Landbou
Die sleutel tot groter vrugbaarheid?
MARLEEN SMITH (msmith@landbou.com)

Humate en fulvate bevorder produksie deurdat dit wortelmassa vermeerder, die aantal en lengte van haarwortels laat toeneem, en die opname van water en voedingstowwe verbeter.

Humien- en fulviensure, waarvan die soute humate en fulvate is, word in biologiese en organiese landboukringe as wondermiddels beskou met 'n legio voordele vir grond, water en plante.

Hoewel die eerste navorsing oor humus, waaruit dié sure onttrek word, al in 1786 aangeteken is, is bitter min wetenskaplike ondersoek nog in Suid-Afrika gedoen oor die gebruik en beweerde voordele van humien- en fulviensure in gewasverbouing.

Humus is die organiese komponent in grond wat al soveel ontbind en gekondenseer het dat dit in 'n stabiele vorm is wat geen ooreenkoms meer het met die materiaal waaruit dit gevorm is nie. Dit slaan op kleideeltjies in die grond neer, 'n proses wat dit preserveer en sorg dat dit nie verder afgebreek word nie.

Dr. Hannes Coetzee, private konsultant en 'n direkteur van Central Analytical Laboratories (CAL), verduidelik dat navorsers humus van grond- en kleideeltjies moes skei om dit te kon bestudeer. 'n Proses is ontwikkel waarin die grond met 'n alkali by 'n pH-vlak van 12 behandel word sodat 'n deel van die totale humus oplos. Daarna word die mengsel verder versuur sodat die uiteindelike produkte humien- en fulviensure is.

Humiene is dié deel van humus wat nie in 'n alkali oplos nie. Humiensure los in 'n alkali op, maar slaan by 'n pH-vlak van 1 neer. Wanneer die suur-ione op dié molekuul met ander katione, soos kalsium (Ca), kalium (K), magnesium (Mg), natrium (Na) of ammonium (NH4) vervang word, word humate, oftewel die soute van humiensure, gevorm.

Fulviensure is dié deel van humus wat in 'n alkali oplos en nie by 'n pH-vlak van 1 neerslaan nie. Wanneer die suur-ione op dié molekuul met ander katione vervang word, word fulvate gevorm.

Sedertdien word die onttrekkingsproses ook op ander materiale, soos leonardiet ('n soort steenkool van swak gehalte), kompos en veen, toegepas. Die produkte wat só verkry word, word ook as humate en fulvate beskou. Die humaat-inhoud van dié natuurlike bronne wissel. Leonardiet bevat byvoorbeeld baie meer humate as harde steenkool.

In werklikheid is humate dus die gepreserveerde en saamgeperste oorblyfsels van antieke woude en ander plantmateriaal.

Humate en fulvate bestaan uit 'n verskeidenheid verbindings en kan dus net op grond van hul oplosbaarheid in suur en hul molekulêre massa onderskei word.

Albei se boustene is egter dieselfde - koolstof, suurstof, waterstof en stikstof - hoewel in verskillende verhoudings.

Fulviensure is biologies aktiewer as humiensuur. Fulviensure bevat meer suurstof, minder koolstof en het 'n veel laer pH en molekulêre gewig.

Wanneer humus afgebreek word, word die belangrikste boustene teen dieselfde tempo vrygestel. Humus is dus nie 'n eenvoudige mengsel nie, en fulvate is inderwaarheid net kleiner eenhede van humate. Coetzee verduidelik dit is soos om 'n bladsy ('n humaat) in vier kwarte (fulvate) te sny.

Die gehalte van humien- en fulviensuurprodukte wat kommersieel beskikbaar is, wissel geweldig. Dit kan ook nie net op grond van 'n enkele kenmerk geëvalueer word nie.

Een van die aanduiders is die organiese koolstof-inhoud daarvan. Die suiwerste humiensure het 'n koolstof-inhoud van 55 % en die suiwerste fulviensure sowat 47 %, sê Coetzee.

Die aktiewe groepe in humien- en fulviensure, wat in milli-ekwivalent per gram (me/g)gemeet word, is 'n verdere aanduiding van gehalte.

