Die landbousektor is 'n hulpbron wat wag om tot die maksimum toerismeproduk ontgin te word. Uitstekende geleenthede bestaan op plase om die toerismebedryf maksimaal binne die landbousektor te ontwikkel. Dit is egter belangrik om unieke aktiwiteite aan te bied.
Die dinamiese omgewing waarin die landbou vandag funksioneer, noodsaak boere wêreldwyd om maniere te vind om waarde tot hul boerderybedrywe toe te voeg. Om winsgewend te bly in die moderne globale landbou-ekonomie is 'n groot uitdaging vir die voortbestaan van die meeste boerderye.
Ook Suid-Afrikaanse boere moet na ander alternatiewe kyk om te oorleef, waarvan agri-toerisme een is.Toerisme is die grootste verdiener van buitelandse valuta en ook die grootste genereerder van inkomste en werkskepping wêreldwyd.
Só sê mnre. Johan Jordaan, senior lektor in landboubestuur by die Saasveld-kampus van die PE Technikon op George, en mnr. Vicus de Jager, 'n student wat sy meestersgraad oor agri-toerisme aan dieselfde technikon voltooi het. Jordaan het onlangs deelgeneem aan 'n werksessie oor agri-toerisme wat deur Landbouweekblad en die skakelmaatskappy Boscia op George aangebied is.
Hulle sê in die plaaslike toerismebedryf is landelike gebiede besig om belangriker te word in die ontwikkeling van toerisme. Buitelandse toeriste wil Suid-Afrikaners se kultuur en leefwyse veral in landelike gebiede eerstehands leer ken. Binnelandse toeriste neem ál meer gereeld korter vakansies nader aan hulle huise.
Omdat 'n verskeidenheid hulpbronne op plase beskikbaar is wat nie vir tradisionele boerderypraktyke ekonomies geskik is nie, byvoorbeeld, berge en onbewerkbare gronde, bied dit boere die geleentheid om daardie hulpbronne só aan te wend dat dit waarde tot sy boerdery toevoeg. Boere kan op 'n eie oorspronklike manier besienswaardighede en ervarings wat hul plase bied, aan toeriste bemark.
Agri-toerisme omsluit enige aksie, produk, diens of ervaring wat deur 'n landbou-onderneming aan 'n besoeker gebied word op die plaas, hetsy vir betaling of nie. Hoewel die toerismemark groei, is die kompetisie ook besig om vinnig te groei. Daarom is dit belangrik om unieke aktiwiteite op plase aan te bied en onderling saam te werk binne 'n distrik of streek.
Hoewel wins 'n motief is, word agri-toerisme soms uit 'n altruïstiese perspektief aangebied, soos 'n behoefte van 'n boer om die plaaslewe met ander te geniet, of om bloot interessante mense te ontmoet.
Die ongekende groei en klem op agri-toerisme die afgelope aantal jare kan egter grootliks aan markkragte van vraag en aanbod toegeskryf word.
Wat dryf die vraag na agri-toerisme? 'n Paar verskynsels staan uit:
As gekyk word na wat die aanbod dryf, dan blyk dit of boere hul inkomste wil verhoog, risiko's wil verlaag deur diversifikasie, en hul hulpbronne optimaal wil gebruik. Die globale ekonomie dwing die boer om sy inkomste aan te vul, en baie sien dit in agri-toerisme.
De Jager se studie oor agri-toerisme in die Tuinroete dui op die volgende:
'n Belangrike aspek is die bydrae van agri-toerisme tot die makro-ekonomiese doelwitte van die Regering, veral in die landelike gebiede. Dit is aspekte soos werkskepping, behuising, opleiding, bemagtiging en ekonomiese groei.
In feitlik alle gevalle word ekstra werk deur toerisme-aktiwiteite op die plaas geskep, en meer as 80 % is werk vir vroue. Saam met werkskepping word behuising ook aan werknemers verskaf.
Nog 'n bydrae tot sosiaal-ekonomiese ontwikkeling, is opleiding wat aan werknemers verskaf word. Opleiding is 'n belangrike vorm van bemagtiging en bied meer werksekuriteit vir opgeleide werknemers.
Meer as 50 % van respondente sê hulle het ekstra infrastruktuur opgerig. Dit beteken regstreekse beleggings in die toerismebedryf én die plaas, maar ook in die plaaslike ekonomie, want materiaal, goedere en arbeid word plaaslik gekoop wat die plaaslike ekonomie van 'n dorp en distrik stimuleer.
Jordaan en De Jager waarsku egter dat boere wat dit oorweeg om agri-toerisme as 'n bedryfstak te vestig, die volgende belangrike aspekte in ag moet neem:
Aanbieders van agri-toerisme het ook behoeftes aan die volgende:
Dit kan fataal wees vir individuele agri-toerisme-ondernemings om te aanvaar dat waar die landelike omgewing die hoof-aantreklikheid is, geen bemarking van hulle kant nodig is nie. Agri-toerisme in die Tuinroete word hoofsaaklik individueel bemark. Dit is egter in Suid-Afrika bewys dat vennootskappe en groepsbemarking voordelige strategieë is. 'n Voorbeeld is die wynroetes in die Wes-Kaap.
Binnelandse dorpe bied 'n groter verskeidenheid van die aktiwiteitskategorieë aan as dorpe aan die kus. Agri-toerisme-ondernemings word hoofsaaklik tot 10 km vanaf hoofroetes aangetref en tot 22 km van dorpe. Hoewel dit blyk dat afstand van die naaste hoofroete of dorp nie 'n invloed het op die hoeveelheid toeriste wat plase besoek nie, meen baie dat afstande wel die hoeveelheid toeriste wat die plase besoek, beïnvloed.
15 Oktober 2004