Landbou
Groen plan vir dorre streke
ANDRIES GOUWS (agouwss@landbou.com)

Die dorre streke van Suid-Afrika se marginale gebiede gaan met groen woude bedek word om koolsuurgas teen vergoeding uit die lug op te slurp om aardverwarming bloedneus te slaan.

Onderwyl sterk gedebatteer word of Suid-Afrika in die greep van aardverwarming vasgevang is en of dit net nog 'n siklus in die wisselvallige reënvalpatroon is, word stil-stil hard gewerk aan 'n plan om die droë gebiede in 'n groen long om te skep wat koolsuurgas kan opslurp asook bio-brandstof en verskeie ander produkte kan produseer.

Die plan loop binnekort van die tekenbord af na die eerste kwekery, wat gevestig gaan word om ses soorte bome wat vir die projek geïdentifiseer en in kweekhuise veredel is, te vermeerder. Daarna gaan dit na agt ander kwekerye wat beplan word om te verseker dat daar genoeg plantmateriaal is.

Dié beplanning word deur die Agro Forest Bio Energy Association (AFBEA) gedoen, 'n maatskappy wat nie op wins ingestel is nie, met die spesifieke opdrag om die ontwikkeling van die bio-brandstofbedryf op 'n nasionale en internasionale vlak holisties te koördineer en te vergemaklik.

Mnr. Gideon van der Merwe, voorsitter van AFBEA, staan aan die stuur van die beplanning en is geesdriftig oor die potensiële voordele wat die skema vir boere en veral agtergeblewenes inhou.

Bio-energie is nie meer 'n luukse nie. Dit is die noodsaaklike begin van 'n doelgerigte poging om 'n volhoubare vervanger vir fossiel-brandstof te vind omdat die bronne daarvan uitgeput raak.

Die wêreld gebruik in elke siklus van tien jaar net soveel fossielbrandstof as in ál die voorafgaande jare saam. Saam met dié dramatiese styging in verbruik, bedreig die skade aan die osoonlaag en die vermeerdering van kweekhuisgasse die voortbestaan van die mensdom.

Die erns hiervan word beklemtoon deur die besluit van die G7-lande dat dit vir hulle die grootste enkele probleem is wat aan-dag móét kry. Dit het gelei tot die Kyoto-protokol wat deur 144 lande onderteken is met die oogmerk om kweekhuisgasse te verminder.

Die Kyoto-verdrag is nou in werking en dit bepaal dat ondernemings wat groot hoeveelhede koolsuurgas die lug inblaas, beboet gaan word. Of hy kan iemand anders kry om vir hom koolstofkrediete op te bou wat sy besoedeling kanselleer deur bome te plant wat 'n soortgelyke hoeveelheid koolsuurgas uit die lug opslurp. Dié strafmaatreëls tree in 2008 in werking.

Koolstofkrediete word klaar verhandel. Verlede jaar is koolstofkrediete van $1,6 miljard (bykans R10 miljard) verhandel. Van die ondernemings betaal nou gemiddeld sowat R35 tot R60 per boom per jaar.

'n Volwasse boom van gemiddelde grootte kan sowat 2,5 ton koolsuurgas per jaar uit die atmosfeer onttrek. As bome in 'n spasiëring van 3 meter by 4 meter geplant word, pas 825 bome op 'n hektaar in.

Dié bome kan vir die eienaar sowat 2 000 ton koolsuurgas opslurp en vir hom jaarliks 'n inkomste van bykans R60 000/ha gee (825 bome X 2 ton X R35 = R57 750).

" 'n Mens kan skaars soveel met dagga verdien," sê Van der Merwe, tong in die kies.

Hy sê dit is tot dusver die enigste projek waar koolsuurgas uit die atmosfeer verwyder word. Ander projekte wat die son, water en ander bronne vir skoon energie wil gebruik, keer net die verdere besoedeling van die atmosfeer.

Die eerste oogmerk is om jong bome te vestig wat op marginale grond kan gedy sodat dit nie met voedselproduksie meeding nie. Maar deur die regte boomsoorte te kies, het dit die potensiaal om talle byvoordele te lewer om só 'n onderneming met min moeite nog lonender te maak.

Ses soorte bome, waaronder twee inheems, wat aan die vereistes voldoen, is geïdentifiseer omdat hulle vinnig groei en energiebelaaide sade dra wat in bio-brandstof en verskeie neweprodukte verwerk kan word.

