Landbou
Teelbulle: Ondersoek geskiktheid deeglik
Dr Danie Odendaal

Wanneer ´n kommersiële teler oor die koop van nuwe bulle moet besluit, oorweeg hy veral twee faktore. Dit is die finansiële aspek wat by die seleksie en koop van ´n potensiële teelbul betrokke is, en sy genetiese potensiaal.

Vir die kommersiële teler is die finansiële aspek, wat nie net op die koopprys berus nie, die belangrikste. Omdat bulkoste as ´n bedryfsuitgawe gesien word, word dié koste bepaal deur die getal kalwers wat die bul in sy leeftyd in die kudde gaan produseer.

Die tabel toon ´n teoretiese voorbeeld wat die verskil aandui in bulkoste en potensiële inkomste tussen twee bulle van R10 000 elk oor ´n vierjaartydperk. Hier is 97 kalwers gespeen van groep koeie met ´n hoë dragtigheidspersentasie (85) en 74 kalwers van die groep koeie met ´n lae dragtigheidspersentasie (65). Die verskil lê in die bulle se teelgeskiktheid wat deur die lae en hoë dragtigheidspersentasie verteenwoordig word. ´n Bul se teelgeskiktheid is een van die belangrikste faktore wat die dragtigheidspersentasie kan beïnvloed.

Van die 97 kalwers is uiteindelik 20 370 kg gespeen en van die 74 kalwers 15 540 kg. Teen ´n gemiddelde speengewig van 210 kg en ´n speenkalfprys van R4,50/kg sorg die 15 540 kg vir ´n inkomste wat oor die vierjaartydperk R21 735 minder as dié van die 20 370 kg is.

Die tweede aspek bestaan uit ´n besluit oor die bul se genetiese potensiaal. Dit is geneties oorerfbare faktore wat ´n kudde meetbaar kan verbeter. Hierdie verbetering is net betekenisvol as dit die doeltreffendheid van die produksieproses gaan verhoog. Dus word nou baie klem geplaas op die voeromsetverhouding van bulle wat aangekoop word, want dis is ´n indeks van doeltreffendheid.

Genetiese evaluasie, soos in die Nasionale Prestasietoetsskema vervat, is goed nagevors en gestandaardiseer. Met die BLUP-waardes wat ook nou beskikbaar is, weet telers wat die genetiese potensiaal is van die bul wat hulle koop.

Baie faktore beïnvloed ´n bul se potensiaal om kalwers te verwek, maar talle van hulle is nie altyd meetbaar nie. ´n Eenvoudige voorbeeld wat wel ook baie belangrik is, is die bul se vermoë om aan te pas by die omgewing waar hy gebruik gaan word.

Eienskappe soos bulvrugbaarheid is meetbaar en kan deur ´n ondersoek van sy teelgeskiktheid beoordeel word. Teelgeskiktheid is dinamies, want dit kan mettertyd verander, terwyl die genetiese samestelling ´n vaste faktor is. Dus moet teelgeskiktheid as deel van die seleksieproses van jong bulle ondersoek word om, eerstens, diere uit te skakel wat ´n blywende afwyking het. Daarna moet bulle weer jaarliks ondersoek word voordat hulle vir gebruik tydens die teelseisoen oorweeg kan word.

´n Teoretiese voorbeeld wat die verskil aandui in bulkoste en potensiële inkomste tussen twee bulle (Die aannames waarop hierdie voorbeeld berus, verskyn onderaan dié tabel.):
Aankoopprys
van die twee verskillende bulle
Gemiddelde dragtigheids- persentasie van koeie wat saam Met elke bul was Getal kalwers
verwek en gespeen
Bulkoste per kalf gespeen Verskil in potensiële inkomste oor vier jaar
R10 000
R10 000
85
65
97
74
R103
R135
-R21 735
Aannames:


  • Koste en potensiële inkomste word bepaal oor die vierjaartydperk wat die bulle in die kudde gebruik word.

  • Een teelseisoen per jaar met ´n verhouding van een bul by dertig koeie.

