Driekwart van die wêreld se armes woon in landelike gebiede in ontwikkelende lande, maar net 'n skamele 4%van amptelike ontwikkelingshulp word aan die landbou afgestaan.
In Afrika suid van die Sahara, 'n gebied wat swaar op die landbou vir ekonomiese groei steun, is openbare besteding aan dié sektor ook maar 4% van totale regeringsbesteding. Dit is minder as die helLe van regerings in ander gebiede se landbou-besteding, en veel minder as die 11% tot 14% van nasionale begrotings wat regerings in Asië die afgelope 15 jaar in hul landbou belê het om groen revolusies daar te bewerkstellig.
Die Afrika-regerings se landbou-begrotings skiet ook ver te kort gemeet aan die Nuwe Vennootskap virAfrika se ontwikkeling (Nepad) se mikpunt van 10% van 'n totale nasionale begroting.
Boonopword die landbou in Afrika suid van die Sahara nog swaar belas ook.
Die Wêreldbank waarsku in sy jaarverslag oor ontwikkeling - die eerste in 25 jaar oor die landbou - ernstig oor dié kortsigtighede. Die landbou is vier keer doeltreffender as ander bedrywe om die inkomstevlak van die wêreld se armstes van die armes te lig, lui die verslag. Of andersom - groei in die landbou is vier keer voordeliger vir die armstes as groei in ander sektore. Daarom behoort die landbou na die bopunt van die ontwikkelingsagenda geskuif te word.
Mnr. Robert Zoellick, president van die Wêreldbank, het 'n spesiale oproep om 'n nuwe Groen Revolusie - dié slag vir Afrika - gedoen. Hy het onderneem dat die Wêreldbank sy steun aan die landbou en landelike ontwikkeling verder gaan uitbrei. Die bank het sy lenings aan dié sektore in die jare tagtig en negentig verminder,maar vanjaar is dit die vierde agtereenvolgende jaar verhoog.
"Ons het 'n 21ste eeuse Groen Revolusie nodig wat spesiaal vir Afrika se uiteenlopende behoeftes ontwerp is. Meer moet in tegnologiese navorsing en oordrag, volhoubare plaasbestuur, landbou-insetkettings, besproeiing en landelike mikrolenings belê word. Beleid moet van so 'n aard wees dat dit markgeleenthede versterk, en meer lande moet hul markte vir plaas-uitvoer oopstel, " het Zoellick op 'n nuuskonferensie in Washington D.C. gesê.
Volgens die verslag word landelike gebiede en die landbou al die afgelope twintig jaar verwaarloos en finansieel afgeskeep. Daarom voer dieWêreldbank nou 'n nuwe veldtog vir "landbou vir ontwikkeling".
Zoellick het bygevoeg dat die landbou deur die bank groter aandag verdien. Ontwikkelde lande moet hul markverwringende subsidies afskaf en hul markte vir die res van die wêreld se boere oopstel, en burgerlike groepe, veral boere-organisasies, moet 'n groter sê in die opstel van landboubeleid kry.
Dr. Francois Bourguignon, wat met die opstel van die verslag die Wêreldbank se hoof-ekonoom was, het gesê die landbou het die afgelope 15 jaar met groot welslae landelike armoede in Oos-Asië verlig. Nou moet dié unieke krag ook in Afrika suid van die Sahara en Suid-Asië ingespan word. Die getal armes is in dié streke aan die toeneem.
Pres. Ellen Johnson-Sirleaf van Liberië het kort na die verslag se bekendstelling 'n beroep op haar mede-Afrika-leiers gedoen om hul regerings van binne te hervorm sodat die landbou aan die voorpunt van ekonomiese ontwikkeling geplaas word. Afrika moet dié sektor toelaat om sy regmatige rol te speel as hy ekonomies wil groei, het sy gesê.
Die Wêreldbank-verslag is meestal van toepassing op lande wat grootliks van die landbou vir ekonomiese groei afhanklik is. Suid-Afrika, waar die landbou 3,1% tot die bruto binnelandse produk (BBP) bydra, is 24ste op die tydskrif Economist se lys van lande wat die minste van die landbou afhanklik is.
Die verslag van die Wêreldbank wys egter daarop dat landelike bewoners se krimpende inkomste groot politieke spanning veroorsaak in lande waar die landbou nie meer soveel tot die BBP bydra nie. En in verstedelikte lande waar die landbou gemiddeld maar 5%tot die BBP bydra, woon tot soveel as 45 % van die armes steeds in landelike gebiede.
SA armes verdubbel binne 10 jaar
Die getal brandarm Suid-Afrikaners het sedert 1996 ondanks versnelde ekonomiese groei verdubbel, is pas bevind.
Luidens 'n verslag van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV- 'n Suid-Afrikaanse organisasie) het 4,2 miljoen Suid-Afrikaners in 2005 met minder as $1 (R6,80) per dag oorleef. In 1996 was dit 1,9 miljoen.
Die IRV het daarop gewys dat die inkomstegaping tussen ryk en arm swart mense al hoe groter word, terwyl armoede ook onder wit mense aan die toeneem is.
Die BBC het in reaksie op die verslag berig dat armoede in geheel én proporsioneel in Suid-Afrika aan die toeneem is.
Beramings oor werkloosheid in Suid-Afrika wissel, maar volgens die tydskrif Economist se jongste statistieke is Suid-Afrika, met 27,1 % werkloses in die arbeidsmag, derde op die lys van lande met die hoogste werkloosheidsyfer. Net Macedonië (37,2%) en Namibië (33,8%) het 'n groter werkloosheidprobleem.
Landbouweekblad, 30 November 2007