Kommunikasie blyk die sleutelwoord te wees in die snaarstywe verhouding tussen boere en plaaswerkers. Maar die Regering moet ook sy sokkies optrek om boere aan te spoor om in menslike ontwikkeling te belê.
Die President het al twee keer gevra dat 'n organisasie soortgelyk aan die verdwene Landelike Stigting op die been gebring word. Ook 'n verteenwoordiger van die Britse supermark Tesco glo vas dit is die enigste uitweg om die huidige arbeidsprobleme in die landbou met wortel en tak uit te roei.
Kortom, daar word op belangrike vlakke besef arbeid in die Suid-Afrikaanse landboubedryf is in 'n doodloopstraat en moet daadwerklik aandag geniet. Pleks daarvan om oplossings te vind, word beskuldigings rondgeslinger en wysvingers verwoed rondgeswaai.
Me. Stoncey Lebethe, waarnemende hoofdirekteur van kommunikasie van die Departement van Grondsake, hou vol die kern van die probleem is sommige grondeienaars se houding teenoor wetgewing rakende uitsettings en die ontkenning van die regte van diegene sonder formele grondregte.
"Die geskiedenis moet in ag geneem word as ons kyk na die verblyfreg van mense op plase. Die apartheidstelsel wou hoofsaaklik 'n lewensvatbare kommersiële klas skep deur grond aan wit boere te gee sodat hulle dit tot kommersiële ondernemings kon ontwikkel. Dit het die oorspronklike inwoners afhanklik van die grond-eienaar gemaak."
Mnr. Wynand Viljoen, voorsitter van die Landbouwerkgewersorganisasie, sê die wrywing kom net voor in gebiede waar sekere vakbonde werk.
"Waar gesofistikeerde vakbonde bedrywig is, kom dit nie voor nie en in die algemeen is daar 'n gesonde verhouding tussen die produsente en hul werkers. Albei partye besef hulle is afhanklik van mekaar."
Die sensus vir kommersiële landbou het in 2002 bevind daar is 553 511 mans en 387 309 vroue in diens van die landbou. Dit sluit plaasbestuurders, voormanne en seisoenwerkers in. Altesaam 213 169 mans het toe tydelik op plase gewerk. Luidens die statistieke was daar 246 276 vroulike seisoenwerkers.
Die gemors waarin arbeid in die landboubedryf is, kan toegeskryf word aan 'n leemte wat die ontbinding van die Landelike Stigting gelaat het, meen mnr. Herman Bailey, destydse bemarkings-bestuurder by die organisasie.
Oudpres. Nelson Mandela het Bailey en sy kollegas eenkeer na sy kantoor in Gauteng genooi, want "oral waar ek reis, ontmoet ek die werk van die Landelike Stigting; nou wil ek die mense daaragter ontmoet."
Bailey en sy kollegas in die ontwikkelingsveld was destyds diep besorg oor die dopstelsel en hulle het maniere gesoek om dit te verander.
In 1973 het Bailey as vrywilliger by die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Afhanklikheid van Verdowingsmiddels (Sanra) begin werk. Teen 1976 het hy 'n kantoor in die Boland oopgemaak om 'n heeltydse diens aan die landelike gemeenskappe te lewer. Saam met die destydse Iskor (nou Matie Gemeenskapsdiens) het hulle groot welslae op plase behaal waar die dopstelsel afgeskaf is.
"Dié tyd het ons baie gehelp om 'n model te ontwikkel oor hoe die probleme op plase aangepak behoort te word."
Gemeenskapswerkers, welsynswerkers en Sanra het toe kragte saamgesnoer om die Forum vir Landelike Gemeenskapsontwikkeling te stig. Dié organisasie het hom beywer vir 'n landelike diensleweringsorganisasie en die Landelike Stigting het die lig gesien.
"Ons uitgangspunte was om aktiewe deelname van boere te verseker, die owerheidsektor se insette in ag te neem en die private sektor, veral verskaffers, moes 'n rol speel."
Plase het vrywillig deel geword van die Landelike Stigting. Die organisasie het dan 'n opgeleide gemeenskapsontwikkelaar aangestel om na die behoeftes om te sien. Die staat het 75 % van die koste gedra en die plaaseienaar die ander 25 %.
Bailey sê hulle kon een van twee paaie volg om die model te ontwikkel: Konflik of konsensus. Hy meen die huidige geslag drukgroepe neig na die konflikmodel, maar die Landelike Stigting het besef plaaswerkers is te weerloos hiervoor.
