Landbou
Welslae met waterblommetjies
Jacques Claassen

Baie produsente het al hul vingers met waterblommetjies verbrand, omdat hulle nie hul huiswerk oor veral bemarking deeglik gedoen het nie. So sê mnr. Danie van Tubbergh wat dié lekkerny al sowat dertien jaar op die plaas Riverside, naby Worcester, verbou. Hy het nou veertig waterblommetjiedamme van 0,25 ha tot 0,5 ha wat hy op ´n rotasiegrondslag gebruik.

Om ´n goeie produk te lewer, moet syns insiens op verskeie bestuursaspekte gelet word. Hy waarsku egter dat dit die produsent niks sal help om ´n gesogte produk te produseer as hy nie van ´n behoorlike afset verseker is nie. Hoewel daar baie min statistiek oor die produksie van waterblommetjies en die vraag daarna beskikbaar is, is dit vir hom duidelik dat die mark vir dié produk baie beperk is. ´n Produsent wat sy produksie skielik opstoot, gaan dus probleme kry. Daarom moet die koperspubliek "opgevoed" word voordat die mark vir waterblommetjies uitgebrei kan word.

Reeds met die bemarkingsbeplanning moet op die regte afsetpunte vir piektye gekonsentreer word. Hy sê munisipale markte is net by absolute uitsondering geskikte punte, omdat sommige van hulle te min van die opberging van vars waterblommetjies weet.

Volgens hom is ´n realistiese opbrengs sowat 4 t/ha tot 5 t/ha, maar dit hang van die omstandighede in elke oesseisoen af.

Soms kan al in Maart in die winterreëngebied, waar sowat tien plase waterblommetjies produseer, met oes begin word. Vroeg in die seisoen bereik die produksie ´n effense piek, gevolg deur ´n insinking. Die eintlike piek is in September of selfs in Oktober. Sowat 50 % van die opbrengs word dan verkry, hoewel dié twee maande net 22 % van die produksieseisoen verteenwoordig. Die hoof oestyd laat die produsent geen tyd vir ander boerderyvertakkings nie.

Vir die beste gehalte en ´n raklewe van tot vier weke moet waterblommetjies na oes by 0,5 ºC tot 4 ºC en by ´n hoë humiditeitsvlak gehou word. Anders kan dit selfs ná oes nog saadskiet, veral as die blomme reeds oorryp was toe dit gepluk is. As die opbergingstemperatuur tot onder vriespunt daal, kan waterblommetjies nie meer as ´n vars produk aangebied word nie.

Die manier waarop die blomme net ná oes gewas word, is van groot belang. Hy sê dit is gewens om die blomme ook in ´n soutoplossing te dompel. Om te voorkom dat die waterblommetjies verlep en pap word, moet dit nie te lank in so ´n oplossing wees nie. Die soutkonsentraat moet ook nie te hoog wees nie. Meer as dit wou hy nie verklap nie.

Wanneer die gewaste produk in ´n sakkie of plastiekbakkie verpak word, sal daar nog heelwat water op die blomblare wees. Om ´n hoë humiditeit te behou, moet die verpakking goed verseë1 word.

Hoewel mnr. Van Tubbergh in die jongste twee seisoene nie, soos gebruiklik, ´n deel van sy oes in blikke laat inmaak het nie, wil hy dit vanjaar weer doen. Riverside se vars waterblommetjies word aan verskillende kettingwinkelgroepe in die Wes-Kaap en Gauteng bemark, wat dit op hul beurt nasionaal versprei. Klein proefbesendings is ook al oorsee bemark.

Volgens hom is waterblommetjies sekerlik winsgewend en help dit met kontantvloei. Hy sê hy lewer sy waterblommetjies aan kettingwinkels teen sowat 35 % tot 40 % minder as die verbruikersprys van tot sowat R15 per kilogram vir die vars produk.

Vir talle verbruikers grens sulke pryse vir waterblommetjies aan ´n luuksheid, grootliks omdat hulle oningelig is en nie weet dat die produk eintlik ´n veelsydige kossoort is nie. Dus word produsente genoop om heelwat tyd aan bemarkingstrategieë te bestee, sê mnr. Van Tubbergh.