Dié ses soorte is die Jathorpa Curcas, Moringa oleifera, die suurpruim, doppruim, sering en olyfboom. Die M. oleifra word ook die wonderboom genoem vanweë sy buitengewoon vinnige groei en wye aanwendingspotensiaal. Daarby is dit volgens oorlewering 'n stuk hout van dié boom wat Moses in die water gegooi het om Mara se water soet te maak.

Met dié bome kan twee keer koolstofkrediete verdien word. Eerstens omdat hulle koolsuurgas opslurp en ook omdat bio-brandstof daaruit gemaak kan word wat feitlik geen koolsuurgas, swael of jodium afskei nie en as 'n skoon ontwikkelingsmeganisme geklassifiseer kan word.

Om te kwalifiseer om bome vir koolstofkrediete teen vergoeding te verbou, moet 'n mens vooraf toestemming kry, registreer, geëvalueer en deur 'n onafhanklike ouditeur gesekondeer word. Net nuwe aanplantings, spesifiek op koolstofherwinning gerig, word oorweeg.

Eers wanneer 'n sertifikaat deur die regulerende liggaam in Duitsland uitgereik is, kan met dié krediete handel gedryf word.

AFBEA kan omvattende riglyne verskaf oor die vestiging van woude, die maak van bio-brandstof en die hantering van neweprodukte soos gas, elektrisiteit, die verwerking van die geperste sade tot kunsmis, voerkoek, braaiblokkies, gliserien, organiese bemestingstowwe en selfs byeboerdery in die woude.

Raak só betrokke Boere wat betrokke wil raak by mnr. Gideon van der Merwe se projek om koolsuurgas uit die lug op te slurp en ook bio-brandstof te produseer, kan nou al met hom kontak maak en ko-operasies of ander vennootskappe sluit wat kwekerye op die been kan bring sodat hulle vinnig kan wegspring wanneer die groen lig gegee word.

Sulke groepe moet nou al lid word van die Agro Forest Bio Energy Association om by die voorbereiding vir bio-brandstofproduksie in te skakel, grond vir aanplantings te identifiseer, boomsoorte te evalueer en kwekerye tot stand te bring sodat groot bome beskikbaar is wanneer koolstofkrediete verdien moet word.

Verskeie staats-, universiteits-, navorsingsinstellings en private ondernemings is by die poging betrek. Die provinsiale regering van Noordwes is aan die voorpunt.

Navorsing oor die beginsel om bio-brandstof in dié gebied te produseer, het al in 2002 begin. Die eerste gidsaanleg en kwekery van 20 ha gaan naby Mafikeng opgerig word.

Dit sal die eerste voetspoor wees op pad na die kleinboere in afgeleë gebiede.

Van der Merwe sê 45 000 ha is in dié gebied bewillig om mense die geleentheid te gee om by dié nuwe bedryf betrokke te raak. Die plan is dat die kwekery as voorsiener van plantmateriaal en as opleier sal dien.

Mense in die afgeleë gebiede sal elkeen 'n stuk grond kry. Nadat hy by die kwekery opgelei is, sal hy sy saailaaie vol veredelde bome kry wat hy kan gaan plant. Voorligters gaan aangestel word om groepe onder hul vleuels te neem.

Elkeen van die groepe sal 'n mobiele pers kry sodat elkeen sy sade kan oes en na die pers kan bring om die olie te laat uitpars. Hy sal vir die sade vergoed word.

Die een wat die pers bedryf, sal die olie aan 'n versamelaar verkoop en die versamelaar sal weer die olie van 'n paar perse aan die raffinadery verkoop. In die proses sal die stamowerheid ook in die verantwoordelikheid en die voorspoed deel.

Van 'n aanplanting van sowat 3 000 ha kan ses miljoen liter bio-brandstof per jaar verwag word. Daarby behoort sowat 15 miljoen liter biomassa beskikbaar te raak wat in neweprodukte verwerk kan word.

Die gegewens is gegrond op die gemiddelde resultate wat met soortgelyke projekte in Nicaragua, die Kaap-Verdiese Eilande en Indië behaal word.

Die oogmerk is dat daar gereeld nuwe groepe opgelei sal word en dat die droë dele van die land mettertyd in 'n groen woud omgeskep sal word.

Hoewel die hoofdoel is om koolsuurgas uit die atmosfeer op te slurp, behoort die bome naas die byvoordele ook die mikroklimaat te verander, erosie te keer, gras weer te laat groei en 'n nuwe omgewing te skep.

Dit is nie onmoontlik dat die boomboere mettertyd ook veeboere sal word nie. Maar wat wel waar is, is dat as dié planne slaag, die dorre dele van die land in groen woude omgeskep word wat nuwe vooruitsigte vir 'n beter lewensgehalte vir baie mense daarstel.

1 April 2005