering verminder kon word, maar dit lyk of dit etlike jare sal neem om ´n positiewe NPK-balans te verkry. In die geval van hooimaak en kuilvoer en waar hooi dus weggeneem word sodat dit, soos met diere se mis en uriene, na die land teruggeneem word, word baie K verwyder. ´n Opbrengs van 5 t/ha verwyder 75 kg K/ha (15 kg K/t).

Die tyd van toediening is krities en word deur die benuttingsdoel bepaal. Die riglyne is:

Omdat weiding deur die jaar vereis word, moet 50% van die kunsmis in die lente en die res in Januarie toegedien word. In baie sanderige grond kan die N in drie toedienings gegee word om loging te beperk.

Dien 60% van die kunsmis in Oktober en die res ná die eerste hooisny toe. Die beste groei is in die eerste deel van die somer. Hier word die gehalte nie deur die tyd van toediening bepaal nie, maar deur die tyd van sny.

As dit die uitsluitlike doel is, word al die kunsmis in Januarie of vroeg in Februarie toegedien om die meeste laat somergroei en die beskikbaarheid van bemesting vir die vroeë lentegroei te verseker. Indien groenbenutting ook gebruik word, word 40% tot 50% van die kunsmis in die vroeë lente toegedien en die res in Januarie/Februarie.

Mnr. Reckling sê die gesamentlike invloed van bestuur en bemesting kan die in vitro-verteerbaarheid van Smutsvinger-gras (Digitaria eriantha) maklik met 5% tot 8% verhoog en die ru-proteïene verdubbel. (Die in vitro-verteerbaarheid van droëmateriaal is ´n metode om die verteerbaarheid van grasse te toets deur maagsappe uit die dier se maag te onttrek en dit buite die skaap se liggaam by die betrokke plantmateriaal te voeg.)

Australiese navorsers het bevind dat ´n verhoging van net 2% in die verteerbaarheid van Digitaria spp. ´n daaglikse toename van 90 g bottervet en 50 g melkproteïen per koei meebring.

Die genetiese verbetering in die verteerbaarheid van grasse wat deur melkbeeste bewei word, bring dus meer geld in die boer se sak. Smutsvinger-gras se geraamde verbetering in genetiese waarde is volgens kenners 4%. Die nuwe kultivar Tip Top se verteerbaarheid is gemiddeld 2% hoër as die bekende kultivar Irene s´n.

By Bothaville is die invloed van die toediening van verdeelde N-bemesting bepaal. Die reaksiekurwes/wisselwerking van verskillende N- en P-peile op die opbrengs van Smutsvingergras is by Bamboesspruit ondersoek. Die doel van die proewe op die Nampo-oesdagplaas was om te bepaal of verdeelde N-toedienings die opbrengs van die gras na later in die seisoen kan verskuif.

Hierdie proewe is op Avalongrond met 8% klei gedoen in ´n seisoen waarin 396 mm reën geval het. Die grond se pH (KCl) is 4,6. Altesame 25 en 50 kg N is in Oktober en Januarie toegedien deur dit tussen die rye Smutsvingergras te strooi, terwyl een behandeling geen N ontvang het nie.

Mnr. Reckling sê daar is beslis ´n wisselwerking tussen N en die tydstip waarop dit aan aangeplante weidings toegedien word. Die toediening van verdeelde N toon meestal voordele, hoewel baie N (50 kg/ha) laat in die seisoen sy invloed van vroeg in die seisoen redelik ophef. Waar die weiding min N laat in die seisoen ontvang het, was die opbrengs 2,846 t/ha en kon dit nie die 3,195 t/ha ewenaar van weiding wat vroeg in die seisoen bemes is nie.

N wat in November toegedien is, se hoofinvloed op opbrengs toon ´n lineêre toename van 2,890 t/ha (geen N) tot 3,854 t/ha (50 kg N/ha). Die invloed van N wat in Januarie toegedien is, toon ´n toename van 2,97 t/ha (geen N) tot 3,55 t/ha (25 kg N/ha). Daarna neem die reaksie af.

Volgens ontledings was die optimum-N-toediening in November 30 kg en in Januarie 31 kg. Teen ´n koste:prysverhouding van 11,3 (met ´n N-prys van R3,39/kg en ´n voerprys van R300/t), sou N-bemesting rendemente van 415% vir toedienings in November en 124% vir Januarie gerealiseer het.

