Landbou
Groter wins met gesonde bestuur


ANGORABOKKE se lae reproduksietempo (speenpersentasies is so laag as 60) weens swak besetting, aborsies en hoë lamvrektes, is grootliks vir dié ras se lae winsmarges en stadige teeltvordering verantwoordelik. Die swak groei van jong diere verhoog vrektes en dra grootliks tot ´n lae leeftydproduksie en -reproduksie by.

Weens die hoë prys vir kleinbokkiehaar is dit belangrik dat soveel moontlik lammers en jong bokkies oorleef. Die verhoging van die aantal lammers wat per hektaar gespeen word, is dan ook een van die doeltreffendste maniere waardeur Angorabok-produsente hul wins op ´n gegewe oppervlakte kan verhoog.

Waarskynlik die vinnigste manier om dit te bereik, is deur die verhoging van die speenpersentasie, sê dr. Jasper Coetzee, tegniese direkteur van die veevoeronderneming Voermol.

Die soog- en droogmetode is een bestuurspraktyk wat hoogs aanbeveel word om onproduktiewe ooie (droë ooie en ooie wat geen lammers speen nie) te identifiseer. Die uitskot van sulke ooie lewer ´n wesenlike bydrae om die reproduksie van ´n kudde te verhoog.

´n Doeltreffende lamstelsel (bv. ooie wat in klein troppies lam) is noodsaaklik om die permanente skeiding tussen ´n ooi en haar lam(mers), asook lamdiefstal, te beperk. Dié probleme is, naas onvoldoende beskikbaarheid van biesmelk, van die grootste oorsake van lamvrektes.

Die winsgewendheid van ´n Angorabokboerdery word grootliks bepaal deur die toepassing van doeltreffende bestuurs-, voedings- en telingspraktyke in die kudde. Alle beskikbare hulpmaatreëls (soos die beste voerlekke en goeie teelramme) en moderne tegnologie (bv. die BLUP-tegniek) kan nie vir ´n swak bestuurder vergoed nie.

Hierdie praktyke moenie los van mekaar gesien word nie, maar as ´n eenheid, want saam vorm hulle die basis van ´n winsgewende boerdery.

Dr. Coetzee sê baie vrektes onder lammers word dikwels aan klimaatstoestande soos koue en reën toegeskryf, terwyl ondervoeding en/of wanvoeding gedurende dragtigheid in werklikheid die belangrikste oorsaak is. Om sterk en lewenskragtige lammers by geboorte te verseker, moet die voeding van so ´n aard wees dat die ooie se liggaamsgewig en kondisie gedurende die volle dragtigheidsduur matig toeneem.

Ondervoeding gedurende middragtigheid (die tweede en derde maand van dragtigheid) het ´n kleiner plasenta (nageboorte) tot gevolg. Die grootte van die plasenta is belangrik omdat dit hoofsaaklik die geboortegewig van ´n lam bepaal.

Onvoldoende plasenta-ontwikkeling gedurende middragtigheid het tot gevolg dat die fetus nie tot sy volle potensiaal ontwikkel nie. Die lam is gevolglik klein met geboorte, veral in die geval van skraal en maer ooie.

Hierdie toestand lei tot ´n toename in fetale (ongebore lam-) vrektes, lae geboortegewig en swak lewensvatbaarheid by geboorte, ´n afname in die energiereserwes van die lam, asook swak moedereienskappe — en gevolglik meer lammers wat vrek.

Die belangrikste faktore wat die grootte van die plasenta beïnvloed, is voeding, temperatuur, die aantal fetusse in die baarmoeder asook die ooi se ouderdom, kondisie en liggaamsgewig.

Volgens dr. Coetzee kan ´n hoë voedingspeil gedurende laatdragtigheid nooit ten volle vir swak plasenta-ontwikkeling in middragtigheid vergoed nie. Ondervoeding voor die honderdste dag van dragtigheid kan ook melkproduksie beïnvloed vanweë die plasenta se betrokkenheid by melkklierontwikkeling. Die grootte van die plasenta bepaal grootliks die grootte van die uier en gevolglik melkproduksie.