"Ons kon nie bydra tot die weerloosheid nie. Dit is maklik om mense aan te por om te toyi-toyi, maar dit is moeiliker om mense met woorde tot ander insigte te bring. Dít was ons uitdaging."
Met behulp van die departement sosiologie aan die Universiteit Stellenbosch het die Landelike Stigting fyn sosiografiese profiele oor die plaaswerkers en hul behoeftes opgestel.
"Sodra ons dié prentjie het, het ons met elke plaas se gemeenskap gaan sit en die navorsing ontleed. Hul behoeftes is dan geprioritiseer. Die proses was sterk deelnemend. Dit was die eerste keer dat iemand die plaaswerkers gevra het wat hulle wil hê. Gesamentlik kon planne uitgewerk word en die plaaswerkers kon sien daar is 'n verandering in hul lewe," sê Bailey.
'n Leierstruktuur is ook op die been gebring en plaaswerkers moes met 'n stemming 'n leier uit hul geledere aanwys. Hy het dan in die plaaswerkerskomitee gedien en was die skakel tussen die Landelike Stigting en die gemeenskap, en die boer en die gemeenskap. Hy het een keer per week met die boer en die gemeenskapsontwikkelaar vergader sodat die boer ingelig was oor wat beplan word.
Die resultate was oorweldigend. Crèches was een van die Landelike Stigting se wenresepte. Vir die eerste keer het boere besef as dié diens beskikbaar gestel word, is die moeders vry om ook op die plase te werk. Boonop toon navorsing dat plaaswerkerkinders wat in 'n crèche was, se slaagsyfer in hul eerste jaar op skool van 45 % tot 85 % geklim het.
Die saad is egter verder as dit geplant en het ook by die ouers gaan wortel skiet. Programme vir volwasse geletterdheid het gewild geraak en vir die eerste keer kon die ouers ook koerante of boeke optel en dit lees, pleks van net daardeur blaai.
Met die betrokkenheid van mnr. Jan Boland Coetzee, bekende rugbyspeler en boer van die distrik Stellenbosch, was sport noodwendig hoog op die agenda. Rugby, toutrek en jukskei - waaraan slegs wit mense in daardie stadium deelgeneem het - is ywerig beoefen.
Kultuur het nie agterweë gebly nie en 'n nasionale koorkompetisie in Bloemfontein was 'n hoogtepunt vir baie.
Vaardigheidsontwikkeling soos huisontwikkeling en tuinbou was moontlik danksy samewerkingsooreenkomste met die Kromme Rhee- en Boskop-opleidingsinstansie.
Die Landelike Stigting is ook deur die buiteland erken en Bailey het miljoene rande se ontwikkelingskapitaal in Suid-Afrika in gebring.
"Wat verder tot die sukses bygedra het, is die kommunikasie tussen plaaswerkers en boere wat skielik oop was. Soos wyle Frans Malan ('n boer in die distrik Stellenbosch) gesê het: 'My naaste bure is my plaaswerkers.'
"Ons het verhoudinge wat reeds bestaan het, herontdek en ontwikkel. Die werkers het gesê hulle voel soos mense en nie net gereedskap in die boer se hand nie. Kinders het respek vir hul ouers begin kry en families 'n gevoel vir mekaar. Die Landelike Stigting het werklik waarde toegevoeg tot die verhouding tussen die boer en sy werkers," sê Bailey.
Uiteindelik was die Landelike Stigting in al nege provinsies gevestig, maar in 1996 moes die organisasie sy deure sluit toe die nie-regeringsorganisasie-sektor in die land getransformeer is. Die nuwe Regering het hul finansiering afgeskaal en uiteindelik afgesny.
Bailey meen hulle sou kon voortgaan met die buitelandse geld, maar weens die bilaterale ooreenkoms moes alle ontwikkelingsgeld na die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram-fonds gaan - miljarde rande wat nooit op die grondvlak aangewend is nie, meen Bailey.
"Dit was kortsigtig van die nuwe Regering, want in 'n stadium het hulle gesê dit is nie wenslik dat 'n middelklas in die landelike gebiede ontstaan nie."
Bailey is oortuig daarvan dat die afwesigheid van die Landelike Stigting steeds 'n stuk hartseer is wat 'n leemte laat. Hy meen ook dit sal interessant wees om te sien wanneer plaasaanvalle so algemeen geraak het. Bailey sê hy sal nie verbaas wees as dit sedert 1996 - ná die verdwyning van die Landelike Stigting - was nie.
