Landbou
Droogteplan soek samewerking
Deur JEAN-MARIE DE WAAL (jdewaal@landbou.com)

'n Behoorlike droogtebestuurstelsel werk ietwat soos die menslike liggaam. Dit is 'n warboel van bedrywighede: Boodskappe word deurlopend rondgestuur, ontvang, ontleed en uiteindelik neem die brein 'n besluit. Dié rampbeheersentrum van die liggaam sal egter nie weet 'n ontluikende infeksie kruip in die oor weg of selfs wát 'n infeksie is nie tensy elke sel en sinaps saamwerk. En vir die liggaam, net soos met droogte, is dit beter om voorkomend en volhoubaar op te tree as bloot reaktief.

Tot op hede is net gefokus op die uitwerking van droogte en droogtehulp. Daar is nie klem gelê op volhoubaarheid op lang termyn en hoe boerderygemeenskappe met die droogte kan saamleef en daarby aanpas nie.

Elemente wat deel moet vorm van droogtebestuur in Suid-Afrika, is voorkomende maatreëls wat oor jare deur staatsdepartemente en boerderygemeenskappe bestuur word, vroeë waarskuwingstelsels, droogtekomitees wat op grondvlak werk, en 'n nasionale stelsel vir administrasie en oorsig.

Mnr. Koos van Zyl, 'n landbou-konsultant wat saam met die Departement van Landbou en die georganiseerde landbou 'n droogteplan vir Suid-Afrika opgestel het, sê droogtes is nog nooit werklik in Suid- Afrika ten volle bestuur nie.

Voorheen is geldelike verligting inkonsekwent verskaf. Die rolle en verantwoordelikhede van boere en die staat is nie uitgespel nie en daarom kon 'n behoorlike droogtebestuurplan asook vroeë en doeltreffende waarskuwingstelsels nie op die been gebring word nie.

Die Wet op Rampbestuur (Wet 57 van 2002) het die behoeLe aan planne spesi- .ek vir rampe soos droogtes, vloede, veldbrande en die voorkoms van koue tydperke onder die soeklig begin plaas, sê Van Zyl.

Oor die afgelope dekade het die res van die wêreld ook eers behoorlik aandag begin gee aan rampbestuur omdat dit meer gereeld voorkom.

Noodreaksies, soos droogtehulp, is steeds 'n noodsaaklike aspek van droogtebestuur, maar volhoubare langtermynplanne sal deurslaggewend wees.

Die droogte in 1990/'92 het nie net vir sowat R2,4 miljard se oorlaatskuld gesorg nie. Dit het ook administratiewe leemtes blootgelê. Met die droogtes van 2001 tot 2005 is bewus geword van die behoefte aan besondere kundigheid en vaardigheid met droogtebestuur.

Maar omdat 'n tekort aan vaardigheid juis die land se grootste probleem is, omskryf die plan elke belanghebbende se verantwoordelikheid, sê hy. Gee boere nie gehoor aan sekere voorskrifte wat provinsiale departemente van landbou stel nie, kan hulp van sulke boere weerhou word. "Die beginsel van wederkerigheid word sterk benadruk en goeie boerderypraktyke is die spil waarom alles draai."

Eweneens, sou die staat sy pligte ingevolge die plan versuim, sal boere op grond van onverantwoordelikheid of roekeloosheid ook die staat aanspreeklik kan hou. Selfregulering is noodsaaklik - soos in die Noord- en Wes-Kaap waar databasisse reeds bestaan van boere wat hul veld oorbewei, sê hy. Landbou-unies en boereverenigings gaan 'n beduidende rol hê.

Ondanks groot geld wat vir droogte bewillig word, bly die bepaling van droogte, die vermindering van droogterisiko, reaksie en herstel moeilik.

