Landbou
Dalk geld in warm lug!
Deur LUCILLE BOTHA

Kenners voorspel boere se inkomstemengsel gaan in die toekoms verander om plek te maak vir koolstofskemas. Hou hierdie multi-miljard-rand-mark werklik 'n geleentheid vir Suid-Afrikaanse boere in?

Sedert die Nywerheidsrewolusie sowat 300 jaar gelede het mens-like aktiwiteite teen 'n duiselingwekkende spoed toegeneem. Die gevolge daarvan word nou eers gevoel. Hoewel siklusse so oud soos die aarde is en klimaatsverandering natuurlik voorkom, is die huidige verskynsel mensgemaak. Die gevaarligte flikker. Dit gaan weer 'n gedragsverandering verg om volhoubaar te leef.

Die "kombers van kweekhuisgasse" wat die aarde omring, is 'n natuurlike verskynsel, sê me. Wendy Engel, 'n landboukundige van die Universiteit Stellenbosch en kenner op die gebied van klimaatsverandering.

"Die omgewing het 'n afval-assimilasie-funksie. Verskillende mense skei kweekhuisgasse af, wat 'n kombers vorm. Dié kombers het 'n lewensondersteuningsfunksie vir die aarde. Daar was egter 'n toename in kweekhuisgasse. Dit het die lewensondersteuningsfunksie onder druk geplaas."

Soos wat mensgemaakte klimaatsverandering hoër op die politieke agenda in veral Europa, Amerika en Australië geskuif het, het verskeie lande by die Verenigde Nasies se klimaatskonvensie (UNFCCC) 'n ooreenkoms onderteken om jaarliks te vergader en terugvoer oor klimaatsverandering te gee.

Volgens die UNFCCC word lande in twee kategorieë geplaas: Anneks 1-lande (ontwikkelde nywerheidslande) en anneks 2-lande (ontwikkelende lande).

In 1997, by een van die sogenaamde Conference of the Parties-vergaderings, het die afgevaardigdes besluit om ernstig te raak oor klimaatsverandering en te dóén eerder as te praat. Die Kyoto-protokol is gevolglik op 11 Desember 1997 in Japan onderteken.

Volgens die UNFCCC-webwerf vereis dié verdrag van ontwikkelde lande om die vrystelling van skadelike kweekhuisgasse te verminder tot vlakke laer as wat vir elke item gespesifiseer is. Hierdie teikens moet tussen 2008 en 2012 bereik word. Uitlaatgasvrystelling moet met minstens 5 % afneem teenoor 'n basis wat in 1990 bepaal is.

Engel sê daar is drie maniere hoe dit gedoen kan word:

  • Projekte kan in 'n mens se eie land bekend gestel word om die uitlaatgasvrystelling te verminder. 'n Tipiese voorbeeld is Duitsland se energieplase.
  • Gesamentlike inisiatiewe verwys na anneks 1-lande wat saamspan om kweekhuisgasse te verminder.
  • Die skoonontwikkelingsmeganisme (CDM) is koolstofverhandeling tussen anneks 1- en anneks 2-lande. Dit is ook die enigste meganisme waar ontwikkelende lande in die prentjie kan kom om kweekhuisgasse te help bekamp.

    Volgens mnr. David Farrell, direkteur van groepstrategie by die Suid-Afrikaanse vrugte-uitvoermaatskappy Colors, verhandel koolstof tans teen sowat 22 euro (sowat R220) per ton. Verlede jaar is sowat 1,6 miljard ton koolstof teen $30 miljard (sowat R204 miljard) verhandel.

    Nou hoe werk dit? Hoe verkoop 'n mens warm lug?

    Engel gebruik die Kuyusa-laekostebehuisingsprojek, met meer as 2 300 huise, in Kaapstad om te verduidelik: "Elke laekostehuis kry een sonpaneel, 'n omgewingsvriendelike gloeilamp en 'n geïnsuleerde plafon.

    "In 'n gewone situasie sal 'n subsidiehuis sê maar 20 ton kweekhuisgasse per jaar vrystel. Wanneer ons egter dié drie dinge insluit, word net 10 ton per jaar vrygestel. In werklikheid word daar handel gedryf met die verskil (in dié geval 10 ton)," sê sy.

    Dit wat te koop aangebied word, is die gesertifiseerde eenhede vir die vermindering van gasvrystellings (CER).

