Landbou
Baie nitraat in boorgate pla
DRIES BLOEM

Hoë vlakke nitraatstikstof word dikwels in boorgate aangetref. Dit is voordelig vir plantproduksie omdat plante baie stikstof benodig. Te veel is egter skadelik vir mense.

Die maksimum toelaatbare nitraatkonsentrasie in drinkwater vir menslike gebruik in Suid-Afrika is 10 mg/liter water, vir enkelmaagdiere 100 mg/liter en vir herkouers 200 mg/liter. Tot 35 mg/liter is egter al in boorgatwater gevind. Hierdie water word dikwels op plase en in landelike gemeenskappe gedrink sonder dat mense bewus is van die moontlike gesondheidsgevaar.

Bloubabasiekte (methaemoglobinaemia) en maagkanker is van die siektes wat met hoë vlakke van nitraat in drinkwater geassosieer word

'n Studie is deur die Waternavorsingskommissie en die Departement van Waterwese en Bosbou uitgevoer en 'n kaart is saamgestel wat die risikogebiede aandui. Dele van Noordwes, die Noord-Kaap en Limpopo is veral hoërisikogebiede. Die waardes wat op die kaart aangedui word, is gemiddelde waardes. Dit is egter moontlik dat min nitraat binne 'n hoërisikogebied in boorgate aangetref word, terwyl enkele boorgate met hoë nitraatkonsentrasies al in gebiede gevind is waar die kaart lae vlakke aandui.

Die oorsprong van hoë nitraatkonsentrasies in grondwater is moontlik die gevolg van natuurlike prosesse of besoedeling weens onder meer bemesting, nywerhede, mynbou en riolering. In geval van diep sandgrond beland nitraat maklik in die grondwater. Alge gebruik nitraat en fosfaat as voedsel. Die vinnige groei van alge in damme kan 'n aanduiding van 'n hoë nitraatkonsentrasie wees.

Indien daar onsekerheid oor die nitraatstikstofvlakke in water is, moet 'n watermonster ontleed word.

Tru-osmose en ioonuitruiling word algemeen gebruik om water van skadelike soute vir menslike gebruik te suiwer. Sulke toestelle is in die handel beskikbaar.

  • Navrae: Tel. 083 379 6540. E-pos: grndries@potch1.agric.za.
    Dr. Dries Bloem is verbonde aan die afdeling grondkunde van Noordwes se departement van landbou, bewaring, die omgewing en toerisme.

    17 Junie 2005