Die droogteplan beklemtoon veral herstel en lê die primêre verantwoordelikheid daarvoor voor die deur van die Departement van Landbou. Dit moet inligting insamel en op alle vlakke oordra. Die nasionale Departement van Landbou moet seker maak dat die provinsiale departemente van landbou hul droogteplanne deur middel van landbourisikobestuurseenhede toepas.

Dié eenhede werk dan saam met 'n nasionale droogterisikobestuurskomitee, die direktorate van die departement van landbou en boere.

Op nasionale vlak gaan die Agro-metereologiese Komitee (AMK) op die been gebring word. Dit bestaan uit navorsingsinstitute, universiteite, die Suid-Afrikaanse Weerdiens, die departement van landbou (vir tegniese raad) en vroeë waarskuwingskomitees van elke provinsie. Die AMK moet langtermyn- en seisoenale klimaatsomstandighede ontleed. Aan die hand van dié inligting moet raad aan boere verskaf word en toepaslike planne vir volhoubare ontwikkeling geskep word.

Op elke regeringsvlak moet raadgewende forums ingestel word sodat besluitnemers geredelik korrekte inligting tot hul beskikking het. 'nWerkgroep oor landboudroogte wat uit al die genoemde komitees bestaan, sal seker maak inligting oor droogtes word aan die regulerende liggaam vir rampe,die Nasionale Rampbeheersentrum, deurgegee.

Op nasionale vlak moet die Departement van Landbou ondersteunende strukture onderhou. Hy moet ook die droogtebestuurstelsel in stand hou. Verder is dit sy taak om bewustheid van droogtes te skep.

Die departement staan pa vir die vroeë waarskuwingstelsels en moet seker maak dat dit wérk.

Die provinsiale departemente moet die vermoë vir droogtebestuur skep. Hulle moet hulpbronne monitor en verseker dat goeie boerderypraktyke toegepas word.

Elke provinsie moet 'n droogtebestuursplan opstel. Inligting uit die vroeë waarskuwingstelsels moet aan boere weergegee word. Munisipaliteite het 'n kritieke rol in die droogtebestuursplan.

Vaardigheidsprobleme knel talle plaaslike owerhede, maar hulle kan steeds gebruik word om inligting deur te stuur en tot op nasionale vlak te laat vloei. Landbou-unies en boereverenigings word aangemoedig om deel te wees van munisipaliteite se afdelings vir rampbestuur.

Die georganiseerde landbou moet verteenwoordigers op die raadgewende forums van die plaaslike en provinsiale regerings hê. Hulle moet betrokke wees by die voorbereiding van planne en beleide sodat hul gespesialiseerde vaardighede gebruik kan word.

Tegniese komitees op provinsiale vlak sal die risiko bepaal wat droogtes inhou deur die veld se drakrag, die stand van grondwaterbronne en die geskiktheid van gewasse (soos reeds in sekere streke gebeur) te oorweeg.Vir navorsingsdoeleindes behoort droogtekaarte ontwikkel te word. DieDepartement van Landboumoet die inligting byhou sodat die droogtehulpplan bruikbaar is en besluite vinnig geneem kan word.

Die inligting word verkry van die vroeë waarskuwingkomitees op provinsiale vlak, die nasionale landbou-risikobestuurseenheid en provinsiale eenhede.

Die bepaling van droogtes kan dus op die werklike situasie op grondvlak gedoen word. Nasionale riglyne vir die bepaling van droogtes is ook nodig.

Op gebied van risikovermindering, is samewerking ook deurslaggewend. Dit sal oor alle sektore toegepas moet word en begrip van droogtes in die Suid-Afrikaanse samelewing moet bevorder word.

Vir reaksie en herstel is 'n eenvormige benadering nodig wanneer inligting uit vroeë waarskuwingstelsels verkry word.

Dit sal die onmiddellike en toepaslike reaksie verseker omdat besluitnemers sal weet wanneer die eerste tekens van 'n droogte en droogteramp op die horison verskyn.

Bykomende bron: Agricultural Drought Management Plan, November 2007.

