Landbou
Heuningbostee sprei sy soet geur
Johan Coetsee

Heuningbostee is besig om ´n bekende nuwe drankie naas sy ouboet, rooibostee, in Suid-Afrika te word, en ál meer boere stel daarin belang om dit ´n deel van hul boerderyvertakking te maak. Só gewild het dit reeds geword dat ´n Heuningbostee-produsentevereniging verlede jaar op George gestig is.

Omdat dit ietwat onbekend is, dra min boere kennis van die bestuurspraktyke wat met heuningbostee-verbouing gepaard gaan. Relatief min navorsing is oor die verbouingspraktyke daarvan gedoen, maar by die LNR-Navorsingsinstituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn op Stellenbosch word nou ernstig aandag daaraan gegee.

Landbouweekblad het met me. Marlise Joubert, ´n grondkunde-tegnoloog, en mnr. Philip Botma, ´n tuinboukundige tegnoloog by die instituut, gesels oor bestuurs- en bewerkingspraktyke by die vestiging van heuningbostee.

Hulle sê heuningbostee — wat ´n deel van die fynbosfamilie is — kom natuurlik voor vanaf die Weskus tot ongeveer Port Elizabeth. Dit verkies suur gronde met ´n redelik lae pH, wat arm is aan fosfaat, goed gedreineer is, en ´n lae klei-inhoud het. Die plante in die natuur verkies ook meestal suidelike hange om teen te groei.

Heuningbosteeplante, wat uit die verskillende spesies van die peulplantgroep Cyclopia stam, benodig rhizobium om wortelknoppies te ontwikkel en stikstof saam te bind. Rhizobium kom in simbiose met die plant voor, en word tydens die plant van sade toegedien.

Fosfaat is belangrik vir wortelgroei, wat ´n beter opname van ander elemente verseker. Mikorrisa, een van die "goeie" swamme wat in grond voorkom, help met die opneem van onder andere fosfaat — veral in gronde wat min natuurlike fosfaat bevat.

Wanneer dit by grondvoorbereiding kom, is dit noodsaaklik dat grondmonsters geneem word vir ontleding voor plant, sodat bemesting (kalk, fosfaat, kalium, kalsium, magnesium of spoorelemente) bygevoeg kan word waar nodig.

Nog heelwat navorsing is nodig om die ideale vlakke van bemesting vir heuningbostee te bepaal, maar die normale makro- en mikro-elemente moet in die grond aanwesig wees. Dit is ook belangrik dat aalwurmtellings op grondmonsters gedoen word, want heuningbostee is baie gevoelig daarvoor.

As ´n algemene tekort aan fosfaat bestaan, moet dit voor plant tydens grondvoorbereiding toegedien word, tot op ´n diepte van 300 mm tot 500 mm.

Dit is nodig dat gras en onkruid so ver moontlik uitgeroei word voor die heuningbosteeplante gevestig word, om kompetisie na voedingstowwe en water te verminder.

By rooibostee word grond ´n jaar voor die tyd voorberei, waarna graangewasse soos hawer en gars, of peulplante as ´n dekgewas gesaai en ingewerk word om onkruid te bestry. Die mening word gehuldig dat dié praktyk ook by die vestiging van heuningbostee kan geld.

Omdat heuningbosteeplante ´n moontlike organiese en gesondheidsproduk is, moet versigtig gewerk word met chemiese middels. Daar behoort selfs gekyk te word na alternatiewe metodes vir insekte- en siektebeheer, asook beroking waar aalwurms voorkom.

Wat die vestiging van die teebosse betref, is die beste tyd Junie en Julie, maar beslis nie later as middel Augustus nie.

Die oorspronklike aanbevole plantafstand tussen rye was 1 m en 0,8 m tussen plante.

Sekere produsente ondersoek ander praktiese rywydtes — byvoorbeeld om 3 tot 5 rye 400 mm uitmekaar te plant, waarna ´n breë dienspad waarin ´n trekker kan beweeg, gelaat word voor die volgende stel rye. Elke produsent moet self die ideale plantafstand wat hom pas, uitwerk.

In nat gronde moet die jong plante op operdwalle geplant word vir dreinering, want heuningbosteeplante is ook baie gevoelig vir wortelvrot.