Om die wanindruk te weerlê dat waterblommetjies bloot vir bredies op ´n koue dag geskik is, plak hy verskillende resepte op die bakkies waarin sy vars produk verpak word. Die produkte wat vir Gauteng bestem is, word gewoonlik saam met appels van Ceres in verkoelde vragwaens vervoer.

Die feit dat huisvroue hom die afgelope seisoen uit Gauteng geskakel het om meer oor sy resepte vir waterblommetjies uit te vind, toon vir hom dat die belangstelling in en vraag na dié eksklusiewe produk beslis toeneem. Hy sê daar is ook reeds heelwat restaurante en hotelle wat deur die jaar waterblommetjies op hul spyskaarte het.

Syns insiens kan die jong blomme selfs in ´n vinaigrette-slaai gebruik word. As ´n mens groter blomme só wil gebruik, moet dit net vooraf effens gekook word.

Waterblommetjies is by uitstek vir bevriesing geskik, mits dit vooraf goed gewas word. Om moontlike taaiheid te voorkom verkies hy om dit ook te blansjeer voordat dit gevries word. Sou ´n mens dit egter net so vries, moet dit voor gebruik in kokende water gegooi word.

Vir die verbouing van waterblommetjies van gehalte moet veral op die beplanning van die damme en op verskeie bestuursaspekte gelet word, sê mnr. Van Tubbergh.

Goeie waterhoudende grond is ´n vereiste. Diegene wat waterblommetjies in die Boland wil verbou, moet ook genoeg water van Januarie tot Maart hê wanneer die bolle in die droë damme geplant word. Ná plant moet die damme vol gehou word. Omdat die bolle egter net elke paar jaar geplant word, kan die damme in ander jare eers in Februarie of Maart gevul word.

Hy gebruik ´n plantlyn en handhaaf ´n plantspasiëring van 1 m x 1 m. Die bolle word met die hand ´n vingerlit (25 mm) diep geplant. Mettertyd trek die bolle hulself dieper in die grond in.

Voordat die bolle gevestig word, kan die produsent die grond met ´n trekker en ´n skotteleg bietjie losmaak as dit nie te nat vir ´n bewerking is nie.

Elke jaar voordat die damme gevul word, dien hy ook stikstof toe.

Die plantmateriaal moet al in Augustus versamel word. Uitgesoekte volryp blomme kan dan toegelaat word om saad uit te gooi.

Plantverdigting in die damme moet egter ten alle koste voorkom word deur die ryp blomme in die piektye minstens een keer per week te oes. Word dit nie gedoen nie sal die blomme in die volgende seisoen klein en onaantreklik wees. Op plase waar die gewas natuurlik voorkom, maar nie as ´n volwaardige boerderyvertakking gehanteer word nie, word sulke minderwaardige blomme soms gepluk en beland dit in kafees of word dit op straat verkwansel, sê mnr. Van Tubbergh.

Nog ´n moontlike probleem wat die produsent betyds moet oplos, is oesskade wat deur verskeie soorte voëls aangerig kan word. Hy sê hy laat sy damme bedags én snags oppas. Snags word ook vuur gemaak.

Alge op die damme kan uitgewis word deur met spuitkanne koper onder die water toe te dien.

Waar onderwatergrasse die waterblommetjies kan verdring, word dit bestry met metodes wat by die betrokke plaas se omstandighede pas.

Mnr. Van Tubbergh beklemtoon ook die damme moet so beplan word dat hul diepte beheer kan word. Dit is veral belangrik om te verseker dat die blomme nie soms onder die waterv1ak verdwyn nie, want anders beland slik op die blomme wat ´n mens nie weer kan afspoel nie. Die damme moet dus gedreineer kan word.

Om te verseker dat water nie tydens die oes by die plukkers se waterpakke inloop nie, moet die damme ook nie dieper as 760 mm tot 8OO mm wees nie. Ten einde golfies op die water te beperk moet reghoekige damme op ´n winderige terrein so geplaas word dat die heersende wind oor die smal kant van die damme waai.