  • Die bul se slagwaarde ná vier jaar se gebruik dek net sy onderhoudskoste oor dié tydperk.

  • Gemiddeld is die speengewig van kalwers 210 kg en die speenkalfprys is R4,50.

Verlaagde en wisselende bulvrugbaarheid is in Noord-Australië as ´n belangrike faktor uitgeken wat die reproduksietempo (kalfuitset) van beeskuddes beperk. Dié gebied het sowat elf miljoen beeste en sy boerdery is baie ekstensief met beladings van 5 ha tot 30 ha per volwasse bees.

Die probleem was dat nog baie min navorsing gedoen is wat die resultate van ´n teelgeskiktheidsondersoek wat voor die begin van die teelseisoen gedoen is, met die kalfuitset in natuurlike telingstelsels (soos hierbo) korreleer.

´n Gesamentlike projek, The Bull Power Project, is deur die betrokke staatsdepartement, twee universiteite en die Vleisnavorsingskorporasie van 1992 tot 1997 aangepak om onder meer ´n bestuursriglyn te voorsien waarvolgens bulle se teelgeskiktheid doeltreffend bepaal kan word. Die teelgeskiktheid van 750 bulle is in dié tydperk op twaalf verskillende eiendomme bepaal. Bulle is in verskillende teelstelsels en met uiteenlopende bul-tot-koei-verhoudings gebruik. Die nageslag van ´n subgroep van 245 bulle is met DNA-vaderskapbepalings vasgestel.

Die resultate het bewys dat baie min individuele meetbare faktore wel regstreeks met ´n hoë kalfuitset verband hou. Talle van die meetbare faktore was dan ook nie baie herhaalbaar nie. Dit beteken dat met ´n volgende ondersoek die resultaat van die eerste een s´n verskil het.

Een meetbare faktor wat ook hoogs herhaalbaar was, was egter baie positief met kalfuitset gekorreleer. Dit is die bouvorm en persentasie normale sperms wat teenwoordig was tydens ´n mikroskopiese ondersoek voordat die bulle vir teling gebruik is. Meesal het bulle met minder as 50 % normale sperms die minste kalwers verwek, en bulle met meer as 70 % normale sperms die hoogste kalfuitset gehad.

Aanbevelings met die samevatting van dié studies beteken dat teelgeskikte bulle normaal moet wees wat ´n kombinasie van evaluasies betref, en dat ´n bul nie op grond van een faktor teelgeskik verklaar kan word nie.

´n Ondersoek vir teelgeskiktheid kan slegs betekenisvol wees as dit so volledig moontlik uitgevoer word. Dus moet beesboere verstaan wat so ´n volledige ondersoek behels.

Na gelang van die doel waarvoor die bul gebruik gaan word, kan die ondersoek effens verskil. Teelgeskiktheid word om die volgende drie redes ondersoek:

  • Voor ´n bul se verkope of gebruik vir natuurlike dekking.
  • Bulle waarvan die semen vir KI-doeleindes verkoop gaan word.
  • Vir die versekering van ´n bul.

    ´n Veearts se ondersoek na teelgeskiktheid bestaan hoofsaaklik uit die volgende vier dele:

  • ´n Algemene kliniese ondersoek van die bul self, met spesiale aandag aan die kondisie, tande, oë, bene, loopvermoë en funksionele doeltreffendheid.

  • ´n Spesifieke ondersoek van die geslagstelsel. Aan die hele uitwendige geslagstelsel moet vir enige afwykings gevoel word. Baie klem word op die teelballe (testikels) en byballe (epididimus) se omvang en digtheid geplaas. Die interne geslagsorgane word ook beoordeel met ´n inwendige ondersoek wat deur die rektum gedoen word.

  • Semen word dan van die bul versamel en op grond van die volume, kleur, samestelling en pH beoordeel. ´n Mikroskopiese ondersoek word gedoen om die massa- en persentasie voorwaartse beweging te evalueer. Semensmere word gemaak sodat die bouvorm (morfologie) van teenwoordige sperms ondersoek kan word. Laasgenoemde mikroskopiese ondersoek word by die veearts se praktyk gedoen en verg spesiale beligting en baie konsentrasie. Met dié ondersoek word die persentasie normale sperms bepaal.

