Landbou
Wynboere oor grond aangevat
Deur AMELIA GENIS (agenis@landbou.com)

Die wynbedryf doen nog nie genoeg vir transformasie nie, was die boodskap van een spreker ná die ander op die onlangse wynraad-seminaar oor maatskaplike kwessies in die wynbedryf.

Daar was geen tekort aan planne op die wynraad-seminaar wat onlangs by Elsenburg gehou is nie.

Die gewone beskuldigings teen boere oor die swak behandeling van werkers, standaard-oproepe om die behandeling van plaaswerkers volgens die riglyne in die Grondwet en vennootskappe vir landbou- en grondhervorming was nog daar. Die bal is egter die eerste keer regstreeks in die boere se baan geslaan met voorstelle dat boere nouer by grondoordragte betrokke moet raak en selfs met grond en geld moet betaal om nuwe boere te help vestig.

Mnr. Andrew Makenete, hoof van groot besighede by Absa wat in sy persoonlike hoedanigheid aan die seminaar deelgeneem het, meen as die landbou ernstig is oor transformasie is, sal kommersiële boere die landbou moet verlaat om plek te maak vir nuwe boere. Dit kan egter nie die "verloorders" (die boere wat nie die mas kan opkom in die landbou nie) wees nie, maar die suksesvolles, die "wenners".

Makenete sê húlle het die vermoë om welslae in ander bedrywe te behaal, maar hulle moet ook deur vennootskappe hul opvolgers bystaan om suksesvol te wees.

Oor dié voorstel wat op die oog af teenproduktief is, het Makenete agterna gesê dit beteken hoegenaamd nie dat daar nou 'n massa-uittog van Suid-Afrika se beste boere moet wees om vir nuwe toetreders plek te maak nie. Boere met goeie grond wat nie meer wil of kan boer nie en ook nie familie het wat die boerdery kan oorneem nie, moet egter die grond eerder aan 'n nuwe swart boer as 'n wit buurman verkoop.

"Hy behoort ook betrokke te wees by die keuse van die persoon wat die boerdery by hom gaan oorneem. Tot dusver het dit dikwels gebeur dat boere wat hul grond vir grondhervorming beskikbaar stel, mense is wat op swak grond gesukkel het om mededingend te boer. Daar moet geleenthede vir swart boere wees om ook toegang tot goeie grond en ander hulpbronne te kry."

Me. Joyene Isaacs, hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, meen ook die Regering se grondhervormingspogings moet deur die landboubedryf aangevul word. "Wat van grondhervorming wat deur die bedryf gestuur word? Wie is meer geskik om nuwelinge in 'n bedryf te verwelkom as dié wat reeds daar is?" het sy gevra. "Kommersiële boere moet hul eie geld gebruik om nuwe boere te help vestig, van hul grond aanbied en as mentors optree. Hulle moet seker maak dat nuwe boere in die waardeketting opgeneem word."

Werkbare planne en oplossings is sekerlik welkom, want net ten opsigte van grondhervorming is die uitdaging enorm. Mnr. Henk Bruwer, voorsitter van Wynkelders Suid-Afrika, het die grond-uitdaging in maandelikse doelwitte afgebreek: "Ons moet van nou tot 2015 elke maand 16 suksesvolle nuwe boere vestig, maar ons moet net onthou daar sal geen transformasie of 'n volhoubare oplossing wees sonder groei of wins nie."

Mnr. Johnny Slingers, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van grondsake, sê volgens die jongste presidensiële voorranglys moet die projekbestuurseenheid - as voorloper van die eendoelinstelling ("special purpose vehicle") - 5 miljoen hektaar grond oor die volgende twee jaar oordra en verseker dat 10 000 nuwe boere landwyd gevestig word.

"Dit gaan nie vir een instansie maklik wees om suksesvolle grondhervorming met spoed te meng nie. Dit gaan nie meer net oor grondregte nie, maar ook ekonomiese lewensvatbaarheid."

Vir welslae in grondhervorming sal daar van die gebaande weë en denkrigtings afgewyk moet word, sê me. Ruth Hall, navorser by die program vir grond en landelike studies (Plaas). Sy sê transformasie het tot dusver plaasgevind, maar min verandering. Gewilde hervormingsopsies, soos plaaswerker-aandeleskemas, verander nie die struktuur van die bedryf nie. Vorme van grondhervorming wat die beste geleent-hede vir armoedeverligting bied, is deel-saaiery of winsdeling en kontrakboerdery, maar sy kon tot dusver nie een voorbeeld daarvan in die Wes-Kaap opspoor nie.

Hall sê daar is twee voorwaardes vir suksesvolle grond- en landelike hervorming: Die onderverdeling van bestaande plase waarop die begunstigdes van grondhervorming laerisiko-boerderye kan bedryf en om weer 'n plek te vind vir koöperasies vir die verskaffing van produksiemiddele asook bemarking in die landbou.

Een van die groot probleme met grondhervorming is dat van nuwe boere verwag word om boerderymodelle wat onderhewig is aan 'n hoë risiko na te volg sonder die ondersteuning wat boere in die verlede gekry het, sê Hall.

Sy meen grondgebruiksbeplanning wat op 'n gebiedsgrondslag toegepas word en waarvolgens verskillende regeringsvlakke en -departemente en gemeenskappe daadwerklik betrokke is by die implementering van volhoubare grondhervorming, kan 'n ommekeer teweeg bring in die manier waarop oor grondhervorming gedink word.

Die noodsaaklikheid vir vennootskappe om transformasie in die landbou teweeg te bring, kom by elke werksessie of konferensie oor die landbou ter sprake, dog vele berigte en artikels in die verlede toon dat die departement van grondsake traag is om 'n volwaardige vennoot te wees.

Die frustrasie van welwillende boere weens die departement van grondsake se onversetlike houding oor hul voorstelle en pogings om betrokke te raak, is miskien ten beste deur mnr. Michael Back, eienaar van die wyn- en vrugteplaas Backsberg, Paarl, verwoord. Hy het oor die jare heen drie verskillende voorstelle vir grondhervorming en swart ekonomiese bemagtiging per geregistreerde pos aan dié departement gestuur, maar ná vele e-posse en telefoonoproepe nog geen reaksie ontvang nie.

Wat hy wel gehoor het, was dat grondsake huiwerig is om sy voorstelle te aanvaar en 'n presedent te skep. Back meen egter presedente "skep die toekoms en hou die bedryf dinamies. Met hierdie gebrek aan visie en toewyding slaag ons verseker daarin om grondpryse te ondermyn."

Landbouweekblad, 31 Augustus 2007.