Landbou
Organiese wol vat koers
THEUNS BOTHA

Organies geproduseerde wol het oornag die nuwe gonswoord in die wolbedryf geword, selfs op die jongste kongres van die Nasionale Wolkwekersvereniging. Maar is dit die pad om te loop?

Toe Landbouweekblad in 2002 die eerste keer die kwessie van organiese wolproduksie aangeroer het, was die wolkopers nie juis geesdriftig oor die konsep nie. Mnr. Antoine Houzé, destydse voorsitter van die Suid-Afrikaanse Wol- en Bokhaarkopersvereniging (Sawamba), het gesê daar was nog nie 'n enkele navraag uit die buiteland daaroor nie. Ook die WNNR was nie genader om navorsing op die verwerkingseienskappe van dié soort wol te doen nie.

Dit was die Oorspronklike Letelle-skaapvereniging, onder leiding van mnr. Peter Hardie van Barkly-Oos, wat destyds moontlikhede in die verskaffing van organies geproduseerde wol raakgesien en naarstiglik na vennote gesoek het.

Mnr. Dick Isted ('n groot kampvegter vir organies geproduseerde landbouprodukte) van Tempevale, Lady Grey, het egter gemeen dat dit net sou slaag as genoeg boere hulle hiertoe verbind, daar iemand is wat bereid is om voor te vat, die verwerkingsprosesse aan organiese kodes voldoen en 'n mark gevind word wat bereid is om aan boere 'n premie daarvoor te betaal.

Op 'n wolveiling in Australië twee weke gelede waar 620 bale gesertifiseerde organiese wol aangebied is, het dit 'n premie van 20 % behaal bó soortgelyke soorte wat op die konvensionele wyse geproduseer is. "Maar, het mnr. Michael Blake, bemarkingsbestuurder van die Australiese wolmakelaar Elders, ná die veiling gesê, "hoewel die organiese wol groot belangstelling van plaaslike en oorsese verwerkers gelok het, word die vraag na dié soort wol nog nie op die termynmark weerspieël nie. Dit kan 'n aanduiding wees dat die premie nie noodwendig op lang termyn gehandhaaf sal word nie."

Mnr. Hugo Lemon, produktegnoloog van mansklere by Woolworths, sê egter hulle stel baie in organiese wol belang en soek wolboere wat dit aan hulle kan verskaf. In Engeland benodig die winkelgroep Marks & Spencer 'n paar honderd ton om wolkledingstukke te maak. "Ná Woolworths se sukses met die verskaffing van T-hemde uit organiese katoen, is dit duidelik dat daar gesofistikeerde verbruikers in Suid-Afrika is, wat dié soort produkte opraap."

Mnr. André Strydom, hoofbestuurder van Cape Wools, sê hoewel hulle graag boere wil bystaan, moet onrealistiese verwagtinge nie van dié mark geskep word nie. "Die premies wat die Europese verbruikers bereid is om vir organies geproduseerde wolprodukte te betaal, is nog nie verreken nie. Selfs al word hoë pryse betaal, soos nou in Australië, beteken dit nie noodwendig dat dit op lang termyn volhoubaar gaan wees nie. Boonop gaan dit vir boere meer kos om organiese wol te produseer en as hulle nie beter pryse daarvoor kry nie, is daar geen rede om dit te lewer nie."

Strydom maan dat boere wat dié pad loop, eerstens vennote in die wolketting moet identifiseer om te verseker dat onbesoedelde wol as 'n geheel deur die verwerkingsprosesse beweeg en dat dit voldoen aan die gedragskode wat vir organiese produkte neergelê word.

"Net dan sal die eindproduk as sodanig geïdentifiseer, gesertifiseer en geëtiketteer kan word. Die proses is ingewikkeld en 'n nuwe bemarkingkonsep sal daarvoor ontwikkel moet word. Die Internasionale Woltekstielorganisasie gee juis nou aandag aan die saak. Daar is steeds nie 'n wêreldwyd aanvaarbare definisie en stel standaarde vir 'organiese wol' nie. Tans het elke land en bykans elke kleinhandelaar sy eie definisie en standaarde wat vordering bemoeilik.

"Die rol van 'n winkel, soos Marks & Spencer, kan help om die proses te vergemaklik. Selfs boere wat nié die rigting inslaan nie, behoort kennis te neem dat die toepassing van sosiaal etiese praktyke (soos kinderarbeid en die Mules-operasie) ál meer op die voorgrond gaan tree.

"Hoewel wol as 'n natuurlike vesel beskou word, het swak beheerde verwerkingstegnieke, die gebruik van plaagdoders en druk van die Groenes oor die beheer van probleemdiere, daartoe gelei dat dit in sekere kringe as omgewingsonvriendelik beskou word. Sou die verbruiker egter organiese wol as iets superieur beskou, kan dit by implikasie beteken dat enige ánder wol as minderwaardig gesien word."

Landbouweekblad, 22 Junie 2007