Landbou
'n Witwyn vir elke seisoen
AMELIA GENIS (agenis@landbou.com)

Om goeie witwyn te maak, is harde kophou-werk, maar dit bly lekker, sê Landbouweekblad se Vrouewynmaker van die Jaar.

'n Onderhoud met Landbouweekblad se Vrouewynmaker van die Jaar is 'n reis, 'n les, stories en 'n lekker lang kuier, want mev. Eleonor Visser, witwynmaker van Winecorp buite Stellenbosch, kán gesels. Maar sy weet ook wanneer om terug te sit en haar wyn die praatwerk te laat doen.

Dit is die reis van 'n klein dogtertjie van Kempton Park met 'n hoogs ontwikkelde sin vir geure en reuke, die storie van 'n hegte, ondersteunende gesin, maar ook van drome en planne wat nie wou uitwerk nie, en dan die les van 'n afdraaipad deur die wingerd na die kelder en uiteindelik erkenning as wynmaker.

Die groot kuier lê in Visser se ingeligtheid, haar geesdrif vir die lewe en haar opgewondenheid oor die deure wat vir haar oopgaan en die geleenthede wat sy kan aangryp. Dit is lekker om met iemand te gesels wat haar wyn ken en 'n mens 'n paar wynlesse kan leer. Dit is goed vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf om te sien hoe trots 'n jong wynmaker is op wat hier vermag word en hoe sy haar eie wyn, maar ook dié van ander wynmakers, geniet.

In die kelder is haar wagwoord balans. "Ek soek altyd harmonie tussen suur, vrug en hout. As dié drie in ewewig is, kom die geure van die kultivar ten beste na vore. As my Sauvignon blanc nie onmiskenbare Sauvignon blanc-eienskappe het nie, is dit eintlik niks anders nie as 'n natuurlike droë, wit wyn."

Sy glo wyn- en wynmakerkompetisies is 'n goeie manier om 'n wynmaker deel van die gees in die wynbedryf te maak.

"Dit help jou om te groei. Dit is 'n manier om jouself teen ander te meet en te bepaal of jy vorder; of jy die paal haal."

Ná matriek was dit haar droom om 'n fisioterapeut te word. Die keurders by die Universiteit van Stellenbosch het anders gedink. Ook met die tweede probeerslag. Nadat sy 'n televisieprogram oor die universiteit se wingerd- en wynkundedepartement gesien het, het sy besluit 'n loopbaan in dié bedryf lyk na 'n manier om in die buitelug te werk, maar ook haar belangstelling in chemie uit te leef.

Geen wyndrinker in daardie stadium nie, het sy oor wyn begin lees, wynproekursusse bygewoon en selfs haar tweede studiejaar onderbreek om in Kalifornië se Napavallei te gaan pars. Die feit dat sy en 'n Kanadees hul asse afgewerk het om die eienaar van die Quail Ridge-kelder te help om sy eerste druiwe-oes in die vat te kry, het net haar planne om wynmaker te word, versterk.

Nadat sy graad gekry het, het sy by Haselgrove Premium Wines in Australië gewerk. Haar eerste werk in Suid-Afrika was saam met mnr. Gyles Webb by Thelema. Sy is sedert 2000 by Winecorp, waar sy verskillende reekse witwyn maak.

Visser het wingerd- en wynkunde gestudeer om in die wingerd te werk of wyn te maak - rooi of wit, dit maak nie saak nie. Vir nou is dit beslis witwyn. Sy geniet die uitdagings wat wit kultivars stel - Viognier wat so moeilik gis, Chardonnay wat so stadig gis en die vernuf wat 'n wynmaker aan die dag moet lê om die geur in Sauvignon blanc-druiwe in die wyn te behou.

Jy kan maklik dink daar is geen geleent-hede vir eksperimenteer in 'n groot, korporatiewe kelder soos dié van Winecorp nie, maar Visser getuig van die teendeel. Veral in die parstyd, as hulle bakke en bakke vol vars druiwe met wonderlike geure kry, is sy en haar span op hul kreatiefste. Dan dink hulle nuwe wyne en versnitte uit - totdat die bemarkingsmense hul wildste drome temper en hulle aarde toe bring met die werklikheid van die mark en wat verbruikers wil hê.

Maar onthou net, sê sy, net die wildste drome bly in die slag. Die maatskappy se Spier Vintage Selection ('n versnit van Sauvignon blanc, Chardonnay en Viognier) is juis een van haar drome wat die bottel gehaal het.

As dit by die geniet van wyn kom, glo sy nie aan rigiede reëls, soos "rooiwyn vir die winter en witwyn vir die somer" nie. Vir haar gaan dit oor die regte wyn vir die oomblik, die geselskap en die kos. Visser, self 'n uithalerkok, beskryf byvoorbeeld haar Longridge Chardonnay as 'n regte kaggelwyn vir die winter. "Dit is swaarder en werk lekker saam met ryk vis en ander botteragtige, ryk kosse." Ook Viognier is 'n winterwyn wat vorentoe smaak saam met geurige kos. Daarteenoor is die 2006 Sauvignon blanc 'n vars wyn wat goed werk met seekos.