"Twee maande gelede het iemand van Tesco my kom vra oor die Landelike Stigting, want oral waar sy op die plase kom, word die stigting hoog aangeslaan deur plaaswerkers en boere. Sy wil ook hê ons moet dit laat herleef. Daar is 'n werklike behoefte daaraan."
Pres. Thabo Mbeki het hom ook al twee keer gevra wanneer die stigting dan gaan herleef.
Bailey meen die verskil tussen die Landelike Stigting en huidige organisasies wat hulle beywer vir die opheffing van plaaswerkers, is kontinuïteit.
"Die Landelike Stigting het gemeenskapsontwikkelaars vir drie jaar aangestel. Die nuwe groepe kan nie kontinuïteit verseker nie, want hulle beweeg in en uit op plase."
Volgens Bailey is dit nie billik om van boere te verwag om alleen maatskaplike dienste te verskaf nie.
"Hoekom word nyweraars dan nie verplig nie? Plaaswerkers is geregtig op ondersteunende dienste. Dit is onbillik om te verwag 'n boer moet die maatskaplike ontwikkeling ook verskaf. Daar moet 'n kundige van buite kom om dit te verrig."
Hy meen die Landelike Stigting kan herrys. "Die nuwe geslag boere is kwaad vir die Regering. As hy of sy nog 'n werksmag op sy eiendom het, is ek seker hulle sal bereid wees om weer tot so 'n organisasie te behoort. Die nuwe organisasie sal nie noodwendig op dieselfde manier bedryf kan word nie, maar die modelle sal herontwikkel moet word."
Ook me. Kitty Jacobs, direkteur van AgriWasa op Oudtshoorn, stem saam kommunikasiekanale tussen boere, plaaswerkers en veral die Regering is verstop.
"Baie plaaswerkers verstaan nie die Esta-wetgewing nie. Politieke partye, veral die ANC, het dit uitgebuit en net 'n deel van die wetgewing aan hulle verduidelik. Hulle het vir die mense gesê hulle mag nie uitgesit word nie, en dis dit. Dit het sekere verwagtings by die mense gewek."
Jacobs meen huisvesting is net een aspek van die probleem.
"Die landbousektor is uniek in die opsig dat die boer en die plaaswerker op die plaas woon. Die plaaswerker besit nie grond nie, maar is lief vir die plaas.
"Ek sal nie sê boere moet verplig wees om vir hul werkers te sorg nie, dit is ook die staat se plig. Die staat moet boere help. Ons is ook landsburgers. As ons kyk na die dorpe - daar kry die hulpbehoewende mense sekere hoeveelhede water en krag gratis. Wat is plaaswerkers anders as hulpbehoewendes? Hoekom kan die staat nie na hulle omsien nie?"
Viljoen meen die meeste produsente wíl hul werkers bemagtig. Hy meen die roete vorentoe moet gesetel wees in aandeelhouding.
"Te veel plase het ondergegaan met die huidige stelsel van swart bemagtiging omdat verkeerde kriteria gebruik is in die toekenning van plase. Dit lei eerder tot swak bemagtiging. Huisvesting en die verkryging van grond vir landboudorpe moet ernstige aandag kry.
"Haal politiek uit die situasie, stel projekspanne saam met deeglike beplanning, opleiding en dan werklike bemagtiging," is sy voorstelle.
Lebethe sê die Departement van Behuising het 'n program wat bystand verleen in die huisvesting van plaaswerkers en ander inwoners. Dit is gemik daarop om volhoubare landelike nedersettings te skep waar plaaswerkers en inwoners voordeel trek uit die sekerheid van verblyfreg, meer toegang tot basiese dienste en verbeterde lewensgehalte. "Die program wil boere bystaan met prosedures en prosesse om huisvestingsprojekte vir plaaswerkers in te stel."
Jacobs meen die onus om huise op te knap moet nie net op die boere rus nie. "Ek sê altyd vir die plaasmense: Jy woon in die huis, nie die boer nie. Daar kan planne gemaak word. Die boer kan aanbied om die materiaal te koop of 'n kruiwa te leen, dan kan die plaaswerker die arbeid self verrig om sê maar sy vloer gelyk te maak.
"Daar is baie dinge wat die plaaswerkers saam met die boer kan doen, hulle moet net gaan sit en daaroor gesels. As ons die kommunikasie kan regkry, kan ons 'n groot sukses maak van verhoudings in die landelike gebiede."
Landbouweekblad, 6 April 2007.