Duisende leerders landwyd begin nou hul nuwe skooljaar. Kenners meen plaasskole het nog nie 'n aanvaarbare standaard van onderwys nie. 'n Omvattende verslag wys daarop dat dié skole steeds aan die agterspeen van onderwys suig.
As 'n aanvaarbare standaard van opvoeding vir kinders in plaasskole verseker wil word, sal onderwys in plaasskole geskei moet word van hul verbintenis met die plaas. Dit is een van verskeie aanbevelings in 'n verslag getiteld Almost a Boss-Boy: Farm Schools, Farm Life and Social Opportunity in South Africa.
Elf jaar ná die eerste demokratiese verkiesing word die onderwys en die toekoms van leerders in plaasskole in hierdie omvattende verslag van die Sentrum vir Toegepaste Studies aan die Universiteit van die Witwatersrand as droewig beskryf.
Luidens die verslag spruit die meeste uitdagings om gehalte-onderwys aan kinders in landelike skole te gee uit hul afhanklikheid of kwesbaarheid van die plaaseienaar op wie se grond die skool geleë is.
Sowat 40 plaasskole is in die Wes-Kaap en Mpumalanga besoek vir die navorsing. Hoewel die meeste van die skole oorwegend dieselfde probleme gehad het, is die Wes-Kaapse skole as "beter" bestempel.
Volgens die Wes-Kaapse departement van onderwys het dié provinsie 363 plaasskole waarvoor die plaaseienaar maandeliks huur ontvang.
Sowat 23 skole in dié provinsie wat deur die navorsers besoek is, is oorspronklik deur die NG Kerk gestig met die hulp van plaaseienaars. Na verneem word speel die kerk deesdae 'n baie beperkte rol in die bestuur en finansiering van dié skole.
Terwyl skole in dié provinsie nie noodwendig meer hulpbronne het nie, is hulle finansieel beter daaraan toe as skole in Mpumalanga en elders in die land. Sosiaal-ekonomiese vooruitsigte vir leerders van die Wes-Kaap vergeleke met ander provinsies se leerders word as dieselfde gereken. Dit beteken dat leerders nie veel vooruitsigte het sodra hulle met die skool klaar is nie. Gunstiger toestande wat in Wes-Kaapse skole aangetref is, behels genoeg geboue, klaskamers, toiletgeriewe, water en elektrisiteitsvoorsiening en 'n bevredigende leerderomgewing.
Leerders in dié provinsie stap ook nie verder as 5 km na die naaste skool nie. Daar is wel bevind dat van die leerders (tydsgewys) langer as twee uur moet stap om by die skool te kom, wat navorsers laat wonder of die amptelike beginpunt van 5 km vir die voorsiening van vervoer, voldoende is. Afwesigheid by skole word dikwels deur dié lang roetes veroorsaak.
Leerders in plaasskole landwyd word volgens die navorsers as 'n "integrale deel" van landbou-arbeid beskou. Die meeste van hulle vorder nie verder as primêre onderwys nie en eindig weer op die plaas. Onderwysers word daarvan beskuldig dat hulle leerders nie genoeg aanmoedig om hoër ideale na te streef nie.
In teenstelling met die swak vooruitsigte van onderwysers en hoofde het plaaseienaars in die Wes-Kaap 'n beter gesindheid oor die bestaan van plaasskole op hul eiendom getoon. Navorsers meen dat plaaseienaars bewus is daarvan dat dit toenemend moeiliker raak om arbeid na plase te lok en dat plaasskole 'n beskikbare bron van halfgeskoolde arbeid is.
Mpumalanga het 544 openbare skole op private grond. Volgens dié provinsie se departement van onderwys het hy net 24 plaasskole waarvan 17 deur die navorsers besoek is. Van die ontstellende toestande hier is dat skoolgeboue en meubels erg verwaarloos is. Die meeste van die skole het nie toegang tot skoon water, toilette of elektrisiteit nie.
Navorsers beweer dat baie boere in die distrik Malelane immigrante van buurlande in diens neem in 'n poging om die Wet op Minimum Lone te ontduik, wat beteken dat mense sowat R400 per maand verdien. Onwettige uitsettings saam met toenemend seisoensgedrewe werk vir plaaswerkers skep glo trekgemeenskappe in die omgewing. Dit lei tot swak skoolbywoning en 'n hoë skoolverlatingsyfer.
Min ouers is betrokke by hul kinders se skoolaktiwiteite. Opvoeders woon dikwels 50 km tot 130 km van hul skole af. In die verslag word beweer dat betrokkenes (die departement van onderwys ingesluit) in veral Mpumalanga min doen om kinders deur onderwys uit die greep van landelike armoede te kry.
Daar word beweer dat plaasskole toenemend in die behoeftes van landboukapitaal voorsien in die vorm van halfgeskoolde, goedkoop arbeid. "Leerders wat hoër ideale het en meer toegang tot ekonomiese geleenthede soek, word in die steek gelaat," lui die verslag.
Die navorsers het die volgende aanbevelings in die verslag gedoen:
In 'n onlangse reeks "sisteemevaluerings" deur die Departement van Onderwys om die stand van leerwerk in skole te toets, het aan die lig gekom dat vyf uit tien skoolkinders nie die verwagte leeruitkomste in die natuurwetenskappe behaal nie, ses uit tien presteer nie in die taal van onderrig nie en agt uit tien presteer nie in wiskunde nie. (Presteer beteken 'n punt van 50 % of meer in 'n gr. 6-assesseringstaak).
Mev. Naledi Pandor, Minister van Onderwys, het onlangs in 'n artikel in Die Burger gesê dat leerders in dorpskole die beste gevaar het en (in dalende volgorde) minder goed in townshipskole, plaasskole, landelike en afgeleë skole. Leerders se huislike omstandighede het 'n sterk invloed op hul werk in al drie leergebiede.
Daar is ook in die verslag getoon dat groot getalle landelike skole nie basiese geriewe, soos vars water, toilette, elektrisiteit en 'n telefoon het nie. Hulle sukkel om hul onderwysers en leerders van stimulerende en leersame materiaal te voorsien om hulle met hul werk te help.
Pandor sê om die situasie te verbeter, is sekere veranderinge nodig. Dit behels die verbetering van toestande wat neig om skole in plattelandse gebiede, op plase en in townships minder doeltreffend te maak.
In die huidige verslag van die Universiteit van die Witwatersrand word die gevolgtrekking gemaak dat huidige praktyke en beleide vir plaasskole geneig is om apartheidgedrewe houdings te verdiep deur die voorsiening van onderwys afhanklik te maak van die toestemming van die plaaseienaar.
20 Januarie 2006