Landbou
VSA se subsidies in gedrang
Deur MARLEEN SMITH

'n Miljoenêr-eiendomsmagnaat en ontwikkelaar van Florida, Amerika, was in 2005, die laaste jaar waaroor inligting beskikbaar is, die topverdiener van plaassubsidies in Amerika. Mnr. Maurice Wilder het net in daardie jaar $1,8 miljoen (sowat R12,9 miljoen) se subsidies in sy sak gesteek.

In die twee voorafgaande jare het hy sowat $1,4 miljoen (R10 miljoen) uit sy subsidie-pakket verdien. Nie dat hy finansiële hulp van die regering nodig het nie - hy is die eienaar van 'n korporasie wat glo $400 miljoen (sowat R2,8 miljard) sterk is, en hy beheer sowat 180 000 akker (72 846 ha) plaasgrond in meer as ses state, berig die nuuskanaal MSNBC.

"Ja, dis reg, so werk jou belasting-dollars vir jou," het een sarkastiese blogger hieroor geskryf.

Wilder se eie kommentaar oor dreigende subsidiehervorming? "Ek glo nie hulle moet plaassubsidies vir goed verander nie," het hy aan MSNBC gesê.

Skreiend soos dit kan klink, is Wilder nie die uitsondering op die reël nie.

Amerika se plaassubsidies is in die Groot Depressie van die 1930's ingestel om landelike armoede te bestry en familieplase te red. Toe het 'n kwart van die land se bevolking nog op plase gewoon. Vandag verteenwoordig boere minder as 1 % van die bevolking en minder as 14 % van alle plattelanders werk nog op plase. Boerderye is ook dramaties groter as sewentig jaar gelede.

Die subsidieformules is egter nog nooit werklik by die veranderde omstandighede aangepas nie. Die gevolg is 'n gruwelik ongelyke bedeling waarin 57% van die land se boerderye geen subsidies ontvang nie, en twee derdes van dié wat wel kry, ontvang minder as $10 000 (sowat R71 000). Die grootste 8% van Amerikaanse boerderye maak op 58% van die totale uitbetalings aanspraak.

Korporatiewe saaiboerderye geniet die room van die subsidie-oes. Boerderye wat iets anders as mielies, katoen, koring of rys plant, kry maar sowat 7% van al die subsidies. Mielieboere kry amper die helfte en katoenboere amper 'n kwart.

Die kommoditeit-programme kos belastingbetalers dus miljarde dollars wat as regstreekse betalings in die sakke van net sowat 'n derde van die land se boere beland.

Die Environmental Working Group, 'n organisasie wat hom vir omgewingsbewaring beywer, het onlangs opslae gemaak toe hy 'n nuwe databasis met voorheen ongepubliseerde subsidielyste van die federale departement van landbou bekend gestel het.

Volgens die EWG het die boonste 1% boere wat van 2003 tot 2005 die meeste subsidies ontvang het, altesame 17% van die totale gewassubsidies in die sak gesteek. Hulle het hiermee elkeen gemiddeld meer as $125 000 (sowat R895 000) per jaar verdien ? amper drie keer soveel as wat die gemiddelde belastingbetaler in dieselfde poskode-gebiede as dié bevoorregte groepie boere verdien het.

Boonop is talle van dié wat die vetste subsidietjeks kry, soos Wilder, nie werklik boere nie. Hulle woon in stede, soos New York, San Francisco en Washington DC, en hul verbintenis met boerdery is om die minste daarvan te sê, baie verlangs, het mnr. Mike Johanns, pres. George W. Bush se minister van landbou, onlangs op 'n nuuskonferensie oor die nuwe Amerikaanse plaaswet ("Farm Bill'') op die ekonomiese instandhouding van die landbou en die platteland in Washington gesê.

Johanns, wat op 'n melkplaas grootgeword het, is een van 'n groeiende aantal Amerikaners wat besef dinge kan nie so aangaan nie. Selfs uit stoere boeregeledere klink deesdae stemme vir drastiese hervorming van die plaaswet en sy berugte subsidies op.

Johanns stel dit duidelik dat hy en Bush nie ten gunste van 'n blote voortsetting van die heersende subsidiestelsel is nie. Die boere wat hy geraadpleeg het, sê Johanns besef deeglik die gevaar as $1,5 miljard (sowat R10,7 miljard) se belastingbetalersgeld as sogenaamde plaassubsidies onder die boonste 2 % van Amerika se welvarendstes uitgedeel word.

Hy meen grondeienaars met 'n bruto inkomste van meer as $200 000 behoort nie vir subsidiehulp in aanmerking te kom nie.

Dié en die meeste ander betekenisvolle hervormingvoorstelle deur Johanns is egter pas in die wind geslaan toe die huis van verteenwoordigers met 'n groot meerderheid 'n nuwe weergawe van die plaaswet aanvaar het wat 'n bruto inkomsteperk van vyf keer soveel - $1 miljoen (sowat R7,1 miljard)- stel. Die heersende limiet waarbo 'n grondeienaar nie vir plaassubsidies in aanmerking kom nie, is 'n bruto inkomste van $2,5 miljoen (sowat R17,9 miljoen).

Die huis se konsepwet heet die Farm, Nutrition and Bioenergy Act, en magtig besteding van $90 miljard (sowat R644,9 miljard) oor die volgende vyf jaar. In wese is dit 'n voortsetting van 2002 se plaaswet en magtig onder meer dieselfde regstreekse subsidies aan saaiboere op dieselfde vlakke as ingevolge die heersende wet.