Gesloer met geld
Geld moet tydens droogtes vinnig beskikbaar wees om reaksie en herstel moontlik te maak. Maar meestal is die ontwykende reën vinniger as die dikwels sporadiese hulp wat kom.

In November verlede jaar is meer as R300 miljoen landwyd vir droogtehulp bewillig, maar talle boere wag nou nog om 'n sent te sien.

Geldelike hulp is in 2007 net ingevolge die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne (Wet 43 van 1983) gegee. Daar is nog nie bepaal hoe finansiering ingevolge die Wet op Rampbestuur (Wet 57 van 2002) gedoen moet word nie. Mnr. Koos van Zyl, landbou-konsultant, sê ernstige pogings word aangewend om die pad vir finansiering korter te maak.

Tans is daar geen finansieringsmeganisme spesifiek vir droogtes nie.

Daar word nog met die Tesourie onderhandel sodat in die toekoms vinniger opgetree kan word. 'n Staande goedkeuring sal dan aan die Departement van Landbou toegestaan kan word om vooruit geld uit sy normale begroting te kry. Later sal die Tesourie die geld wat uit die begroting vir droogtehulp gebruik is, in die aansuiweringsbegroting aanvul.

Studies wys die jaarlikse koste om 'n program in te stel wat die uitwerking van droogtes versag, kos aansienlik minder as die herstel en reaksie ná 'n ramp.

Wat sê die boere?
Hoewel boere dankbaar is vir enige droogtehulp wat toegestaan word, is daar talle tekortkominge in die bestuur van droogtehulp.

Mnr. Brand du Toit, voorsitter van die Williston-boere-unie in die Noord-Kaap, waar groot gedeeltes van die distrik deur 'n rampdroogte geknel word, sê van die vernaamste probleme met die bestuur van droogtehulp is "administratiewe onbeholpenheid". Hulp vir kwesbare boere het eers stuksgewys gekom sewe maande nadat die vorige reëntyd verby was.

Hy hou aan die beginsels van volhoubaarheid wat in die droogtebestuurplan vervat is, maar boere sit met die probleem dat veldtoestande gemeet moet word deur die provinsiale departement van landbou wat min weidingkenners het wat 'n oordeel kan vel.

Bestaande skemas vir droogtehulp plaas 'n groot finansiële las op landbou- ondernemings, sê hy. In Desember 2007 en Januarie 2008 is R5,2 miljoen se droogtehulp in die Williston-gebied toegestaan. Die plaaslike landbou-ondernemings moes die voer eers aankoop en ses weke nadat die voer gebruik is, word hulle deur die staat vergoed.

Volgens die toepaslike droogtehulpskema is boere vir 'n derde van die voerkoste aanspreeklik. "Sommige boere, gevestig en opkomend, is al in so 'n verknorsing dat hulle nie die derde kan bekostig nie. Aansoeke om droogtehulp word dus nie eens gedoen nie," sê hy.

Du Toit sê dikwels word boere aangesê om vee te verminder om vir droogtehulp in aanmerking te kom, maar hulle kry dan slegs 'n week of twee om van hul oortollige vee ontslae te raak.

Mnr. Sakkie Louw, wat tussen Kenhardt en Pofadder boer en voorsitter van die Boesmanland-boere-unie is, sê die sporadiese hulp vir droogte lei tot frustrasie.

Maar boere besef dat samewerking nodig is, veral om die vaardigheidsprobleme van die provinsiale departemente te versag. Hy sê selfregulering is uiters belangrik en in sy gebied word boere aangespreek as hulle nie by drakragbeperkings bly nie. Hy is egter bekommerd oor volhoubaarheid.

"Ons netto inkomste in die vleisbedryf raak al hoe minder en as die voorspellings sê kwaai droogtes kom in die toekoms, dan word volhoubaarheid geraak. As dit nie reën nie, kan ons nie omgewingsbewaring toepas nie," sê hy.

Landbouweekblad, 8 Februarie 2008