Skade van miljoene rande word jaarliks weens veldbrande gely. Die somer is 'n gunstige tydperk vir die ontstaan van brande, waarvoor mense in 90 % van die gevalle verantwoordelik is. Die Regering vestig nou sy hoop op tegnologie om hierdie verskynsel doeltreffender te bestry.
Benewens die algemene inligting wat Suid-Afrikaners op hul televisieskerms tydens weervoorspellings oor moontlike brande kry, word ook 'n regstreekse diens nou verskaf. Eienaars en huurders van grond wat aan veldbrande blootgestel is, gaan vroegtydig gewaarsku word oor brande in hul gebiede. Dit volg nadat me. Buyelwa Sonjica, Minister van Waterwese en Bosbou, en die Suid-Afrikaanse Weerdiens onlangs 'n nasionale brandgevaar-takseringstelsel aangekondig het.
Dié stelsel, 'n eerste in Afrika, is 'n uitvloeisel van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande van 1998, wat grondeienaars en huurders aanmoedig om brandbeskermingseenhede te stig. Sonjica sê dit is op 'n Amerikaanse model gegrond, wat inligtingstegnologie gebruik om veld- en bosbrande doeltreffender te bestry.
Die stelsel is aangepas om plaaslike weerstoestande te pas en sal later na die hele Suider-Afrika uitgebrei word. "Ons hoop om in die toekoms ons ervaring en kundigheid in dié verband in die gees van die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkelling (Nepad) met ons buurlande te deel,'' het Sonjica gesê.
Die stelsel bestaan uit rekenaarprogramme wat landelike bestuurseenhede in staat stel om vooraf brandopnames vir 'n bepaalde gebied te doen. Brandgevare word op 'n 24-uur-grondslag bereken deur na brandfaktore, soos vogtigheid, windspoed en hitte, te kyk. "Brandwaarskuwings is noodsaaklik weens die ongewenste veldbrande wat 'n ernstige probleem in die land is. Dié brande kan deels toegeskryf word aan verstedeliking, plattelandse ontwikkelling en droë weerstoestande," het Sonjica gesê.
Sy het die gevare en verliese wat brande die afgelope vyf jaar in die land veroorsaak het aan die hand van verskeie voorbeelde beklemtoon. In Januarie 2000 het brande in die Wes-Kaap eiendom van miljoene rande vernietig, 23 mense het in 2001 hul lewe in 'n brand in die Krugerwildtuin verloor, terwyl brande in 2003 in Mpumalanga die bosboubedryf verliese van sowat R4 miljard gekos het.
Strukturele brande het ook in verskeie informele nedersettings verwoesting gesaai. Sonjica het by navraag verduidelik dat die brandalarm net op veldbrande gemik is. "Ons moet nog kyk hoe ons dit op informele nedersettings van toepassing kan maak, maar plaaslike regerings is verantwoordelik vir informele nedersettings, het sy gesê.
Mnr. Joel Matshate, van die Departement van Waterwese en Bosbou, sê die land is vir die doeleiendes van die alarm in 42 (klimaats)distrikte verdeel, elk met 'n eie weersentrum. Die sentrums stuur die ingesamelde inligting na die SA Weerdiens se hoofkantoor in Pretoria waar dit deur die stelsel verwerk word. Streke word volgens 'n internasionale standaard-kleurkode ingedeel waarvan rooi uiters gevaarlik beteken en blou na geen gevaar verwys.
Tydens noodgevalle word inligting deur middel van die media, selfoonboodskappe, fakse of die internet na mense in spesifieke streke gestuur. Grondeienaars moet by hul plaaslike brandbestrydingseenheid geregistreer wees om by dié inligting oor brande in hul gebiede baat te vind. Andersins kan hulle die Weerdiens bel.
Eskom gooi ook sy gewig agter pogings om veld- en bosbrande hok te slaan. Dié energieverskaffer het meer as 27 000 km stroomtransmissielyne regoor die land, wat veral oor die platteland en plaasgebiede strek. In 'n brosjure van die departement word daarop gewys dat een van Eskom se bydraes is om die plantegroei onder sy kragpale in toom te hou om te keer dat brande ontstaan. Grondeienaars en huurders wat beoog om veld in of naby Eskom-lyne af te brand, word gevra om die maatskappy vyf dae voor die tyd kennis daarvan te gee deur tolvrye nommer 0800 144 444 te bel.
Mnr. Chris de Bruno Austin, nasionale grondoperateur van Working on Fire, 'n inisiatief van die Regering se uitgebreide openbare ondernemingsprogram, wat in vennootskap met die kommersiële bosbou en bewaringseenhede werk, sê boere kan nou verseker wees van 'n doeltreffender stelsel. "Dit gee ons almal nou 'n voorsprong wat bewustheid en reaksietyd in die geval van 'n brand betref. 'n Boer sal byvoorbeeld vooraf weet of hy sy werknemers gereed moet hou," het hy gesê.
Hy het dit as 'n belangrike bykomende hulpmetode tot die bestaande brandbestrydingsmetodes beskryf. Die departement het tot dusver landwyd meer as 60 brandbeskermingseenhede geregistreer.
Sonjica meen Suid-Afrika kan nou miljoene rande se brandverliese voorkom. Boere word gevra om hulle by die vereistes van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande te hou wanneer veld op landbougrond afgebrand moet word. Die wet plaas onder meer verantwoordelikheid op grond-eienaars om brandpaaie hiervoor te maak. Wetgewing bepaal ook dat dit op 'n wyse gedoen word wat sal keer dat beskermde plante of bome vernietig word.
Hoewel grondeienaars deels gevrywaar word van die beskadiging van beskermde plante bly dit ingevolge omgewingswette steeds hul verantwoordelikheid om redelike stappe te doen om dié bome en plante te bewaar.
Sy het beklemtoon dat oortreders teenspoed sal kry. Hulle gaan vasgevat word ingevolge die departement se tussentydse riglyne wat deur brandbeskermings-, bosbou-amptenare en ander betrokkenes toegepas gaan word. Redes wat in die verlede vir swak inhegtenisnames gegee is, behels 'n gebrek aan kennis van die veldwetgewing by die polisie asook gebrekkige kennis oor hoe om brande te ondersoek.
Finale riglyne oor die wetgewing wat deur die departement afgedwing gaan word, sal einde vanjaar voltooi wees.
14 Oktober 2005