As plattelandse gemeenskappe saamstaan, kan hulle die munisipale dienslewering waarop hulle geregtig is, binne die raamwerk van die Grondwet afdwing, sê 'n gemeenskap in Noordwes wat reeds dié pad loop.
Boere het die gemeenskap van Swartruggens gemobiliseer en hulle duld nie meer swak diens nie. Hulle sê vir die munisipaliteit wat gedoen moet word en as hy dit nie doen nie, spring hulle self in en stuur vir die munisipaliteit 'n rekening. En die munisipaliteit betaal.
"Ons veg nie met mekaar nie; ons is rustig, maar in dié stadium tree ons in 'n opdraggewende hoedanigheid op," verduidelik mnr. Wilhelm Rochèr die verhouding tussen die munisipaliteit en die gemeenskap.
Rochèr, voorsitter van die Swartruggens-boerevereniging en 'n beesboer wat ook 'n onderneming op die dorp besit, het die bal twee jaar gelede aan die rol gekry deur 'n belastingbetalersvereniging met die steun van feitlik die hele gemeenskap te stig en deur munisipale heffings weens swak dienslewering te weerhou.
"Ons doen in hierdie stadium krisisbestuur, maar ons streef daarna om outonoom te funksioneer. Hoewel vervalle, kan die infrastruktuur nog reggeruk word," sê hy. Hy het 'n handleiding opgestel vir 'n praktiese implementeringsplan om in dié rigting te beweeg.
"Die doel is om 'n dispuut met die munisipaliteit te verklaar en sodoende die munisipaliteit te keer om kredietbeheer toe te pas deur byvoorbeeld krag en water af te sny.
"Geen burger van die land hoef te aanvaar dat alles om hom ten gronde gaan nie. Ons het 'n plig om vir ons kinders 'n beter omgewing te los. Hoe gouer mense aanvaar ons is in 'n nuwe bestel en begin aandring op hul regte, hoe gouer gaan dinge reggeruk word."
Rochèr sê die Grondwet gee aan mense die reg om behoorlike dienslewering van die staat te eis en as dit nie gebeur nie, binne wetlike riglyne op te tree om dit af te dwing. "Om net te sit en kla, gaan niks laat gebeur nie."
Wat nodig is, is 'n goeie leier wat die wet ken en nie bang is om druk uit te oefen waar dit nodig is nie. "Mense is te geïntimideer en bang om op te tree oor die moontlike gevolge. By ons het niks gebeur nie, want ons het alles volgens wet gedoen.
"Maar die kernwoord is saamstaan. Rugryers is nie deel van die oplossing nie; hulle is deel van die probleem," sê hy.
Rochèr sê Swartruggens is in die gelukkige posisie om 'n sterk georganiseerde landbougemeenskap te hê. Boere is baie betrokke, veral met die oog op die instelling van eiendomsbelasting.
"Die ding het baie groter momentum gekry as wat ons aanvanklik gedink het. Almal was keelvol vir die gebrek aan dienslewering - wit, swart en Indiër. By ons trek munisipale amptenare net salarisse, reis oorsee en hou die een vergadering op die ander waarby die gemeenskap nie betrek word nie en met geen gevolge wat daaruit voortvloei nie.
"Al die woongebiede is ewe sleg daaraan toe. Die Civic Association het ook by die vereniging aangesluit. Van die dorp se 9 000 inwoners steun sowat 6 000 die belastingbetalersvereniging."
Begrotings word nie voorgehou nie en niemand kry kennis van verhoogde heffings (van R300 tot R1 000) nie. Aanhoudende kragonderbrekings, swak paaie, die wanbestuur van rioolstorting en vullisverwydering was van die grootste probleme wat onmiddellike aandag geverg het.
Die vereniging het die munisipaliteit onder termyn geplaas omdat laasgenoemde nie aan wetgewing oor dienslewering voldoen nie. Aan die munisipaliteit is 'n ultimatum gestel: Sorg dat die situasie verbeter of munisipale heffings word teruggehou.
Die Kgetlengrivier-munisipaliteit, wat Swartruggens, Koster en Derby insluit, is voldoende kans gegee om die saak reg te stel, maar toe daar geen reaksie was nie, het die belastingbetalersvereniging 'n bankrekening geopen waarin die inwoners sedertdien hul maandelikse munisipale rekenings betaal.
Kwitansies word vir alle betalings uitgereik en 'n bewys van betaling word aan die munisipaliteit verskaf. Om nie die deur oop te maak vir mense wat nie betaal nie, word kruisbeheer toegepas.
Boere het self ingespring om die rioolprobleem op te los deur hul eie trekkers te gebruik om rioolgate uit te suig - vir die munisipaliteit se rekening.
Die vereniging het padskrapers gehuur en die grondpaaie geskraap. Die munisipaliteit het die rekening gekry en betaal.
Die munisipaliteit is glo nie baie gemaklik met die situasie nie en dreig kort-kort om "dienste" te staak en krag af te sny. Dit is egter na bewering net blanke sakeondernemings op die dorp wat dagvaardings kry. Hulle dring aan op bewyse dat agterstallige geld in die swart gebied ook gevorder word en net daar val die wa weer vas.
Die gemeenskap sê as die munisipaliteit dienste lewer, het hulle geen probleem om geld aan hom oor te betaal nie.
Rochèr het 'n klompie dik lêers vol korrespondensie waarin probleme uitgewys word en vergaderings met die munisipaliteit aangevra word om die onverkwiklike situasie op te los, maar daar is geen vordering nie.
Boere is ook omgekrap oor die swak toestand van die Lindleyspoortdam, wat 'n besproeiingsgebied van 1 600 hektaar voed.