Plasentale hormone speel ook ´n belangrike rol in moederlike gedrag omdat dit verantwoordelik is vir die vorming van die band tussen ´n ooi en haar lam onmiddellik ná geboorte. Ooie met ´n klein plasenta openbaar swak moedereienskappe en is meer geneig om hul lammers kort ná geboorte weg te gooi.

Hoë omgewingstemperatuur is die belangrikste faktor wat die grootte van die plasenta bepaal. Dit blyk dat hoë temperatuur die vloei van die bloed en dus voedingstowwe na die baarmoeder beperk.

Hittestres kan die gewig van die plasenta en die fetus by geboorte met tot die helfte verminder. As hoë omgewingstemperatuur (bo 28 úC) voorkom, kan geboortegewig en lamoorlewing verbeter word deur die voorsiening van skaduwee gedurende mid-dragtigheid en lamtyd.

Kondisie, veral met paring, speel saam met ouderdom ´n belangrike rol in die ontwikkeling van die plasenta. Jong ooie het ´n kleiner plasenta as ´n volwasse ooi, hoofsaaklik omdat eersgenoemde ´n kleiner baarmoeder as ´n volwasse ooi het.

Dr. Coetzee sê meer aandag behoort gedurende middragtigheid aan skraal, maar veral jong ooitjies gegee te word — veral omdat hulle self nog in ´n laat stadium van groei is. Hulle behoort in ´n afsonderlike kamp met beter weiding gehou te word, of bykomende lekaanvulling moet aan hulle verskaf word.

Dit is nie algemeen bekend dat die afsterf van fetusse, veral van die 30ste tot 65ste dag ná bevrugting, een van die belangrikste redes vir ´n lae reproduksietempo is nie. Fetusse wat in hierdie tydperk afsterf, word nie altyd geaborteer nie en dikwels deur die vrugvliese van die baarmoeder geabsorbeer. Dit is as resorbsie bekend.

Die enigste waarneembare tekens van fetale resorbsie is ´n hoë persentasie ooie wat nie beset raak nie, minder ooie met tweelinge en klein lammers by geboorte. Volgens dr. Coetzee kan ´n fetus wat ´n maand ná bevrugting afsterf, ook klein lammers met geboorte tot gevolg hê. Die rede daarvoor is dat die oppervlakte van die baarmoeder en die baarmoederkoeke wat deur die dooie fetus in beslag geneem word, asook die dooie fetus se voedingstowwe, nie vir die oorblywende lewende fetusse beskikbaar is nie.

´n Enkeling wat by geboorte so groot soos ´n tweeling is, was moontlik oorspronklik ´n tweeling waarvan ´n maat in ´n vroeë stadium afgesterf het. Fetale verliese wissel normaalweg van 0 % tot 25 %, maar kan in hoë strestoestande heelwat hoër wees. Dit wil voorkom of jong ooie die hoogste risiko loop om een of meer fetusse in ongunstige voedingstoestande te verloor.

Fetale verliese — die verskil tussen die getal lammers geskandeer (potensiële getal lammers) en die werklike getal lammers gebore (lewend en dood) — kan die winsgewendheid van Angorabokboerdery ernstig benadeel. Omdat fetale verliese dikwels ongesiens verbygaan, moet dit voortdurend gemonitor word.

In ooikuddes waar goeie bestuur toegepas word, strestoestande voorkom of beperk word en voldoende skaduwee en voeding beskikbaar is sodat ooie hul goeie kondisie met paring deur middragtigheid handhaaf, is fetale verliese normaalweg nie ´n faktor nie.

Hoogproduserende diere soos Angorabokke is egter baie gevoelig vir strestoestande. Die voorkoms van dié toestande tydens paring en in die eerste maand ná paring moet so ver moontlik beperk word. Die praktyk om Angorabokooie te mikskeer en/of te dip wanneer die ramme uitgehaal word, of kort daarna, kan groot fetale verliese tot gevolg hê.

Hoe jonger die fetusse in die stadium is dat strestoestande voorkom, hoe groter is die kans dat een of meer van die fetusse kan afsterf. Die praktyk om ooie vroeg (ongeveer 35 dae ná paring) te skandeer, sal die kans op fetale afsterwing verhoog.

