Daar was al die donkie en toe die Anatoliese herdershond. Die naam van die alpakka word ook genoem as die jongste gier om met probleemdiere af te reken. Maar 'n Vrystaatse skaapboer meen sy mak swartwildebeeste sal korte mette met probleemdiere én tweebeenjakkalse maak.
Sy gebruik van bottel-mak swartwildebeeste om sy skape op te pas, het sowat vyf jaar gelede begin toe hy 'n mak eland-kalfie vir sy vrou aangeskaf het, vertel mnr. Blits van Heerden van Bluegum-poort, in die distrik Edenburg.
Van Heerden het die idee van mak wild gekry by 'n boer van Petrusville wat toe al 30 jaar lank elandkalwers ná die eerste maand van die koei af wegneem.
Op dié tydstip was die veilingsprys van volwasse elande sowat R4 500 en sy bottel-mak diere R7 500.
Van Heerden het toe ook met die makmaak van wild begin deur 'n elandbul en -vers te koop.
Toe hy met die makmaak van swartwildebeeste begin, kom hy agter dat die vraag na mak wild hoog is.
Sy eerste swartwildebees wat hy hans grootgemaak het, het hy met 'n hanslam afgepaar. "Ek het opgemerk dat die swartwildebees gou aggressie vertoon, maar die verbasendste was dat hy met die skaap maats bly en dit skynbaar teen indringers en vreemdelinge beskerm. Sy oppasser met wie die bok 'n band vorm, spring ook darem die aggressiewe gedrag vry," sê Van Heerden.
Die natuurlike kalftyd van swartwildebeeste is van 20 Desember tot 4 Januarie en die kalfie word so gou moontlik ná geboorte van die koei af weggeneem. Binne 'n dag of twee daarna is hy redelik mak en loop hy agter sy oppasser aan.
Van Heerden se vrou, René, wat die meeste van die grootmaakwerk doen, sê makgemaakte wild is dikwels gevaarliker as wilde diere omdat hulle hul vrees vir die mens verloor het.
René gebruik hoofsaaklik beesmelk om die kalwers groot te maak. Tydens die eerste twee weke nadat hulle van die koeie geskei is, kry hulle 1 liter melk drie keer per dag. Dié rantsoen verander later na 1,5 liter twee keer per dag.
'n Kalmeermiddel word aanvanklik gebruik om die diere se stresvlakke laag te hou. Ná 'n week word groenvoer, soos lusern, by die rantsoen gevoeg.
Die kalf word op drie maande gespeen, maar Van Heerden beveel aan dat die kalf daarna nog een keer per dag of al om die ander dag 'n bottel melk kry om hom mak te hou.
Een voorbeeld van Van Heerden se welslae met swartwildebeeste as herders in sy skaaptroppe is 'n boer aan die Noord-Kaapse kant van Norvalspont, wat anoniem wil bly.
Hy het sy plaas van sowat 3 000 ha 'n paar jaar gelede teen sowat die helfte van die markwaarde aangeskaf, hoofsaaklik omdat dit regstreeks aan meentgrond grens.
Die gebied is uitsluitlik skaapwêreld, maar weens probleemdiere en veediefstal kon die vorige eienaars nie met kleinvee boer nie.
Van Heerden sê sedert dié boer vier jaar gelede bottelmak swartwildebeesbulle in sy troppe begin gebruik het, het hy nog nie een skaap verloor nie.
Drie mak bulle word in die kampe langs die stedelike gebied, waar die meeste veediefstal plaasgevind het, aangehou en die boer beoog ook om nou van hulle in al sy skaapkampe aan te hou.
Nóg 'n tevrede klant is mnr. Bertus Cruywagen, wes van Bloemfontein. Sy bulletjie van vier maande tree klaar aggressief op teenoor vreemdelinge op sy grond, wat dikwels as deurgangroete gebruik word.
Van Heerden sê die swartwildebees is ook 'n goeie teenvoeter vir rondloperhonde.
Wanneer die boer en sy werkers met die vee in 'n kamp wil werk, word die swartwildebees-oppasser na 'n ander kamp verskuif.
Die eienaar, met wie die dier gewoonlik identifiseer, kan die bok eers vashou, waarna die werkers hom optel en op 'n voertuig laai sodat hy hulle nie pla nie. Wanneer die skape klaar behandel is, word hulle weer by die swartwildebees ingejaag.
'n Ander moontlikheid is om werkers per perd die skaapkamp binne te stuur om sekere take te doen of om die trop in 'n kraal te jaag.
Van Heerden se mak wildebeeste kos R5 000 elk, wat bykans drie keer meer is as die veilingsprys van wildebeeste (R1 500 tot R1 800).