Landbou
Mbeki-man: Boere het goeie toekoms
Deur AINSLEY MOOS(amoos@landbou.com)

Kommersiële boere vra dikwels of die Regering erns met die landbou het. Die Regering het wel, sê 'n ingeligte, maar daar sal besin moet word oor hoe bestaande beleid uitgevoer word.

As jong seun het prof. Wiseman Nkuhlu alle belangstelling in die landbou verloor. Dekades later, op die vooraand van sy aanstelling as pres. Thabo Mbeki se ekonomiese adviseur, het die liefde vir die landbou hom weer oorrompel.

Nkuhlu, wat in 1976 as die land se eerste swart geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer het, boer by Vrede in die Vrystaat met Bonsmaras, Simmentalers en SA Vleis-merino's.

Hy het die grond in 1999 aangeskaf. Die idee was om naweke 'n bietjie weg te breek van die gejaag in die stad. Aanvanklik wou hy grond naby sy geboorteplek, Cala, by Elliot in die Oos-Kaap, koop. Hy het des-tyds ontwikkelingswerk in die omgewing gedoen en was lektor by twee universiteite, Fort Hare en Transkei. Die omgewing is dus vir hom bekend.

Maar hy het besef sy heeltydse werk in Johannesburg en Pretoria gaan dit moeilik maak om gereeld na die Oos-Kaap te reis. Toe besluit hy op 'n plek wat nie meer as twee uur se ry uit Johannesburg is nie. Nou praat hy met groot liefde van sy plaas.

"Ons hanteer dit soos 'n sake-eenheid. Dit duur 'n tyd om gelyk te speel. Jy weet, my ouers het aartappels, wortels en kool gekweek. En toe ek op hoërskool was, het hulle mielies en selfs 'n koei verkoop om my skoolgeld te dek. Toe ek jare later ontwikkelingswerk gedoen het en direkteur van die Ontwikkelingsbank was, wou ek mense in landelike gebiede se uitdagings beter verstaan.

"Ek wou weet wat 'n mens kan doen om ontwikkeling in die voormalige tuislande ekonomies lewensvatbaar te maak. Ek wou weet hoe die potensiaal van hierdie gebiede saamgesnoer kan word om welvaart te skep. Dit is tóé dat ek weer in die landbou en grondgebruik geïnteresseerd geraak het. Ek het gou gesien dat die ekonomiese potensiaal wel bestaan, maar dat die produktiwiteit laag is," vertel hy.

Nkuhlu het sy ryk sakekennis ingespan. Maar hy gee toe dat hy eers jare later, nadat hy sy eie grond gekoop en self begin boer het, 'n beter begrip van die landbou se uitdagings gekry het. Hy vertel dat hy twee jaar gelede byna geswig het onder die rekordlae mielieprys van sowat R500 per ton toe dit hom R1 300 per ton gekos het om dié gewas te plant.

"Daar's geen twyfel daaroor nie, 'n boerdery moet 'n lewensvatbare ekonomiese eenheid wees. Die vraagstuk oor die minimum grootte van 'n boerdery is baie belangrik. Daarby het jy toegewyde bestuur nodig. En soos enige ander belegging, moet dit goed gemonitor word."

Is dit hoe die Regeringsbeleid tans daar uitsien?

"As iemand wat in die bevrydingstryd betrokke was, steun ek die Regering se beleid wat mense ondersteun wat graag in die landbou wil wees. Tog voel ek dit moet gedoen word op 'n manier wat sal verseker dat nuwe boere slaag en dat die land se vermoë om homself te voed, nie benadeel word nie. Die landbou moet 'n lewensvatbare sektor bly."

Nkuhlu was van 2000 tot 2005 Mbeki se ekonomiese adviseur. Deesdae is hy 'n sakeman. Hy is die uitvoerende voorsitter van 'n internasionale beleggingsmaat-skappy en dien in die direksies van ver-skeie maatskappye.

"Ek is bekommerd dat wanneer ons programme implementeer, ons dalk nie genoeg seker maak dat die boerdery-eenheid lewensvatbaar is en volgens gesonde sakebeginsels gestruktureer is nie. En dat daardie mense wat 'n belangstelling het, verstaan en goed voorberei word om eienaarskap en verantwoordelikheid te aanvaar nie. Om 'n boerdery te bestuur, is 'n groot verantwoordelikheid. "

Gegewe sy nou betrokkenheid by Mbeki behoort hy tog 'n goeie idee te hê van hoe Mbeki die kommersiële landbou sien?

