Landbou
Droogte gaan greep hou
MARLEEN SMITH

El Niño, hoewel relatief swak, het die grootste deel van Suid-Afrika se somerreënstreek in 'n droogte-greep wat na verwagting nie gou gaan skiet gee nie. Daar is egter ligpunte - soos die gunstiger grondvogtoestande as in verlede seisoen.
Almal weet teen dié tyd dat die onwelkome El Niño-verskynsel toegeslaan het en die reënval in Suid-Afrika se somerreëngebiede lekker omkrap. Dit gaan waarskynlik nie voor die einde van die seisoen wyk nie.
El Niño-ontwikkeling het al sedert September gestabiliseer, en die klimaat balanseer nou op die grens tussen neutraal en die El Niño-toestand, sê wetenskaplikes.
Die belangrikste El Niño-gebied in die Stille Oseaan (waar seetemperature die intensiteit van die verskynsel aandui) is sowat 0,7 grade Celsius warmer as gewoonlik, wat as 'n swak El Niño geklassifiseer kan word, sê mnr. Johan van den Berg, landbou-klimaatkonsultant van Enviro Vision in Bloemfontein.
'n Skrale troos is dat die reënvalpatroon tot dusver maar 'n swak ooreenkoms toon met die twee sterkste El Niño-gebeurtenisse van die vorige eeu - in die seisoene van 1982 en 1983, en 1991 en 1992.
Dit is veral ten opsigte van die hoeveelheid reën, sê Van den Berg.
Dit is bekend dat El Niño 'n sterk gunstige uitwerking op veral lentereën in Suid-Afrika het. Die seisoene 1982/83 en 1991/92 is byvoorbeeld deur goeie reën van Augustus tot Oktober gekenmerk.
Volgens Van den Berg kan vanjaar se swak lentereën beteken dat dit in die midsomer meer sal reën.
Hoewel die reënval vir die seisoen in geheel dus waarskynlik minder as die normale gaan wees, lyk dit nou of die kans op reën vanaf middel Januarie en in Februarie redelik goed is, sê hy.
Volgens die voorspellers behoort die see-temperature wat die intensiteit van El Niño aandui, teen einde Desember 'n hoogtepunt te bereik, waarna dit kan begin afkoel. Dit lyk dus asof 'n matig ontwikkelde El Niño vir 2004/05 verwag kan word, met die Stille Oseaan-temperature sowat 1 graad Celsius tot 2 grade Celsius warmer as die normale temperatuur.
Dit is baie swakker as die El Niño's van byvoorbeeld 1982/83, 1991/92 en 1997/98, sê Van den Berg.
'n Verdere ligpunt is dat grondvog-toestande vanjaar veel gunstiger as in verlede seisoen is. Met die uitsondering van die verre westelike en suidwestelike dele van die mieliegebied, asook die Oos-Vrystaat, behoort die grondvog-toestande vir aaneenlopende mielieproduksie van 20 mm tot 100 mm meer as verlede jaar te wees, sê Van den Berg. <p>
As goeie waterbestuurspraktyke toegepas is, het die grootste deel van die gebied teen einde September sowat 25 mm tot 125 mm in die profiel gehad, sê hy. Teen planttyd behoort die noordwestelike dele van 30 mm tot 70 mm water meer beskikbaar te hê as in 2003. Mielielande in die omgewing van Bethlehem, Harrismith, Bultfontein, die oostelike dele van Wesselsbron en Bothaville, Welkom, Theunissen, Hennenman en die grootste deel van Boshof sal waarskynlik minder plantbeskikbare vog hê.
Ruslandstelsels kan dus 'n welkome hupstoot bied om gebrekkige reënneerslae aan te vul. Van den Berg beraam dat 15 % tot 25 % van alle lande wat in die komende seisoen met mielies beplant gaan word, ruslande is. <p>
