Wanneer ´n kommersiële teler oor die koop van nuwe bulle moet besluit, oorweeg hy veral twee faktore. Dit is die finansiële aspek wat by die seleksie en koop van ´n potensiële teelbul betrokke is, en sy genetiese potensiaal.
Vir die kommersiële teler is die finansiële aspek, wat nie net op die koopprys berus nie, die belangrikste. Omdat bulkoste as ´n bedryfsuitgawe gesien word, word dié koste bepaal deur die getal kalwers wat die bul in sy leeftyd in die kudde gaan produseer.
Die tabel toon ´n teoretiese voorbeeld wat die verskil aandui in bulkoste en potensiële inkomste tussen twee bulle van R10 000 elk oor ´n vierjaartydperk. Hier is 97 kalwers gespeen van groep koeie met ´n hoë dragtigheidspersentasie (85) en 74 kalwers van die groep koeie met ´n lae dragtigheidspersentasie (65). Die verskil lê in die bulle se teelgeskiktheid wat deur die lae en hoë dragtigheidspersentasie verteenwoordig word. ´n Bul se teelgeskiktheid is een van die belangrikste faktore wat die dragtigheidspersentasie kan beïnvloed.
Van die 97 kalwers is uiteindelik 20 370 kg gespeen en van die 74 kalwers 15 540 kg. Teen ´n gemiddelde speengewig van 210 kg en ´n speenkalfprys van R4,50/kg sorg die 15 540 kg vir ´n inkomste wat oor die vierjaartydperk R21 735 minder as dié van die 20 370 kg is.
Die tweede aspek bestaan uit ´n besluit oor die bul se genetiese potensiaal. Dit is geneties oorerfbare faktore wat ´n kudde meetbaar kan verbeter. Hierdie verbetering is net betekenisvol as dit die doeltreffendheid van die produksieproses gaan verhoog. Dus word nou baie klem geplaas op die voeromsetverhouding van bulle wat aangekoop word, want dis is ´n indeks van doeltreffendheid.
Genetiese evaluasie, soos in die Nasionale Prestasietoetsskema vervat, is goed nagevors en gestandaardiseer. Met die BLUP-waardes wat ook nou beskikbaar is, weet telers wat die genetiese potensiaal is van die bul wat hulle koop.
Baie faktore beïnvloed ´n bul se potensiaal om kalwers te verwek, maar talle van hulle is nie altyd meetbaar nie. ´n Eenvoudige voorbeeld wat wel ook baie belangrik is, is die bul se vermoë om aan te pas by die omgewing waar hy gebruik gaan word.
Eienskappe soos bulvrugbaarheid is meetbaar en kan deur ´n ondersoek van sy teelgeskiktheid beoordeel word. Teelgeskiktheid is dinamies, want dit kan mettertyd verander, terwyl die genetiese samestelling ´n vaste faktor is. Dus moet teelgeskiktheid as deel van die seleksieproses van jong bulle ondersoek word om, eerstens, diere uit te skakel wat ´n blywende afwyking het. Daarna moet bulle weer jaarliks ondersoek word voordat hulle vir gebruik tydens die teelseisoen oorweeg kan word.
| ´n Teoretiese voorbeeld wat die verskil aandui in bulkoste en potensiële inkomste tussen twee bulle (Die aannames waarop hierdie voorbeeld berus, verskyn onderaan dié tabel.): | ||||
|
Aankoopprys van die twee verskillende bulle |
Gemiddelde dragtigheids- persentasie van koeie wat saam Met elke bul was |
Getal kalwers verwek en gespeen |
Bulkoste per kalf gespeen | Verskil in potensiële inkomste oor vier jaar |
|
R10 000 R10 000 |
85 65 |
97 74 |
R103 R135 |
-R21 735 |
|
Aannames:
|
||||
Verlaagde en wisselende bulvrugbaarheid is in Noord-Australië as ´n belangrike faktor
uitgeken wat die reproduksietempo (kalfuitset) van beeskuddes beperk. Dié gebied het sowat
elf miljoen beeste en sy boerdery is baie ekstensief met beladings van 5 ha tot 30 ha per
volwasse bees.
Die probleem was dat nog baie min navorsing gedoen is wat die resultate van ´n
teelgeskiktheidsondersoek wat voor die begin van die teelseisoen gedoen is, met die
kalfuitset in natuurlike telingstelsels (soos hierbo) korreleer.
´n Gesamentlike projek, The Bull Power Project, is deur die betrokke
staatsdepartement, twee universiteite en die Vleisnavorsingskorporasie van 1992 tot 1997
aangepak om onder meer ´n bestuursriglyn te voorsien waarvolgens bulle se teelgeskiktheid
doeltreffend bepaal kan word. Die teelgeskiktheid van 750 bulle is in dié tydperk op twaalf
verskillende eiendomme bepaal. Bulle is in verskillende teelstelsels en met uiteenlopende
bul-tot-koei-verhoudings gebruik. Die nageslag van ´n subgroep van 245 bulle is met
DNA-vaderskapbepalings vasgestel.