"Die president is baie ernstig oor die landbou. Vir hom is die konstante uitdaging om die volle potensiaal van die sektor te ontsluit sodat dit tot voordeel van almal is. Dit beteken byvoorbeeld dat gebiede in die voormalige tuislande omskep word in lewensvatbare ekonomiese eenhede. Dit kan gedoen word deur wetenskap en tegnologie toe te pas, maar ook deur bestuurskapasiteit te skep.

"As leier van die Regering is die president toegewyd daaraan om alle boere in die land te ondersteun. Dit gaan ook spesifiek oor die beskerming van lewe en eiendom.

"Die president strewe na 'n nie-rassige landbousektor. Grondhervorming gaan nie daaroor om wit boere van die grond af te kry en hulle met swart boere te vervang nie. Dit gaan oor billikheid en om te doen wat in die beste belang van alle Suid-Afrikaners is. En grondhervorming kan nie ten koste van voedselproduksie geskied nie. Grondhervorming is 'n voorvereiste vir armoedeverligting en werkskepping. So, enigiets wat ons doen, moet nie ekonomiese groei ondermyn nie."

Daar is skynbaar 'n kommunikasiebreuk tussen die Regering (bepaald die Minister van Landbou en Grondsake en haar adjunk) en kommersiële boere. Dié gaping lei tot wedersydse beskuldigings wat duidelik nie gunstig vir landbou se beeld is nie.

"Daar behoort deurgaans konsultasie tussen die Regering en boere te wees oor hoe om die sektor te stabiliseer. Daar is niks wat dialoog tussen die Regering en boere kan vervang nie. Dit verdiep vertroue," sê Nkuhlu.

Hy noem dat daar 'n mate van kommer oor die suksesvolle vestiging van nuwe, swart boere bestaan. "Ek is nie seker of nuwe boere slaag nie. Ek is nie seker of ons tans die regte ding doen nie."

Hy sê drie aspekte wat vir hom uitstaan met betrekking tot die vestiging van nuwe toetreders tot die sektor is die voldoende boerderygrootte, tegniese bevoegdheid en toegang tot kapitaal.

"Dit mag polities korrek klink om grond aan 'n groep families te gee, maar dit is geweldig moeilik om só 'n plaas as 'n besigheid te bestuur. Kommersiële boerdery het homself as meer lewensvatbaar bewys.

"Die uitdaging in die landelike gebiede en voormalige tuislande is dat dit te dig bevolk is. Daarom is die ontstaan van kleiner stede belangrik sodat dit werk aan mense kan verskaf. As ons die kapasiteit in kleiner stede kan bou, verlig dit die druk op landelike gebiede. Ons het 'n gebalanseerde ekonomie en mense vind beter geleenthede in die moderne ekonomie as in die landbou.

"Mense soek eerder werk en grond vir behuising. Dit is nie waar dat die meerderheid swart mense boere wil wees nie. Mense moet nie in die landbou betrokke raak om politieke redes nie.

"Jy kan nie druk vir grondhervorming uitoefen as jy nie voldoende opleiding aan landboukundiges en voorligters gee nie."

Nkuhlu vertel dat hy sélf ses maande lank moes wag vir 'n landbouvoorligter van die staat om sy plaas te besoek. Toe skakel hy sy koöperasie, VKB, en word onmiddellik gehelp.

Hy sê voedselsekerheid is vir elke land in die wêreld 'n voorrangsaak. Dit is hoekom ryk lande nie oor landbousubsidies wil ingee nie.

"As ons nie voedselsekerheid reg bestuur nie, kan dit tot politieke onstabiliteit lei. Daarom is voedselsekerheid een van die nasionale doelstellings. Ons moet net die belange van die land met die belange van die produsent balanseer. Suid-Afrika kan nie homself voer op die genade van ander lande nie, " sê hy, bedoelende dat die land nie net op voedselinvoer moet steun nie.

Met voedselsekerheid as 'n belangrike saak, wat is sy mening oor Zimbabwe en hoe behoort Suid-Afrikaanse boere na die gebeure daar te kyk?

"Suid-Afrika se grondwet is meer progressief as die meeste Afrika-lande s'n. Die risiko is baie laag dat een individu hier dieselfde paadjie sal loop. Hier word grondhervorming binne die konteks van die Grondwet bestuur om stabiliteit te gee.

"Toegang tot grond is nie so belangrik soos wat politici hier dit maak nie. Ek dink nie die vraag na grond gaan 'n bekommernis word nie. Al wat boere moet doen, is om die Grondwet uit te leef. Ons wil die land se ekonomie uitbrei. Dit beteken groter produktiwiteit. In hierdie opsig is dit belangrik om jou werkers op te lei," sê Nkuhlu.

Landbouweekblad, 12 Oktober 2007