'n Internasionale voorbeeld word deur die Waterberg-biosfeerreservaat in die provinsie Limpopo gestel van hoe verskillende gemeenskappe en belangegroepe, insluitend kommersiële boere, kan saamstaan om volhoubare landelike ontwikkeling te verseker.
Die Waterberg-biosfeer, wat 417 405 ha in die distrik Waterberg beslaan, is in 1996 tot stand gebring om die omgewing se potensiaal vir natuurbewaring, volhoubare ontwikkeling en maatskaplike opheffing optimaal te ontwikkel. In Maart 2001 het die projek internasionale status verkry toe dit by Unesco geregistreer is as die eerste savanna-biosfeer-reservaat ter wêreld.
Volgens dr. Rupert Barber, voorsitter van die Waterberg-biosfeer-reservaat (hy is 'n Bonsmaraboer in dié omgewing), lê die krag van 'n biosfeerkonsep daarin dat dit deur vrywillige gemeenskapsdeelname gedryf word en dat die bewaring van biodiversiteit en ekosisteme nie geskei word van die maatskaplik-ekonomiese en politieke knelpunte wat dit raak nie.
Oorleg word deurlopend gepleeg met onder andere, verskeie staatsdepartemente, politieke leiers, munisipaliteite, gemeenskapsleiers, nie-regeringsorganisasies, die georganiseerde landbou, (waaronder Agri SA en die TLU SA), die toerismesektor, grondeienaars en boere.
Ten opsigte van die landbou kan boere betrokke raak by die ontwikkeling van die biosfeer deur deel te word van die sonering- of klassifiseringstelsel wat deur die komitee vir grondeienaars ontwikkel is. Hierdie klassifisering strook met die kriteria van Unesco waarvolgens 'n grondeienaar 'n sekere status binne die biosfeer kry na gelang van sy grondgebruikmetodes. Daar is drie sones binne die biosfeer:
Wanneer 'n boer aansoek doen om 'n status-klassifisering binne sy spesifieke sone, onderteken hy 'n dokument waarin hy onderneem om te hou by grondbewaring en die verantwoordelike bestuur van waterverbruik, plantegroei, wild en besoedeling. Hy verbind hom ook tot die bewaring van skaars en bedreigde dier- en plantsoorte en historiese en kulturele terreine. Verder moet hy omgewingsnavorsing ondersteun en 'n bydrae lewer tot die lewensgehalte en ekonomiese welvaart van die plaaslike inwoners. 'n Boer kan binne sy sone na brons, silwer en goue status vorder.
"Die doel van die klassifiseringsproses is om opleiding te verskaf en om grondeienaars en boere aan te moedig om vennote te word in die ontwikkeling van die Waterberg-biosfeer ten einde nie alleen die gebied tot 'n internasionaal erkende bewaringsgebied te ontwikkel nie, maar ook as 'n omgewing wat bekend is vir sy gelyke en volhoubare ontwikkeling," sê Barber.
Soos in verskeie ander gebiede in Suid-Afrika word die Waterberg-biosfeer gekenmerk deur intense armoede. Verskeie projekte word in oorleg met die betrokke gemeenskappe ontwikkel om hierdie probleem op te los.
Die vernaamste voorbeeld is die ontwikkeling van die Moepel-plase van 36 000 ha wat aan die staat behoort. Die Waterberg-biosfeerreservaat het 'n unieke geleentheid om hierdie oorbeweide plase waar water nie volop is nie en saaiboerdery onwinsgewend is, tot 'n ekotoerisme-projek in die vorm van 'n natuurreservaat te ontwikkel.
'n Aksieplan is al opgestel.
Die plan is ook om die Masebe-natuurreservaat op dieselfde wyse vir die plaaslike gemeenskappe te ontwikkel en werkers in die bewaringsgebied en naburige landelike gemeenskappe ekonomies op te hef. (Tans verskaf die bewaringsgebied werk aan meer as 1 000 mense.)
Barber sê opleiding kry intensief aandag. Die Clive Walker-stigting speel 'n belangrike rol hier. Kinders van die landelike gemeenskappe binne die biosfeer word deur hierdie stigting onderrig in die belangrikheid van omgewingsbewaring en die moontlikhede wat dit bied vir ekonomiese selfbevordering.
Leierskapkursusse word ook deur die Waterberg-instituut vir Sosiologie en Ekologie (WISE) aangebied vir plaaslike skoliere in die Lapalala-natuurreservaat. Die Regering het ook die Waterberg-biosfeer gekies as 'n loodsprojek vir 'n opleidingsprogram wat sal fokus op eko-toerisme en wildbedrywe.
Hoewel baie al reggekry is, lê daar nog baie werk voor, sê Barber.
Die Waterberg-biosfeer se doelwitte sluit regstreeks aan by dié van 'n integrale ontwikkelingsplan. Goeie samewerking word met die betrokke munisipaliteite ondervind en Barber is vol vertroue dat die Waterberg-biosfeerreservaat tot sy volle potensiaal ontwikkel sal kan word.
20 Februarie 2004