Die proef vir die bepaling van die wisselwerking tussen N en P op die opbrengs van Smutsvingergras by Bamboesspruit is oor drie seisoene (1993/94 tot 1995/96) op Avalongrond, met 8% klei, gedoen. Hier is die gemiddelde reën op lang termyn 580 mm. Die grond se pH (KCl) in die bogrond is 5,5 en in die ondergrond 5,0.

Volgens die gemiddeldes vir die drie seisoene was die optimumtoediening vir marge bo insetkoste 87 kg N/ha en 17 kg P/ha. Uit ´n ekonomiese oogpunt en die huidige koste/prysposisie is dit duidelik dat die aanvaarde norm van 10N:1P nie geld nie en dat die verhouding nader aan 5N:1P is.

DM-produksie

By Potchefstroom is die invloed van bemesting op Smutsvingergras se DM-produksie ondersoek. Die jaarlikse reënval was toe 823 mm.

Selfs op marginale grond het die DM-produksie toegeneem waar die gras bemes is.

Potchefstroom se navorsingsresultate met Smutsvingergras wat baie bemesting gekry het, toon ´n skerp toename in ru-proteïen teenoor gras wat min bemes word.

Ook in proewe by Viljoenskroon en Ventersdorp het die ru-proteïen toegeneem waar die gras bemes is.

Mnr. Reckling sê daar is taamlike eensgesindheid oor die feit dat verteerbaarheid afneem wanneer plantmateriaal verouder. Gereelde ontblaring verbeter groeikrag en verteerbaarheid. Die mees ideale sny- en beweidingshoogte is 50 mm, terwyl die hoogste produksie gelewer word wanneer ´n kamp vir dertig dae tussen beweidingsrus.

As die weiding gereelder en intensiewer bewei of gesny word, verlaag die plante se fotosintese-tempo, en dus produksie. Word die weiding minder gesny of bewei, is daar ´n groter opbou van blaarmateriaal, terwyl jong blare oorskadu word. Dit verlaag ook die tempo van fotosintese en die produksie ly daaronder.

Tussenposes van dertig dae tussen sny of beweiding verhoog dit net soos goeie N-bemesting die verteerbaarheid van die gras verbeter. Daar is egter ´n gevaar dat die gras se gehalte en verteerbaarheid vinniger sal afneem as bemeste weidings nie tydig benut word nie.

Die belangrikste rede vir swak groeiresultate by beeste en skape is die opbou van strukturele koolhidrate. Hoëdrukbeweiding in kombinasie met wisselbeweiding, kan die boer grootliks in staat stel om die gehalte te manipuleer. Vyf tot ses kampe per trop diere word aanbeveel, veral waar Smutsvingergras met skape benut word. Die minimum-getal kampe vir beeste is drie. ´n Beweiding van sewe tot veertien dae, gevolg deur ´n rustydperk van dertig tot veertig dae, word aanbeveel.

Hierdie gras kan strawwe beweiding verduur, mits wisselbeweiding toegepas word.

´n Effense hoër snyhoogte word tydens hooimaak aanbeveel, want as die groeiknoppies beskadig word, laat dit die produksie skerp daal.

Die meeste plase op die Hoëveld het marginale grond wat nie vir graangewasse geskik is nie. Deur Smutsvingergras daarop te vestig, kan die plaas se drakrag verhoog word.

Hierdie gras se weikapasiteit is 2,7 tot 3,6 keer hoër as natuurlike veld s´n. In proewe by Potchefstroom is weikapasiteite van 10,6 en 14,2 kleinvee-eenhede per hektaar (1,5 tot 2 grootvee-eenhede) vir 180 dae, met 450 mm tot 650 mm reën per jaar, verkry. Die beeste se diereproduksie was beduidend hoër as dié van skape en het van 262 tot 331 kg/ha (lewende gewig) gewissel.

Ongelukkig daal die ru-proteïen en die in vitro-verteerbaarheid weens die toename in strukturele koolhidrate as die gras verouder. Veral die toename in die lignieninhoud (onverteerbaarheid) benadeel die diere se inname en groei.