Wynmakers wie se wynmaakkuns sy nastreef, is mnre. John Loubser van Steenberg, Jeff Grier van Villiera, Gyles Webb van Tokara en Pieter Ferreira van Graham Beck. Sy het ook groot bewondering vir die manier waarop vrouewynmakers in Frank-ryk 'n bydrae tot daardie land se wynbedryf lewer.

Dan is daar natuurlik haar ma, mev. Hester Hoogendijk, wat met eindelose geesdrif en energie dinge aanpak en alles regkry. Sy is sekerlik Visser se grootste inspirasie. Hoogendijk is die kaasmaker van Hijke Kaas. Sy het vanjaar op die Suid-Afrikaanse Kaasfees met toekennings vir haar Gouda en Parmesaan weggestap.

Visser sê sonder haar pa se stille ondersteuning sou die prentjie ook heel anders gelyk het.

Sy is geesdriftig oor Suid-Afrikaanse wyn. Die kis wyn wat sy vir Landbouweekblad-lesers sou saamgee vir 'n week op 'n afgesonderde Kalahari-plaas, sal die volgende insluit: die Spier Private Collection Viognier, die Longridge Chardonnay, Dewetshof se Bateleur Chardonnay, Spier Private Collection Chenin blanc, die Ken Forrester Chenin blanc, 'n Semillon van Steenberg, 'n Constantia Uitsig Sauvignon blanc, Graham Beck se Pheasant's Run Sauvignon blanc en 'n Hamilton Russell Pinot noir uit die Hemel-en-Aarde-vallei.

Aangesien sy glo dat elke dag in die buitelug gevier moet word, sal sy ook 'n bottel van haar eie Longridge Brut-vonkelwyn, een van Ferreira se beste vonkelwyne en 'n bottel Simonsig Kaapse Vonkel inpak.

Visser se planne vir die afsienbare toekoms is redelik fyn uitgewerk: Sy wil baie graag "mooi Semillon-druiwe" hê en 'n "groot, ongehoute Chenin blanc" maak. Solank die Semillon vir eers 'n droom bly, werk sy aan die Chenin. En volgens Suid-Afrika se voorste Chenin-beoordelaars maak sy goeie vordering: Haar Spier Private Collection Chenin blanc 2004 het immers vroeër vanjaar Wine Magazine en TOPS at Spar se Chenin blanc-uitdaging gewen.

Al is Sauvignon blanc gewild onder wyndrinkers en vele wynmakers, het Visser 'n sagte plek vir Chenin blanc. Soos heelparty ander wynmakers en wynbeoordelaars, voorspel sy dat dié veelsydige kultivar besig is om Suid-Afrika se groot witwyn-hoop te word.

"Chenin blanc is ons mees diverse kultivar, maar ons het dit ongelukkig jare lank afgeskeep. Vir ons land met sy lappieskombers van grond- en klimaatsverskeidenheid is Chenin die beste."

Verder hou die toekoms twee reise na Frankryk in. In Oktober gaan sy na die Loirevallei om haar Chenin blanc-toekenning te geniet en iewers in aanstaande jaar na Bordeaux as Landbouweekblad se Vrouewynmaker van die Jaar. Vir haar man, Reinard, wat 'n lang wynpad saam met haar stap, is die Franse toere 'n groot bonus. Hy het immers nog in hul vryersjare gehelp om die Longridge Brut te vertroetel, aan te vul en te ontleed.

En as sy laatmiddag die kelderdeur agter haar toetrek? Huis toe, na haar man, baie vriende, groot kuier en lekker kos of die stilte in die natuur: Die veld, die berge, die see. Sy spot graag dat sy nie wynkunde gestudeer het om wyn te maak nie, maar om seker te maak dat sy in die Kaap moet bly!

Bedryf se ambassadeur
Die vrou wat die titel Vrouewynmaker van die Jaar wen, word 'n jaar lank 'n ambassadeur vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Die keuse word elke jaar moeiliker, sê die beoordelaars. Só beïndruk was hulle met vanjaar se vyf finaliste dat hulle tot 'n stemming moes oorgaan om 'n wenner aan te wys, sê me. Christine Rudman, Kaapse wynmeester en sameroeper van die beoordelaarspaneel. Sy sê vanjaar se kompetisie is oorheers deur die interessante rooi versnitte wat die deelnemers ingeskryf het.

"Die Sauvignon blanc- en Chenin blanc-wyne het ook goed vertoon. Die gehalte van hierdie enkelkultivarwyne was fantasties. Die innoverende gebruik van druifkultivars, houtveroudering en versnydingstegnieke wys dat hierdie vrouewynmakers aan die voorpunt van die plaaslike wynbedryf staan."

Die kompetisie verg egter meer as net die maak van goeie wyn. Die wenner word beoordeel op grond van haar persoonlikheid, beskouing van die wynbedryf en loopbaandoelstellings.

Nadat die beste wyne gekies is, is onderhoude met die vyf finaliste gevoer deur 'n paneel beoordelaars. Die paneel het bestaan uit Rudman, mee. Norma Ratcliffe, erelid van die Kaapse Wynmakersgilde, Debbie Burden, 2005 se Vrouewynmaker van die Jaar, Jo-Anne Metler, skakelbeampte van L'Ormarins, Caroline Rillema, eienaar van Caroline's Fine Wines in Kaapstad, en Marilyn Cooper, hoof van die Kaapse Wynakademie.

11 Augustus 2006