Volgens Coetzee doen humate en fulvate die volgende in die grond:

  • Dit vermeerder die katioon-uitruilvermoë van die grond, en dus die beskikbaarheid van voedingstowwe vir plante;
  • Waterhouvermoë word verbeter;
  • Dit dien as energiebron vir mikrobes;
  • Die grond se struktuur, deurlugting en dreinering word verbeter;
  • Afloop word verminder; en
  • Dit dien as cheleermiddel. (Dit beteken dit vorm 'n organiese kompleks wat die voedingselemente teen vaslegging beskerm sodat dit vir die plant beskikbaar bly.)

    Plantproduksie word deur humate en fulvate bevorder deurdat dit wortelmassa vermeerder, die aantal haarwortels en lengte daarvan laat toeneem, en die opname van water en voedingstowwe verbeter, sê Coetzee.

    Aussies gebruik dit ook
    Die gebruik van humate en fulvate - die soute van organiese humien- en fulviensure - vat ook toenemend onder Australiese boere pos. Nutri-Tech Solutions (NTS), 'n Australiese maatskappy wat in humate spesialiseer, noem in 'n handleiding die volgende voordele van die gebruik van humate en fulvate by gewasverbouing:

  • Verbeterde kunsmis-doeltreffendheid. Wanneer humiensuur met enige chemiese kunsmis gekombineer word, stabiliseer dit die kunsmis in die grond. Loging word bykans uitgeskakel en voedingselemente word in groter mate vir plantopname beskikbaar gestel. Volgens NTS verbeter die opname van voedingselemente van 30 % tot soveel as 35 %.
  • Toegediende stikstof hou langer in die grond. Wanneer ureum byvoorbeeld saam met humiensuur toegedien word, word dit in kolloïdale vorm opgeberg - 'n stabiele bron wat die stikstof stadig oor 'n tydperk van 60 dae tot 80 dae vrystel.
  • Plaag- en rypbestuur. Humate stimuleer die vlakke van voordelige swamme en bakterieë in die grond, en in die proses word die vlakke van mikrobiese patogene organismes verlaag, danksy mededinging tussen die verskillende organismes.

    Plae is geneig om plante met swak minerale en suikervlakke aan te val. Humate verbeter egter die minerale se beskikbaarheid en die opname daarvan. Die doeltreffende benutting van kalsium en fosfaat, die twee elemente wat die produksie van plantsuikers beheer, word ook bevorder. Hoër konsentrasies plantsuikers verseker ook dat die plantsappe teen laer temperature vries, wat dus rypskade beperk.

  • Biologiese stimulasie. Rou humate en hul humien- en fulviensuur-ekstrakte is kragtige mikrobiese stimulante. Humiensuur voed en stimuleer die swamme in die grond, en fulviensuur stimuleer die bakterieë. 'n Gesonde balans in dié grond-organismes verlaag siektedruk op plante en bevorder gewasproduksie.
  • Die opbou van die grond se koolstof-inhoud. Navorsing het getoon dat landbougrond se koolstof-inhoud die belangrikste bepaler van winsgewendheid in 'n boerdery is. Humate bevat self koolstof, maar dra in groter mate by tot die opbou van koolstof in die grond deurdat dit mikrobiese aktiwiteit - en dus die tempo van humusvorming in die grond - stimuleer.
  • Bestuur van versouting. Humate kan ook 'n buffer vorm vir oorskot-soute in water en grond en die skadelike uitwerking daarvan op plante verminder. Dit verbeter ook die grondstruktuur, wat die uitloog van oorskot-soute bevorder. Voorts stimuleer humate die swam-groep Mycorrhizae, wat plantwortels koloniseer en die plante se sout-verdraagsaamheid verhoog.
  • Fulviensure dien as 'n kragtige organiese elektroliet wat groei, opbrengs, en siek-teweerstand by plante kan bevorder.
  • Veral fulviensure kan danksy hul besonder hoë katioon-uitruilvermoë grond en water ontgif. Dit verbind met organiese én anorganiese gifstowwe.

    29 Julie 2005