Ooie behoort eers geskandeer te word 42 dae ná die ramme uitgehaal is. Tydens skandering moet alle voorsorg getref word om die stresvlak van die diere so laag moontlik te hou. Die ooie moet stadig na die krale aangejaag word, die teenwoordigheid van honde moet beperk word en die diere moet beslis nie uitgehonger word nie.

Enige vorm van stres moet ook in die vroeë stadium van middragtigheid (veral voor die 60ste dag van dragtigheid) voorkom of beperk word, want dit kan tot fetale verliese by hoërisikodiere (bv. dié met meerlingfetusse asook jong en skraal ooie) lei. Strestoestande wat in dié tyd kan voorkom, is oormatige hantering tydens skanderingskeer, mikskeer, dip, dosering, enting en die knip van kloue, sowel as gure weerstoestande en die vervoer of aanjaag van ooie oor ´n lang afstand.

Om fetale verliese te beperk, moet die ooi reeds met paring in ´n goeie kondisie wees (´n kondisietelling van 3,5). Navorsing toon dat daar aansienlike voordele is in die handhawing van ´n ooi se kondisie, mits sy met paring in ´n uitstekende kondisie was. ´n Matige toename in haar gewig tydens dragtigheid word hoogs aanbeveel.

Hierdie toestande sal nie net ´n hoër lam- en speenpersentasie in die hand werk nie, maar die diere sal ook beter en meer vesel produseer. Lammers met ´n lae geboortegewig groei stadiger as hulle swaarder tydgenote, terwyl ondervoeding van die ooi die ontwikkeling van veselfollikels by lammers verminder.

Die tipe aanvulling wat gebruik word om kondisie te handhaaf, hang af van die gehalte (veral proteïen en verteerbaarheid) en die weiding (droog of groen) beskikbaar, asook die kondisie- en/of liggaamsgewigsverandering wat verlang word.

Hoewel verskeie tipes aanvulling beskikbaar is, moet tydens paring, sowel as vroeë en middragtigheid voorkeur aan energieryke/ionofoorbevattende aanvullings (250 g tot 300 g/dier/dag) gegee word.

´n Voorbeeld van so ´n aanvulling is 200 kg mielies of 250 kg kleingrane plus 25 kg sjokoladegraan-konsentraat. As grane nie beskikbaar is nie of te duur is, kan ´n ionofoorbevattende energieblok (250 g tot 300 g/dag) met groot welslae gebruik word.

Navorsing toon dat hierdie tipe aanvullings veral geskik is om bloedglukose vinnig te verhoog. Dit help die dier om strestoestande beter te verdra, wat grootliks bydra om kouevrektes en aborsies te voorkom of te beperk.

Hierdie aanvullings (300 g tot 400 g/dier/dag) gee ook uitstekende resultate as prikkelvoere.

Dr. Coetzee sê die speenpersentasie kan betekenisvol verhoog word deur lamvrektes ná geboorte te verlaag. Dit blyk dat 15 % tot 25 % (en in baie gevalle selfs meer) van alle lammers wat gebore word, voor speentyd vrek.

Verskeie bestuurspraktyke (soos die gebruik van klein lamtroppe en klein lamkampies) kan gevolg word om meer lammers te laat oorleef. In die meeste gevalle vereis dit bykomende arbeid of die verskaffing van skuiling, wat vir produsente met groot kuddes en in ekstensiewe boerderygebiede onaanvaarbaar is.

Die meeste lammers (ongeveer 80 %) vrek in die tydperk net voor geboorte tot ongeveer sewe dae ná geboorte. Navorsing in Australië toon dat ongeveer 80 % van hierdie vrektes verband hou met die voeding van die ooi gedurende die laaste paar weke voordat sy lam en onmiddellik daarna.

Die belangrikste faktore in die beperking van vrektes onder lammers, is hoeveel biesmelk ´n ooi het as sy lam en hoeveel melk die ooi daarna vir haar lam het. Laasgenoemde sal ook die groeitempo van ´n lam bepaal.