    Hoe word dit bereken? Engel se daar bestaan 'n kweekhuisgas-inventaris vir elke land. Om die CER te bepaal, moet die brandstofbron (kool, elektrisiteit, diesel, ensovoort) bekend wees. In die berekening word gekyk na die hoeveelheid koolsuurgas wat afgegee word wanneer 'n toestel, soos 'n verkoelingseenheid in 'n pakskuur of 'n geiser, van daardie energiebron verbruik. Die hoeveelheid skadelike uitlaatgas word dan met omskakelingsfaktore bepaal en in koolstof-ekwivalente bereken.

    Sodra 'n land of onderneming se CER bereken is, kan die koolstof aan ontwikkelde lande verkoop word. Dit is 'n burokratiese proses wat ongelukkig nog nie veel byval in Suid-Afrika vind nie (lees die berig "CDM-projekte in SA" op bl. 22). Die meeste CDM-projekte vind in Brasilië en Indië plaas.

    Volgens mnr. Henk Sa, Suid-Afrika se direkteur by die internasionale maat-skappy EcoSecurities, kos dit R600 000 tot R1,2 miljoen om 'n projek deur die VN se CDM-proses geakkrediteer te kry. Selfs dan is daar nie waarborge dat dit goedgekeur sal word nie.

    "Elke ontwikkelende land wat aan die CDM wil deelneem, moet deur sy aangewese nasionale owerheid werk. In Suid-Afrika val dit onder die Departement van Minerale en Energie se mandaat," sê Engel.

    Tot dusver het 54 projekte 'n draai by die Suid-Afrikaanse owerheid gaan maak. Daarvan was agt landbouverwant (die meeste daarvan het met biodiesel en metaan te make gehad). In die algemeen het net 17 % van die projekte met metaan gewerk, terwyl 9 % oor biodiesel was. Die res van die projekte was veral op brandstof-omskakeling toegespits. Sa het aan Financial Mail gesê: "Dit is 'n mark wat diep sakke en gespesialiseerde vaardighede verg. Die opbrengste word eers op lang termyn gesien, so jy moet genoeg geld hê om daarvoor te wag."

    Volgens hom is daar 'n paar maniere om toegang tot die koolstofmark te kry, maar nie almal is sonder slaggate nie:

  • Belê in 'n koolstofverminderingsprojek. "Om 'n koolstofspeler te word, kan jy in 'n sonkragplaas in die Karoo belê of in 'n projek op 'n melkplaas wat die metaan wat deur koeie genereer word, in elektrisiteit omskakel. Maar jy sal moontlik tegnologie in euro of dollar moet aanskaf, terwyl jou inkomste in rand sal wees."

  • Belê in "vuil" maatskappye. Die chemiese maatskappy Omnia het filters in hul kunsmisaanlegte geïnstalleer. Dit sal stikstofmonoksied-vrystellings met 670 000 ton se koolstofekwivalent verminder. Teen 14 euro per ton kan dit sowat R94 miljoen per jaar vir die maatskappy genereer. Ook Sasol beoog om koolsuurgas-vrystellings te verminder en sowat R140 miljoen per jaar te genereer.

  • Koop afgeleide instrumente op die JSE. Die wêreld se eerste afgeleide instrumente vir koolstofkrediet is in 2005 gelys. 'n Koolstofkredietnota is 'n voorafbetaalde kon-trak. Die gewer is verplig om 'n koolstofkrediet of die kontant-ekwivalent op die leweringsdatum te lewer.

  • Koop 'n aandeel in 'n koolstofbetrokkene. Koolstofhandelaars maak hul geld deur ongewaarborgde krediete te koop en hulle aan die eindverbruiker te waarborg. EcoSecurities koop krediete van Suid-Afrikaanse projekte teen sowat 10 euro per ton en verkoop dit op die mark vir sowat 14 euro per ton.

  • Dryf handel op die vrywillige mark. Volgens die Financial Mail het 'n verskeidenheid vrywillige markte die laaste tyd kop uitgesteek. Die maatskappy PricewaterhouseCoopers het byvoorbeeld 'n koolstofverhandelingswebwerf begin waar jy vir jou vrystellings kan vergoed deur bome te koop wat jou koolstofvrystellings absorbeer. Hulle is in vennootskap met Food & Trees For Africa, 'n plaaslike nie-regeringsorganisasie wat die plantwerk doen.