Die toename in strukturele koolhidrate is negatief met verteerbaarheid gekorreleer en is ´n bepalende faktor in die onwinsgewendheid van die gras. As Smutsvingergras nie bewei word nie, daal die ru-proteïen en verteerbaarheid skerp. Weens die verhoging in die suurveselfraksie kan energietekorte al in Januarie op onbeweide Smutsvingergras voorkom.

Kragvoer is ekonomies geregverdig solank die mielieprys nie meer as 7,5% van ´n A2-beeskarkas se prys beloop nie.

Ander bevindings deur navorsers is dat kragvoeraanvulling nie die lekinname beduidend verlaag nie. Kleinraambeeste kan sonder aanvulling op agttien maande bemark word. Om A2- en A3-karkasse te lewer, het grootraambeeste wel kragvoer nodig as hulle op Smutsvinger-gras wei.

Benut beweiding ekonomies

VIR ´n ekonomiese resultaat is opbrengs op aangeplante weidings van kardinale belang, maar oordeelkundige benutting is mede-bepalend vir ekonomiese diereproduksie.

Mnr. Lourens Scheepers van Kynoch-Kunsmis, het gesê Suid-Afrika se potensiaal vir diereproduksie wentel om ruvoerproduksie. Wat hoeveelheid en gehalte betref, is die land vir verhoogde produksie op aangeplante weidings aangewese om in die toekomstige vraag na diereprodukte te kan voorsien.

Diere se voedingsbehoeftes verskil volgens die soort dier en veral na gelang van die produksiefase. Jong diere met ´n groeitempo van ´n kilogram vleis per dag vereis, byvoorbeeld, veel beter voeding as die vleisteelkoei. Goeie ruvoer bevat baie dierevoedingstowwe (veral proteïen) en is goed verteerbaar en smaaklik.

Die beskikbaarheid van sulke goeie voer word deur die seisoen, gewastipe en veral deur die groeistadium bepaal. In droëlandtoestande word goeie ruvoer maklik geproduseer. Onvoorspelbare, onreëlmatige reënval benadeel egter gehalte.

Smutsvingergras moet intensief benut word om gehalte moontlik te maak. Wisselende behoeftes en produksie weens wisselvallige reënval noodsaak bestuursmanipulering. Gras wat borshoogte staan en vol in die saad is, het nie ´n goeie gehalte nie. Wanneer die saad ryp is, is die gras minder smaaklik en verteerbaar. Boonop kry die blare roes en word dit aan wind en weer blootgestel. Daarby is saadstingels se gehalte dan laag en is nuwe blaargroei weens oorskaduing swak. Dus het die boer baie voer, maar die gehalte is laag.

Om die aangeplante weiding deeglik te kan benut, moet die boer dit, met die oog op die voortdurende beskikbaarheid van goeie ruvoer, intensief bestuur. Dit verg weeklikse en soms daaglikse herbeplanning namate die vooruitsigte volgens die seisoen en reënval verander.

Die behoefte vir goeie ruvoer is reëlmatig hoog. Daarenteen groei gewasse in pieke volgens die verspreiding van die reënval. Tensy dit gesny word, kan die weiding ná weke se goeie reën hand uitruk. Vir die beesboer is dit net so belangrik om dit te voorkom as om ´n voerskaarste te vermy. As die gras se stand goed is, is dit selde nodig om dit vir saadproduksie te laat rus, omdat die gras se gehalte tydens die rustydperk kan daal. Onder normale beweiding word genoeg saad geproduseer om vir die afsterwing van graspolle te vergoed.

Smutsvingergras kan matig buite die groeiseisoen met bemesting gestimuleer word deur die tyd van toediening aan te pas.

As die weiding in die midsomer gesny of kort afgewei en daarna bemes word, verhoog die produksie en die gehalte van die gras. Sonder die sny, kan die groei so vroeg in die groeiseisoen met bemesting gestimuleer word dat die gehalte daaronder ly.

Met die regte stimulering het die boer gehalte ruvoer én is daar goeie hergroei wat in die laatsomer as groenweiding of later as staande hooi benut kan word.

As dit gereeld reën, behoort die boer sy verskillende kampe die een ná die ander te sny, sodat hergroei in verskillende groeistadiums beskikbaar is.

Indien die gras wel te hoog uitgroei, moet dit deur droë of teeldiere kort afgewei word. Andersins kan dit met ´n bossieslaner bygedam word.