Die groter hoeveelheid grondvog is nogtans nie genoeg om 'n oes te verseker nie. Van den Berg se aanbeveling is dat boere minstens 100 mm tot 120 mm grondvog in 'n mielieland moet hê om met veiligheid te kan plant. Dit verteenwoordig sowat drie weke se water in die grond, sê hy.
Hy meen dat boere in veral die suidwestelike dele van die mieliegebied nog minstens 50 mm reën sal moet kry voordat hulle kan plant. Om aan die veilige kant te bly, het die meeste boere minstens 100 mm nodig, sê hy. <p>
In die koringproduserende streke was die reënval sedert Augustus in die algemeen ondergemiddeld. Net in die Wes- en Suidwes-Vrystaat het goeie neerslae in die laaste deel van September voorgekom.
Van den Berg wys daarop dat die reënvalverspreiding oor die koringgebiede geo-grafies en oor tyd tot dusver redelik swak was. In party gebiede lyk dit sleg, maar in ander is die vooruitsigte goed.
Swaar reën in Oktober in dele van die Wes-Kaap was te laat om werklik van nut te wees, sê Van den Berg. Die kans lyk ook baie swak om tot einde Januarie neerslae van 20 mm of meer oor die Swartland te kry. In die Suid-Kaap is die waarskynlikheid egter redelik goed.
Die Oos-Vrystaat kan weer redelik goeie neerslae tot Januarie kry. Dit kan die gehalte van die koringoes in gedrang bring.
Boere in die Wes-Vrystaat se koringopbrengs behoort ver bo die gemiddelde te wees danksy meer as 30 mm reën einde September. In die Oos-Vrystaat sal die opbrengs egter tot 30 % swakker as die gemiddelde wees, meen Van den Berg. <p>
In dele van die Wes-Kaap, soos die Rooi Karoo, word 'n misoes verwag. Die Wes-Kaapse koringoes in geheel behoort egter rondom die langtermyn-gemiddelde vir die streek te lê, meen hy.
In die veegebiede was lentereën tot dele van die Noord- en Oos-Kaap, asook die Suid-Vrystaat beperk. Hoewel goeie neerslae voorgekom het, het die veld swak herstel omdat daar nie voldoende opvolgreën was nie, sê dr. Herman Fouché van die Landbounavorsingraad se Instituut vir Veld en Weiding.
In die nooroostelike deel van die Noord-Kaap is dit besonder droog. Só ook in die aangrensende dele van Noordwes, in Noord-Mpumalanga, dele van Limpopo, groot dele van KwaZulu-Natal en aangrensende dele van die Oos-Kaap, die sentrale tot noordwestelike dele van die Vrystaat, en suidelike dele van die Oos-Kaap, sê hy.
Veldreserwes was teen November ('n belangrike produksiemaand) uitgeput. In gebiede waar dit nie voor einde November gereën het nie, kan grootskaalse veevrektes, veral van beeste, verwag word.
Dele van Limpopo het begin herstel, maar weens die kumulatiewe uitwerking van die afgelope paar seisoene se droogte is toestande daar steeds swakker as die normale, sê Fouché.
Dit stem ooreen met die ontledings deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se droogte-moniteringskomitee, wat daarop dui dat die ooste van Suid-Afrika 'n langtermyn-droogte ervaar wat nou reeds in sy vierde opeenvolgende seisoen is. <p>
Dieselfde geld die suide van Mosambiek en Swaziland, sê dié komitee.
El Niño sal bly