Dit behels selfs 'n toename van $5,8 miljard (sowat R41,5 miljard) in plaaswet-besteding oor die volgende vyf jaar, beraam mnr. Scott Mitchell, hoof van handelsbeleid by Australië se nasionale boerefederasie.

Om internasionale onderhandelingstafels word Amerika al jare lank sonder veel sukses oor die onregte van sy plaaswet gekasty. Dit was, saam met Europa se boerderysubsidies, 'n belangrike rede vir die ineenstorting van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) se jongste ronde onderhandelings.

Die Amerikaners vrees sedertdien 'n toename in internasionale hofsake waarin die wettigheid van hul plaassubsidies onder skoot kan kom. Brasilië was pas suksesvol in een só 'n saak oor Amerika se katoensubsidies.

Johanns waarsku dat gebrekkige hervorming 'n kolskyf op die rug van die Amerikaanse boer maak. "As ons die WHO se reëls in die wind wil slaan, moet ons ook gewillig wees om vir $78 miljard (sowat R558,6 miljard) se landbou-uitvoer nee dankie te sê, " het hy op die nuuskonferensie gesê.

Hy erken ook dat die meeste van die heersende subsidies miskien wettig is, maar nie in die gees van geregtigheid nie.

"Boere sê ons stuur vir hulle tjeks wanneer hulle dit die minste nodig het. Verlede jaar het die federale departement van landbou $3 miljard (sowat R21,4 miljard) aan boere uitbetaal wat erken het dat hulle nie werklik 'n verlies gely het nie. " Subsidies word onder meer uitbetaal om vir korttermyn-boerderyverliese te vergoed.

Die plaaswet is 'n omnibus van wetgewing wat die hoe, wat en waar van boerdery in Amerika bepaal, en elke vier tot sewe jaar hersien word. Dié wetgewing moet voor einde vanjaar herskryf word en die politici en stemmewerwers in Capitol Hill (die Amerikaanse Kongres) werk dat die rook draai.

Noudat die huis van verteenwoordigers 'n weergawe goedgekeur het, behoort die konsepwet binnekort in die senaat te beland. Nadat die senatore hul stempel afgedruk het, sal pres. Bush die laaste sê hê wanneer hy die finale weergawe van 2007 se plaaswet moet onderteken.

Amerikaanse hervormers en die res van die wêreld se boere plaas nou hul hoop op dié deel van die proses, want Bush het reeds gedreig om sy vetoreg uit te oefen as die nuwe plaaswet (soos die konsep wat deur die huis van verteenwoordigers aanvaar is) nie na sy sin hervorm is nie. Die Aussies het na berig word reeds hiervoor begin voorspraak maak.

In die lig van sy enorme begroting en die markverwringende aard van die subsidies is die plaaswet 'n monster met tentakels wat ver en wyd strek en 'n groot rede is waarom die landbou allerweë as die mees verwronge wêreldmark beskou word. Verlede jaar is plaassubsidies uitbetaal van meer as $20 miljard (sowat R143,4 miljard) meer as Washington se totale besteding aan buitelandse hulp.

Plaaswet-subsidies kry ook 'n groot deel van die skuld vir die armoede-moeras waaruit die ontwikkelende wêreld se bestaansboere maar net nie kan ontsnap nie. Die internasionale hulporganisasie Oxfam het in 'n onlangse studie bevind dat die wêreld-katoenprys met 6 % tot 14 % sal styg as Amerika al sy katoensubsidies afskaf.

Dit klink karig, maar volgens Oxfam kan dit 'n wêreld se verskil vir 'n arm katoenboer in Wes-Afrika beteken. Die ekstra inkomste behoort genoeg te wees om vier tot tien lede van sy gesin se gesondheidskoste vir 'n hele jaar te betaal, of een tot twee kinders se kos vir die jaar, is in dié studie bevind.

Die plaaswet het sy onhervormde behoud te danke aan 'n landbou-stemwerwery wat een van die magtigste in Capitol Hill is en selfs die radikale Europeërs 'n les of twee oor politieke manipulering kan leer. Dit is waarskynlik ook die rede waarom internasionale klagtes daaroor tot dusver nog grootliks op dowe ore geval het.

Die harde koor van teenstand in Amerika self het vroeër vanjaar die hoop laat opvlam dat die nuwe plaaswet die eerste keer in omtrent sewe dekades 'n behoorlik hervormde een sal wees. Aan die voorpunt van die slagordes was die projek vir plaas- en voedselbeleid, 'n nuwe alliansie van Amerikaanse organisasies wat om verandering veg. Talle van die meer as 300 organisasies wat die projek steun, het nog nooit voorheen aan die plaaswet-debatte deelgeneem nie. Toenemend word egter besef dat dié wet elke Amerikaner ten diepste raak ? in elk geval elkeen wat eet.

Van godsdienstige organisasies tot omgewingsaktiviste maak dié slag hul stem dik oor wat volhoubaar en gesond vir Amerika en sy stedelike en plattelandse bewoners is.

Al die protes ten spyt, lyk dit asof die wiele nie altyd so vinnig in Capitol Hill draai nie. Die winde van verandering mag die politieke boot laat wieg, maar dit is nie so seker dat hy nou al van rigting gaan verander nie. G'n wonder nie dat party van die aktiviste vir hervorming reeds laat blyk het hulle stel hul visier nou op 2012 - wanneer 2007 se plaaswet hersien moet word.

  • Marleen Smith is 'n oud-Landbouweekblad-joernalis wat tydelik in Washington woon.

    Landoubweekblad, 14 September 2007