Die navorsers sê daar word sterk aanbeveel dat ´n plastiek- of ´n organiese deklaag gebruik kan word om die grond vogtig te hou, asook om onkruid te beheer. Voorlopige resultate toon dat ´n organiese deklaag meer effektief is as ´n plastiek-deklaag — veral in die somer wanneer dit koeler as ´n plastiek-deklaag sal wees. ´n Gunstige mikroklimaat ten opsigte van vog en temperatuur word daaronder geskep. Onkruide skep geweldige probleme en deklae help baie om dit tot ´n mate te bekamp.

Hulle sê interessante voorlopige resultate het uit ´n veldproef by die Bien Donné-proefplaas buite Stellenbosch na vore gekom. In die proef is vier verskillende heuningbostee-spesies op ´n halwe hektaar báie sanderige grond gevestig en verskillende hoeveelhede fosfaat is toegedien. Drie van die spesies was herspruiters en een ´n hersaaier.

´n Hersaaier soos C. subternata (vleitee) groei vinniger as ´n herspruiter en kan dus vroeër geoes word — gemiddeld binne 18 tot 24 maande vir die eerste keer.

Herspruiters groei stadiger en kan tot drie of vier jaar neem voordat die eerste oes afgehaal word. Hulle kan tydens oes tot feitlik op die grond afgesny word. In die natuur loop hulle amper dadelik uit na ´n brand.

Na sowat agt maande is die groei van die plante gemeet.

Heelwat plante het gevrek en dit kan aan verskeie oorsake toegeskryf word:

  • Die verkeerde lokaliteit — die proefperseel was minder ideaal vir van die spesies as vir ander.
  • Phytophthora (wortelvrot) — heuningbosteeplante is baie gevoelig daarvoor.
  • Aalwurms is ook ´n probleem, en daar is bevind dat heuningbosteeplante veral baie gevoelig is vir die knopwortel-aalwurm.
  • Baie sanderige grond is nie geskik vir al die spesies nie.
  • Ander faktore wat dalk hier ´n rol gespeel het, was dat dit dalk ietwat te laat geplant is en die wortels moontlik nie goed genoeg ontwikkel was toe die somer van 1998 begin het nie, en in die buitengewoon warm somer dalk nie genoeg water gekry het nie.
Die invloed van fosfaat op die groei van heuningbostee is baie belangrik. Nie hoër as 20 mg fosfaat moet per kilogram kunsmis toegedien word nie. Tien tot twintig mg fosfaat is die maksimum wat aanbeveel word.

Dit blyk duidelik dat fosfaat wel die groei van die plante verbeter, en daar is bevind dat die persentasie plante wat gevrek het, afgeneem het met fosfaat-toedienings.

Maar wat baie belangrik is, is om nie te veel fosfaat te gee nie, sê me. Joubert. Te hoë toedienings het nie bygedra tot die verdere verbetering in die groei van die plante nie. Te veel fosfaat kan ook die mikorrisa onaktief maak. Rotsfosfaat is ideaal, maar as dit nie beskikbaar is nie, kan beenmeel ook gebruik word as organiese bemesting.

Direk ná die saailinge geplant is, moet hulle groeipunte afgesny word sodat die vorming van nuwe, jong spruite gestimuleer word. ´n Hoë bos met dik stamme het onnodige plantmateriaal wat nie bruikbaar is nie, want die dunner lote gee ´n groter volume oes- en verwerkbare plantmateriaal.

Die heuningbosteeplante moet nie te veel gestimuleer word vir groei deur middel van bemesting en besproeiing nie, want die teekwaliteit kan moontlik daarvan verswak.

Daar is gevind dat wanneer twee oeste per jaar afgehaal word, die kwaliteit en persentasie bemarkbare tee baie laer is as met een oes per jaar. En in dié stadium is die kwaliteit en eenvormige standaard daarvan baie belangrik vir die jong heuningbosteebedryf in Suid-Afrika.

Kwaliteit-standaarde moet in samewerking met die bedryf, die LNR-Infruitec-Nietvoorbij en die Departement van Produk- en Gehaltebeheer opgestel word.

As ´n boer wil uitvind watter spesie die beste in sy besondere gebied sal aard, moet hy kyk of dit endemies is, met ander woorde, watter heuningbosteespesie kom natuurlik in sy gebied voor.

Hy kan ook een van talle demonstrasiepersele besoek. Regoor die Wes-, Suid-, en Oos-Kaap is sowat 40 evalueringsblokke met die verskillende heuningbosteespesies geplant, en hy kan baie maklik daar gaan kers opsteek. Verder behoort ´n boer self ´n paar proefblokke op die plaas te vestig voordat hy heuningbostee op ´n groter skaal plant.

Navrae: Tel. (021) 809-3331 en faks (021) 809-3002.