Die kans is 70 % dat die heersende swak El Niño deur die somer tot in vroeg 2005 gaan voortduur, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens.
Luidens dié diens se jongste seisoensvooruitskatting is die kans groot dat die sentrale en westelike dele van Suider-Afrika dié seisoen minder as die gewone reën gaan ontvang. Naby-normale toestande word egter vir die noordoostelike dele van die gebied voorspel.
Oorwegend warm oppervlak-temperature word vir die hele land verwag.
Vir die tydperke Desember, Januarie en Februarie 2004/05 en Februarie, Maart en April 2005 voorspel die Weerdiens 'n kans van 50 % op onder-normale neerslae oor die grootste deel van Suid-Afrika, met 'n kans van 35 % op naby-normale toestande. Vir die noordoostelike dele van die land is die kans op normale toestande 40 %, en die kans op onder-normale toestande 35 %.

Oppas vir vroeë ryp

Tekens in die natuur lyk nie gunstig vir reën dié seisoen nie, meen mnr. Freddie Nel van Bultfontein. Hy boer reeds sedert 1960 in die Wes-Vrystaat en is in dié streek bekend om sy reënvoorspellings gegrond op die stand van die maan en natuurtekens, soos die gedrag van miere en slange.
Nel sê hy verlaat hom veral op die miere om reënwys te word. Groot vlerke begin gewoonlik ses weke voor groot reën ontwikkel en hulle "lap" hul miershope. Hiervan kon hy teen die derde week van November nog geen teken sien nie.
Nel meen wel die kans op reën behoort weer teen 20 Januarie te verbeter, wanneer dit nuwemaan is. <p>
Sy waarskuwing aan mede-boere is om nie vanjaar hul geluk te beproef deur ná Nuwejaar te plant nie. Hy meen die kans is goed dat ryp volgende jaar so vroeg soos 6 April in sy omgewing kan toeslaan. Dit is wat in ander ooreenstemmende jare gebeur het.
In 1954 het dit op 16 Desember die eerste keer daar gereën, en toe het dit die volgende jaar op 6 April geryp. In 1972 het die reën rondom 10 tot 12 Desember gekom, en die ryp op 6 April, sê hy.

Oorleef droogte só

Veeboere wat nou goeie reën kry, moet dit oorweeg om voer te koop sodat die veld kans kry om vinniger te herstel. Dit sal meer weiding in die komende maande beskikbaar stel, is dr. Herman Fouché van die Landbounavorsingraad se Veld-en-Weidingsinstituut se raad.
Hy wys daarop dat die tydperk wat op goeie reën volg, die belangrikste is om water optimaal vir veldproduksie te benut.
Fouché gee nog droogteraad met die oog op die volgende situasies:
<li>Veegebiede waar dit droog is en 'n voertekort reeds heers. Die vee moet drasties verminder word om by die beskikbare voerreserwes aan te pas. Bereken die voerkoste teenoor die verwagte inkomste.
<li>Gebiede waar die toestande nie te sleg is nie, maar waar min of geen voerreserwes beskikbaar is en boere van opvolgreën afhanklik is. Die veelading moet in verhouding met die beskikbare kos gebring word as voer nie oorweeg word nie. 'n Deel van die groeiseisoen is reeds verstreke en ondergemiddelde reënval kan 'n ondergemiddelde voervoorraad meebring. Dit verhoog die risiko van 'n voerskaarste in die volgende groeiseisoen ná die winter. Pasop vir groen droogte omdat plante nie werklik groei nie. Dit kan 'n slaggat wees.
<li>Gebiede met genoeg veld vir die volgende drie tot vier maande. Hou toestande noukeurig dop en verhoed dat droogte of 'n voerskaarste onverhoeds opduik. Beplan vroegtyd met die oog op 'n droogte.
<li>Gebiede waar dit droog is, maar binne die volgende week of twee so 20 mm reën uitsak. Oorweeg dit om voer te koop as 'n tydelike maatreël om veldherstel aan te moedig. Laat groot en goeie kampe toe om eerste te herstel, want produksie daar sal beter wees as in swakker kampe. Probeer op kort termyn om so min moontlik veetroppe te hê om groot dele van die veld te laat herstel. Oorweeg dit om aangeplante weiding op marginale en swakker lande te vestig, veral in die lig van swak graanpryse.
17 Desember 2004