As ´n produsent se ooie ´n geskiedenis het van geboorteprobleme, lammers wat met ´n geel geboortekleed gebore word, klein en swak lammers by geboorte, ooie wat ná geboorte swak is, swak uierontwikkeling, abnormale dik en taai bies, lae en vertraagde aanvang van bies- en melkproduksie, swak moedereienskappe, metaboliese steurnisse soos domsiekte en melkkoors, asook lae veselproduksie, moet die oorsaak heel eerste by ´n voedingstoftekort of -wanbalans gesoek word.

As hierdie verskynsels gepaard gaan met baie vrektes onder lammers tydens en kort ná geboorte asook lammers wat swak groei, is die oorsaak waarskynlik ´n tekort aan natuurlike proteïen (deurvloeiproteïen) van hoë gehalte in die weiding.

Dr. Coetzee sê deurvloeiproteïen blyk die mees kritieke voedingstof te wees in die verhoging van ooie se biesmelk- en melkproduksie — en deurvloeiproteïen is juis die voedingstof waaraan daar die grootste tekort in feitlik alle weidings is. By veselproduserende diere soos die Angorabok is die behoefte aan deurvloeiproteïen baie hoog omdat Angorahaar suiwer proteïen is.

Die maklikste metode om vas te stel of daar ´n tekort aan deurvloeiproteïen in die dieet van ´n ooi is, is om onmiddellik nadat sy gelam het, na die fisiese voorkoms van haar biesmelk te kyk. As dit abnormaal dik en taai (soos kondensmelk) is, is dit ´n definitiewe aanduiding van ´n tekort aan deurvloeiproteïen.

Lammers wat met ´n geel geboortevlies gebore word, dui op geboortestres, wat ook met ´n tekort aan deurvloeiproteïen in verband gebring kan word.

´n Tekort aan deurvloeiproteïen kan veroorsaak word deur voerlekke of -aanvullings wat laag in deurvloeiproteïen is, soos hoë ureumbevattende lekke, sjokoladegrane of waar net mielies of kleingrane aan laat-dragtige en lakterende diere gevoer word.

Hoewel sjokoladegrane ´n groot bydrae lewer om aborsies en kouevrektes te beperk, beperk dit die uitgroei van jong bokkies, uierontwikkeling by laatdragtige ooie asook die produksie van bies en melk terwyl dit ook lei tot die produksie van abnormale dik en taai bies weens ´n tekort aan deurvloeiproteïen.

Die voorsiening van produksielekke aan Angorabokooie van vier tot ses weke voor lamtyd tot ses tot agt weke daarna het ten doel om ´n hoë vlak van deurvloeiproteïen aan hierdie diere te verskaf. ´n Hoë inname van deurvloeiproteïen deur lekke hou die volgende voordele in:

  • Dit stimuleer uierontwikkeling en verhoog gevolglik bies- en melkproduksie, verbeter moedereienskappe van ooie en lewenskragtigheid van lammers by geboorte en verlaag die voorkoms van geboorteprobleme, domsiekte en melkkoors. Gevolglik vrek minder lammers.
  • Dit voorkom abnormale dik en taai bies, wat beteken dat minder lammers vrek.
  • Dit bevorder melkproduksie. Meer melk laat die lammers beter groei en voorkom boepenslammers.
  • Dit bevorder spiergroei. Beter spiergroei laat jong diere beter groei en dra daartoe by dat vervangingsooitjies beter uitgroei.
  • Dit bevorder veselgroei en -gehalte.
  • Dit stimuleer die inname van ruvoer asook dié van groen- en droë weidings — in teenstelling met hoë energieryke mengsels (bv. sjokoladegrane, mielies en kleingrane) wat geneig is om weidingsinname te verplaas.
Baie vrektes onder lammers en lammers wat swak groei is die belangrikste gevolge van onder- en wanvoeding gedurende laatdragtigheid. Onder- en wanvoeding gedurende laktasie lei tot ´n lae lampersentasie die daaropvolgende lamseisoen en lae groeitempo sê dr. Coetzee.