Net kommersiële boere kan voedselsekerheid verskaf. Daarom moet suksesvolle boere tot elke prys behou en gebruik word om alle nuwe toetreders met 'n belangstelling in boerdery op te lei, sê Agri Gauteng se Jongboer van die Jaar.
Die pad vorentoe vir die landbou moet verseker word. Suid-Afrika moet baie versigtig wees dat die landbou in 'n geglobaliseerde wêreld nie gemarginaliseer word tot op 'n punt waar die land van invoer afhanklik raak nie, sê mnr. Riaan van Wyk, visevoorsitter van Agri Bapsfontein.
Van Wyk sê onomwonde "ons moet nou verby by die punt kom waar ons van wit en swart praat. Ons is almal Suid-Afrikaners."
Hy meen nuwe toetreding tot die landbou moenie tot swart bemagtiging beperk word nie. "Alle mense wat ernstig in landbouproduksie belang stel, moet gehelp word om suksesvol te boer. Swart ekonomiese bemagtiging in die landbou beteken niks as diegene wat gehelp moet word, nie in boerdery belang stel nie.
"Daar is baie bereidwilligheid onder boere om ander te help vestig. As iemand nie wil of kan boer nie, is dit politieke moedswilligheid om dit aan diskriminasie toe te skryf."
Hy sê erkenning moet gegee word aan diegene wat dit verdien. "Die ekonomie en die landbou het onder blankes gegroei. Dit verdien erkenning. As daar ordentlik met ons gewerk word, sal ons help om enigiemand wat wil boer, suksesvol te vestig."
Van Wyk en sy broer, Gert, is die sewende geslag Van Wyks wat op die familieplaas Elandsfontein, tussen Pretoria en Delmas, boer. Die plaas het twee transportakte. Elke broer boer afsonderlik in 'n maatskappy saam met hul pa, ook Riaan. Laasgenoemde het pas ná twee termyne as voorsitter van Agri Gauteng uitgetree.
Van Wyk boer die afgelope 12 jaar op 217 hektaar met mielies, graan, perskes en beeste. Hy het 100 hektaar groenmielies onder besproeiing. Die mielies word regstreeks van die plaas af verkoop, hoofsaaklik aan die plaaslike smousmark. Hy wil in die toekoms hierdie aspek van sy boerdery verder uitbrei.
Hy het 'n geleentheid benut om sy boerdery uit te brei toe hy 'n samewerkingsooreenkoms met 'n sakeman-buurman aangegaan het. Op dié se grond plant hy 'n verdere 280 hektaar kommersiële gewasse op droëland. Dit is hoofsaaklik mielies, maar ook voersorghum en manna. Dit word bemark sodra die prys reg is. Op dié grond plant hy ook 80 hektaar mielies onder besproeiing. Hy en sy buurman dra die produksiekoste gesamentlik en verdeel die wins, met die voordeel dat Van Wyk geen huur hoef te betaal as daar nie 'n oes is nie.
Van Wyk produseer ook ál die voer vir sy kommersiële Bonsmarakudde van 100 koeie. Dié deel van die boerdery lê hom na aan die hart. Die beeste bewei die bulte wat nie beplant kan word nie. Hy plant onder meer voersorghum, hawer en gars. Hy voer sy speenkalwers self en bemark hulle aan voerkrale of op veilings.
Vir risikovermindering en die verspreiding van inkomste en arbeid het hy sowat 5 hektaar onder 2 000 bome Transvalia-taaipit-geelperskes. Hy het aanvanklik die kultivar Van Dyk ook geplant, maar gevind dit vaar nie so goed in sy omgewing nie. Dit het sy produksiekoste opgejaag weens intensiewer spuitprogramme omdat dit 'n later kultivar is. Dié bome is toe ook met Transvalia-bome vervang.
Die perskebome is ekstensief aangeplant om die koste laag te hou, met gevolglik 'n laer opbrengs. Die perskes sorg vir sowat 5 % van die boerdery se omset.
Hy bemark sy hele perske-oes aan die smousmark. Sommige smouse kom van so ver soos Swaziland om by hom perskes te koop. Dit blyk 'n betroubare en volhoubare mark te wees.
Volgens Van Wyk is uitvoer nie 'n opsie nie omdat die vrugte weens die omgewing se klimaat eers gereed is vir bemarking wanneer daar 'n ooraanbod op die mark is en die prys nie meer winsgewend is nie.
Hy het 11 heeltydse werkers, van wie twee nog deur 'n proeftyd gaan. Hy neem soms kontrakwerkers in diens om algemene plaaswerk te doen wanneer dit nodig is. In die pluktyd gebruik hy 'n kontrakteur wat voorheen 'n plaaswerker was, maar nou sy eie snoei- en plukspan bedryf.
Van Wyk glo 'n gelukkige werkmag is 'n goeie werkmag. Hy het 'n oop verhouding met sy werkers. "Daar is nie tyd om 'n lang pad met probleme te loop nie. As iemand 'n probleem het, kom hy regstreeks na my en ons los dit dadelik op."
Sy vrou, Vanessa, sê hy behandel mense met respek en "werk mooi met hulle, al kan 'n mens soms sien hy is lus om 'n moersleutel te gryp". Vanessa het die graad B.A.Hons. in bemarking en sy bestuur haar eie suksesvolle advertensie- en promosiemaatskappy van die plaas af.
Van Wyk is betrokke by elke faset van sy boerdery en weet presies wat op die plaas aangaan. Hy hou daarvan om dinge self te doen "want dan weet ek dit is reg, vinnig klaar en na my sin".
"Ek sukkel nogal om te delegeer en het dalk 'n outokratiese bestuurstyl, maar 'n mens verhaal moeilik die koste van onnodige foute." Hy meen egter die feit dat hy in totaliteit bestuur en honderd persent betrokke is, is dalk deel van sy sukses.
Hy glo ook in deeglike boekhouding. Daar kom sy jare as 'n student in B.Com. (rekeningkunde) nuttig te pas. Alle aspekte rondom arbeid en inkomste en uitgawes word aangeteken.
Hy sê dit is kommerwekkend dat die landbou in die laaste drie jaar nie soveel soos ander bedrywe gegroei het nie. Hy skryf dit toe aan die druk op die sektor weens die Regering se houding en die gebrek aan ondersteuning van regeringskant wat onder meer invoerbeperkings op gewasse en subsidies aan landbouers betref. Ander risikofaktore van die internasionale mark, soos mededinging, die wisselkoers en die olieprys, het ook 'n beperkende invloed gehad.
"Dan moet die landbou nog die bykomende risiko van die natuur, soos droogtes en vloede, ook verreken - iets wat ander bedrywe nie raak nie."
Tog meen hy daar is 'n toekoms vir die kommersiële landbou en vir jong boere. Hy erken dat die huidige situasie in die landbou " 'n mens soms moedeloos maak", maar meen dit skep ook geleenthede.
"Dit gee jou veral die geleentheid om betrokke te raak by opleiding asook om 'n bewustheid onder mense te kweek van die belang van die landbou vir die totale bevolking en die feit dat 'n boerdery 'n sake-onderneming is wat skerp bestuursvernuf verg."
Landbouweekblad, 10 November 2006.