Die resultate het bewys dat baie min individuele meetbare faktore wel regstreeks met ´n hoë
kalfuitset verband hou. Talle van die meetbare faktore was dan ook nie baie herhaalbaar nie.
Dit beteken dat met ´n volgende ondersoek die resultaat van die eerste een s´n verskil het.
Een meetbare faktor wat ook hoogs herhaalbaar was, was egter baie positief met kalfuitset
gekorreleer. Dit is die bouvorm en persentasie normale sperms wat teenwoordig was tydens ´n
mikroskopiese ondersoek voordat die bulle vir teling gebruik is. Meesal het bulle met minder
as 50 % normale sperms die minste kalwers verwek, en bulle met meer as 70 % normale sperms
die hoogste kalfuitset gehad.
Aanbevelings met die samevatting van dié studies beteken dat teelgeskikte bulle normaal moet
wees wat ´n kombinasie van evaluasies betref, en dat ´n bul nie op grond van een faktor
teelgeskik verklaar kan word nie.
´n Ondersoek vir teelgeskiktheid kan slegs betekenisvol wees as dit so volledig moontlik
uitgevoer word. Dus moet beesboere verstaan wat so ´n volledige ondersoek behels.
Na gelang van die doel waarvoor die bul gebruik gaan word, kan die ondersoek effens verskil.
Teelgeskiktheid word om die volgende drie redes ondersoek:
´n Veearts se ondersoek na teelgeskiktheid bestaan hoofsaaklik uit die volgende vier
dele:
Hierdie bykomende komponent van ´n volledige teelgeskiktheidsondersoek word nog baie min in
Suid-Afrika uitgevoer.
Dekbehendigheid is die vermoë van ´n bul om wel ´n vroulike dier met welslae te kan dek. Dit
beteken dat die bul die vroulike dier moet bestyg, penetreer en ejakuleer. Dit klink of die
aksie altyd normaal plaasvind, maar daar is wel bulle wat net ´n deel van die taak uitvoer
en dan nie "deurstamp" nie. Hierdie "deurstamp" is die teken dat die
bul saad gestort het. Die bul se agterpote lig gewoonlik effens van die grond af wanneer dit
gebeur. Dit is ook hierdie aksie wat sekere ouer bulle met artritis, rug- of ander probleme
verhinder om vroulike diere met welslae te dek.
Dekkapasiteit is ´n evaluasie van die geslagsdrang van ´n bul deur te kyk hoeveel keer hy ´n
stilstaande vroulike dier in ´n vasgestelde tydperk bespring.
Om dié twee toetse te kan doen, moet spesiale hanteringsgeriewe gebou word. Die evaluasie
neem baie tyd in beslag en dus is dit een van die beoordelings wat hoofsaaklik deur die
bulteler self gedoen kan word.
Omdat dit so min in Suid-Afrika uitgevoer word, berus die onus meesal op die persoon wat die
bul koop en/of gebruik om die waarneming self te doen. Dit moet minstens vir alle bulle wat
die eerste keer gebruik word, gedoen word. Die beste tyd is om dit te doen, is in die begin
van die teelseisoen wanneer baie van die koeie nog op hitte is.
´n Bul in ´n enkelvaarkudde waarvan die dekbehendigheid bevraagteken word, moet dadelik
vervang word.
Die omvang van die ondersoek na teelgeskiktheid het oor die jare verander. Daar is egter
gevind dat dit nie altyd volledig uitgevoer word nie.
Om dit reg te stel, het die Veegesondheid- en Produksiegroep van die Suid-Afrikaanse
Veterinêre Vereniging op twee nasionale stappe besluit.
Die genetiese potensiaal van Suid-Afrika se vleisbeeste is van die beste in die wêreld,
maar ons lae nasionale kalfpersentasie kanselleer die goeie genetika se potensiaal, want die
getal kalwers wat gebore word, is steeds die belangrikste faktor wat winsgewendheid in die
vleisbeesbedryf bepaal.
Een van die faktore wat baie kan help om die kalfpersentasie te verbeter, is die gebruik van
teelgeskiktheidsondersoeke van bulle as seleksiehulpmiddel voor ´n bul gekoop of vir teling
gebruik word. Hoewel dié hulpmiddel lank beskikbaar is, word dit nie genoeg gebruik nie of
nie korrek en/of volledig uitgevoer nie.
Met die nasionale standaardisering van dié ondersoek deur veeartse, word nou gepoog om die
algemene kalfpersentasie in Suid-Afrika te help verbeter.