  • Monsters word van die bul geneem en in die laboratorium gekweek om vas te stel of hy geslagsoordraagbare siektes het. Dié monsters kan geneem word op dieselfde of op ´n ander dag as die res van die ondersoek. Dit word gewoonlik op ´n afsonderlike dag geneem as baie bulle op een dag ondersoek moet word. Bloedmonsters kan ook van die bul geneem word om te toets vir ander siektes waarvan hy ´n draer kan wees.

    Hierdie bykomende komponent van ´n volledige teelgeskiktheidsondersoek word nog baie min in Suid-Afrika uitgevoer.

    Dekbehendigheid is die vermoë van ´n bul om wel ´n vroulike dier met welslae te kan dek. Dit beteken dat die bul die vroulike dier moet bestyg, penetreer en ejakuleer. Dit klink of die aksie altyd normaal plaasvind, maar daar is wel bulle wat net ´n deel van die taak uitvoer en dan nie "deurstamp" nie. Hierdie "deurstamp" is die teken dat die bul saad gestort het. Die bul se agterpote lig gewoonlik effens van die grond af wanneer dit gebeur. Dit is ook hierdie aksie wat sekere ouer bulle met artritis, rug- of ander probleme verhinder om vroulike diere met welslae te dek.

    Dekkapasiteit is ´n evaluasie van die geslagsdrang van ´n bul deur te kyk hoeveel keer hy ´n stilstaande vroulike dier in ´n vasgestelde tydperk bespring.

    Om dié twee toetse te kan doen, moet spesiale hanteringsgeriewe gebou word. Die evaluasie neem baie tyd in beslag en dus is dit een van die beoordelings wat hoofsaaklik deur die bulteler self gedoen kan word.

    Omdat dit so min in Suid-Afrika uitgevoer word, berus die onus meesal op die persoon wat die bul koop en/of gebruik om die waarneming self te doen. Dit moet minstens vir alle bulle wat die eerste keer gebruik word, gedoen word. Die beste tyd is om dit te doen, is in die begin van die teelseisoen wanneer baie van die koeie nog op hitte is.

    ´n Bul in ´n enkelvaarkudde waarvan die dekbehendigheid bevraagteken word, moet dadelik vervang word.

    Die omvang van die ondersoek na teelgeskiktheid het oor die jare verander. Daar is egter gevind dat dit nie altyd volledig uitgevoer word nie.

    Om dit reg te stel, het die Veegesondheid- en Produksiegroep van die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging op twee nasionale stappe besluit.

  • Eerstens, het hy met die samewerking van die Departement van Geslagskunde by die Fakulteit Veeartsenykunde by Onderstepoort, die ondersoek en sertifikaat wat deur veeartse uitgereik word om ´n bul teelgeskik te verklaar, gestandaardiseer.
  • Tweedens, het die Departement van Geslagskunde begin om landwyd opknappingskursusse oor die gestandaardiseerde teelgeskiktheidsondersoek vir veeartse aan te bied.

    Die genetiese potensiaal van Suid-Afrika se vleisbeeste is van die beste in die wêreld, maar ons lae nasionale kalfpersentasie kanselleer die goeie genetika se potensiaal, want die getal kalwers wat gebore word, is steeds die belangrikste faktor wat winsgewendheid in die vleisbeesbedryf bepaal.

    Een van die faktore wat baie kan help om die kalfpersentasie te verbeter, is die gebruik van teelgeskiktheidsondersoeke van bulle as seleksiehulpmiddel voor ´n bul gekoop of vir teling gebruik word. Hoewel dié hulpmiddel lank beskikbaar is, word dit nie genoeg gebruik nie of nie korrek en/of volledig uitgevoer nie.

    Met die nasionale standaardisering van dié ondersoek deur veeartse, word nou gepoog om die algemene kalfpersentasie in Suid-Afrika te help verbeter.