"Dié dam is só erg met riool besoedel dat dit bitter min suurstof het. Dit is toe te skryf aan die munisipaliteit se onvermoë om die rioolwerke in stand te hou en weens onbehandelde riool wat gereeld in die Elandsrivier beland," sê mnr. Koos Bischoff, voorsitter van die TLU SA (Wes) se waterkomitee.
Daar is sonder sukses geprobeer om die Departement van Waterwese en Bosbou en die Departement van Omgewingsake en Toerisme betrokke te kry. Die vereniging beoog nou regsoptrede.
Toe die munisipale bestuurder, mnr. B.J. Tulsee, oor die klagtes genader is, was sy kortaf reaksie dat daar "geen algemene ongelukkigheid" is nie en dat dit "net 'n klein groepie mense is wat kla" voordat hy die gesprek beëindig het.
Mnr. Rammupdu Mooketsi, voorsitter van Swartruggens se Civic Association, verskil heftig met hom. "Tulsee weet nie waarvan hy praat nie. Hy bly in Johannesburg. Hy weet nie eens waar Borolelo (Swartruggens se swart woonbuurt) is nie."
Mooketsi sê 80 % van die swart gemeenskap is ontevrede oor die swak dienslewering en steun die belastingbetalersvereniging.
Hy sê die gemeenskap probeer al sedert April verlede jaar om 'n afspraak met die munisipale bestuurder te kry, maar daar is geen reaksie nie.
"Ons het behuisingsprobleme, daar is wurms in ons water (ás ons wel water het), riool oorstroom ons huise en net familie en vriende van munisipale amptenare kry werk in die munisipaliteit. Ons steun die optrede om betalings aan die munisipaliteit terug te hou."
Gaan so te werk
Kry die gemeenskap (alle bevolkingsgroepe) bymekaar, stig 'n belastingbetalersvereniging en open 'n bankrekening in die vereniging se naam, met 'n magtigingsbrief van 'n prokureur.
Plaas die munisipaliteit skriftelik onder termyn vir dienste wat nie gelewer word nie, met 'n uiteensetting van probleme wat binne 14 dae opgelos moet word. As daar nie reaksie is nie, begin maandelikse lopende bedrae van belastingbetalers invorder.
Reik kwitansies uit by ontvangs van elke bedrag, deponeer elke bedrag afsonderlik en hou afskrifte op lêer vir verwysing.
Neem daagliks state na die plaaslike munisipaliteit.
Belê die geld om rente te verdien sodra daar meer as R10 000 in die rekening is. Indien die munisipaliteit rente hef op agterstallige rekeninge, kan die beleggingsrente daarvoor gebruik word.
Die volgende wetgewing kan gebruik word om plaaslike rade tot verantwoording te dwing:
Bou 'n "papierspoor" op
Afskrifte van alle korrespondensie en notas van telefoongesprekke met munisipale amptenare oor gebrekkige dienslewering en die oortreding van wetgewing is belangrik as grondslag vir optrede. Die nodige inligting moet ingesamel en geliasseer word.
Inligting kan op die volgende maniere verkry word:
Ander dorpe ook betrek
"As ek die dag trek, trek ek Swartruggens toe. Daardie mense skrik vir niks nie," sê mnr. Jaap Kelder van die Nasionale Belastingbetalersvereniging.
Swartruggens se belastingbetalersvereniging se praktiese toepassing van die proses wat in die artikels "Gaan só te werk" en "Bou 'n "papierspoor" op" op bl. 35 beskryf is en hul handleiding word nou deur die vereniging as grondslag vir soortgelyke gevalle elders gebruik.
Hy sê mense is deur die vorige bedeling geïndoktrineer om nie vir hulself te dink en te doen nie. Omdat hulle nie weet wat hul regte is nie, is hulle te bang om dit uit te oefen. "Die feit is dat iemand wat die kennis het binne die raamwerk van die wet enige staatsinstansie wat nie diens lewer nie of wetgewing verontagsaam, daarvoor voor stok kan kry. Baie munisipaliteite ignoreer eenvoudig regulasies en kom daarmee weg omdat mense nie op die hoogte is met wetgewing nie."
Ses ander dorpe het reeds Swartruggens se voorbeeld gevolg en nóg 12 is besig om georganiseerd te raak. Die stigting van die Soutpansberg-belastingbetalersvereniging in Limpopo geniet groot steun en daar is oproepe dat dié optrede na die hele provinsie uitgebrei word.
Skaars twee maande nadat die gemeenskap van Warrenton in die Noord-Kaap 'n dispuut met die munisipaliteit verklaar en geld begin terughou het, het die munisipaliteit gekapituleer en die inwoners se eise nagekom. 'n Ernstige rioolprobleem is opgelos en stygings van tot 400 % in eiendomsbelasting is tot 10 % verminder, sê Kelder.
"Selfs 'n stedelike munisipaliteit, soos Ekurhuleni, kan deur die gemeenskap aangevat word, want wetgewing word nie nagekom nie. Die laaste balansstaat is in 2004 op hul webwerf geplaas. Daarvolgens is die munisipaliteit totaal insolvent weens slegte skuld van miljoene rande."
Hy meen die sukses van sulke optrede hang van gemeenskapsbetrokkenheid af. "Veral op die platteland, waar 'n dorp se ekonomie van die boerderygemeenskap afhang, moet mense bloot hul steun onttrek aan rugryers wat hul brood aan albei kante gebotter wil hê en eerder ondernemings ondersteun wat hul samewerking gee.
Landbouweekblad, 6 April 2007.