    Die Australiese kommissie vir natuurlike hulpbronne (NRC) meen talle boere in Nieu-Suid-Wallis sal binne 'n dekade slegs die helfte van hul inkomste uit tradisionele landboubronne maak. Die res sal uit koolstofkrediete en groen kragopwekking kom. Die kommissie voorspel die plaas van die toekoms sal net soveel oor bewaring as oor die produksie van voedsel en vesel gaan.

    Dit is nie nuus dat boere hul produkte by klimaatsverandering sal moet aanpas nie. Daar sal gekyk moet word na nuwe, droogtebestande kultivars. Die gebiede waar geboer word, sal ook opnuut in oënskou geneem moet word. Dr. John Willimas van die NRC sê boere sal danksy diverse inkomstestrome klimaatsverandering in die toekoms beter die hoof kan bied. "Kragbenutters, besoedelende vervaardigers en watermaatskappye sal boere betaal om windplase op te rig, koolstof in natuurlike plantegroei op te vang en vleilande te bewaar."

    Engel sê baie mense is nog nie van die CDM-proses bewus nie en krap nog kop oor klimaatsverandering. "Die landbou maak nog nie van die geleenthede gebruik nie. Daar is nog baie geleenthede vir boere om betrokke te raak." Colors het hierdie geleenthede raakgesien, maar om te keer dat hulle in "emosionele debatte" vasgeknoop word, wil die maatskappy eers die feite rondom sy koolstofspoor op die tafel kry.

    Die maatskappy voer vrugte vir sowat 250 produsente uit en hy het besluit om die koolsuurgasvrystellings in sy uitvoer-aanbodketting (van die plaas tot by die oorsese supermark) te meet. Hy het reeds sowat 70 % van die werk voltooi en hoop om teen volgende jaar 'n syfer te hê.

    "Daar is 'n opvatting dat boerdery nie 'n impak op die koolstofspoor het nie. Dit is verkeerd. Dink aan die spuitstowwe en die hoë energieverbruik. Dit is baie moontlik dat ons 'n positiewe koolstofspoor het ('n netto vrysteller van koolsuurgas is). As ons verskeping en verpakking byreken, dra die landboubedryf selfs meer tot die spoor by," sê Farrell.

    In die koolstofarena is 'n land of onderneming met 'n koolstof-neutrale of -negatiewe status gewens. "Wanneer ons klaar is, sal ons bepaal wat ons gaan doen. Aangesien ons 'n landboubesigheid is, moet ons kyk na die geleenthede wat bestaan om koolstofkrediete te genereer en moontlik daarmee handel te dryf.

    "Die eerste stap om ons koolstofvoetspoor te verklein, is om energie te bespaar. Deur ons energieverbruik in te kort, sal ons elektrisiteitsrekening ook daal. Almal wen dus. Dit vereis net 'n verandering in gedrag.

    "Eers teen stap vier sal ons meer kreatief raak met die verhandeling," sê Farrell.

    Verhandeling is egter nie die enigste oorweging vir die maatskappy se koolstofprogram nie. "Ons wil kan sê hoe groot die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf se spoor is en dat ons X, Y en Z doen om dit te verklein."

    Die maatskappy meet die gebruik van die hoofproduksiemiddele in die landbou. Dit sluit in die hoeveelheid kW-uur elek-trisiteit wat jaarliks gebruik word (vir elke 1 kW-uur word sowat 1 kg koolsuurgas in die lug vrygestel), die hoeveelheid landbouchemiese middels en brandstof wat gebruik word, die hoeveelheid skadelike gasse wat die pakskuur se verkoelingseenheid afgegee en die hoeveelheid afval op die plaas.

    "Ons wil die vrystelling per kilogram vrugte bereken," sê Farrell.

    Hy vind die boere word deesdae met soveel eksterne faktore, soos voedselveiligheidsoudits, gekonfronteer dat 'n paar van hulle onwillig is om nóg 'n lang vraelys in te vul. "Ons probeer hulle op die langtermyn-geleenthede en -bedreigings wys. Ons wil nie net in 'n supermark se behoeftes voorsien nie, maar probeer om verantwoordelik te wees."

  • Bronne: Sydney Morning Herald (29 Oktober 2007, elektroniese weergawe), Die Burger, http://unfccc.int/2860.php en Financial Mail (26 Oktober 2007, elektroniese weergawe).

    Landbouweekblad, 4 Januarrie 2008